Bron: Kompas, 2001. 4 bladsye.

Wat Gemaak met Bedelaars?

  • ’n Swart man by die hek vra ’n R5 donasie. Hy sê hy het die geld nodig om te kan huis toe gaan. As jy nie help nie, sal hy vannag iewers in die stad moet slaap.

  • Jou bediende se seun studeer by die Technikon. As hulle nie voor volgende week sy klasgeld betaal nie, kan hy nie aangaan met sy studies nie. Kan jy miskien R1 000 leen?

Om op ’n goeie, Christelike manier te reageer op hierdie tipe versoeke, is een van die moeilikste dilemmas van Christen wees in die huidige Suid-Afrika. Die verskille tussen ryk en arm is enorm, en dit gaan nog baie lank so bly. ’n Mens kom voor skrynende keuses te staan. Wat is die regte, Christelike benadering in sodanige gevalle?

Ons het onlangs een van ons honde laat regmaak. Die koste van die operasie was etlike honderde rande. Dieselfde week het ’n lidmaat van ons sendinggemeente R50 gevra om ’n familielid na ’n dokter te kan neem. Ek het die siek persoon glad nie geken nie, en ek was nie lus om te help nie. Maar kan ’n mens honderde rande op jou troeteldier spandeer en aan die ander kant weier om ’n siek mens te help?

’n Basiese probleem is dat ons besluite gewoonlik tot ’n groot mate voortkom uit skuld gevoelens. Ons voel sleg dat ons redelik welgesteld is, en die ander persoon arm. Is die skuldgevoel reg?

En is daar miskien ’n gebalanseerde manier waarop ons kan saamleef met die vraagstuk van die armes om ons heen? Hierna volg twee beginsels wat ons as Christene t.o.v. die vraagstuk kan gebruik, en daarna gee ons nog ’n aantal praktiese adviese.

Barmhartigheid🔗

Die eerste beginsel wat ons behoort te hanteer is die van Christelike barmhartigheid. Barmhartigheid is in die eerste plek ’n innige meegevoel met die nood en die swaarkry van ander mense, en in die tweede plek is dit ook die aksie wat onderneem word om die ander persoon se nood te verlig.

Die fondament van Christelike barmhartigheid is die oortuiging dat God self barmhartig is. “Die Here is genadig en regverdig, onse God is ’n ontfermer” (Psalm 116:5). Die apostel Paulus roem die Here as “die Vader van ontferminge” (2 Korintiërs 1:3). Hierdie barmhartigheid van God blyk nie net uit die feit dat Hy ons sondes vergewe nie, maar ook dat Hy begaan is met die lot van die mense wat swaarkry, soos die weduwee en die wees, die vreemdeling en die arme (Psalm 68:6).          

As ons dan kinders van hierdie barmhartige God is, moet hierdie karaktertrekke van ons hemelse Vader ook weerspieël word in ons eie lewe. Dit is uitdruklik aan ons opgedra.

Bewys liefde en barmhartigheid die een aan die ander. En moenie die weduwee en die wees, die vreemdeling en die arme verdruk nie.Sagaria 7:9-10 

Barmhartigheid moet sowel binne as buite die kerkgemeenskap uitgeoefen word. Die barmhartige Samaritaan het nie eers gaan kyk of die beseerde man wat daar in die pad gelê het, ’n Jood of ’n Samaritaan was nie. Hy het gesien dat die man in nood is, en hy het hom gehelp (Lukas 10:25-37).          

Verantwoordelikheid🔗

’n Tweede beginsel wat hanteer behoort te word, is die beginsel van Christelike verantwoordelikheid. Hierdie beginsel geld nie net vir die persoon wat gee nie, maar ook vir die persoon wat geld vra of geld wil leen. Elke mens wat op hierdie aarde leef, staan verantwoordelik voor God om met sy tyd, sy gawes en talente te woeker – ook die arme! Iemand wat bedelary gebruik as ’n maklike uitweg uit finansiële probleme, is onverantwoordelik. Iemand wat geld leen omdat hy te lui is om te werk of omdat hy haastig is om die objek van sy begeerte in die hande te kry, ontduik sy eie verantwoordelikheid.

