3 bladsye.

Wat word Bedoel met Spreek in Tale?

Want hy wat in ʼn taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.

1 Korintiërs 14:2

Die tale is dus ʼn teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges.

1 Korintiërs 14:22

Spreek in tale is iets wat veral in die Pinksterbeweging en in charismatiese kringe voorkom. Gelowige Christene begin om ʼn reeks onverstaanbare klanke voort te bring onder wat hulle beskryf as die invloed van die Gees. Soms is daar iemand wat dit wat kan uitlê. In hierdie verskynsel herken ʼn mens die besondere gawe wat sowat tweeduisend jaar gelede met Pinkster soveel opspraak verwek het in Jerusalem en wat volgens Paulus ook in die Christelike gemeente in Korinte aangetref is. Die amptelike naam vir hierdie verskynsel is glossolalie, maar dit staan in die volksmond bekend as tongetaal of spreek in tale. Die terminologie is trouens kunsmatig, want in die Grieks kan gloossa tong (die spraakorgaan) óf taal (dit wat gesê word) beteken, maar nie albei tegelyk nie.

Die Nieuwe Bijbelvertaling voer ʼn nuwe Nederlandse term in: ‘klanktaal’, omdat dit wat gepraat word soos ʼn taal klink maar nie as enige bestaande taal geïdentifiseer kan word nie. Volgens sommiges sou dit ʼn vorm van kommunikasie vanuit die engelewêreld wees, maar hierdie veronderstelling is moeilik verifieerbaar (Paulus se oordrywing in 1 Korintiërs 13:1 kan nie as bewys dien nie).

Omstrede🔗

Binne die Christendom is die gebruik van tongetaal tans omstrede. Sommige sien dit as die bewys vir die egtheid van iemand se geloof en dat iemand vervul is met die Heilige Gees. Ander maak dit af as brabbeltaal, betekenislose onsin van gelowige siele wat uit voeling is met die werklikheid. Meeste mense weet nie dat glossolalie nie beperk is tot die Christendom nie. Dit is ʼn baie ou fenomeen wat ook nou nog in verskillende godsdienste voorkom, veral wanneer iemand kontak probeer maak met die geesteryk (Sjamanisme, voedoe) of mistieke eenwording nastreef met die Heelal (Boeddhisme, Sjintoïsme). Hierdie verskynsel gaan dikwels daarmee gepaard dat die spreker in ʼn beswyming is. Neurologiese ondersoek het getoon dat proefpersone tydens ʼn eksperimentele situasie in staat was om min of meer op bevel in tale te praat.

Die Nuwe-Testamentiese verskynsel was egter iets anders as tongetaal: met en gloossais lalein word die gawe bedoel om ‘in (vreemde) tale te spreek,’ oorweldig deur die verhoogde aktiwiteit van God se gees, dus nie op bevel nie. Van so ʼn spontane en kollektiewe taalwonder is daar geen bekende ekwivalent nie, nòg uit die oudheid nòg in die huidige tyd. Dit was ʼn unieke geskenk van God aan die gelowiges, gesalf met die Gees van Pinkster. Toe Montanus, ʼn pasbekeerde Christen uit Frigië wat in die tweede eeu na Christus geleef het, in ekstase vreemde klanke begin voortbring het, is hy as valse profeet bestempel en saam met sy hele beweging in die ban gedoen (Eusebius, Kerkgeskiedenis V 16).

Heilsgeskiedenis🔗

Om Paulus se opmerkings in 1 Korintiërs 14 te kan begryp, moet ons begin by die beskrywing wat ons in die boek Handelinge aantref van die eerste Pinksterfees in Jerusalem. Die apostels en die ander dissipels wat daar bymekaar was ‘het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek’ (Handelinge 2:4). Hier is dit tereg nie met ‘klanktaal’ vertaal nie maar met ‘vreemde tale’, want daar het ʼn taalwonder plaasgevind.

Hierdie wonder word beskryf vanuit die perspektief van die Joodse toehoorders wat afkomstig was uit die diaspora. Hulle het verward geraak omdat elkeen sy eie moedertaal (Grieks: dialektos) herken het. Hulle het ander mense duidelik verstaanbaar oor God se groot dade hoor praat in ʼn taal wat die sprekers normaalweg nie magtig was nie (vgl. die belofte uit Markus 16:17: ‘met nuwe tale sal hulle spreek’). ʼn Teken dat die Gees alle grense deurbreek, ook die taalversperring. Daar het geloofsverbondenheid ontstaan. Vanuit Jerusalem sou die evangelie van Jesus Christus wêreldwyd begin versprei.

Verderaan in Handelinge kom ʼn soortgelyke verskynsel nog twee keer voor. Nadat Petrus aan huis van Cornelius die evangelie verkondig het, het dit geblyk dat die Heilige Gees ook aan gelowiges uit die volke geskenk was, want die Jode het hulle God hoor prys in vreemde tale (Handelinge 10:45-46). En toe ʼn klein groepie gelowige Jode uit Efese wat slegs die doop van Johannes geken het, hulle ook nog laat doop het in die Naam van Jesus en hulle deur Paulus die hande laat oplê het, het dieselfde gebeur (Handelinge 19:6).

Die taalwonder van Pinkster is dus buite Jerusalem herhaal toe die Gees verder die wêreld in getrek het. Daar is geen rede om hier, anders as in Handelinge 2, wel aan die verskynsel tongetaal of klanktaal te dink nie. Praat in vreemde tale maak deel uit van die heilsgeskiedenis.

