Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Want Hy's 'n Gawe Kêrel

Dit is belangrik dat predikante aanvaar word in die gemeentes waar hulle werk. Die predikant se persoon mag nie aanstoot gee of 'n verleentheid vir die gemeente wees nie. So nie, ly sy ampswerk daardeur skade. Nie net 'n mens se gesonde verstand sê dit vir jou nie, maar ook die Bybel leer ons so (vgl. Hand. 6:3 en 1 Tim. 3:7).

Die ou idee van 'n dominee wat altyd met 'n lang gesig en 'n swart pak klere rondloop, is net nie aanvaarbaar nie.  Ook nie die geaffekteerde preekstem wat dominees soms vir hulleself aanleer nie.  Nie omdat dit outyds is nie - ek dink dit het ook in die ou dae nie gewerk nie! - maar bloot omdat dit oneg is. Geen mens tree so onnatuurlik op nie.

Dit word ook nie van 'n Christen verwag om so te lewe nie.  Nee, wat die Here van ons verwag, is opregtheid. Christelike erns beteken nie 'n lang gesig nie, net so min as wat Christelike blymoedigheid ligsinnigheid beteken.

Moderne predikante is dikwels in reaksie teen die ou langgesig-beeld van die dominee. Maar reaksie hou altyd die gevaar in dat dit te ver wil gaan. So kan dominees ook hierin maklik ontspoor. Dit gebeur wanneer 'n dominee dit sy primêre taak maak om vir die gemeente aanvaarbaar te wees. Omdat hy graag gewild in die gemeente wil wees, raak hy daarop uit om populêre dinge te doen.

Hy wil nie meer "dominee" wees nie, maar "ou Piet" of "ou Jan" met die lekker loslit-klere, en daarby die voorste grapmaker in die gemeente. Wanneer die manne kuier, is hy die voorbok; in vrouegeselskap is hy die ene sjarme; tussen die jongspan raak hy skoon laf. Hy word die algemene "gawe kêrel" van die gemeente.

Die probleme wat uit 'n "gawe kêrel"-bediening voortspruit, is amper nog erger as die langgesig-bediening. Ten einde met die verkrampte en konserwatiewe beeld van predikante te breek, voer die los-lit-dominee allerhande nuwe dinge in die gemeente in - of dit nou nodig is of nie.  Hy kan nie bekostig om lidmate te vermaan of tereg te wys nie, want dit kan sy "gawe kêrel"-beeld te veel skade aandoen. Of die tug in die gemeente skade ly, raak van minder belang.

Omdat die "gawe kêrel"-dominee graag wil bekendstaan as iemand wat "mooi" preek, versier hy sy preke graag met allerhande snaaksighede waaroor mense lánk na die tyd sal bly praat. Of hy ontsier sy preke deur los en vas Engelse woorde en "slang"-uitdrukkings daarby in te gooi. Dit nogal "sodat die jongmense beter daarmee kan identifiseer" (wat in elk geval 'n wanopvatting is van wat die jeug wil hê).

Kort voor lank word die suiwer verkondiging van die evangelie van Christus bysaak. Hoofsaak is dat die gemeente sal gaande wees oor sy preke.

Die ellende van dié soort loslit-prediking is dat dit op die lang duur by die gemeente 'n aptyt vir sulke preke opwek. Uiteindelik kan hulle selfs hulle smaak vir die suiwer evangelieprediking verloor. Dan is dit met hulle soos die apostel Paulus in 2 Timoteus 4:3 skryf: "Daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hulle gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede."

Die droewige uiteinde van die "gawe kêrel"-dominee is dat hy, ten spyte van al sy pogings, op die lang duur tog nie vir die gemeente aanvaarbaar is nie. Miskien juis as gevolg van al sy pogings.  Want daardie dag wanneer 'n lidmaat werklik probleme het en 'n herder benodig, wil hy nie by 'n "gawe kêrel" aanklop nie, maar by iemand wat respek en vertroue inboesem.  Dan soek hy die persoon op wat die opdrag van 1 Tessalonisense 5:12 waardig is: "Erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk."

Die belangrike saak is seker dat die Woordbedienaar, soos elke ander gelowige, die beeld van opregtheid moet uitstraal. En opregtheid kan juis nie aangeplak of ingestudeer wees nie. Dan word dit deursigtig. Om onnatuurlik loslit te wees, is net so onaanvaarbaar as om onnatuurlik langgesig te wees. Om in reaksie te wees teen alles wat oud is, is net so eensydig as om in reaksie te wees teen alles wat nuut is.

Nie reaksie nie, maar aksie is wat gevra word - aksie nie ter wille daarvan om vir mense aanvaarbaar te wees nie, maar uit liefdevolle gehoorsaamheid aan God en sy Woord.