Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Wie is in Beheer?

Geheimsinnige Magte🔗

Die vraag oor wie in be­heer van dinge is, speel 'n beheersende rol in 'n mens se lewe. Die antwoord hierop bepaal samele­wings se benadering van sake en hulle optrede. Dit kan maak dat 'n same­lewing sake aktief aan­pak, of dit kan 'n ver­lammende uitwerking op 'n samelewing hê. 'n Samelewing wat glo dat die verloop van sake deur geheimsinnige geeste en magte bepaal word, is in homself, in sy gees, ver­lam om op te tree. Dit was die geval met Israel se bure.

Die Bybel daaren­teen kom met die bevry­dende verkondiging dat God in beheer van alles is. Hy het alles geskep en gaan met alles na 'n sin­volle bestemming toe. Terwyl die heidense gods­diens hulle laat voel het dat hulle slagoffers van geheimsinnige, kosmies­mitologiese magte is, het Israel se godsdiens die na­druk gelê op Israel se aanspreeklikheid en ver­antwoordelikheid.

Die heel eerste hoofstukke van Genesis praat oor die ellende op die aarde. Die Bybel sê dit het gekom deur die verleiding van die slang. En die mededelings laat deurskemer dat daar, een of ander mag agter die slang skuil wat hom ge­bruik. Tog plaas Genesis die klem nie daarop nie en gaan nie daarmee verder nie. Die bestaan van magte verdwyn uit die prentjie. Genesis handel nou verder oor die mens, hoe hy tot verantwoording geroep word en hoe hy in verantwoordelikheid moet lewe: uit die tuin gedryf, die geskiedenis daarbuite, die sondvloed, toringbou en roeping van Abraham.

Ander nasies se gods­dienstige byeenkomste, feeste en seremonies was onder andere daarop ingestel om geheimsinnige vyandige magte wat die lewensloop bepaal, te beïnvloed. Die Bybelse godsdienstige byeen­komste, feeste en seremonies daarenteen was toegespits op God se op­trede vir sy volk in die geskiedenis, soos die uittog uit Egipte. Waar sprake was van vyande, was dit veral konkrete, historiese vyande, soos die Kanaä­niete, die Filistyne en die Egiptenaars. God is in beheer van sake. Hy regeer.

Geloofsgreep op die Geskiedenis🔗

Die ballingskap en latere gebeurtenisse het Israel in 'n krisis gebring. Daar was lang uitsiglose tye van onderdrukking en selfs geloofsvervolging. Die vraag het seker meer­male by mense opgekom: Wie is in beheer van dinge? Regeer God werk­lik aktief oor die geskiede­nis? Die ellende van die tweede wêreldoorlog het mense tot dieselfde tipe vrae gebring. Een ant­woord daarop is: "God is dood! As God werklik regeer het, sou Hy nie sul­ke verskriklike ellende laat gebeur het nie". Vandag worstel die mensdom nog met hierdie vraag.

Israel se lang tye van uitsigloosheid het blyk­baar ook sy tol geëis wat die geloof betref. Baie Israeliete het hulle ge­loofsgreep op die ge­skiedenis verloor. Hulle het nie God se bestaan ontken nie, maar het sy heers­kappy oor die geskiedenis prakties ingeruil vir die heerskappy van geheimsinnige magte. Hierdie magte is 'n mengsel van konkrete vyande soos historiese volke enersyds, en kosmies mitologiese magte andersyds wat re­geer totdat God eendag, aan die einde van die tye, sal ingryp en hulle sal ver­nietig.

Hierdie benadering kom voor in die sogenaamde apokaliptiese lite­ratuur. Dit sien die geskiedenisverloop baie meganies en in bepaalde tydspanne afgemeet. Daar­om hou hierdie benade­ring hom graag besig met die toekoms en met be­rekenings oor die koms van God. Omdat die aan­dag so sterk op die magte gevestig is, is daar weinig aandag vir die eie verantwoordelikheid, die eie op­trede en die eie skuld. Daar word in terme van oorvereenvoudigde groe­perings gedink: die boses aan die ander kant, die goeies aan die duskant.