Korinte🔗

Die enigste brief waarin Paulus die taalgawe noem is 1 Korintiërs, waar hy in hoofstuk 12 tot en met 14 skryf oor die vele gawes van die Gees. By die opsomming uit sy brief aan die Romeine ontbreek hierdie gawe (Romeine 12:4-8); ons kan dus nie beweer dat die taalgawe algemeen voorgekom het nie. In die gemeente van Korinte het hierdie gawe wel voorgekom, hoewel nie by alle gelowiges  nie. Paulus het self ook daaroor beskik (1 Korintiërs 12:30; 14:18).

Hier is egter ook geen rede om aan die verskynsel tongetaal of klanktaal te dink nie. Net soos in Handelinge gaan dit in 1 Korintiërs oor lofprysing van God in ʼn taal wat die persoon nie self magtig is nie. Dit blyk al op drie plekke waar die Griekse uitdrukking nie vertaal is met ‘klanktaal’ nie, maar met ‘(vreemde) tale’:

  1. Die beroemde lied oor die liefde begin so:  ‘Al sou ek die tale van mense en engele spreek…’ (1 Korintiërs 13:1).
  2. Verder skryf Paulus: ‘Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie. As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker ʼn vreemdeling wees, en die spreker sal vir my ʼn vreemdeling wees’ (1 Korintiërs 14:10-11; Grieks: barbaroi, eintlik mense met ʼn eienaardige tongval).
  3. Ten slotte haal die apostel aan uit Jesaja 28: ‘Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek’ (1 Korintiërs 14:21).

Die verskil met die situasie in Handelinge is dat in die multikulturele gemeente te Korinte, ʼn belangrike hawestad waar allerlei nasionaliteite verteenwoordig was, dit wat gespreek is dikwels nie verstaan kon word nie. Die spreker self het ook nie altyd geweet wat hy of sy gesê het nie. Daarom was daar iemand nodig wat die gawe ontvang het om as tolk op te tree. Die werkwoord wat Paulus in hierdie verband gebruik (Grieks: dihermèneuein) beteken normaalweg nie ‘uitlê’ nie, maar ‘vertaal’: om van een taal in ʼn ander oor te sit. Die apostel beveel ʼn kombinasie van beide gawes aan, om in tale te spreek en om te vertaal wat gespreek is. So kry die Korintiese gemeente sy internasionale kerkdiens, maar wel in die verbondenheid wat verstaanbare geloofstaal meebring.

Tot God🔗

Paulus hou aan die Korintiërs voor dat iemand wat in vreemde tale praat, nie met mense praat nie, maar met God. Daarmee bedoel hy dat ander mense dit wat gesê word nie kan verstaan nie; vir hulle is dit geheimtaal, slegs God begryp dit. Met ‘onbegryplike taal’ (Grieks: mustèria) word nie die geheimsinnige inhoud van dit wat gesê is bedoel nie, maar die feit dat dit deur amper niemand verstaan word nie, dikwels nie eens deur die spreker self nie. Dit is wel klanke, maar dit beteken niks nie. Slegs ʼn duidelik geformuleerde boodskap vind weerklank by die hoorders. Onvertaalde tale lei tot vervreemding. As mense bowendien nog deurmekaar begin praat, kan die samekoms maklik ontaard in ʼn kakofonie van geluid, sodat ongelowige buitestaanders wat so ʼn samekoms bywoon, sal kan dink dat die Christene mal geword het (1 Korintiërs 14:23). Paulus stel die volgende reël in: nie meer as drie sprekers wat die gawe van taal ontvang het nie, een op ʼn slag, en nooit sonder ʼn tolk nie. Kyk ʼn bietjie deur die oë van buitestaanders na julle samekoms, sê Paulus vir die Korintiërs. Vreemde tale is ʼn teken (Grieks: sèmelon) vir ongelowiges; in Jesaja 28:10-13 word God se oordeel oor Israel se ongeloof daarmee aangekondig. So ʼn teken is dus nie noodwendig positief nie. Dit kan dan ook deur buitestaanders verkeerd opgevat word. Nuwe-Testamentiese profesie daarenteen word uitgespreek in bewoording wat vir almal verstaanbaar is, tot opbou, troos en bemoediging van die gemeente. Ongelowige buitestaanders moet nie daardeur uitgesluit voel nie, hulle moet deur dit wat die profete sê God se aanwesigheid in die gemeente ervaar (1 Korintiërs 14:25).

Die beoefening van glossolalie, in die sin van klankstroming en ‘gebrabbel’, is nie ʼn voortsetting van wat Handelinge en 1 Korintiërs oor die gawe van tale vermeld nie. Dit word aanbeveel om in plaas van ‘klanktaal’ minder kunsmatige terme soos ‘taal’ of ‘tale’ te gebruik. Die Bybel beskryf nie ʼn stamelende ekstase of onverstaanbare kommunikasie met die hemel nie, maar ʼn unieke taalwonder. Sedert Pinkster staan die tale wat by die Babelse spraakverwarring ʼn teken van God se oordeel oor die mensheid was, in sy diens as instrument van verkondiging en aanbidding. Ook nou het die Christelike kerk meer as genoeg woorde vir lofprysing. Daarin kan verskillende vorme van gebed gevind word wat tot eer van God uitgespreek of gesing word. Want die Gees praat alle tale en sorg daarvoor dat ons mekaar verstaan.