Bron: Kompas, 2013. 3 bladsye.

Wegbly van die Nagmaalsviering

In die jare wat ek as ʼn predikant werksaam is, het ek in die verskeie gemeentes waar ek in die bediening was, gereeld lidmate ontmoet wat van die nagmaalstafel weggebly het omdat hulle gevoel het hulle kan dit nie saam met (party van) hul broers en susters vier nie. Mag ek hieronder ʼn bietjie my gedagtes daaroor laat gaan?

Bevel🔗

Ons bely in Sondag 28 van die Heidelbergse Kategismus dat Christus ons ʼn bevel gegee het om op ʼn gereelde basis die nagmaal te vier: “Doen dit tot my gedagtenis!” Daar moet dus wel baie ernstige redes wees om nie aan hierdie bevel gehoorsaam te kan wees nie. Ons vier aan Christus se tafel die volkome versoening van al ons sondes. Kan daar redes wees om selfs hierdie fees nie te kan saam vier nie?

ʼn Alte Groot Skuldbesef?🔗

Dit kan nie my alte groot skuldbesef en skaamte wees nie. My besef van skuld kan nooit so groot wees dat daarvoor geen vergewing meer moontlik is nie. Dis eerder so dat, hoe meer ek leer besef hoe groot God se genade is, des te meer ek ook leer besef hoe groot my sonde en ellende is. Dis dié dat ons Nagmaalsformulier praat van “gelowiges wat reeds verslae van hart is”. Maar juis vir mense wat vanweë hul sonde ʼn afkeer van hulleself het, het Christus die nagmaalstafel ingestel. Om daar vir hulle die volkome versoening van al hul sondes te waarborg.

Moeite met ’n Broer of Suster?🔗

Ek mag ook nie van die nagmaal wegbly omdat ek groot moeite met ʼn broer of suster en sy of haar gedrag het nie. Ek mag nie wegbly omdat ek meen hý of sý behoort nie so die nagmaal saam te vier nie. Want dit is nie mý verantwoordelikheid om daaroor te besluit nie. Dis die kerkraad s’n en ek weet nie (presies) watter pad die kerkraad op dié oomblik met hierdie broeder of suster stap nie. En selfs al weet ek dat die kerkraad nog glad nie met hierdie medelidmaat besig is nie, en al is ek oortuig die broer of suster kom met ʼn heeltemal verkeerde houding na die nagmaal toe, mag ék nie van die nagmaal wegbly omdat ek meen hý of sý moes daar weggebly het nie. Dis ʼn saak tussen hom/haar en die Here, maar dit mag my nie daarvan weerhou om die vergewing vir my eie sondes aan die Here se tafel te soek nie.              

Ja, maar die Here Jesus sê mos (Matteus 5:23 en 24):

As jy jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder…

Dis reg ja, maar let mooi op: Jesus sê nie dat ék dalk iets teen my broer kan hê nie. Dis andersom: hý het iets teen mý, en nie ten onregte nie. Ek het vir hom ʼn struikelblok in die pad geplaas. En dit moet ek eers gaan wegneem.               

Bowendien: as Jesus sê dat ek in so ʼn geval nie met vrymoedigheid tot die HERE se altaar kan nader nie, praat Hy nie net van die nagmaal nie. In so ʼn geval kan ek ook nie met ʼn vrye gewete aan enige Sondagse erediens deelneem nie. En vandat my eie lewe deur die Heilige Gees ʼn tempel vir God geword het, kan ek geen oomblik meer vrymoedig met God verkeer nie!      

ʼn Ernstige Onenigheid in die Gemeente?            🔗

Selfs ʼn ernstige onenigheid in die gemeente moet nie te gou as ʼn rede beskou word om nie saam die nagmaal te kan vier nie. Die nagmaal is nie ʼn demonstrasie dat alles in die gemeente reg is nie.

Ons kom tog nie na die nagmaal om daarmee te kenne te gee dat ons in onssélf volmaak en regverdig is nie? Inteendeel, ons erken juis noudat ons by die nagmaalstafel die lewe buite onsself in Christus soek, dat ons midde in die dood lê.Nagmaalsformulier

Juis as daar groot moeites in die gemeente is, partyskappe, gevoelens van groot onbehae, moet ons wél die nagmaal vier. Maar dan op die regte manier: elkeen moet nadink oor sy eie sondes en vervloeking (en dus nie: dié van sy broers en susters, van die kerkraad, van die predikant nie) en besef dat hy self God se toorn verdien. Elkeen moet homsélf ondersoek (en dus nie: sy broers en susters, die kerkraad, die predikant nie) of hy van voorneme is om eerlik alle vyandskap, haat en nyd te laat vaar en voortaan in liefde en vrede met sy naaste te lewe.

