Bron: De Reformatie. 4 bladsye.

Vreemd is Nie so Vreemd Nie

Twee jaar gelede val ek vas op die lughawe in Athene. Daar was vir my geen opsies nie, geen slaapplek en so te sê net ’n paar sente in my sak. Buitendien is ek nie Grieks magtig nie en is my ”lughawe-Engels” ook nie juis iets om oor huistoe te skryf nie.

Ek het totaal verlore en alleen gevoel. Soos ’n vreemdeling in Jerusalem. Niemand het ook enige moeite gedoen om my uit my penarie te help nie. Behalwe dat ek soos ’n vreemdeling gevoel het, wás ek ook ’n totale vreemdeling.

In hierdie artikel gaan dit dan ook oor vreemdelingskap. Hoe so? My eie situasie op die lughawe was tog net tydelik. Na ’n dag was ek op ’n vlug oppad terug na die lughawe op Amsterdam. Weer in my eie land, my eie taal en my eie huis. Ek was weer tuis. Nie meer ’n vreemdeling nie. En Athene is net nog ’n herinnering.

Maar wat word eintlik bedoel met die vreemdelingskap waarna die Bybel verwys? Is jy ’n vreemdeling? Voel jy soos ’n vreemdeling?

Abraham was ’n vreemdeling. Ja. Maar kan ’n Suid-Afrikaner met burgerregte, met ’n geldige paspoort in sy besit, Suid-Afrikaanse grond aan sy skoene, hom enigsins indink in die rol van vreemdeling?

Kom ons lees.

Abraham🔗

Ons begin by die begin. Abraham, Sara, Isak, Esau en Jakob het in die land van vreemdelingskap gewoon. Dit was nie hulle land nie, al het God dit vir hulle belowe. Baie mense het die lewe vir hulle moeilik gemaak, hoewel ander mense hulle goed gedra het teenoor hulle “gaste”.

Abraham en al die ander het die beloftes wat die Here vir hulle gegee het, geglo. God het byvoorbeeld vir Abraham gesê:

En Ek sal aan jou en jou nageslag na jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ’n ewige besitting. (Genesis 17:8 – sien vir die herhaling van die belofte aan Jakob, Genesis 28:4)

Ons kan vir ons ’n prentjie vorm: Ons sien ’n nomadiese familie wat deur die land trek. Hulle lewe van die gunste en gawes van die landbewoners. Hulle bly vreemdelinge: niemand kry ’n vaste stukkie grond nie. Geen grond nie, behalwe: Abraham koop ’n stuk grond met ’n spelonk daarop waarin hy sy vrou kan begrawe en waar hy later ook begrawe kan word.

Die spelonk van Magpela, in die veld van Efron, die seun van die Hetiet Sohar, wat teenoor Mamre lê, die veld wat Abraham van die Hetiete gekoop het,” soos dit in Genesis 25 geskryf staan.

In die manier waarop die skrywer van Genesis dit verwoord, lyk dit asof hy nog steeds daaraan gewoond moet raak dat hierdie stuk land Abraham se eiendom geword het!

In Egipte, waar die seuns van Jakob – deur ernstige hongersnood! – beland het, word vreemdelinge nie soos gaste behandel nie. Ook nie soos gasarbeiders nie. Wel soos slawe. Eksodus 1 skets ’n beeld van verdrukking en ondergang. Wat verwag ’n mens ook anders, hulle was immers die vreemdelinge? Selfs sonder die hedendaagse haat teen rasse en volke, sou ’n mens jou goed kan voorstel wat dit alles inhou.

Vreemdelingskap was vir hulle ’n werklikheid. Nie noodwendig die styl van lewe waarna hulle verlang het nie. Toe Abraham hongersnood in die gesig gestaar het in die land wat God hom belowe het (Genesis 12:10: tien verse na sy roeping!), kon hy ook omdraai en weer terugtrek in die rigting van Haran. Maar hy doen dit nie: Hy trek na Egipte om daar, voor God se aangesig, as vreemdeling te vertoef.

