Bron: Die Kerkblad, 1985. 2 bladsye.

Wat 1685 Vandag Beteken

Die Hervorming Frankryk het nie met die werk van Calvyn begin nie. Invloede van Luther (uit Duitsland) het deurgesyfer, terwyl 'n belangrike bydrae gelewer is deur die (Roomse) Lefèvre d'Etaples wat die Bybel in Frans beskikbaar gestel het. Maar dit was tog Calvyn se invloed wat die ontwikkeling van die Reformatoriese gedagtes bepaal het. Hy was 'n Fransman, al het hy eintlik sy lewenstaak vanuit Genève en Straatsburg vervul; sy briewe en boeke (in Latyn en Frans) en persoonlike kontak met baie kerkmense – met talle adviese wat hy gegee het – het meegebring dat die Protestantisme in Frankryk eintlik "Calvinisties" was. Kennisname van hulle Geloofsbelydenis en Kerkorde sal dit direk bevestig.

Die aanhang van hierdie rigting het so gegroei dat die Gereformeerdes teen 1600 ongeveer 10 % van die bevolking was. Later het dit gelyk of die hele suide van Frankryk besig was om Protestants te word. Dit kon ook gebeur omdat die koning in 1598 die Edik van Nantes afgekondig het en hulle 'n groot mate van beweegruimte gekry het.

Sekere gegewens oor sake in Frankryk in daardie tyd is deur prof. Martiens du Plessis (van PU vir CHO) tot ons beskikking gestel.

Daaruit Meld Ons net die Volgende Punte:🔗

  • Die Protestante het uit alle lae van die bevolking en uit alle streke gekom, Etnies-kultureel was daar groot verskille tussen Franse van die noorde en ooste teenoor die van die suide, waar 'n heeltemal ander taal gepraat is. Tog het die geloof hulle heg saamgebind. Daarteenoor was daar 'n groot verskil tussen Protestante en Roomse uit dieselfde etniese groepe of streke.

  • Beide die Protestante en die Roomse het hulle op die gesag van tradisies beroep. (So was die Hervorming 'n terugkeer na die outentieke Christendom van die begintyd.) Die ideaal het gelê in die verlede, nie in vooruitgang, tegnieke en wetenskappe nie.

  • Brunetière (geskiedskrywer) het gesê: "Hierdie Protestante was die morele substansie van die land, die kern van Franse moraliteit". Dit blyk dat 'n deeglike Bybelkennis 'n sterk wapen in die stryd vir hulle geloof was — en dit selfs nog lank nadat hierdie mense van hulle predikante beroof is.

  • Die Hugenote het hulle, voor die herroeping van die Edik in 1685, in agt streke oor die land georganiseer. Hulle het 'n eie interne struktuur met 'n sterk politieke kleur gehad. Die Hugenote is voorgestel as "versteurders van openbare orde", sodat dit onvermydelik was dat die absolutistiese staatsmag van Lodewyk XIV moes ingryp.

Die Franse koning het toe in 1685 die mate van godsdiensvryheid en beskerming wat die Gereformeerdes geniet het, vernietig. Predikante moes binne twee weke hulle oortuigings verander of uit die land wyk. Lidmate mog egter nie die land verlaat nie. So het geweldige wreedhede en 'n groot uittog begin. En Frankryk het homself van sy beste burgers beroof, maar ander lande is verryk. Ook Suid-Afrika.

Die herdenking van die koms van die Hugenote na hierdie Suiderland is nog in die toekoms. Daarom kyk ons nie nou dáárna nie. Maar dit is noodsaaklik om te let op wat die posisie in hulle herkomsland was en om ook te probeer bepaal wat daar goed en edel was ten einde dit as boustene vir die toekoms te gebruik.

Die Volgende kan Vermeld Word🔗

  • Daardie Hugenote was grondig in die Bybel geskool en selfs eenvoudige gelowiges was in staat om hulle teenoor aanvalle te verweer. Die roeping tot Bybelstudie kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit kan kerklik aangehelp word maar dit moet in die daaglikse lewensprogram baie meer tot sy reg kom — in elk geval persoonlik en gesinsgewys.

  • Daardie Hugenote was so oortuig van hulle geloofstandpunte dat hulle hele lewensoptrede daardeur bepaal is. Selfs voor die "Herroeping" het hulle al vervolging verduur (bv. inkwartiering van soldate op die huis se koste en met groot ongerief). Wanneer hulle gevlug het en gevang is, is hulle gemartel en gedood of op galeiskepe (met misdadigers) vasgeketting. Wie sal vandag, as terroriste by 'n kerkgebou opdaag, opstaan en aanbied om ter wille van Christus eerste geskiet te word — terwyl so baie so traag is om selfs beide eredienste by te woon?

  • Daardie Hugenote het wel die fout gemaak om hulle geloof met die swaard of wapengeweld te probeer verdedig (kyk artikel van prof. Courthial). Ons oë moet oop wees vir hierdie gevaar, omdat die verdediging van Suid-Afrika dikwels as stryd vir Christus voorgestel word. Die reg van die politiek mag nie ontken word nie, maar daar moet altyd nog onderskei word tussen politieke stryd en ywer vir die saak van Christus.

  • Daardie Hugenote het die eenheid van geloof oor taalgrense en etniese verskille heen besef en beleef – dink maar ook hoe hulle in ander lande tuisgemaak is. Die Nuwe Testament stel duidelik dat die sondige skeiding en afgrensing tussen volkere in Christus afgebreek is.

  • Onbeperkte of absolute gesag, deur staat of kerk, is gevaarlik en kan deur geen mens goed of reg gehanteer word nie.