Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Waar God Sy Naam Laat Gedenk II

Vorige keer het ons gesien dat die ‘gedenk’ van God se dade sentraal is vir die verstaan van die erediens. Hierdie keer wil ons sien wat dit beteken vir die styl en die praktyk van ons eredienste.

Styl🔗

Hoe aanbid jy God in die erediens? Hoe eer ons Hom? Uit die manier waarop ʼn mens God eer, uit jou houding, styl en gesindheid, blyk dit hoe jy jou verhouding met God sien. Jy gee vorm aan die beeld wat jy van jou verhouding met God het. Jy kan jou byvoorbeeld laat lei deur die Vader–kind verwantskap. Daardie verhouding bestaan inderdaad. Ons mag God Vader noem. Ons mag ‘Abba, Pappa’ sê en vertroulik met Hom omgaan. Ook in die erediens. Jy mag maak of jy tuis is, want jy is tuis.

So ʼn verhouding kan egter nooit lei tot ’n styl of houding van familiariteit nie. So asof God my maatjie is, nie. Want Vader is tegelyk Koning, Skepper en Herskepper. God het ’n vertroulike omgang met die wat Hom vrees. Met ‘vrees’ verstaan ons dan diegene wat Hom ken, ’n heilige ontsag vir Hom en sy dade het.

Aanbidding doen ’n mens altyd in die styl wat aansluit by ons belydenis: ‘Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde’. Aanbidding word nie gedoen op die manier waarop ons byvoorbeeld ’n verjaarsdag of ander fees sou vier nie. Dit sou te gewoon, platvloers, selfs onheilig wees. En Hy het immers gesê: ‘Wees heilig, want Ek is heilig’.

Die peil waarop die erediens moet verloop is ondubbelsinnig uitgespel in die Ou Testament. Die respek, die verootmoediging en die manier waarop die volk Israel die berg Sinai moes nader, is vir die Nuwe-Testamentiese kerk ’n ligtende voorbeeld.

Mense wat hiervan so sê: ‘Ag, dit is maar net Ou Testamenties’, is reg. In die Nuwe Testament is die gebod tot verootmoediging en heiligheid des te meer indringend. Ons nader immers nie meer tot tasbare en brandende vure, tot donkerheid en duisternis en stormwind, waarvoor Moses gebeef het, nie. Nee, ons het genader tot die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes (Hebreërs 12:18- 24).

In die eredienste wat op aarde gehou word, ken die kerk sy verbintenis met die hemelse liturgie. Hierdie hemelse liturgie sal vir ons rigting gee en help om die regte houding te bepaal. Dit sal ook rigting gee aan ons vormgewing van die diens. Daarom moet ons dankbaar wees dat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, en God welbehaaglik dien met eerbied en vrees (Hebreërs 12:28). In die woorde van die Ou Testament: ‘Loof Hom oor sy magtige dade, loof Hom na die volheid van sy grootheid’ (Psalm 150:2).

As opsomming, wat die styl van die aanbidding betref, moet God hom nie aanpas aan ons modegrille – vir solank dit duur – net omdat dit ons laat goed voel nie. Die kerk moet haar aanpas na die vlak waarop God geëer wil word, en in die verlede geëer is deur die algemene kerk. Dit sal ook rigting gee aan sake soos bv. ons taalgebruik, musiekstyl en ons liggaamshouding in die erediens.

Alle Bybelse argumente wat tot dusver genoem is, is m.i. die fondament van die erediens. Dit is kosbare medikasie teen al die egosentriese verbruikersgedrag wat deesdae ons samelewing teister. Ek dink dit is nodig om daarop te wys hoe hierdie idees steeds meer gevare begin inhou vir die kerklike lewe. Ons sal dit begin sien in al die dinge wat van groot betekenis is, byvoorbeeld ons eredienste. Ons eredienste sal weerloos word as dit sou afhang van die vraag of iets vir ons lekker is of nie. Anders gesê: Ons praat van ‘erediens’ waarin ons - soos die woord sê – God wil dien deur Hom te eer en te aanbid. Maar die gevaar is uiters groot dat in die praktyk ander doelwitte vir ons belangriker is:

Ons moet iets uitkry, kan saamneem – asof ons in ’n tipe supermark is. En sou ons niks of min kon saamneem wat ons graag wil hê, dan is ons sommer baie omgekrap!

