Bron: Kerk en Woord. 4 bladsye.

Waarom jy moet Glo in die Enige Ware God

NGB art 1🔗

Sekere kwessies is vandag weer brandend aktueel, kwessies waaroor die Nederlandse Geloofsbelydenis as belydenis van die kerk helder antwoord gee. Dit is brandende kwessies soos

  • die eksklusiewe waarheid dat alleen die drie-enige God die ware God is,
  • dat hierdie God Homself op ’n altyd-geldende gesagvolle wyse deur die diens van mense aan die mens bekend gemaak het en dit op ’n sondelose wyse laat opteken het,
  • die status en die betekenis van die Bybel,
  • die besondere feite oor die persoon en werk van die Here Jesus,
  • die hele kwessie van die soeke na die ware kerk en ’n afwysing van die valse kerk,
  • die besondere wyse waarop die kerk regeer moet word,
  • die taak van die owerheid.

Eers twee opmerkings vooraf oor die ontstaan van die NGB.🔗

Die eerste is dat die basiese struktuur en inhoud van die NGB hoofsaaklik berus op die Confessio Gallicana, wat nog deur Calvyn self in Frankryk bewerk is. Dit was onder meer die verhouding tussen Nederland en Frankryk op daardie stadium wat gemaak het dat Guido de Brèz nie regstreeks die Confessio Gallicana vir die Nederlanders oorgeneem het nie, maar daar is nog ’n ander belangrike leerstellige rede, naamlik dat die Confessio Gallicana veels te min die dwaalleer van die wederdopers aangespreek het. De Brèz het dus op ’n baie keurige en kunstige wyse, met pynlik korrekte formuleringe die hoofsake van die Gereformeerde godsdiens uiteengesit teenoor die Roomse godsdiens aan die een kant en die Anabaptiste aan die ander kant.

Tweedens iets van ’n meer sentimentele aard. Dit is dat hierdie belydenisgeskrif onderteken is met die bloed van sy skrywer. Na ’n jarelange soektog is Guido de Brèz, deur Spaanse troepe gearresteer en op 31 Mei 1567 opgehang. 'n Mens neem dus met diepe oorpeinsing ’n geskrif soos hierdie in die hand in ’n post-moderne tyd waarin alles as geoorloof beskou word, net voordat weer ’n vervolging moet uitbreek teen almal wat eksklusief die gereformeerde geloof wil behou.

Dit is te midde van sulke tye dat mens jouself afvra of jy ook die geloofskrag van die HERE kan ontvang om vir die waarheid van sy Woord, jou lewe op te offer as dit moet.

Paulus het in Rom 10:9 en 10 hierdie besondere woorde geskryf: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word, want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”

Wanneer 'n mens dan in art 1 hierdie presiese woordgebruik oor ons glo met die hart en ons bely met die mond hoor, kan ons as’t ware die diepere gedagte-onderbou van hierdie belydenis aanvoel.

Ons wil graag die saligmakende geloof bely! Ons wil die salige troosgedagte waarvan die Heidelbergse Kategismus so kragtig spreek, nie loslaat nie.

Dit is nie maar net ’n politieke manifes, ’n skerp gefokusde humanitêre ideologie, of maar gewoon ons eie denkbeelde wat ons durf uitspreek nie. Dit gaan oor die ware en ewige saligheid, soos wat dit skerp afgeëts lê teenoor die verdoemenis.

Ons wil niks anders as alleen die ware en saligmakende geloof bely teenoor so baie vyande wat die kerk verguis.

Dan is dit nogal ’n behoorlike vraagstuk om te beantwoord: maar wat sal die heel eerste wees wat ’n mens sê wanneer jy die enige salige geloof wil bely? Dan weet ons dat ’n geloofsbelydenis veel meer behels as om uitsprake van wetenswaardigheid te uiter.

As ons suiwer wetenskaplik te werk moes gaan, sou dit daarop neerkom dat ons al ons bronne behoorlik gaan ondersoek en nadat ons alles geweeg en beoordeel het, tot ’n sekere wetenswaardige teorie van die werklikheid kom.