Israel🔗

God eis later van sy volk om die vreemdelinge binne sy grense lief te hê. Hierdie gebod is nie sommer net uit die lug gegryp nie, maar word begrond in die volk se eie verlede.

Daarom moet julle die vreemdelinge liefhê, want julle was vreemdelinge in Egipte.Deuteronomium 10:19

Jy mag die reg van vreemdeling en wees nie verdraai nie en die kleed van ’n weduwee nie as pand neem nie. Maar jy moet daaraan dink dat jy ’n slaaf was in Egipte en die Here jou God jou daaruit verlos het.Deuteronomium 24:17-18

Dit was woorde wat hulle goed kon verstaan. Hulle het geweet wat dit beteken om vreemdeling te wees.

Maar as ons dit nou vandag lees, wat het dit met ons te make?

Ons was nie vreemdelinge in Egipte nie. Ons is Suid-Afrikaners in murg en been, gebore en getoë in hierdie land. Dalk selfs gebore op ’n stuk grond wat reeds lankal in die familie is. Erfgrond. Ons het nog nie gedwonge volksverskuiwing en uitsettingsbevele aan ons eie lyf gevoel nie. Ons wag nie in spanning om te hoor of ons aansoek vir asiel of verblyf in ’n nuwe land goedgekeur word nie. Ons is hoogstens vir kort rukkies vreemdelinge, op ’n internasionale lughawe. Met die nodige paspoort veilig in ons besit. Ons voel veilig en tuis in ons bekende omgewing, die straat waarin ons woon. Is vreemdelingskap nie maar net vir Zimbabwiërs en Rwandese nie?

Dit is goed om in die Bybel te sien dat vreemdelingskap nie net verdwyn het nadat Israel Kanaän ingeneem het nie. Selfs die in besit neem van duisende wingerdstokke en vyebome, die aanplant van saad, het hulle nie minder vreemdelinge gemaak nie. Die in besit neem van Kanaän bevestig juis hulle vreemdelingskap:

Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is.Levitikus 25: 23

Mens sou kon sê die vreemdelingskap het later “vergete” geraak: binne Israel se grense woon almal veilig. Dawid sit hoog en droog op die koningstroon. Hy voel beslis nie soos ’n asielsoeker nie. En tog sê hy: “Want ons is vreemdelinge en bywoners voor u aangesig soos al ons vaders” (1 Kronieke 29: 15). Die psalmdigters het ook nie oor hierdie saak geswyg nie. Psalm 39 en 119 sê: "Ek is ’n vreemdeling by U,” en “’n vreemdeling op aarde."

Geloof🔗

Dis duidelik dat vreemdelingskap nie net te doen het met ’n stuk grond en ’n paspoort nie, maar met geloof. Die gelowige sê: “Ek is ’n vreemdeling voor u aangesig”. Met ander woorde: Hy is deeglik bewus van sy eie kleinheid. Selfs al sit hy in die beloofde land onder sy wingerdstok en vyeboom, verloor hy nie sy posisie teenoor sy God uit die oog nie. Hy gedra hom nie soos ’n ryk grondbesitter wat homself allerhande regte toe-eien nie. ’n Vreemdeling is wat hy wil wees, deeglik bewus van sy beperkinge. Lees gerus die direkte konteks in 1 Kronieke 29 en Psalm 39:5-6: dit handel oor die kortstondigheid van die lewe. Deurdat die skrywer die woord vreemdeling gebruik, is hy baie bewus van die grootheid en guns van God. Hy weet hoe God vreemdelinge met vreemdelinge omgaan! Daarom doen hy ’n beroep op God se genade deur homself as vreemdeling te sien: “Here kyk na my…”

Vreemdelingskap het alles met ons geloof te make. Die geloof leer ons om ons op God se plan te rig: hierdie wêreld is, hoe lekker dit ook al mag voel om jou eie grond te besit, en hoe aangenaam dit ook al in jou gesellige huis is – dit is nooit volmaak nie.

