Bron: Kompas, 2012. 3 bladsye.

Vrug van die Gees — Sagmoedigheid

Iets om te Begeer?🔗

Ons kyk weer na die pragtige diamant, die vrug van die Gees. Hierdie keer gaan ons die faset sagmoedigheid bewonder.

Is sagmoedigheid egter wel so bewonderenswaardig? Verlang ons werklik na die deug sagmoedigheid? Hoe dikwels bid jy daarvoor? Is sagmoedigheid nie ’n teken van swakheid nie? Ons word in ons samelewing juis geleer dat jy jouself moet laat geld, dat jy vir jou eie belange moet opkom. Daar is selfs kursusse daaroor wat jy kan volg. Veral manne soek dikwels nie hierdie eienskap by hulleself nie. Manlikheid en sagmoedigheid sou nie by mekaar pas nie. Manne soek hierdie eienskap eerder by hul ma’s en vroue.

Tog word hierdie eienskap in die Bybel as iets moois geteken. Dit sier ’n mens. Dis iets om te begeer. Dis iets wat God aan sy kinders wil gee. Iets wat die Gees in ons wil werk. Maar wat bedoel ons met sagmoedigheid?

Jesus Christus is Sagmoedig🔗

Kom ons kyk na Jesus Christus. Die Ou Testament het Hom reeds aangekondig as ’n sagmoedige koning. Met sy intog in Jerusalem op ’n donkie vervul Christus die woorde van die profeet Sagaria: “Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op ’n esel, ja, ’n jong esel, die vul van ’n pakdier.” Waarom word hy hier sagmoedig genoem? Hy is nie iemand wat Homself met groot magsvertoon laat geld nie. Hy is geen maghebber wat Hom hoog bo sy onderdane verhef nie. Geen tiran wat sy onderdane verdruk nie. Nee, Hy is sagmoedig. Hy verwerf nie sy troon deur die bloed van ander nie. Inteendeel, Hy verwerf die troon deur sy eie bloed. Hy laat Homself ’n dienaar van sy volk wees. Hy buig Hom tot ons neer. Hy maak Homself een met ons. Hy is oor ons lot bewoë. Hy wil ons, verlorenes, red.

Jesaja 42 gee ons ’n pragtige tekening van daardie sagmoedigheid. Daar word van Jesus Christus gesê:

Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ’n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie…

Hier sien ons ware sagmoedigheid in die menslike natuur van die Seun van God. Hoewel Hy seker van sy Goddelike roeping is en die hoogste en die beste vir die nasies kom bring, verskyn Hy as kneg in alle nederigheid. Hy kom nie met groot geskreeu en magsvertoon soos die populistiese volksmenners nie. Hy laat sy roem nie uitbasuin nie. Hy soek nie Homself nie. Hy verloën Homself. Hy bring dit wat nodig is sonder om Homself luidrugtig te bemark. Dit is sagmoedigheid. In die geskiedenis in Mattheüs 12 word daardie profesie van Jesaja aangehaal. Na die genesing van die man met die verdorde hand volg baie mense vir Jesus en Jesus genees die siekes. ’n Mens kan jou voorstel dat die entoesiasme toeneem by elke genesingswonder. Maar wat doen Jesus? Hy gee hulle ’n streng bevel dat hulle Hom nie bekend moet maak nie.

In die aanhaling uit Jesaja 42 is daar ook nog iets anders wat Jesus se sagmoedigheid teenoor mense in nood wys. Luister maar: “’n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en die dowwe lamppit, sal Hy nie uitblus nie.”

Ons kan ons soms soos die geknakte riet en die dowwe lamppit voel. Hoe worstel ons soms nie met ons geloof nie. Dit lyk dan asof ons geloof amper verdwyn het, ons voel ons geestelik so swak. Ons hart bloei en die vlam binne-in ons lyk byna gedoof te wees. Is daar nog hoop vir ons? Ons is dan soos die geknakte riet wat byna gebreek is. Onder die harde hande van mense sal daardie riet vir goed in twee breek. Growwe, ongevoelige mensehande kan jou heeltemal stukkend maak. In Jesus se hande sal die geknakte riet egter nie verder breek nie. Hy sal dit eerder herstel. By Jesus is niemand sonder hoop nie, hoe hopeloos hy of sy ook mag dink dat sy situasie is. Dieselfde geld vir die dowwe lamppit. Die lamppit is byna gedoof. Onbedagsame optrede kan die klein vonkie wat nog oorgebly het, uitblus. Maar in Jesus se hande sal die vonkie veilig wees, want Hy is bedagsaam en vol begrip. Hy kom nie met ’n harde hand op die worstelende siele neer nie. Hy is sagmoedig en soek die herstel van hom of haar wat worstel.

