Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Vroue en die Kerklike Amp

Gedurende die afgelope paar weke was daar in die dagpers 'n lewende briefwisseling waarin voorbrand gemaak is vir vroue in die kerklike amp binne die GKSA. Die feit dat sake wat binnekort deur die sinode beoordeel moet word, vooraf in die openbare pers gedebatteer word, is vreemd aan hoe Gereformeerdes te werk gaan. Die reeks briewe lyk byna na 'n poging om in die openbaar 'n klimaat te skep waarmee druk op die GKSA geplaas word om by die Nasionale Sinode tog maar "toe te gee".

In die GKSA werk ons egter anders.  Besluitneming by kerklike vergaderings mag nie deur "drukgroepe" beïnvloed word nie.  Dit mag ook nie deur die openbare opinie of deur die algemene denkklimaat bepaal word nie, maar enkel en alleen deur wat God in sy Woord aan ons bekendmaak. Die enigste rede waarom die GKSA sy standpunt oor die vrou in die amp sou verander, sou wees as daar nuwe en beter insigte na vore gebring word oor hoe om die Bybel oor hierdie saak te verstaan. Maar sulke nuwe insigte het in die briefwisseling ontbreek. Dit het by algemene persepsies en menslike oordele bly vassteek.

Maar wat is die besluite waaroor dit alles gaan? Die Nasionale Sinode van 1988 het op grond van 'n lang rapport wat Skrifgegewens bestudeer het, besluit dat in die GKSA vroulike lidmate nie in die besondere dienste van Woordbedienaar, ouderling of diaken dien nie, maar dat hulle - soos manlike lidmate - daartoe geroep is om hulle gawes in die amp van die gelowige tot nut en saligheid van ander lidmate aan te wend (vgl. Acta 1988, bl. 522). Hierdie besluit is blykbaar vir die skrywers 'n steen des aanstoots.

Wanindrukke oor die Kerk en Kerkregering🔗

Die besware teen hierdie besluit trek daarin saam dat dit vroue sou veronreg en op die idee sou berus dat vroue minderwaardig teenoor mans is. Vroue en mans is mekaar se gelykes en moet as sodanig in die kerk hanteer word, is die argument. Die probleem met hierdie besware is dat dit die kerk met die wêreld se maatstawwe meet en gevolglik op allerlei wanindrukke berus.

Die eerste wanindruk is dat dit in die kerk soos in die wêreld daaraan moet toegaan. Die kerk is egter nie soos 'n gewoon wêreldse organisasie wat volgens die reëls van die wêreld ingerig word nie. Christus regeer sy kerk anders. Aan Pontius Pilatus het Jesus voor sy kruisiging gesê (Joh. 18:36): "My koninkryk (= die manier waarop Ek regeer) is nie van hierdie wêreld nie (= is anders as die manier waarop aardse konings regeer)." As Christus soos aardse konings geregeer het, sou sy dienaars geveg het.

Om die kwessie van die ampsbediening in die kerk dan vanuit die problematiek van die geslagsgelykheid te benader, is om te vergeet dat die Here sy kerk anders regeer. Natuurlik is daar by God nie voorkeure tussen man en vrou nie. Daarvan is daar volop Skrifgegewens. Maar dit is nie waaroor dit by die ampsbediening gaan nie. Die Here regeer sy kerk anders as wat wêreldse heersers regeer.

Regeeramp Nie 'n Heers-amp Nie🔗

Ten eerste moet ons dan in die gesprek oor die plek van vrouens in die kerk afsien van alle argumente wat 'n beroep op wêreldse regeerwyses doen. In die wêreld is dit so dat die regeeramp 'n heers-amp is. In die kerk is die regeeramp nie 'n heers-amp nie (1 Pet. 5:1-3). As dit in praktyk 'n heers-amp sou word, word dit 'n wêreldse regeerstyl wat nie volgens die Woord van die Here is nie.

In die (sondige) wêreld is dit verder so dat mans en vrouens met mekaar "kompeteer" oor wie oor die ander heers. In die kerk mag so iets nie bestaan nie, want in die Here is beide mans en vrouens gewillig om mekaar te dien. "Uit eerbied vir Christus", lees ons in Efesiërs 5:21, "moet julle aan mekaar onderdanig wees." Dit moet die basiese uitgangspunt in elke beskouing oor die plek van man en vrou wees. Agitasies van enige van die twee geslagte om meer gesag te kry, getuig dan van 'n gesindheid wat nie eerbied vir Christus betoon nie. Uit eerbied vir Christus behoort ons nie na ons eie begeertes te luister nie, maar moet ons luister na sy Woord.

Lig Vanuit die Bybel🔗

Maar wat leer die Here dan in die Bybel oor die vrou en die amp? Soos met soveel ander sake, is dit ook hier die geval dat daar nie 'n Bybelteks is wat pertinent sê dat vrouens in die amp mag dien of nie. Ons weet egter ook dat dit net die Biblisisme is wat vir alles en nog wat op 'n Bybelteks aandring. In die eg gereformeerde Skrifverstaan is ons bereid om ook na die breë openbaringslyne van die Skrif te luister. Dink maar aan die bekende woorde: "Al is daar nie 'n bepaalde teks oor die saak nie, het ons darem nog die hele Bybel."