Hierdie is presies die benadering wat ’n dr W.J. de Klerk in sy opspraakwekkende boekie: Die vreemde God en sy mense, volg. Soekende na strooihalmpies van waarheid, na een of ander Bron van krag en energie bo en buite ons menslike bereik, kom hy van ons soekende mensheid af tot ’n teorie van een of ander veraf vreemde godheid wat deur enkele beperkende loergaatjies bekyk kan word.

En nou kan die een persoon se teorie dan ook nog rustig afgemeet word teen ’n ander persoon se teorie. So praat teoloë van ons post-moderne tyd oor mense se verskillende godsbeelde. Die feministiese teologie kom so in opstand teen ’n soort Vaderlike godsbeeld van die Bybelskrywers wat die groot oorsaak is van die onderdrukkende patriargale sosiale samelewingstrukture wat teen vroue en kinders diskrimineer.

Die feministe leer dat ons ook moet insien dat daar ’n moederlike godsbeeld verskuil lê in die godsdiens van die Ou Testamentiese en Nuwe Testamentiese tye, en as grond vir hulle teorie voer hulle besondere buitebybelse argeologiese fondse aan, wat uit die godsdienste van die antieke beskawings opgegrawe is.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis volg ’n geheel ander benadering. Die geloofsbenadering. Net soos wat die Hebreër-briefskrywer in sy hoofstuk 11 dit verwoord: “Die ware en salige geloof is ’n vaste vertroue op die dinge waarop God ons laat hoop. Dit is ons Godgegewe bewys dat ons die dinge uit God se hand ontvang het wat ons nog nie eers gesien het nie.”

Die geloofsbenadering is in sy hart en wese totaal anders as die benadering wat Tomas Didimus te kenne gegee het, van: “As ek nie eers gesien en gevoel het nie, sal ek dit nie aanvaar nie.”

Die geloofsbenadering is wesentlik van die begin af ’n erkenning wat sê: Hierdie dinge wat ons van harte omhels, kan nie op ’n wetenskaplike manier bewys word nie.

Die geloofsbenadering sê: Iets is nie eers waar omdat en nadat dit met ons menslike eksperimente bewys is nie. Die geloofsbenadering sê dat die waarheid iets is wat soos ’n onafwendbare gawe na jou toe kom.

Die waarheid is ’n gegewe. Die waarheid is nie om te bewys nie, maar om te aanvaar. Dit is die geloofsbenadering. En veral dan hierby Hebr 11:6 wat lui: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag, want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is.... en ’n beloner is van die wat Hom soek.”

Dit is met hierdie benadering dat die Nederlandse Geloofsbelydenis sy intrede maak: Die erkenning dat daar ’n enige, enkelvoudige Geestelike Wese is, wat ons God noem.

Merkwaardig is dat alreeds by die gewone identifisering van God, wie Hy is en hoe Hy is, ons sukkel om dit klaar gesê te kry. En as ons dan enigsins na woorde gryp om iets gesê te kry, dan gebruik ons nie woorde wat gewoon net ons eie gedagteniswêreld te binne skiet nie. Ons gebruik nie sommer woorde wat poog om ons eie aspirasies en drome te verbeeld nie. Ons praat hierdie selfde God gewoon agterna, uit die Woorde wat Hy self vir ons gegee het. Nie ons eie uitdinksel nie, maar homologia – agterna-aanpraat, dieselfde sê.

Want toe Hy Hom deur die diens van Moses aan die volk bekend gemaak het, het Hy in Deuteronómium 6:4 gesê: “Hoor Israel, die HERE jou God is ’n enige HERE.” En daarby bedoel Hy soos uit die mond van Jesaja 40: 25: “By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees?” En Jes 42: 8: “Ek is die HERE, dit is my Naam, en my eer sal ek aan geen ander gee nie. ’n Enige God.”

Verder weet ons dat die apostel Jakobus met sy lesers oor die kwaliteite van die ware geloof ’n ernstige woordestryd gehad het. En een van die besondere eienskappe van die ware geloof is dat ons die waarheid aangaande die ware God moet glo. Op presies hierdie punt vra hy dus in Jak 2:19: “Glo jy dat God één is... jy doen goed. Die duiwels glo dit ook en hulle sidder. Glo met die hart en bely met die mond dat God in enkelvoudige Geestelike Wese is.”