Is dit ’n teken van swakheid? Beslis nie! Dis eerder ’n sterk wapen in God se hand om sy planne van verlossing uit te voer. Dit vra moed van hulle wat dit uitoefen en ook groot geloof in God wat hulle wil gebruik.

In Mattheüs 11 tipeer die Here Jesus Homself as sagmoedig wanneer Hy sê:

Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele.

In teenstelling tot die Fariseërs wat julle ondraaglike laste oplê en julle met hul wettisisme voortjaag, neem Ek die las van julle op My, sê Jesus. Ek vervul vir jou alle geregtigheid.

Kom na My toe met jou sondes. Met die sware las van die kwaad wat jou neerdruk. Wees nie bang dat Ek jou sal afwys nie. Wanneer jy My as jou Verlosser leer ken, sal jy ervaar dat Ek sagmoedig is en werklik jou heil soek.

Die Gees maak Sagmoedig🔗

Die Heilige Gees wil jou na Christus se beeld vernuwe. Sodat ook daardie deug van sagmoedigheid in jou gestalte kry. Dis nie iets wat ’n mens van nature soek of het nie. Maar dis wat die Christen sier. En wat die Gees wil gebruik in die voortgang van sy verlossingswerk. Daarom roep Paulus ons ook op in Filippense 2:

Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem.

Hierdie gesindheid beteken vir ons sondaars dat jy klein van jouself dink en dat jy dit in jou verhouding tot ander wys.

Galasiërs 5:26-6:5 wys wat dit in die praktyk beteken. Die Gees open jou oë om jou eie sonde en onwaardigheid raak te sien en ook die belangrikheid en waarde van ander mense voor God. Dan soek jy nie ydele eer om ander in hoogmoed uit te tart of in jaloesie te beny nie. Dan help jy iemand wat in sonde val, met ’n gees van sagmoedigheid reg. Jy wil die geknakte riet nie verbreek nie en die dowwe lamppit nie uitblus nie. Jy ken ook jou ware self. Dat jy ’n vuil sondaar is wat net deur genade staande kan bly en deur genade gered kan word. Jy verhef jou nie bo ander om van daaruit die ander hardvogtig te veroordeel nie. Jy besef dat dit ook jou sou kon oorkom. Geen menslike sonde is vir jou vreemd nie. Daarom waak en bid jy dat jy nie in versoeking kom nie. Jy kom staan langs die sondaar, as ’n medesondaar, om hom reg te help. So dra ons mekaar se laste. Jy kan dit nie verdra wanneer jy sien dat ander gebuk gaan onder die las van bekommernis, versoeking, twyfel of hartseer nie. Jy wil saamstaan en saam stry.

Hoe jy oor jouself dink, bepaal jou houding teenoor die ander. Daarom waarsku Paulus:

as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself en laat elkeen sy eie werk op die proef stel.

Ja, van nature is ek niks nie. ’n Verlore sondaar wat die oordeel verdien. Ek kan net elke dag in Christus roem, in sy genade. Dan gaan jy nie jouself met ander vergelyk nie. Dan gaan jy nie jouself prys nie. Jy staan in die eerste plek teenoor die Here self. As die Gees jou dit laat besef, dan kan jy nie anders as om sagmoedig te wees en mekaar se laste dra nie. Die Gees is besig om van jou ’n ander mens te maak. Om jou ’n ander gesindheid te gee. Sou jy Hom nie prys vir die begin van daardie vernuwingswerk nie? En sou jy nie bly bid vir die voltooiing van daardie werk nie? Jy wil tog hê dat die vrug van die Gees steeds meer en meer in jou hart en lewe gestalte kry?

Tot eer van God en tot heil van ander?