’n Mens kan onmoontlik die algemene Christelike kerk bely en jou dan niks verder steur aan die vorm en styl van erediens wat die kerk deur die eeue gebruik het om haar God te vereer, nie. Tog lyk dit deesdae of dit baie minder belangrik is as die vraag hoe ons die kerkdiens vir buitekerklikes aantrekliker kan maak. Baie mense is bereid om baie van ons erfenis daarvoor weg te gooi. Dink maar net hoe daar na die kerklied gekyk word. In plaas daarvan dat ons die lof van die kerk van alle eeue offer aan God, offer ons deel van die kerk se identiteit op. En as dan boonop ook nog demokratiese beginsels begin gebruik om te bepaal wat ons doen of nalaat in die erediens, dan is die ware erediens inderdaad baie weerloos.

Ek het reeds van ons samelewing gepraat. Soos algemeen bekend, word in ons hedendaagse kultuur aan verstandelike kennis groot waarde toegeken. In hierdie verband wil ek graag wys op die gedagte wat hier en daar gehoor word, dat jy altyd in die erediens iets moet leer. En op sig is dit waar dat God se Woord ook in die erediens verklaar word, en daar dus iets geleer word.

Maar dit is ’n ander vraag of verstandelike kennis die einddoel van die erediens is. Dit is vir die erediens nie van primêre belang dat ’n mens verstandelike vermoëns het nie, maar dat die mens geskape is as beeld van God, om die skepping voor te gaan in lofprysing.

Die mens kan God antwoord deur sy woorde op die lippe te neem, sy dade te verkondig, Hom in gebed te bely, te loof en te aanbid. Die mens het die verstandelike vermoëns gekry as ’n middel om daardie doel te bereik. Dieselfde geld ook vir sy kreatiewe aktiwiteite.

In elke goeie erediens word die hele mens betrek, en nie slegs sy verstand nie. In ʼn kerkdiens gebeur iets anders as net die blote oordra van intellektuele kennis. Die gebruik van opleidings-hulpmiddels soos oorhoofse-projektors versterk en benadruk juis die kerkdiens as ’n kognitiewe leerbyeenkoms, of word in elk geval daarmee geassosieer.

’n Erediens is wesenlik iets anders as ’n byeenkoms van ’n Bybelstudiegroep. Versterking in geloof beteken meer as net toename in verstandelike Bybelkennis.

In die erediens gaan dit om God en sy dade te ‘ken’. Die woord ‘ken’ moet hier in sy Bybelse betekenis verstaan word. Om God te ‘ken’ is om God te ‘vrees’, want die vrees van die Here is die beginsel van die kennis (Spreuke 1:7). ‘Ken’ is om God se dade raak te sien, na sy woorde te luister, om God as Skepper en Verlosser te erken en Hom lief te hê (Hosea 6:6) en om ’n hegte verhouding met Hom te hê. Dit is dus duidelik dat nie net jou brein hierby betrokke is nie, maar jou hele doen en late. Met ‘ken’ word dieselfde ‘ken’ bedoel as dit wat jy in ’n goeie huwelik tussen man en vrou sou aantref. Net soos ’n verstandshuwelik ver van optimaal is, net so min sou dit by Christus en sy gemeente so wees.

Huidige Praktyk🔗

Wanneer ons nou alles waaroor ons besin het in terme van die liturgie sien, dan ontdek ons dat die mens nie alleen as ʼn ‘deur Christus verloste’ in die erediens verskyn nie. Hy kom saam met God se volk. Die gemeente kom saam in die erediens. In hierdie verband het ek in my omskrywing van liturgie die begrip ‘gemeentebou’ opgeneem.

Uiteraard is een van die doelwitte van die erediens dat individuele gelowiges gestig word. Uit die eerste brief aan die Korintiërs blyk dit egter dat daar ’n oorkoepelende doel is: opbou, ‘stig’ van die gemeente (vgl 1 Korintiërs 8:1, 10:23, 14:4, 5, 12, 26). Alles is geoorloof, mits die gemeente daardeur gestig word. Hier sien ons hoeveel waarde aan die samekomste van God se volk geheg moet word, aan die gemeenskaps-element van die erediens. Dit is die kerk (God se volk, die liggaam van Christus, die tempel van die Heilige Gees) wat saamkom. Dit is een van die redes waarom ek nie oortuig is dat dit wys sou wees om die gemeente in groepe of selle op te deel nie.

