Bron: Kompas. 3 bladsye.

Vroue in 'n Biddende Gemeente

Ons samelewing lê groot druk op die gelykwaardigheid en veral gelyke regte van mans en vroue. Die afgelope tien jaar het daar in die samelewing van ons land ’n heel drastiese verandering gekom in die plek wat die vrou in openbare lewe inneem. Vir sommige gelowiges het dit ook ’n noodwendige gevolg vir die plek van vroue in die gemeente van Christus. Die Feministiese teologie wil ons oortuig dat vroue hul onmondigheid agter hulle moet laat deur self vir hulle eie sg. “regte” te veg en te stry.

Biddende gemeente🔗

In plaas van vroue wat op openbare forums veg vir vroueregte, lees ons in Paulus se eerste brief aan die evangelis Timótheüs van vroue wat in die stad Efése hulle plek inneem in ’n biddende gemeente. Die tweede hoofstuk van 1 Timótheüs gaan oor die funksionering van die gebed in die gemeente. Manne en vroue kom na God met “smekinge, gebede, voorbede en danksegginge” vir alle mense. Vir konings en ander hooggeplaastes (1 Tim. 2:1-2).

In teenstelling tot ’n gees van revolusie wat onrus kweek teenoor mense wat in gesagsposisie oor gemeentelede gestel is, kry ons in Efése ’n biddende gemeente! Vir konings en almal wat “hooggeplaas is”, moet gebid word. Dit gaan werklik vir die Here om die redding en bevryding van mense. Die gemeente se gebede word deur die Here ingeskakel om mense te bevry van die mag van die sonde. Dit is vir God goed en aangenaam dat alle mense gered word (1 Tim. 2:3-4). Daarvoor het God self die een Middelaar tussen God en mense gegee – die mens Christus Jesus (2:5).

’n Stil lewe🔗

Biddend neem mans en vroue hul plek in in die samelewing. Op só ’n manier lei die gemeente ’n rustige en stil lewe (vgl. ook Oriëntasie in Kompas Junie 2004). Hierdie rustige en stil lewe het niks te doen met ’n lewe waarin die gemeente nie lastig geval word deur mense wat in gesagsposisies oor hulle is nie. Wanneer gelowige mans en vroue biddend voor die Here is vir die verlossing van ander, word ons gedrag daardeur bepaal! In plaas van sosiale aktiviste met ’n aggressiewe houding wat gedurig veg vanuit ’n gevoel van verontregting, is daar ’n rus in die gemeente wat haar kan beroep op God ons Verlosser.

Die Here beloof sy gemeente nie ’n onverstoorde lewe nie. Ons “rustige en stil” lewe het alles te doen met ’n lewe van “godsvrug en waardigheid” (2:2b). Dit beskryf die gedrag van iemand wat in gebed verwag dat God die grootste van alle sondaars kan red en daarom nie al klaend en rebellerend gaan leef nie.

Juis vir vroue word in hierdie hoofstuk konkreet gemaak wat dit beteken om ’n “stil” lewe te lei. Paulus gee vroue die opdrag om “haar stil (te) hou” eerder as om oor die man te probeer heers. In die Christelike gemeente word vroue (net soos mans!!) nie toegelaat om te heers nie. Wanneer jy in gebed die saak by die Here gebring het in smeking, weet jy dat dit nou ook alles van die Here afhang. Vroue (en mans!) mag werklik tot rus kom. ’n Lewe van vryheid word op hierdie manier gelei.

Op élke plek moet gebid word🔗

Paulus wil dat op élke plek gebid moet word (1 Tim. 2:8). Hy gebruik hier ’n besonder sterk woord ó àëïìÜé). Hy gee hierdie opdrag om ons plek in die biddende gemeente te neem, as “prediker en apostel” van Christus (2:7). Sy apostoliese gesag as “leraar van die heidene” word selfs pertinent genoem om te onderstreep hoe belangrik hierdie opdrag is. Paulus kom nie na die gemeente in Efése met sy persoonlike gedagte oor hoe dit moet gaan in die gemeente nie. Hy praat as een wat die waarheid aan hulle voorhou “in Christus” (2:7).

Met die gesag van ’n apostel van Jesus Christus, gee hy voorskrifte oor hoe in die erediens gebid moet word. Dit is nie ’n voorskrif net vir Efése nie. “Op elke plek” moet gebid word. Paulus gee hier bewustelik ’n opdrag wat vir die kerk van die Nuwe Testament op elke plek geld. Die opdrag gaan Paulus en Efése te bowe!!

Mans met heilige hande🔗

Hy gaan ook verder sê hóé daar gebid moet word. Manne en vroue word aangespreek oor hulle houding wanneer daar saamgekom word vir gesamentlike gebed in die erediens. Dit is duidelik dat die manne moet voorgaan in die gebed (1 Tim. 2:8). Hulle moet smekende hande na die hemel uitsteek na God ons Verlosser. By hierdie smekende en afhanklike oplig van die hande, pas geen “toorn en twis” nie. Die mans moet “heilige hande” ophef.