Die boeke Daniël en Openbaring vertoon in for­mele opsig ooreenkoms met hierdie apokaliptiese literatuur, maar wil juis beklemtoon dat God in volle beheer van die geskie­denis en die daaglikse gang van sake is, soos ons in die lewe van Daniël kan sien. Die boek wil juis vir mense wat in uitsiglose situasies is, sê dat hulle op God se bemoeienis in dié gebeurtenisse kan ver­trou, want Hy regeer. Terselfdertyd beklemtoon die boek die gelowige se verantwoordelikheid om reg op te tree, soos Daniël. Dit geld ook optrede teenoor die vyand, soos Daniel teenoor die Chaldeërs. Hulle mag nie bloot as ʼn bose mag afgemaak word nie.

Oorvereenvoudiging en Vyandige Kategorisering🔗

Die boeke Daniël en Open­baring word vandag onge­lukkig dikwels gelees soos tipiese apokaliptiese lite­ratuur, nie met die fokus op God wat in beheer is, op Jesus Christus wat regeer nie, maar op geheimsin­nige magte. In so 'n at­mosfeer floreer die be­langstelling en die geloof in sinistere magte en die bepalende invloed wat hul­le op die gang van sake sou hê. Dit is magte wat met een armswaai die ekonomiese en staatkun­dige omstandighede oor die hele wêreld sou bepaal, byvoorbeeld die Illuminati.

Hierdie oor­vereenvoudigde pro­bleemstelling en oplossing gaan gewoonlik gepaard met 'n oorvereenvoudigde teenstelling tussen die goeie en die bose: tussen die eie groep en die ander groep, gewoonlik 'n be­paalde volk of groep vol­ke. Die perspektief wat die boek Genesis sommer heel aan die begin van die By­bel op die geskiedenis gee, word heeltemal uit die oog verloor. In plaas van te konsentreer op God se heerskappy in die ge­skiedenis en op die oproep tot bekering, word ge­konsentreer op die invloed van magte.

Daar is vandag heelwat van die soort literatuur in omloop. 'n Tipiese ken­merk daarvan is dat daar profetiese toekomsuit­sprake gesoek word waar­volgens die eie groep, byvoorbeeld die blankes, die Britte, of Afrikaners, die eintlike Israel is. Dit is hulle wat uit die verstrooiing by­mekaargemaak sal word om as Israel God te ont­moet. 'n Ander tipiese kenmerk is dat die Jode sonder meer tot vyand van God gereken word. Ook ander volke word dikwels as vyande van God ge­reken. Van die boeke wat in Suid-Afrika in omloop is, bevat skreiend minag­tende en onbybelse rassistiese ver­wysings, soos in Hayes se boek "Suid-Afrika. . . die land oorkant die riviere van Kus".

Die Bevrydende Evangelie🔗

Hierteenoor staan die ont­dekkende, bevrydende en verrassende evangelie van Jesus Christus. Inder­daad is ons stryd teen geestelike magte. Maar Christus verkondig: God regeer. Die koninkryk van God het naby gekom. Dit vra nie minagting van ander groepe of in die eerste plek stryd met hulle nie, maar roep sy hoor­ders op: "Bekeer julle!"

Die bose of die sonde kan nie so eenvoudig in groeperings ingedeel word nie, maar sny deur elke mens se hart en lewe. God werk nie met abstraksies, met blote groepe en groepering nie, maar met mense, met persone met harte. Sy heerskappy, sy koninkryk, konfronteer jou in die eerste plek met Hom en met jou sonde. Dan eis dit dat jy jou naas­te as mens moet benader, as beeld van God. Die hele verkondiging van die Skrif word trouens saamgevat as liefde vir God en liefde vir jou naaste. Dan dink mens nie net in terme van onpersoonlike groepe en vyandskap teen hulle nie, maar ook en veral om vir Christus te getuig en jou naaste vir Hom te wen.

Wie die geloofsgreep op God se regering van die wêreld en die lewe het, word nie deur agterdog, kategorisering en vyan­dige stryd gekenmerk nie, maar deur 'n positiewe getuienis van Christus se oorwinnende mag oor en vir sondaars — ondanks baie onheilige planne en aksies in die wêreld.