So moet ons elkeen aan Christus se tafel die vergewing en die vernuwing van ons eie lewe soek. Om vervolgens die brood en die beker ook vir mekaar aan te gee: “Ek en jy, ons leef van dieselfde vergewing!”

Dit is die beste manier om mekaar in die kerk weer te vind en om onenighede, partyskappe, moeites en sondes te bowe te kom.

Want indien ons sê: “So kan ons nie meer saam die nagmaal vier nie!”, kan ons dan nog wel elke Sondag saam (!) voor die HERE se heilige aangesig verskyn, saam (!) sing tot sy lof, saam (!) tot Hom nader in ons gebede?? Die nagmaalsviering is nie ʼn belangriker gebeure as elke Sondagse erediens nie, dis slegs ʼn onderdeel daarvan.

Blye Gevoel?🔗

Maar die nagmaalsviering behoort tog ʼn feestelike aangeleentheid te wees? En as daar soveel is wat krap, hoe kan ek dan nog met ʼn feestelike gevoel my plek aan die Here se tafel inneem?

Die blye gevoel is nie ʼn voorwaarde vooraf om aan die nagmaal te kan deelneem nie. Ek kan ook met ʼn baie skuldige gevoel my plek aan die tafel inneem. Met verdriet oor die sonde wat daar nog steeds in my en my broers en susters is; oor die onvermoë om mekaar te bereik. Dan kan daar juis aan die Here se tafel tog weer die blydskap groei dat die Here sulke mense nogtans nie wegstuur nie, maar vol liefde sy genade aanbied. En dit stimuleer my dan om ook weer self met nog meer liefde en geduld my broers en susters te soek.

ʼn Onberispelike Bedienaar?🔗

Maar as daar klagtes gelê is teen die bedienaar van die nagmaal, kan hy dan wel die nagmaal bedien? En indien die kerkraad hom nogtans toelaat om die nagmaal te bedien, moet ek dan nie van die nagmaal wegbly nie?              

Dié wat hulself hierdie vraag vra, moet ʼn slag in die kerkgeskiedenisboeke gaan lees wat Augustinus geleer het m.b.t. die sogenaamde Donatiste. Die Donatiste het gesê dat slegs onberispelike voorgangers die sakramente kan bedien. En dat, indien ʼn voorganger wat jou gedoop het, nie onberispelik was nie, jy opnuut gedoop behoort te word. Daarteenoor het Augustinus geleer dat die betekenis van die sakrament nie afhang van die onberispelikheid van die bedienaar nie. Indien Christus en sy offer vir ons sondes ten volle in die kalklig geplaas word, is Christus daar met sy vergewende genade-aanbod aanwesig. En soos Augustinus dit geleer het, het die Gereformeerde kerke dit later oorgeneem. Ons sal daarom ook nie iemand wat byvoorbeeld in ʼn Rooms-Katolieke kerk gedoop is, weer ʼn keer doop nie.

Slegs Drie Redes om te Moet Wegbly🔗

Ek kan aan slegs drie redes dink om van die nagmaal te moet wegbly.

  • In die eerste plek is dit wanneer, weens dwaalleer en vrysinnigheid, Christus en sy offer vir ons sondes nie meer (ten volle) sentraal geplaas word in die sakrament nie.
     
  • Tweedens is dit, soos dit ook in die Nagmaalsformulier staan, wanneer ek nie van my dwalinge of skandelike lewe wíl afsien nie en my daarom aan die vermaninge van broers en susters en van die kerkraad nie steur nie (Sondag 31 HK, vraag 85).
     
  • Derdens as ek weet dat daar kort voor die nagmaalsviering by die res van die gemeente ʼn groot onsekerheid ontstaan het oor my gehoorsaamheid aan die HERE, bv. by ʼn skielike ernstige konflik in my huwelik en ek nie so gou my onskuld kan bewys nie. In so ʼn geval het die kerkraad die reg om my eenmalig van die nagmaal te weerhou.

Maar laat ons andersins aan Christus se bevel gehoorsaam bly en tot sy eer, tot ons troos en tot opbouing van die hele gemeente saam die nagmaal aanhou vier.