Hierdie artikel handel oor kerkeenheid en die plek van waarheid in kerkeenheid.

Bron: Die Kerkblad, 2006. 3 bladsye.

Ware Waarheid en Ware Eenheid?

ratte

In die kerk van die Here behoort daar eenheid te wees op grond van die waarheid van God se Woord (Joh 17:17; 2 Tim 2:15). Die eenheid vloei immers voort uit die waarheid. Wat die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) betref, kan gevra word: Is daar waarheid in die bestaande eenheid binne die kerke van die GKSA? En ook: Is daar eenheid in die waarheid binne die kerke van die GKSA?

Bestaan die moontlikheid verder dat daar in die kerk eenheid sonder waarheid kan wees? Met ander woorde: Kan daar eenheid wees in onwaarheid? Kan daar onenige waarheid wees? As dit die geval is, kan daar ook ’n onware eenheid wees. Die belangrike is dus: Wat is waarheid volgens die Woord? En: Wat is eenheid volgens die Woord?

Ons bely die eenheid as een van die eienskappe van die een, heilige, apostoliese, Christelike kerk. Tog is daar persone wat die eenheid in die kerk ten alle koste najaag. Die ander eienskappe wat eie aan die kerk van die Here is, behoort egter die eenheid binne die kerk van die Here te kwalifiseer:

  • Die kerk is heilig … dit is afgesonder vir die Here.
  • Die kerk is apostolies … dit word gebou op die ware leer soos verkondig deur die apostels.
  • Die kerk is Christelik … dit word gebou op die evangelie van die verlossing in Jesus Christus.

Nie een van die eienskappe van die kerk, met sy eie besondere betekenis, kan van die ander eienskappe losgemaak word nie. Soos ’n liggaam sonder bene nie ’n volledige liggaam is nie, kan die liggaam aan die ander kant ook nie net bene wees nie. Gevolglik kan gestel word: Eenheid veronderstel waarheid. Daarom moet die eenheid gegrond wees in die waarheid, anders is dit ’n valse eenheid.

Waarheid is gevolglik belangrik. Maar … eenheid is ook belangrik. Die vraag is nou: Staan waarheid of eenheid eerste in prioriteit? Die prioriteit behoort tog die waarheid te wees. Die kerk van die Here is immers gebou op die leer en belydenis van die apostels en profete (vgl. Matt 16:18). Waarheid en eenheid lê met ander woorde nie op presies dieselfde vlak nie. Die eenheid in die waarheid lei immers tot ware eenheid. Wie die eenheid egter as hoogste prioriteit stel, is besig met ’n onwaarheid en begaan ’n denkfout. Wat voortvloei uit die waarheid is dat diegene wat vashou aan en glo aan daardie waarheid, byeenhoort en hulleself daarom ook byeenvoeg. Sodoende is hulle waarlik een in die waarheid. Duidelik dus: Eers waarheid. Dan eenheid.

Ons beleef dit vandag dat daar vele pogings aangewend word om ten alle koste eenheid in die kerk van die Here te soek. Eenheid word in so ’n mate die dryfveer vir alle optrede dat mense bereid is om kompromieë oor die waarheid te sluit. En die rede vir hierdie optrede is waarskynlik dat hulle ten diepste die (tot nog toe vasstaande) waarheid (begin?) be­vraagteken. Die waarheid is vir sodaniges nie meer die vaste vertrekpunt nie, aangesien daar al meer ruimte gelaat word om die waarheid verskil­lend te mag vertolk. Die grondliggende uitgangspunt van hierdie sienswyse is dat die waarheid (die waarheid van die Woord) nie meer as vas en geldend en vir almal as dié waar­heid gereken kan of mag word nie.

