Bron: De Reformatie. 2 bladsye.

Waar Vind jy God? Tussen die Puinhope

Opgewonde staan die nuwe ouers by die doopvont. Bly met hulle baba, dankbaar vir God.

Hulle belowe van harte om goeie ouers te wees. Hulle sal hul kindjie vertel wie Vader is, hulle sal sy sorg en liefde oordra. Daardie gelowige entoesiasme is goed om te sien. Die bereidheid om dit te belowe word baie ernstig opgeneem. Tog is hierdie belofte van die ouers nie waarmee alles begin nie. Dit kom eers by die derde doopvraag (van die Formulier) aan die orde. Dit handel eers oor wat God belowe. En hoekom.

Allerhande Ellende🔗

Tydens die voorlees van die vrae kry mens nie genoeg tyd om dit in jou op te neem nie. Daarom sal dit goed wees om dit vooraf saam met die ouers deur te gaan. Dit sou nog beter wees as ons ons saam as gemeente daarop sou voorberei. Net soos met die viering van die Nagmaal. Want daar kom heelwat aan die orde. Byvoorbeeld: "glo u dat hierdie kindjie onderworpe is aan allerhande ellende?"

Weet jy wat is hierdie ‘allerhande ellende’? Besef jy eintlik wel waarop jy ‘ja’ sê?

Allerhande ellende is (kortliks saamgevat) alle ellende wat mens maar aan kan dink. Hierdie kind kan siek raak. Hy kan jonk te sterwe kom. Sy kan in ʼn ongeluk betrokke wees, gebreklik raak, gestremd deur die lewe gaan. Hy kan in ʼn oorlog beland. Hy kan ʼn slagoffer word, beroof, mishandel of misbruik word. Dis ook moontlik dat hy op latere leeftyd eensaam word, depressief of oorspanne. Of sy kan bedrieg en verlaat word. Te veel om te noem. Daarom noem ons dit ook nie alles nie, maar mens moet dit wel begin besef.

En dan die ergste wat kan gebeur. Hierdie dinge sal nie net met ʼn kind kan gebeur nie, maar hy/sy sal ook self in staat wees om kwaad aan ander aan te bring. Die ellende kom nie net van buite nie, dit sit in sy eie hart. Hy is in sonde ontvang en gebore, as sodanig los van God, tot alles toe in staat.

Uitgangspunt🔗

Ja, dis skokkend wanneer mens dit lees. Dalk skrik jy van al die moontlikhede wat kan gebeur, of skrik jy omdat die ellendes vir jou bekend is. Dit is geensins iets moois nie. Hoekom dan tog die opsomming van allerhande ellende? Omdat dit my ondervinding is dat gelowige mense in die praktyk tog ʼn ander uitgangspunt het. Nie die uitgangspunt van ‘alles is moontlik, want dis hoe ek is’ nie, maar meer in die trant van ‘as ek siek raak, sal God Homself moet verantwoord’. Dit is baie kortliks gestel. Miskien te kort, want baie dinge kom by so iets ter sprake. ʼn Mens mag sekerlik jou vrae hê, jy mag hulle ook stel, jy kan ook daarmee worstel en dit mag moontlik ʼn hele proses wees. Aanvaarding van leed is ongelooflik moeilik, baie keer kom mens nie verder as net die begin nie. Dit alles vra baie meer tyd en aandag as wat hier onder woorde gebring kan word. Ek noem dit net, terwyl ek self nog steeds onder die indruk is, wat dit vir mense kan beteken. Maar nou wil ek hierdie een vraag stel, in die middel van hierdie komplekse lewe: weet jy, waarop by jou doop ‘Ja’ gesê is? Miskien was dit jou ouers wat dit gesê het en het jy dit hulle later nagesê toe jy jou geloofsbelydenis afgelê het. Dalk het jy dit self uitgespreek toe jy as volwassene gedoop is. Dit is ook moontlik dat jy intussen as vader of moeder daardie antwoord gegee het vir jou eie kind.

Hoe dit ook al sy, daardie ‘ja’ hou in, dat jy voor God bely dat jy jouself kwesbaar opstel vir enige vorm van gebrokenheid. Aan allerhande ellende onderworpe, werklik daaraan oorgelewer is. Dit hou ook in, dat enigiets nou moontlik is wat my lewe stukkend kan maak. Hierdie belydenis is namens my gedoen en dit bely ek ook nou self. En juis daarom is die weg na die doopvont moontlik gemaak. Omdat geen mens homself meer kan red nie, daar is geen enkele manier nie, ook nie daardie klein wesentjie nie.