Nou is dit so dat die hele vraagstuk oor die vrou in die amp gewortel is in hoe die verhouding tussen man en vrou verstaan word. En al sê die Bybel niks uitdruklik oor die vrou in die amp nie, is dit baie duidelik oor die verhouding tussen man en vrou. Een van die duidelikste Skrifdele is dié waarna reeds hierbo verwys is, naamlik Efesiërs 5:21-33.

Die Verborgenheid van die Huwelik🔗

In Efesiërs 5:32 word die huwelik tussen man en vrou 'n verborgenheid genoem. "Verborgenheid" moet hier nie verstaan word as iets wat weggesteek word nie, maar juis as iets wat 'n verborge saak in die ope bring. Wat is die verborge saak wat deur die huwelik in die ope gebring word? Paulus skryf in vers 32: "Ek pas dit toe op Christus en die kerk." Die huwelik tussen man en vrou wys openlik hoe die verborge, geheimenisvolle verhouding tussen Christus en sy kerk is.

Hoe dan so? In vers 23 skryf Paulus: "Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is." En in vers 24: "Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees." Ruimte ontbreek om alles oor hierdie twee kernuitsprake te sê. Van kardinale belang is egter:

  • Deur hom in sy optrede as hoof van sy vrou te betoon, vertoon die man iets van Christus se Hoofskap oor die kerk.

  • Deur in haar optrede onderdanigheid aan haar man te betoon, vertoon die vrou iets van die kerk se onderdanigheid aan Christus.

Om in sy optrede waarlik iets van Christus se Hoofskap oor die kerk te vertoon, is nie 'n maklike taak vir die man nie. Hierbo is reeds gesê dat Christus se Hoofskap nie soos dié van wêreldse heersers is nie. Inteendeel, Christus is Hoof nie deur te oorheers en te domineer nie, maar deur sy kerk lief te hê, deur sy lewe vir haar af te lê, deur haar te voed en te versorg en te koester (verse 25-30).

Soos Christus sy kerk dan in liefde en in waarheid lei en versorg, so moet die manne dit ook met hulle vrouens doen. Dit geld natuurlik vir hulle daaglikse huwelikslewe, maar hou nie op die oomblik wanneer hulle in die kring van die gemeente optree nie. Ook in die gemeente is en bly die man die hoof van die vrou, toonbeeld van Christus se Hoofskap oor sy kerk.

Die vrouens se taak is anders, maar niks minder belangrik nie. Die onderdanigheid wat sy aan haar man betoon, moet iets van die verborge verhouding van die gemeente aan Christus openbaar. Die gemeente is aan Christus onderdanig - nie soos die willose, teensinnige en selfs murmurerende onderhorigheid wat dienaars in hierdie wêreld gewoonlik vertoon nie. Nee, die gemeente is uit liefde aan Christus onderdanig, omdat dit haar behae is. Sy luister graag na Hom en volg Hom liefdevol waar Hy ook heen lei. Die geheim van hierdie soort onderdanigheid word dan sigbaar in hoe die vrou haar deur haar man laat lei.

Wat 'n heerlike taak het beide man en vrou in die kerk. Verskillend, maar gelyk. Nie een taak is belangriker as die ander nie, Soos twee kante van die munt is elkeen se unieke plek onmisbaar. Maar die man wat, om watter rede ook al, nie bereid is om sy Godgegewe hoofskap te aanvaar nie, of wat dit met 'n wêreldse dominerende opperhoofskap oor sy vrou vervang, is ontrou aan sy roeping. Desgelyks is die vrou wat nie bereid is om na die leiding van haar hoof op te sien nie of wat dit met 'n wêreldse slaafsheid of opstandigheid vervang, ewe ontrou aan haar roeping.

Die "Swyggebod"🔗

Teen hierdie agtergrond word dit ook makliker om die sogenaamde "swyggebod" van 1 Korintiërs 14:34 en 1 Timoteus 2:12 beter te verstaan. In hierdie tekste word vroue aangesê om nie in die gemeente te praat nie - nie omdat haar opinie minderwaardig is nie, maar omdat sy 'n ander taak in die gemeente het.

As sy bereid is om haar deur die man te laat leer en lei (selfs al het sy beter gawes as al die manne in die gemeente), is sy 'n sprekende toonbeeld van 'n gemeente wat bereid is om haar deur háár Hoof, Jesus Christus, te laat leer en lei. Maar as sy die leiding in die gemeente wil oorneem, word sy 'n tragiese voorbeeld van 'n gemeente wat nie onder die Hoofskap van Christus wil buig nie.

Die Lyn Deurgetrek na die Ampte🔗

Nog baie ander Skrifgegewens word in die ongepubliseerde studie rapport van Sinode 1988 in berekening gebring. Met bogenoemde samevatting het ons egter al 'n vertrekpunt in die Bybelse gegewens oor die vrou se posisie ten opsigte van kerkelike ampte.

Die besondere ampte (predikant, ouderling, diaken) is aan die kerk gegee om leiding te gee deur die diens van die Woord, die diens van regering en die diens van versorging. Aan hierdie leiding onderwerp die vrouens (soos die res van die gemeente) hulle met gewilligheid sonder om self die leiding te wil neem.

Die wêreld vind hierdie gesindheid onverstaanbaar, maar hierin lê 'n wonderlike prediking vir die wê­reld opgesluit - 'n verkondiging van die wonder­like verhouding wat Christus tussen Hom en sy gemeente gestel het.