Bybel

Vergelyk die debat in die NG Kerk – Johannes de Villiers haal in sy artikel “Versuim met leer van Skrifgebruik haal kerk nou in” (Beeld 1 Sept. 2005, p. 21) verskeie teoloë aan. Die een sê: “Dit gaan eintlik oor hoe ons die Bybel verstaan.” ’n Ander sê: “Daar is baie ouens wat genuanseerd is oor Skrifgebruik, maar sodra jy oor homoseksualiteit praat, val hulle terug op ’n funda­mentalistiese, irrasionele vorm van Skrifgebruik teen homoseksualiteit.” ’n Volgende teoloog sê: “Ek hoop en vertrou die kerk sal die verskille kan akkommodeer en dat dit nie nodig sal wees dat die kerk verder verdeel nie.”

Uit bostaande is dit duidelik dat ’n persoon se Skrifgebruik (beskouing) bepalend is vir jou waarheids­beskouing. Wat is waarheid dan? Hoe verstaan ons die waarheid? Is waarheid “genuanseerde Skrifgebruik” of die skynbaar “fundamentalistiese, irrasionele vorm van Skrifgebruik” soos dit deur bover­melde teoloë as strooipop opgestel en afgeskiet word? Of is waarheid die “akkommodering van verskille sodat dit nie nodig sal wees dat die kerk verdeel nie”?

Die oproep wat vandag oral weerklink is dat eenheid deel is van die waarheid. Wat waar is, maar die verkeerde gevolgtrekking waartoe sommige kom is dat daar nie waarheid is waar daar nie eenheid is nie. Daarteenoor moet gestel word: Eenheid is juis die gevolg van die gesamentlike, gedeelde waarheid. Daar moet dus gewaak word teen bovermelde redenasiefout. Wat is immers die agtergrond van hierdie redenasie? Is dit nie ’n “ten alle kos­te” soeke na eenheid nie?

Die gevaar aan die ander kant is dat die eie, subjektiewe verstaan van die waarheid beskou word as die enigste waarheid wat kan en mag bestaan. Daarom is dit uiters belangrik dat vooraf oor ’n bepaalde Skrifhantering en -beskouing ooreengekom moet word. Sodoende sal daar oor die waarheid ooreengekom kan word. Skrifbeskouing en die wyse van Skrifhantering is bepa­lend vir die wyse waarop geweeg en getoets word om vas te stel wat waarheid is.

Maar: Wat is waarheid dan? Waarheid is geleë in ’n opregte en kinderlike verstaan van die Woord van God. Die probleem waarmee ’n mens egter gekonfronteer word is dat feitlik alle partye aanspraak maak op hierdie “opregte en kinderlike verstaan van die Woord”. Het dit nie tyd geword dat Gereformeerdes weer om ’n tafel gaan sit en eerlik met mekaar ooreenkom oor die wyse waarop ons die Woord as dié waarheid hanteer en behoort te hanteer nie? Dat ons seker maak dat die Skrifhantering en -beskouing wat ons by mekaar veronderstel, dieselfde vertrekpunte het en ge­volglik dieselfde eindresultate tot gevolg het? Verstaan ons die hermeneutiese vertrekpunte wat ons onder mekaar vasgemaak het, dieselfde – of het ons wél dieselfde hermeneutiese vertrekpunte, maar ’n eie interpretasie en toepassing daarvan? (Vergelyk Coetzee JC, De Klerk BJ, Floor L. 1980. Die hermeneuse van die Skrif met die oog op hedendaagse kerklik-etiese vraagstukke. Koers. Bulletin vir Christelike Wetenskap. 45(1):10-36. Potchefstroom.) Indien ons hierin van mekaar verskil: Is daar dan nog waarlik eenheid in ons gesamentlike belyde waarheid? Kan alle be­trokke partye dan nog aanspraak maak op die waarheid?

Na Sinode 2006 en die debat in die media oor die genome besluite wil dit lyk asof die druk van buite die kerke ’n al groter rol kan begin speel oor besluite wat binne die kerke geneem word. Nie meer die waarheid nie, maar die eenheid word vir sommiges die dryfveer vir besluitneming. Veral die gepoogde “drukgroep-effek” (deur bepaalde skrywes) van persone wat hulself as “gereformeerdes” in die pers bekendgestel het, het bepaalde vrae laat ontstaan.