As ons gevra word om ’n aalmoes of ’n lening te gee, het ons dus die reg om die vraag te oorweeg – en ook soms uitdruklik te stel – of die persoon wat hulp vra, werklik sy verantwoordelikheid in sy spesifieke situasie nakom. Moontlik sal ons dan agterkom dat die persoon werklik geen ander uitweg het nie. Lasarus, die bedelaar van Lukas 16, word deur die Here Jesus beskryf as iemand wat vol swere voor die ryk man se deur gelê het. Klaarblyklik was hy nie meer in staat om nog enigiets aan sy eie lot te verander nie. Dit was vir die ryk man moontlik om dit vas te stel en hy was derhalwe geroepe om Lasarus te help.

As ’n vreemdeling egter geld vra is dit moeilik om vas te stel of hy sy verantwoordelikheid nagekom het. As ’n onbekende persoon vir my taxigeld vra om te kan huis toe gaan, is dit vir my onmoontlik om vas te stel of die persoon die waarheid praat, of dat hy sy geld verkeerd gespandeer het. Ek hoef nie verplig te voel om hom te help nie. Ook as bekende persone geld by ons wil leen, mag ek vrae vra. Die beginsel van rentmeesterskap geld nie net vir gelowiges nie. Ander mense staan ook verantwoordelik voor God, of hulle dit besef of nie.

Praktiese Adviese🔗

Dit is moeilik om algemene adviese te gee oor die hantering van bedelaars en mense wat wil geld leen. Elke geval is verskillend en elke persoon het sy eie geskiedenis, soms ook ’n geskiedenis saam met jou! Nogtans is daar ’n aantal praktiese adviese wat gegee kan word.

Hou Rekening met Kulturele Verskille🔗

In die Afrika-kultuur is dit nie ’n skande om vir iets te vra nie. Dit is ook nie snaaks om baie te vra nie (meer as wat eintlik nodig is). Deur te vra vir die hele koek, hoop hulle om darem ’n stukkie te kry. Die ander kant van die saak is derhalwe dat dit heel aanvaarbaar is om nie alles te gee wat gevra word nie, maar slegs ’n deel. Die belangrike is dat jy wys dat jy omgee en dat jy probeer om te help.

Hou ook rekening met die moontlikheid dat daar ander kragte aan die werk is. Die bediende wat byvoorbeeld vra om geld te leen, is moontlik deur haar familie gedruk om te vra. “Jy het mos ’n ‘blanke’ vir wie jy werk, gaan leen vir ons geld daar.” As jy dan ’n groot som geld aan jou bediende leen, wat sy oor ’n hele aantal maande moet terugbetaal, help jy wel haar familie, maar word sy self onder ’n swaar las geplaas. Dit mag meer barmhartig wees om nie ’n lening te gee nie, maar eerder ’n klein bedraggie. Die bediende kan dan eerlik aan haar mense rapporteer: “Ek het gevra, maar hulle wou nie ’n lening gee nie.”

Moenie Bang Wees om ‘Nee’ te sê Nie🔗

Mense wat hulp vra is nie almal dieselfde nie. Onder hulle kry ’n mens ook maar die beskeie tipes en die astrantes. Die aangewese benadering is in sommige gevalle dus om duidelik ‘nee’ te sê. Onthou dat dit moeiliker is om ‘nee’ te sê as om ‘nee’ te hoor. Om ‘nee’ te sê laat ’n mens skuldig voel. Om ‘nee’ te hoor is dikwels makliker.

Lenings is Gewoonlik Nie die Beste Opsie Nie🔗

Die ervaring wys uit dat lenings in die meeste gevalle nie terugbetaal word nie. Soms is die rede dat die persoon se omstandighede onverwags versleg en hy kan nie sy belofte nakom nie. Soms is die rede dat die persoon nooit werklik die voorneme gehad het om die geld terug te betaal nie. Oor die algemeen is dit maar die beste om te verwag dat geleende geld nie sal terugkom nie, tensy jy een of ander houvas op die persoon het (bv. as hy vir jou werk). Moet dus nooit geld uitleen wat jy nie eintlik kan mis nie, en beskou jou lenings maar liewer as skenkings.

Verder is dit belangrik dat ’n mens nooit ’n tweede lening gee aan iemand wat nie sy eerste lening terugbetaal het nie. Ons kan die skuld kwytskeld, maar ons is dan nie verplig om hierdie persoon nog ’n keer iets te leen nie. Dit kan selfs ’n verkeerde gewoonte kweek as ons dit wel doen. ’n Mens kan oorweeg om die eerste keer ’n klein lening te gee, en as die persoon dan die lening terug betaal hom te ‘beloon’ deur ’n tweede lening te gee wat groter is.

