Bron: Kerk en Woord, 1998. 2 bladsye.

Wat Beteken My Geloof vir My?

'n Lewensvraag🔗

Vroeër of later kom elkeen voor die vraag te staan. Wat beteken die geloof vir my? Dit is 'n lewensvraag wat beslissend is vir die sin van jou lewe. Daarom kan ons ook bly wees dat die Kategismus die vraag uitdruklik stel: Maar wat baat dit jou dat jy dit alles glo? (H.K. vr. en antw. 59) Die kerk wil sy lidmate oefen in die beantwoor­ding van 'n kernvraag. En die oefening is belangrik. Want juis op beslissende kruispunte kom die vraag tot jou: Wat beteken my geloof nou vir my?

'n Krisisvraag🔗

Dit is naamlik 'n vraag wat dikwels in 'n krisistyd ontstaan. As jy in die verdrukking is. As jy deur 'n diep dal gaan. As jy twyfel. As daar baie stukkendbreek in jou lewe is. Juis in sulke situasies dring die vraag hom op. Dan is dit naamlik ook 'n ware vraag.

Daar is tye wat die uitroeptekens domineer in jou lewe met God. Dan word jy in sy nabyheid bevestig. Dan is daar sekerheid en bemoediging. Maar soms verander die antwoorde in vrae. En juis dan kan hierdie vraag 'n negatiewe ondertoon kry. Baat my geloof my eintlik?

Moet jou nie Blindstaar op die Vraag nie🔗

Dit is dus die situasie wat vrae in jou laat opkom. En dit is belangrik om daaraan vas te hou. Die vrae kom nie uit jou geloof self op nie. Dit is eers die omstandighede wat die vrae oplewer. Met ander woorde: bly die antwoord in jou geloof soek. Anders gaan die vraagtekens oorheers. Dit is wat jy reëlmatig kan deurmaak. Daar is byvoor­beeld mense wat hulle geen almagtige Va­der kan voorstel nie. Jou lewe kan in die opsig soms swaar wees. Vroeër het jy mis­kien wel geglo dat God hierdie wêreld geska­pe het en nog steeds bestuur. Miskien het jy wel in die geloof opgegroei. Maar soms maak jy soveel deur wat daarmee in stryd blyk te wees, dat jy vraagtekens by daardie geloof gaan sit.

Dat sulke vraagtekens opkom, is vanself­sprekend. Geen mens leef sonder sulke vrae nie. Maar let dan juis op wat jy doen. Voor­dat jy dit weet, gaan die vraag jou heelte­maal beinvloed. Die verleiding is groot om te dink: My geloof baat my niks. Ek het altyd gedink dat ek 'n almagtige Vader het, maar ek het my daarin vergis. Daar is mense wat daarom die ou antwoord opsy lê. Daar­aan het jy in die praktyk ook niks nie. Van­weë die groot vrae van jou lewe laat jy die antwoord van die geloof los.

'n Geslote Kringloop🔗

Die proses kan jy vandag op baie maniere herken. Die ou antwoord van die geloof kom vanuit die omstandighede onder druk te staan. Nou is dit 'n proses wat byna elke gelowige reëlmatig moet belewe. Ons sal die antwoord van die evangelie telkens op­nuut moet formuleer in nuwe omstandig­hede.

Maar dit is 'n dodelike misverstand as jy dink, dat jy die antwoord van die geloof vanuit jou lewe kan vind. Jy kan so besig wees met jou eie lewe, dat jy dink: daar pas die geloof waarlik nie meer in nie. Maar as dit jou uitgangspunt bly, kan jy daarin verstrik raak. Niemand kom daaruit, as hy sy geloof vanuit sy eie lewe wil opbou nie. Jy raak in 'n bose kringloop gevange. En dit begin dikwels by die versugting: ek het ook niks aan my geloof nie. As jy dan vervolgens die ou antwoord van die geloof naas jou neer lê, ja, dan het jy inderdaad niks meer aan jou geloof nie. Dit is weg.

Die Voorafgaande Vraag🔗

Dit kom dus daarop aan hoe jy met die vraag omgaan: wat beteken my geloof vir my? As jy nie verder kyk as die omstandig­hede van jou eie lewe nie, sal die vraag jou uiteindelik aan die keel gryp. Daarom is dit so bevrydend om te sien dat dit nie die belangrikste vraag is nie. Daar gaan altyd nog 'n vraag aan vooraf.

Ons glo immers in God, wat ons bo die verdrukking uittel. Dit is Hy wat in die diep dal die uitsig oopmaak, wat houvas bied as alles afbreek. Wat met die beproewing vir die uitkoms sal sorg. Dit leer jou om jou nie blind te staar op die omstandighede nie. Kyk op na Hom op wie jy jou vetroue gestel het. Die vraag wat eers opkom is daarom: Wat moet ek glo?

Wat moet 'n Christen Glo?🔗

Alles wat ons in die evangelie beloof word. Die artikels van ons algemene en ontwyfel­bare christelike geloof gee daarvan 'n sa­mevatting (H.K. vraag en antw. 22). Die kerk leer ons om op God se beloftes te let. Konsentreer daarop. Hy beloof dat Hy as 'n almagtige Vader vir jou sal sorg. Verwag dit dan maar en laat die belofte jou bo die moeite en sorge uittel. Laat jou geloof in die Vader nie wegkalwe deur jou blind te staar op die moeite van hierdie lewe nie. As jy konsentreer op wat God beloof dan sal jy baie aan jou geloof hê. Pas as jy glo in God die Vader sal jy merk wat 'n Vader Hy is. Maar as jy die geloof tersyde lê, dan sal jy ook niks daaraan hê nie. As jy nie in God glo nie, sal jy nie sy hulp ontvang nie. Die geslote kringloop word eers deurbreek as jy vashou aan wat God beloof. Vandaar ook dat die kerk vra: Wat baat dit jou dat jy dit alles glo? Van dit alles (die artikels van die geloof) moet jy niks laat verlore gaan nie. Want dan het jy daar niks meer aan nie. Daarom steeds weer terug na die eerste vraag: Wat moet ek glo?

Glo Hoort by Belowe🔗

En die omstandighede van my lewe dan? Maak dit nie meer saak nie? Word alle verskille tussen mense ineens weggevee om tenslotte nog net een geloof oor te hou? Nee. Elke mens gaan sy eie geloofsweg. En die weg word gekleur deur jou eie lewe met alles wat daarby hoort.

Kyk maar na die verhale in die Bybel. As jy moet sê wat die geloof vir Abel beteken het, dan kry jy weer 'n heel ander verhaal as by Noag of Abraham. Dit is die opvallende. Hul lewens word in alles bepaal deur die geloof in God. Maar dit was en bly verskil­lende lewens.

Maar tegelykertyd sien jy dat al die lewens deur een en dieselfde belofte gekenmerk was. Die belofte is as't ware die refrein van Hebreërs 11. Dit is die geweldige eenheid wat al die lewens vertoon.

En as jy die Boek van die belofte goed lees, dan bemerk, dat al die verskillende mense soos getuie om jou heen staan. 'n Wolk van getuies. En getuies het iets om te vertel. Hulle vertel dit: God het krag aan ons lewe verleen deur Sy belofte. En onthou: By belowe hoort glo.

Maar wat baat dit jou dat jy dit alles glo? Dat ek in Christus voor God geregverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe is. (H.K. vraag en antw. 59)