Die optrede van hierdie briefskrywers verdien reaksie: Indien daar ware eenheid onder Gereformeerdes bestaan, behoort daar ook eenheid in optrede te wees in die wyse waarop ons van mekaar verskil. Ons behoort met ander woorde op die bepaalde ooreengekome wyse verskille binne die kerk van die Here te hanteer. Die grond vir die korrekte optrede van medegelowiges teenoor mekaar – ook wanneer hulle van mekaar verskil – is tog basiese dinge wat deel van gelowig-wees uitmaak. Hieronder val onder andere sake soos eerlikheid (om volgens die ooreengekome kerkordelike wyse op te tree), lojaliteit (om te besef dat my optrede medegelowiges en sodoende die kerk van die Here se naam in die wêreld in die gedrang bring), en getrouheid (om op te tree soos ek tydens belydenisaflegging belowe het om te doen in die lig van Skrif, belydenis en kerkorde). Waar die waarheid egter nie as van soveel belang geag word nie, maar die “gewilde mening van die meerderheid” weens ’n soeke na eenheid op die voorgrond gestel word, vervaag die klem wat op bovermelde sake geplaas word. Die vraag wat gevolglik al sterker na vore kom, is: Op watter wyse verbind ons onsself dan nog tot die waarheid? Is die waarheid steeds ons onderling ooreengekome waarheid, of is dit my eie persoonlike siening van die waarheid? Is die Woord (en ons ooreen­gekome verstaan en interpretasie daarvan) steeds die maatstaf, of is die meerderheidsmening of die mening van die samelewing nou die maatstaf?

gebreekte ketting

Die kerkhervormer Calvyn het tereg ’n groot premie op die eenheid binne die kerk van die Here geplaas. Sy woorde dat hy sewe oseane sou deurkruis om die eenheid binne die kerk te bewaar, word ook baie aangehaal. ’n Mens wonder egter of hierdie aanhaling nie soms verkeerdelik gebruik word nie. Gaan dit vir Calvyn daaroor om die bestaande eenheid te handhaaf? Eenheid wat staan op die waarheid? Of gaan dit vir Calvyn daaroor dat hy eenheid wil soek met diegene met wie hy oor die waarheid verskil het?

Na my mening raak sy opmerking oor die eenheid die handhawing sowel as die soeke na eenheid. Nooit sou hy egter ten koste van die waarheid die eenheid vooropgestel het nie. Die verbreking van die eenheid met die Roomse Kerk (’n verbreking wat die Roomse Kerk geïnisieer het) was tog ’n logiese gevolg van die Hervormers se soeke na en navolging van die waarheid van die Woord. Calvyn sê ook in sy kommentaar op Handelinge 23:7 – “Daar is trouens geen ander heilige eenheidsband as net die eenvoudige en opregte waarheid van God (se Woord = JHH) nie.”

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika – waarnatoe is ons op pad? Die Refor­masie se standpunt was nog altyd dat die waarheid van die Woord die hoogste waarheid is. As deel van daardie waarheid moet ons die eenheid onder mekaar soek en najaag. Dit beteken egter nie dat die eenheid die waarheid voorafgaan nie. Daar kan alleen ware eenheid bestaan waar daardie eenheid staan en bou op dieselfde waarheid wat ons met mekaar deel. Dieselfde waarheid van die Woord wat dieselfde verstaan en verklaar en toegepas word (natuurlik steeds binne die ruimte wat ons aan mekaar gun om te mag verskil t.o.v. sake waaroor ons na die gesamentlike bestu­dering van die Woord ooreengekom het). Dán is daar ware eenheid in die waarheid. Dán is daar ware waarheid in die eenheid.