3 bladsye.

Waarom Groei My Geloof so Min?

Ons kultuur is in 'n stroomverversnelling. Dit bring angs, onsekerheid en twyfel. Maar nie net die kultuur nie, ook geloof kom in gedrang.

Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie. Aan die begin van die twintigste eeu het Prof. Dr. H Bavinck geskryf dat 'twyfel' die sielsiekte is van die eeu, en dit bring 'n hele reeks sedelike ellende met hom saam (De Zekerheids des Geloofs, 1901, 8). Tog is daar 'n aanmerklike verskil tussen 1901 en 1996. Toe Bavinck geskryf het, het hy veral gedink aan die wêreld buite die kerk, al noem hy ook die 'moderne' teoloë van sy tyd. In sy eie kerk (die Gereformeerde Kerken), was op daardie tydstip nog duidelikheid oor die verbondenheid aan die waarheid van God se Woord en die gereformeerde belydenis. Hy wou sy medegelowiges waarsku om nie die gevaar van hierdie 'twyfelsug' te onderskat nie.

Baie mense in ons kerke word vandag ook geraak deur die vloedgolf van sekularisasie (verwêreldliking) wat sedert die sestiger jare oor die weste en Westerse kerke gebreek het. Die 'atmosfeer' van sekularisasie, gekenmerk deur vervreemding van God, geloof en kerk, is vir baie gelowiges 'n belemmering in hulle geloofsgroei. Baie het die gevoel dat alles van hulle weggeneem word, sonder dat iets in die plek daarvan gestel word.

Ek is gevra om op spesifieke belemmerings in te gaan. Ek wil dit graag doen, maar moet meteen daarop wys dat elke mens uniek is, en by een mens heel ander faktore 'n rol speel as by 'n ander. Dit kan ook wees dat dieselfde faktore by verskillende mense 'n ander rol speel. Die leser sal dus self in die spieël wat ek hom voorhou, moet kyk en vir homself nagaan watter van die faktore sy eie geloofslewe raak.

Wêreldgelykvormigheid🔗

Hierdie woord, wat mettertyd ouderwets geword het, kom ons nog teë in die vertaling van Romeine 12:2: "Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie" (AOV). Vroeër het ons presies geweet wat om daaronder te verstaan. Ouderlinge het, by wyse van spreke, met 'n vaste lysie van verbode sake op pad gegaan: dans, toneel, lidmaatskap van neutrale (nie-christelike) organisasies en die lees van neutrale koerante was verbode. En dan is al te gou aanvaar dat iemand wat hom by hierdie lysie hou, nie wêreldgelykvormig is nie. Kyk ons vandag daarop terug, besef ons dat dit 'n oorvereenvoudiging was. Wêreldgelykvormigheid is nie 'n kwessie van 'n paar uitwendige dinge nie, maar 'n saak van die hart. ’n Beter vertaling van die woorde van Paulus is miskien: 'Moenie saam loop in die gareel (harnas) van hierdie wêreld nie'. Ek dink dat ons soms veel meer aan die 'gareel' (letterlik 'skema') verbonde is as wat ons besef. Ons kultuur is vandag deurdring van individualisme en outonomie. Alles is gerig op die 'ek', en daardie 'ek' moet maar uitmaak hoe hy wil lewe. As die 'ek' maar gelukkig is ... . Reklame het voortdurend 'n invloed en voor ons dit weet, word ons beheers deur die verbruikersdrang wat so kenmerkend is van die hele Westerse kultuur.

'n Mooi huis, 'n duur motor, buitelandse vakansie (liefs 'n paar keer per jaar) ens. en ander dinge wat aan my status gee of dit bevestig, word die belangrikste dinge in my lewe. Nie een van hierdie dinge is opsigself sleg of verkeerd nie, maar hulle kan so maklik afgode word wat ek ten koste van my God dien – al gaan ek ook hoe getrou elke Sondag kerk toe. In sy boek, Is dit moeiliker om vandag te glo?, wys Ds. J. Overduin daarop hoe vinnig ons in die daaglikse lewe in wêreldse patrone dink. Hy wys daarop hoe vinnig ons ons besluite en lewensverhoudings laat bepaal deur dit waaraan ons sin het of nié sin het nie, wat vir ons die voordeligste is, wat ons in eie belang ag, deur wat mense sê of van ons verwag, in plaas van deur wat God van ons wil en verwag (op pp. 100, 101).