By heilige hande pas geen gebalde vuis van revolusie teen “konings en almal wat hooggeplaas” is nie (1 Tim. 2:2a). Geen woede en aggressie teenoor hulle wat gesag oor hulle het nie!! Geen revolusie nie, maar voorbidding! Manne kan nie bid met harte vol haat en twis nie. Dit is geen manier waarop daar stil en rustig geleef kan word nie.

Versier met behoorlike kleding en goeie werke🔗

Vir die vroue geld ook dat hulle ’n goeie houding moet hê wanneer die gemeente saamkom vir die eredienste. Paulus gaan verder nadat hy die manne aangespreek het oor hulle gebedshouding: “So ook moet die vroue…” (1 Tim. 2:9-10). Vroue gaan neem nou hulle plek in as volwaardige lidmate wanneer die gemeente saamkom. Vir hulle is daar ’n heerlike bevryding. Hulle is nie daar soos wat vroue maar al te dikwels in die tempels van die afgode in Efése moes wees as tempelprostitute nie.

Die Here vind dit glad nie belangrik dat die vroue versier moet wees met kleding wat aandag op hulle seksualiteit rig nie. Hulle hoef nie te kom met “vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie”. Die klere hoef nie die vrou te maak nie!! Vroue word eerder opgeroep om te kom met “behoorlike kleding”. Die erediens van die Christelike gemeente is nie ’n plek waar vroue langer misbruik word soos in die heidendom nie. Hulle hoef nie meer na die erediens te kom om wellustige mans te behaag nie. Vroue kan hulle nou versier met behoorlike kleding. Kleding wat nie hulle vroulikheid hoef weg te steek nie. Die vroue mag en moet hulself steeds behoorlik versier!

Die kleredrag en manier hoe die vroue hulle hare dra sê iets oor hoe die vroue hulself in die gemeente opstel. Kleredrag sê ontsettend baie oor ons innerlike ingesteldheid. Vroue hoef nie te skitter met die goud wat hulle dra as versiering nie. Vroue mag wel uitblink (!) met goeie werke. Dit pas by vroue wat “die godsvrug bely” (1 Tim. 2:10). Hierdie goeie werke pas by die stil en rustige lewe van manne en vroue wat geleer het om na die Here te kom in smekinge, gebede, voorbede, danksegginge” vir hooggeplaastes; d.i. hulle wat gesag oor hulle het.

Die “rus” waarin die gelowige vroue kan leef, maak hulle oorvloedig in godsvrug. Vroue kan in die Christelike erediens opval deur hulle goeie werke! Met beskeidenheid en ingetoënheid, want sy hoef nie meer haarself as tempelprostituut te laat misbruik nie. Sy kan nou saam aanbid met die gemeente. Geloof in Christus bevry werklik mense; óók vroue!

Leer🔗

Vroue gaan nou oral in die gemeentes opval, deur hulle luisterhouding. Vroue word nie meer seksueel uitgebuit en misbruik in die tempel van Diana waar hulle liggame die godin van vrugbaarheid met slawediens moes vereer nie. Hulle mag nou selfs saam met die gemeente onderrig word. In onderdanigheid kan sy nou luister na die betroubare Woord dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red (1 Tim. 1:15; 2:11). Vroue kan luister na die wet wat gegee is vir tugtelose mense, onheiliges, hoereerders, sodomiete (1 Tim. 1:9–11).

Dit was nie ’n normale saak in Efése dat ook vroue so ’n volwaardige plek in die aanbiddingsgeleenthede kon inneem nie. Paulus se woorde aan die vroue in Efése was werklik vir hulle ’n stuk bevryding! Vroue moet wel in die samekoms van die gemeente hierdie beskeie en ingetoë posisie inneem waardeur hulle saam met die gemeente luister na Timótheüs en die ouderlinge wat die Woord verkondig.

Nie onderrig gee nie🔗

Die vroue sou kon dink dat hulle nou ook in die erediens die leiding kan gaan neem. Dit word egter op geen plek toegelaat nie. Die gelowige vroue in Efése word herinner aan die verleiding waarin Eva geval het en die verhouding waarin die Here haar geplaas het tot die man. Deur haar plek voor God op die manier in te neem, sal hulle met goeie werke versier wees. Paulus herinner vroue nog aan Genesis 3 waar die vrou ingeskakel word in die verlossing wat die Here beloof. Adam gee sy vrou ’n heel mooi naam. Hy noem haar Eva - moeder van almal wat lewe. Óók dit geld op alle plekke vir vroue; ingeskakel in ’n biddende gemeente waar manne heilige hande ophef en vroue versier is met goeie werke.