Begroot jou Vrygewigheid🔗

Bepaal ’n bedrag wat jy bereid is om jaarliks te gebruik om arm mense te help. As jy dan jou limiet vir die jaar bereik het, weet jy dat jy gedoen het wat jy beplan het om te doen. Dit sal dit makliker maak om ‘nee’ te sê vir nog meer hulpvrae. ’n Mens kan dit ook in alle eerlikheid aan die hulpvraers sê: “Die geld wat ek hierdie jaar beskikbaar gehad het, is klaar.”

Probeer om die Beginsel van Rentmeesterskap Oor te Dra🔗

Baie mense wat vra vir ’n lening, het nog nooit geleer om werklik hulle uitgawes te begroot en ’n mate van finansiële bestuur toe te pas nie. Veral as dit iemand betref met wie jy oor ’n lang tyd saamwerk of saamleef, is dit belangrik om die persoon te leer om sy verantwoordelikheid as ’n rentmeester voor die Here na te kom. Dit mag byvoorbeeld beteken dat jy saam met die persoon ’n pensioenreëling uitwerk of hom help om ’n bankrekening oop te maak.

Vanuit dieselfde beginsel is dit goed om altyd te dink of jy iemand iets kan laat doen vir die geld, in plaas van om dit maar net vir hom te gee. Ook al is dit ’n werkie wat nie juis dringend is nie. Miskien is daar nog iewers ’n tuinhokkie wat geverf kan word, of ’n boom wat afgesaag kan word. Die beginsel dat die persoon werk vir die geld, is gesond. Nie net sielkundig nie, maar ook Bybels.

Probeer om te Help by Projekte wat Ontwikkeling Bevorder🔗

Swartmense wil dikwels geld leen as daar skielik ’n begrafnis in die familie is. Ek weier gewoonlik om daarby te help want begrafnisse word heeltemal oordoen in die swart gemeenskap. Dit is baie beter as ’n mens kan help met ’n opbouende doel, bv. geld gee sodat ’n kind kan studeer by ’n goeie skool. Min dinge is so bevredigend as wanneer jy jong mense kan help om hul Godgegewe talente te ontwikkel.

’n Mens moet egter onthou dat hulp ook verwagtings kan skep. As jy ’n student "sponsor" vir ’n jaar, sal dit van jou verwag word om dit die volgende jare ook te doen. Gaan dus gerus voort en help, maar wees gereed vir ’n langdurige ‘commitment’. ’n Alternatief is om eenmalige bydraes te maak vir kort kursusse, soos bv. rekenaarkursusse.

Goedere in Plaas van Geld🔗

In sommige gevalle is dit beter om nie geld te gee nie, maar eerder die goedere wat benodig word. As iemand byvoorbeeld geld vra omdat daar nie kos is in die huis nie, is dit dalk beter om maar die sak mieliemeel vir hom te koop. En as iemand geld nodig het vir medisyne, mag dit beter wees om die medisyne te gee in plaas van die geld. As jy wel die geld gee, kan jy oorweeg om te vra dat die betaalbewys aan jou getoon word. Mense wat geld vra, moet leer dat hulp op verskillende maniere gegee kan word. Dit kom nie altyd verpak as mooi presente nie!

Betrek jou Eggenoot🔗

Dit is gewoonlik wys om te sê dat jy eers met jou man of jou vrou wil praat voordat jy ’n besluit neem. Dit help jou om nie onder druk ’n besluit te neem nie. Dit gee ook tyd om nog ’n bietjie na te dink oor wat die beste manier is om te help. Gewoonlik is ’n hulpaanvraag darem nie so dramaties dringend dat dit nie een of twee dae kan wag nie.

Daar is nog ’n tweede faktor hier betrokke. As ons wys dat ’n man en sy vrou saam beraadslaag oor geldbesteding, gee ons ’n goeie Christelike voorbeeld aan mense wat dit in hulle eie kultuur nie gewoond is nie.

Gee die Here die Eer🔗

Aangesien dit ons Christelike roeping is om alles te doen tot eer van die Here, behoort ons ook in ons hulp aan armes sy Naam te noem. Net soos die arme die Here behoort te dank omdat hy hulp ontvang het, so behoort ons wat help, ook die Here te dank dat ons in ’n posisie is dat ons ander mense se nood kan verlig. Dit is goed om dit ook vir die arm persoon te sê: “Ek dank die Here dat ek jou kan help. Ek is net so afhanklik van sy seën as wat jy is!”