Twyfel🔗

Die geloof word vandag ook inhoudelik sterk aangeveg. Baie mense het las van twyfel. Dit is ook nie iets wat eie is aan ons tyd nie. Bavinck het dit reeds in 1901 gehad oor 'twyfel' as 'n 'sielsiekte' van sy tyd. Tog is dit vandag anders as vroeër. In die verlede was die twyfel dikwels subjektief van aard. Dit het gegaan oor vrae soos: Hoort ek hierby? Is die beloftes van die evangelie ook vir my? Vandag is die twyfel meer dikwels objektief van aard. Vandag word mense, ook in die kerk, gekwel deur vrae soos: is dit wáár wat in die Bybel staan? Het ons nie te doen met 'n boek oor menslike ervarings uit vroeër dae nie? Is ons ervaring nie anders nie? Vroeër het die bestaan van God, altans vir kerkmense, soos 'n paal bo water gestaan. Vandag stel mense toenemend die vraag: bestaan God werklik? Volgens baie wetenskaplikes is daar immers geen enkele rede om te glo dat daar 'n God is wat alles geskep het en deur sy voorsienigheid alles in stand hou nie. Op skool al hoor ons kinders dat die heelal deur evolusie ontstaan het en dat ons, mense, die resultaat is van 'n lang ontwikkeling uit die diereryk. Die hele ontwikkeling het blykbaar so verloop dat aan die einde daarvan die denkende mens (die 'homo sapiens'), toevallig te voorskyn gekom het. 'n Ander algemene vraag is waarom jy God om genesing sou vra as jy siek is. Moderne geneesmiddels werk immers sonder gebed ook!

'Boesemsondes'🔗

Tog lê die meeste en grootste belemmering vir ons geloofsgroei in onsself, en wel op twee maniere: in dit wat ons doen en in dit wat ons nalaat. By die eerste dink ek by name aan die toegee aan bepaalde sondes. Byna elkeen van ons het las van wat ons vroeër boesemsondes genoem het. Volgens Van Dale se woordeboek is dit lankgekoesterde, ingewortelde sonde. Dit is altyd heel persoonlik, en het by elke mens 'n eie kleur. Vroeër was ons nogal geneig om by die woord 'boesemsondes' by name aan seksuele sondes te dink. Dit het saamgehang met die feit dat daar in die Westerse kultuur sedert Augustinus iets verdags aan seksualiteit kleef.

Hiermee wil ek nie ontken dat by sommige mense die boesemsonde waarskynlik van seksuele aard kan wees nie. Die seksuele drang is een van die sterkste in ons lewe. Maar die boesemsonde kan net so goed van 'n heel ander aard wees. Soos, byvoorbeeld, arrogansie, opvlieëndheid, kwaadsprekery, hebsug, ens. Ons moet in besonder in dié verband 'n slag noukeurig in ons eie spieël kyk!

Nalatigheid🔗

Die grootste belemmering in ons geloofsgroei lê waarskynlik in die dinge wat ons nalaat, dus in nie doen. Ons weet almal dat ons geloof nie kan groei as ons ons nie oopstel vir die Heilige Gees en sy werk nie. Die Heilige Gees het baie pyle aan sy boog, maar doen altyd sy werk in samehang met God se Woord. Dié Woord kan ons onderskei in drie gestaltes.

Primêr en sentraal is die Woord wat God in Jesus Christus gespreek het. In Hom het God op so 'n manier tot ons gespreek dat ons nou werklik weet dat Hy daar is en hoe 'n God Hy is. By geloof kom alles dan ook aan op ons verhouding met Jesus Christus. Behoort ons werklik aan Hom? Glo ons werklik in Hom? Dit wil sê, op 'n heel persoonlike wyse? Is ons werklik bereid om ons kruis agter Hom aan te dra? Weet u, Jesus het ons nooit 'n gemaklike lewe beloof nie. Vir sy dissipels het Hy gesê dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard (Matteus 10:34). En Hy verduidelik dit só: 'Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind' (38, 39). Is ons werklik daartoe bereid?