Nogeens, toe dit gaan oor die regte en ware geloof, was Jesus by geleentheid in ’n ernstige diskussie met ’n Samaritaanse vrou by die bekende put van Jakob net buite Sigar van Samaria. En in hierdie gesprek het Jesus dit duidelik geleer (Joh 4:24): “God is Gees, en die wat Hom aanbid moet in gees en waarheid aanbid.”

En nadat die apostel Paulus in ’n uitgerekte redevoering die ingewikkelde leer van die uitverkiesing aan die Romeine verduidelik het, het hy by die slot van Rom 11 tot die lofrede gekom waarin hy eindig met die woorde (vers 36): “Want in Hom, en deur Hom, en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.”

Ons identifiseer hierdie enige enkelvoudige Geestelike Wese wat ons God noem, alleen aan die hand van begrippe wat Hy uit sy Woord ons in die mond lê.

En dan besef ons dat ons geensins in staat is om Hom te beskrywe nie. Daar is geen mond in staat om sy lof in volle waarde te uit nie.

Die helderste bewys daarvoor is die feit dat ons ses en sestig boeke het waarin Hy Homself aan ons bekend stel deur die woordediens van verskillende mense, met verskillende agtergronde en taalvaardighede, uit verskillende beskawingstydperke, in verskillende tale, gegiet in ’n verskeiden­heid van genres en spreekwyses, en nogtans hoor ons die skamele belydenis van die apostel Johannes: wat in Joh 21:25 sê: “Daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het, maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.”

Dit is nou presies wat ons agterkom sodra ons die artikel 1 klaar lees. Begrippe wat poog om God se deugde en eienskappe te beskrywe, waaruit bo alles duidelik is dat Hy waarlik Goddelik is. En ook wat hierdie eienskappe betref, wil ons niks self sê, soos die heidene van hulle afgode sê, en daarmee niks anders as ’n gewone refleksie van hulle eie aspirasies uitdruk nie. Ook wat hierdie eienskappe betref, wil ons alleen maar naspreek wat Hy ons reeds in sy Woord laat weet.

Hy is Ewig: Soos in Psalm 90:2 staan: “Voordat die berge gebore was, en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja van Ewigheid tot Ewigheid is U God.”

Hy is vir ons menseverstande onbegryplik, soos dit in Job 36:26 staan: “Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik.”

Hy is vir ons natuurlike mense-oë onsienlik, soos daar in 1 Tim 6:16 staan: “Ons is voor die aangesig van God (vs 13), wat alleen onsterflikheid besit en ’n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie...” (vs 16).

Hy is in sy wesenskarakter onveran­derlik, soos in Maleagi 3:6: “Want Ek, die HERE, het nie verander nie.”

En ook Jakobus 1:17: “God is een by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”

Hy is oneindig, soos Dawid bely in 1 Konings 8: 27: “Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.”

Hy is almagtig soos in Psalm 115:3: “terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag.”

Of soos Hy Homself aan Abraham in Gen 17 openbaar het as El Shaddai, God, die Almagtige.

Hy is volkome wys soos blyk uit Rom 11 se slotverse.

Hy is alwetend - soos die digter van Psalm 139 breedvoerig bely.

Hy is volkome regverdig - soos Nehemia dit in sy gebed (Neh 9:33) bely, en Johannes dit in 1 Joh 1:9 verkondig.

Hy is ook heilig, ja drie-maal heilig soos wat die engele Hom in Jesaja 6: 3 toesing...

Hy is ook die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is:

Daarom dat in Psalm 136 die refrein tussen die feite van die heilsgeskiedenis deurgesing word - tot 26 keer op die verse af: “Want sy goedertierenheid is tot in ewigheid...”

Al hierdie dinge word uit sy Woord nagesê om uit te druk dat dit onmoontlik is om vanuit ons menslike gedagtes te kan kom soos wat volke en tale al die eeue probeer doen het, om vir hulself een of ander godheid te ontwerp nie. So iets is geen Godheid nie.

Trouens, nadat Paulus oor die groot wonder van die uitverkiesing, en God se heilsplan met die mensheid geskryf het, kom hy by hierdie ingegewe loflied van Rom 11:33 ev: “Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.”