Vervolgens sou ek graag op die voorgrond wil plaas: ons kom nie alleen as hernude skepsels kerk toe nie, maar ook as rentmeesters van die skepping.

Daardie skepsel wat name aan ander skepsels mog toeken, is in die erediens die verteenwoordiger van die hele skepping. Hierdie besef is van groot belang vir die erediens. Ons besef dan dat nie net ons nie, maar die hele skepping geskape is om God te prys. Ons besef ook dat nie alleen die mens nie, maar ook die hele skepping, deur die sondeval, onder God se vloek gekom het. Ons praat van ’n skepping wat in barensnood sug. Die skuldbesef waardeur die ganse skepping onderworpe is aan sinloosheid en vrugteloosheid.

So het ons dan by ’n ou liturgiese element beland: die Kyrie eleison. ’n Gebed van die kerk vir die nood van die wêreld. Ons vingerwys nie na Adam, wat op sy beurt Eva beskuldig het nie. Ons bely ons skuld aan die nood van die wêreld. Woestyne wat uitbrei, vrugteloosheid, omgewingsrampe, vervuiling van riviere en damme, berigte van oorloë, hongersnood, oorstromings .............

Ons besef hoe erg ons God se goeie skepping verniel het. Ons besef hoe afhanklik ons van God se hulp is. Daarom neem ons al die nood in die wêreld saam kerk toe. Daar roep ons ‘Kyrie eleison’: Heer, ontferm U.

Ons besef dan ook dat Christus nie alleen vir ons nie, maar ook die hele skepping verlos het. Dan begin ons die dieper betekenis van Psalm 98 verstaan: ‘laat die riviere in die hande klap, die berge tesame jubel voor die aangesig van die Here’. Ook Psalm 148 waar die ganse skepping God moet loof. Die hele skepping word in erediens opgeroep om God te prys in sy werke. Ons kom by die Gloria in excelsis: Alles wat asem het moet God loof - en God se volk moet die skepping daarin lei. Uiteindelik moet en sal alles uitloop in ’n harmonieuse lofprysing van alles wat asem het. Die fees van die bevryding moet gevier word. Nie “ook” in die erediens nie, maar “juis” in die erediens. Ook die lofprysende gemeente is voorganger in die erediens. Die gemeente moet ruimte en tyd gegun word om hierdie taak as voorganger van die skepping, behoorlik te vervul.

Vir hierdie lofprysing het God die hele skepping in bruikleen aan die mens, as rentmeester, gegee. Ons besin dan oor die vraag hoe ons as rentmeester omgaan met ’n skeppingsgawe soos die taal wat ons praat. Ons besin oor musiek in die erediens, en die blomme aan die voet van die kansel. Ons dink aan die werk van die kunstenaar, wat omgaan met skeppingsgawes soos verf, metaal, hout en klei, omdat God hom die gawes en talente gegee het.

’n Mens hoor dikwels die opmerking: “Maar al hierdie dinge lei ons aandag van die Woord af”. Asof diegene wat in geloof om hulle heen kyk en God volkome en duidelik uit die Skrif ken, die skepping van die Skepper sou kon aflei. Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van Sy hande (Psalm 19:2). Wie God uit sy Woord ken, sal Hom ook wil leer ken uit die ander pragtige boek: Die skepping!

Want al die skepsels, die blomme in die kerk, die musiek deur God geskep, ja alles dui op die Skepper. Hierdie is die letters wat ons die onsigbare dinge van God duidelik laat sien, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid (Nederlandse Geloofsbelydenis Art 2).

In die erediens moet die kerk nie die hemel op aarde probeer bring nie, want in die erediens staan die gemeente met hul voete op die aarde. In elke erediens word hoorbaar hoe die skepping sug en in barensnood is. Liturgie is nie ’n stukkie hemel op aarde nie.

Die kerk hoef nie angsvallig God se goeie en pragtige skepping buite die kerkdeur te hou nie. Daarom moet daar geen passiwiteit of berusting wees wanneer dit kom by swak orrelspel, slegte of platvloerse taalgebruik, blomme van plastiek, wegdoenbare nagmaalkelkies en dies meer nie.

Uit die wyse waarop ons erediens hou, maak ons sigbaar hoe ons God sien.