'n Tweede gestalte waarin die Woord van God tot ons kom, is die Bybel wat die getuienis aangaande Jesus Christus bevat. Die Ou Testament wys vooruit na Hom, en die Nuwe Testament wys na Hom toe terug. Sonder die Bybel sou ons baie min van die Woord wat Hy in Jesus gespreek het, geweet het. Watter rol speel die geskrewe Woord in ons lewe? Ons lees dit miskien aan tafel, maar lees ons dit op die regte manier? Lees ek dit as 'n persoonlike brief, wat aan my persoonlik gerig is?

Die derde gestalte waarin die Woord tot ons kom, is die verkondiging van die Woord. Dit vind plaas tydens die erediens op Sondag, maar kom ook op ander maniere tot ons: bv. 'n oordenking in 'n koerant, of 'n preek oor die radio of geestelike liedere op ’n CD. Dit kan ook na ons kom deur 'n gesprek of 'n boek.

Een van die grootste belemmerings van ons geloofsgroei is dat hierdie dinge so maklik pure gewoonte of roetine word. Dit word 'outomaties'. Dit 'doen' nie meer iets vir ons nie, sê ons al te maklik. In werklikheid is dit egter heeltemal anders gesteld. Ons is nie maar passiewe voorwerpe wat nie kan help dat niks gebeur nie. Dit is in werklikheid net andersom. Dit is óns wat niks met die Woord dóén nie. Dit lê nie aan Hom wat die Woord ís nie, dit lê nie aan die Skrif nie, dit lê nie aan die preek nie, dit lê aan my! Soek ek Christus en stel ek my oop vir sy Gees? Bid ek vir lig van die Gees voor ek die Woord oopslaan? Gaan ek met 'n oop hart kerk toe en laat ek die gepredikte Woord werklik binne? Of dink ek dat ek eintlik alles al weet en dat wat ek doen niks anders is as 'n herhalingsoefening nie?

'Skaars'🔗

In 1 Samuel 3:1 staan 'n opmerklike uitdrukking: 'die woord van die HERE was skaars in die dae'. Wie se skuld sou dit gewees het? God s'n, omdat Hy Hom nie wou openbaar nie? Ons weet van beter. Dit kom van die sondige duisternis in die sentrum van Israel se godsdiens: die tabernakel by Silo. Die hoëpriester Eli was nie net oud nie, maar die krag het ook uit sy geloof verdwyn. Hy vermaan wel sy twee seuns Hofni en Pínehas, wat by die bring van die offers nie net die mense nie, maar ook vir God besteel het, maar laat hulle verder hulle gang gaan. Die gevolg hiervan was dat die mense wat kom offer het, 'die offer aan die HERE verag' (2:17) het. In so 'n situasie is dit nie vreemd dat God Hom terugtrek, en nie meer boodskappe of gesigte gee nie. En tog laat God dié volk, waarmee Hy op Sinai 'n unieke en ewige verbond gesluit het, nie los nie. Hy begin voor, opnuut, met die seuntjie wat as Eli se handlangertjie in die heiligdom werk. In die middel van die nag roep Hy hom: 'Samuel, Samuel!'

Is dit miskien ook die probleem van ons tyd? Dat ons as lidmate van die kerk so 'gewoond' is aan die evangelie dat die glans daarvan af is? Is dit dan vreemd dat die glans van ons geloof ook verdwyn? As ons geloof swak is soos 'n flikkerende kersie, dan lê dit nie aan God nie, maar moet ons in die spieël van God se Woord na onsself kyk, en bid:

Hoor, Heil'ge Gees, ons roep U!
Kom, wees aanwesig in die woord;
wek ons gees, sodat dit hoor,
wek ons hier en nou tot lewe.
  Ad den Besten, Gesang 250; vry vertaal