En ook: nie elke huis beleef die heerlike gevoel nie. Nie elke land is veilig nie. Dit besef ons maar alte goed elke keer as daar vreemdelinge is wat kom hulp vra. Die wêreld is nie volmaak nie. Ons hoor dikwels hoe die wêreld sug. En ons self voel ook die pyn.

Maar ons God werk gerig na ’n nuwe wêreld. Ons geloof leer ons om uit te sien daarna. Want die geloof vertel ons dat ons nou reeds deel mag hê aan, en erfgenaam mag wees van hierdie nuwe wêreld, net soos wat ons voorvaders en hul families geweet het van ’n nuwe, beter vaderland (Hebreërs 11: 9-10, 13-16).

Die vraag is dus nie: “Is jy vreemdeling of erfgenaam?” nie. Die vreemdeling wat hom rig op God se plan, mag uitsien na die ewige erfdeel. Hy is erfgenaam. Daar is ’n gesang wat eindig met die woorde: “daar is die vreemdelingskap vergete en ons, ons is in die Vaderland”.

Die land van Vader word gegee aan al sy vreemdelinge.

Anders🔗

Geloof leer ons ook om ons te rig op die Seun van God. As Petrus in sy eerste brief sy aanhoorders as “vreemdelinge” aanspreek, rig hy hulle aandag op Jesus Christus. Hy roep hulle op om Jesus te volg. Deel van vreemdelingskap is navolging van Jesus Christus.

As vreemdelinge bly ons altyd nomadies: pelgrims, oppad êrens heen. Net op dié weg vind jy jou erfenis. As gelowiges saam is ons dus mekaar se reisgenote. Wat al hierdie dinge betref was die voorbeeld van die lughawe, van oppad wees, nie so vergesog nie.

Dus: nie ’n lewe waar alles altyd goed verloop nie. ’n Lewe waar die verduring van smaad en spot ter wille van Christus eerder die reël as die uitsondering sal wees. Dit is iets wat ’n mens amper daagliks beleef: dit of die goddelose nie net die helfte van die wêreld nie, maar sommer die hele wêreld besit. Mense kyk jou aan asof jy dwaas is omdat jy elke Sondag kerk toe gaan. Hoekom sou jy dit doen? En jy voel soos ’n totale vreemdeling as jy Sondagsrus bepleit. Op skool en universiteit voel jy soos ’n vreemdeling omdat jy anders dink as die res. En oor die evangelie kan ’n mens eintlik nie meer in die publieke sfeer praat nie.

Christene is “anders”, soos ons uit Efesiërs 4: 20 kan aflei.

“Anders”, die wêreld noem ons: “vreemd”.

Die afwysing en vyandigheid van die wêreld moet ons nie verbaas nie: dit was te verwagte. Ons is vooraf gewaarsku, maar ook vertroos: ons is wel in die wêreld, maar ook deel van Jesus Christus. Wie op Hom en sy ryk gefokus is, wie se paspoort deur Hom gestempel is, sal nie anders kan as om Hom te volg nie. Ons woorde en dade word gestempel deur die liefde wat daar vir Hom is. Dink maar aan die man wat bereid was om alles op te offer om die skape van God te versamel: Paulus.

Vreemd?🔗

Paulus was op besoek in Athene (Handelinge 17). En die mense daar het gesê:

Dit lyk of hy ’n verkondiger is van vreemde gode….

U bring sekere vreemde dinge in ons ore….

Die mense moes gedink het hy is mal in sy kop: “Sekere vreemde dinge…”.

Presies: Paulus bring die evangelie van Christus en van sy opstanding. So was ook hy ’n vreemdeling in Athene. Hy het ’n God bely wat aan die inwoners onbekend was. Miskien het hy wel gevoel soos “’n vreemdeling in Jerusalem”.

Maar hy kon deur dit alles die werklikheid sien. Want hy het geweet dat die rolle uiteindelik presies andersom is:

So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God. (Efesiërs 2:19) Tuis by God!