Bron: Die Kerkblad, 1985. 2 bladsye.

Waarheen met Skuldbelydenis en Verootmoediging?

Vandat die radio soggens met sy nuusbulletin begin tot slaaptyd is daar 'n oordosis neerdrukkende nuus. Die omstandighede stel hoë eise in die persoonlike, huweliks-, gesins-, ekonomiese en tans ook die staatkundig-politieke lewe. Dit alles beïnvloed die mense. Sielkundiges word gevolglik meer as vroeër deur depressiewe mense besoek.

'n Atmosfeer van Vrymoedigheid Teenoor Mekaar?🔗

Hierdie omstandighede stel die gemeenskap van die gelowiges voor 'n praktiese toets. Is ons vir mekaar 'n steun en bemoediging? So iets vra veral vrymoedigheid teenoor mekaar. Ongelukkig is hierdie belangrike gesindheid juis ernstig in gedrang. In plaas van openheid en vrymoedigheid is daar polarisering. Daar is 'n gevoel van politiese bedreiging. Ons sluit ons vir mekaar af. Ons kom met verdediging, of gaan tot die aanval oor; of ons vermy mekaar. Daarmee kwyn die gees van onderlinge erkentlikheid en spontane en natuurlike belydenis. En as daar nou iets is waaroor ons 'n skuldbesef moet hê, dan is dit hieroor. Dit is strydig met die gees van ware Christelike saamlewe en meelewe. Dit geld binne ons gemeentelike samelewing en ook daarbuite – ook in ons verhouding met Christene onder ander volke. Daarby wil ons eerder oortuig en debatte voer as getuig. Ons wil te veel ons eie afleidings en menings op mekaar afdwing en te min die Woord van God en die werk van God aan die orde laat kom.

Op God Gerig en Nugter Wees🔗

Dit bring ons by skuldbesef en verootmoediging. Hierdie belangrike saak word verabsoluteer en skeefgetrek.

In die moderne teologie en samelewing het die mens baie keer 'n meer beheersende plek as God. Die verskynsel kan sy stempel op spesiale byeenkomste vir skuldbesef en verootmoediging afdruk. Die openbare verootmoediging, veral spesiale groot byeenkomste, word dan gesien as bepalende faktor of daar reën of ander voorspoed gaan kom – in plaas daarvan om die saak in ware ootmoed gedurig aan God se vrymag oor te laat.

Skuldbelydenis enersyds en onskuldbelydenis andersyds word ook maklik 'n demonstrasie en word ingespan as politieke middel. Daardeur verloor dit sy krag en het dit dikwels 'n negatiewe uitwerking. By sommiges lei dit tot verset teen skuldbelydenis en selfs tot selfverontskuldiging. By ander lei dit tot 'n gebrekkige, selfs afwesige skuldbesef en tot selfvoldaanheid. Hulle voel hulle hoef self maar net 'n skuldbelydenis aan te hoor en verkeer in die posisie om te vergewe of nie te vergewe nie.

Verder kan sulke byeenkomste ook gebruik word as strafmiddel op die wat as skuldiges beskou word. Daar word te maklik vergeet dat dit in die eerste en laaste plek God is wat vergifnis skenk. Hy kan vergewe al vergewe mense nie; of Hy kan weier om te vergewe, selfs al vergewe mense. As Hy vergewe, laat Hy die mens nie dieselfde bly nie maar laat Hy veranderde dade na vore kom. As Hy vergewe, laat Hy 'n mens ook die kop optel voor Hom en teenoor ander mense.

Gereformeerdes is gewoonlik terughoudend oor openbare skuldbelydenis. Openbare skuldbelydenis kan so maklik oppervlakkig raak: dit kan bloot uiterlike woorde en vertoon wees. Dan kom die geloofwaardigheid van die gelowige samelewing en kerk so maklik in gedrang. Skuldbelydenis en verootmoediging kan verval tot 'n ruilmiddel, 'n transaksie waarmee 'n mens dink ander se goeie gesindheid kan gekoop word, ook die van God. Dit kan die gewete sus, sonder daadwerklike lewensverandering. Hier moet nugterheid behou word; dade spreek sterker as woorde. Die regte optrede in die alledaagse lewe spreek sterker as groot byeenkomste met baie woorde. Die profete in die Ou Testament het die verbondsvolk dan ook gedurig daarvan aangekla dat hulle indrukwekkende maar leë byeenkomste hou. God eis 'n opregte en daadkragtige lewe.