Sodoende sal ek nie ʼn ‘mooiweers-geloof’ kan navolg nie. Nie op die manier van ‘alles sal goed gaan, tensy daar iets onverhoeds verkeerd gaan’ nie. Nee, die uitgangspunt het die gebrokenheid van hierdie bestaan geword, die chaos wat voorkom uit my eie sondige hart. Ek moet leer glo, dat ek nie ʼn enkele verweer het teen geen enkele kwaad nie; dat ek verlore is as God my nie red nie.

Verbaas? Waaroor?🔗

Hierdie uitgangspunt in ons denk- en geloofswyse is baie belangrik. Daar word immers in omstandighede waarin ons ellende sigbaar word, die vraag gestel: ‘Waarom doen God dit?’ Of: ‘waar is God nou?’ So op die toon van: ‘dit het ons nie verwag nie’. Of sterker nog: ‘ons blameer Hom’. Vir mense om ons is dit modern om so oor God te dink. Hy kan teleurstel, jy moet ook seker maar nie alles van Hom verwag nie. Dit gaan baie keer saam met die ontkenning van ons sondeval en die gevolge daarvan. Daarteenoor is dit juis van belang, vir God se eer en jou eie verdere lewensweg, dat jy die volgorde in jou lewe goed sal raaksien. Juis omdat God by ons geboorte al geweet het hoe stukkend ons lewe gaan wees, tot in die wortel, het Hy gesê dat Hy ons by die doopvont wil sien. Dit is waar Hy uitbeeld, dat ons in onsself nie lewensvatbaar is nie (ons word begrawe). Maar dat ons tog mag lewe, in en deur Jesus Christus (ons staan op saam met Hom). Ons sal die puinhope in ons lewe raakloop, ons gebrokenheid sal aan die lig kom, moenie daaroor verbaas wees nie! Maar tussen die brokstukke sal ons God ontmoet wat met ons is, en Hom nie vir ons sal skaam nie (hoe is dit moontlik!). Ons sal onsself verwonder oor Jesus Christus, wat ons hier en nou opgesoek het, wat ons stukkende lewe syne gemaak het.

Die eerste doopvraag (van die Formulier) blyk die tiperende samevatting van ons lewe te wees: aan allerhande ellende onderwerp en tog in Christus heilig, Sy eiendom, vir ewig en altyd. Dan bly daar nog baie hartseer oor, en daarvoor word alle ruimte en aandag gegee. Maar teleurgesteld wees in God? Nee, nie dit nie. Dit is glad nie dieselfde nie. Wanneer jy opkyk na die kruis, sien jy in Jesus jou eie gebrokenheid raak, wat vrywillig deur Hom gedra is. Wanneer jy afkyk na sy oop graf sien jy in Hom jou eie herstel. Is dit dan moontlik dat jy in Hom teleurgesteld kan wees en bly? Laat jouself liewer inspireer deur die hoop, deur sy persoonlike aanwesigheid, hier en nou. Jy sal nie in Jesus teleurgestel word nie, maar in Hom geheilig: veilig gestel, gereinig, geborge en gekoester.

Die Goeie Herder🔗

Dit is ook goed om in hierdie verband iets te sê oor die Goeie Herder, omdat daar van Hom te maklik ʼn oor-romantiese beeld gemaak word. Soos kabbelende spruitjies en sagte groen weivelde. Maar dit is nie hoe Jesus dit bedoel het nie. In sy beeldspraak gaan dit oor ʼn groot en aanhoudende gevaar wat ons op allerhande maniere kan bedreig. Dit is as gevolg van sy inset as ons Goeie Herder dat ons nie verlore gaan nie, dat ons nie verslind of geroof word nie. Lees gerus Johannes 10:11–13 en 27-39 en laat dit op jou inwerk hoeveel kwaad en gevaar Jesus al in ons lewe gesien het, en dat Hy juis daarin naby ons wil wees.

Daarom, wie vir God wil vind moet hom nie in eie gesondheid en welvaart soek nie. Want dan sal jy jouself voortdurend afvra waar Hy is. Maar soek Hom tussen die puinhope van jou bestaan en jy sal Hom raaksien, tot jou eie, steeds terugkerende verbasing.