'n Skriftuurlike Sondebesef by Ons?🔗

Tog is dit nie al wat die profete gesê het nie. Die verbondsvolk is ook opgeroep tot bekering en skuldbelydenis, ook openbare skuldbelydenis. Dit was 'n belangrike toets of iemand 'n ware of 'n vals profeet is. Wie as profeet in die raadskamer van die Here staan, roep die volk tot bekering op (Jeremia 23:22).

Die Heidelbergse Kategismus leer dat ons van nature geneig is om God en ons naaste te haat. Maak ons genoeg erns van hierdie belydenis, is dit vir ons 'n praktiese belydenis en leef ons daaruit. Laat ons maar bely dat daar oor sondebesef 'n groot leemte by ons bestaan.

Skuldbesef en Daadkrag🔗

'n Opregte skuldbesef is 'n wesenlike deel van ware Christelike godsdiens. Dit vertolk ons verhouding tot God en ons naaste, in ons gesindheid en optrede. Dit is nie verlammend nie maar bevrydend. Dit verwyt nie ander nie maar lê 'n basis vir Christelike saam lewe en saam werk waarin die een die ander hoër ag as homself.

'n Ware skuldbesef wag nie vir die ander nie, maar begin by jouself. Dit lei tot reformasie van die samelewing as 'n gemeenskap die verandering ondergaan. 'n Ware skuldbesef beteken nie om boedel oor te gee aan ander nie. Ook die ander mense is van nature geneig om God en hulle naaste te haat. Die Skrif eis skuldbesef en skulderkenning van elke mens en elke groep. Dit vorm die gemeenskaplike basis waarop positief gebou kan word. Die eis bring almal voor die besef van hoe ver hulle te kort skiet aan die eis van die Woord. Die selfkennis maak 'n mens bereid om ander se tekortkominge te vergewe. Dan word geleef deur God se genade tot sy eer en almal se welsyn.

In plaas van die atmosfeer waarin elkeen verbete aan sy onskuld vashou en mekaar met agterdog en verwyt benader en vervreem, bring die Skrifoptrede 'n gesindheid van wedersydse vergiffenis, 'n atmosfeer van ontspanning en vrymoedigheid.

By die Natuurlike Begin🔗

Hierdie vrymoedigheid moet so natuurlik as moontlik gebeur. Op kerklike vlak kan dit begin by die plaaslike gemeente en die gemeente onder 'n ander volk waarin die gemeente mede werksaam is. Dit skep 'n natuurlike terrein om vrymoedigheid en erkentlikheid te beoefen. Die natuurlike kontak mag die behoefte aan groot openbare samekomste wat dikwels onpersoonlik bly, verminder. Spontane kontak bou vrymoedigheid en ontspanning. Dit bou aan die geloof. Onpersoonlike demonstrasies is dikwels weinig meer as emosionele afleiers. Dit waarborg nog nie daadkragtige bekering en verandering van lewe nie. Dit gee dikwels aanleiding tot 'n blote kettingreaksie van openbare demonstrasie en blote skuldbelydenisse, veral omdat die enkeling homself nie daardeur persoonlik aangespreek voel nie.

Ons persoonlike, gemeentelike en plaaslike aanpak en hantering van verhoudinge is van die grootste belang. Die kerke kan op 'n natuurlike wyse die eis van spontane en natuurlike verootmoediging en skuldbelydenis stimuleer en die Evangelie praktiese gestalte laat kry. Deur die kerk val die lig op die Evangelie as basis vir ware eenheid, harmonie en vrede.