Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Wie het Besluit dat die 66 Boeke in die Bybel moet wees?

’n Vraag waarmee Christene dikwels gekonfronteer word, is: “Hoe weet julle watter boeke in die Bybel hoort?” Agter hierdie vraag skuil dikwels die aantyging dat dit mense was wat besluit het watter boeke in die Bybel ingesluit moet word. Hierop moet ons ’n duidelike antwoord gereed hê - nie net sodat ons lastige vrae oor die Bybel kan afweer nie, maar veral sodat ons by onsself oor hierdie belangrike geloofsaak duidelikheid kan hê.

Die beweging wat hulleself die Nuwe Hervorming noem, maak geen geheim daarvan nie dat hulle oortuig is dat die Bybel deur mense saamgestel is, en dat hulle dit só gedoen het dat dit hulle eie kerklik-politieke strewes bevorder het. Hierdie selfde idee is ook gepropageer in ’n boek wat die afgelope tyd redelik opslae gemaak het en onlangs selfs verfilm is: The Da Vinci Code. Een van die bewerings wat in dié boek gemaak word, is dat die Bybel nie van God af kom nie, maar dat mense dit geskryf en saamgestel het. Oor die herkoms van die Bybel word elders in hierdie uitgawe van Die Kerkblad gehandel, in die artikel oor die inspirasie van die Woord. Die Da Vinci Code beweer egter ook dat die Bybel met opset só saamgestel is (deur die apostels en hulle opvolgers) dat dit aan hulle mag oor die kerk sou gee. Hulle het dan sekere (apokriewe) boeke wat bewys dat Jesus eintlik Maria Magdalena aangewys het om Hom as hoof van die kerk op te volg, opsetlik weggelaat.

Verskeie teoloë het al aangetoon dat bewerings soos dié in The Da Vinci Code van alle waarheid ontbloot is. Om maar net enkele valshede daarin aan te toon: nie een van die apokriewe boeke noem dit eers dat Maria Magdalena veronderstel was om ná Jesus se dood mag oor die kerk te kry nie. Trouens, Jesus het nooit enige blyke gegee dat enige mens mag oor die kerk moet kry of daaroor moet regeer nie. Die hoofskap oor die kerk en die regering daarvan is ’n eer wat Christus alleen toekom!

Verder - veral belangrik vir die onderwerp van hierdie bydrae - is daar in die geskiedenis geen bewys dat Petrus of die apostels of Konstantyn of enige ander persoon in die Bybel verantwoordelik was vir die samestelling van die Bybel in die 66 boeke soos ons dit ken nie. Trouens, die kerkgeskiedenis wys dat selfs die kerk nie so ’n besluit neem nie!

Hoe het die 66 boeke dan as die Bybel saamgekom? Hierop moet ons antwoord: God self het dit so Iaat gebeur. Daarmee sê ons nie dat God die Bybel klinkklaar uit die hemel aan die kerk gegee het nie. Natuurlik is dit in God se mag om dit wel so te laat gebeur het. Maar in sy Goddelike wysheid en genade het God sy openbaring op ’n ander manier aan die mens gegee. Hy, die eintlike Skrywer van die Bybel, het in sy ewige raad besluit hoe sy Woord tot mense sou kom. Die Heilige Gees het nie net in die teboekstelling nie, maar ook die versameling van die boeke van die Bybel, só gelei dat dit uiteindelik aan God se doel beantwoord het. Hoe het God dan die geskiedenis van die versameling van die Bybelboeke laat verloop?

Die versameling van die boeke van die Ou Testament🔗

Wat die Ou Testament betref, is daar ’n hele paar verwysings in die Bybel self wat die sluier ietwat vir ons lig. Uit Eksodus 24:4 en 7 blyk dit dat die Here nie net sy wette aan Moses gegee het nie, maar hom ook opdrag gegee het om dit te versamel en aan die volk voor te hou sodat hulle dit kon bewaar. Kort voor sy dood het Moses hierdie taak voltooi, soos uit Deuteronómium 31:24-36 blyk: “En toe Moses die woorde van hierdie wet klaar geskryf het tot die einde toe, het hy aan die Leviete … gesê: Neem hierdie wetboek en sit dit langs die verbondsark neer, dat dit daar as ’n getuie teen julle kan wees.” Josua praat later van hierdie bundel boeke as “die hele wet van Moses” (Jos 7:1-8) en het nog dele daaraan toegevoeg. Daarom word daar met redelike sekerheid aanvaar dat die Ou Testament tot en met die boek van Josua teen 1100 vC alreeds as versameling bekend was en gebruik is.

Die boeke wat deur die profete geskryf is, is blykbaar van vroeg af versamel om uiteindelik ’n bundel te vorm. Bewys hiervan is die feit dat van die profete van mekaar se geskrifte gebruik gemaak het, soos Obadja (verse 1-9) wat duidelik na Jeremia 49:1-15 verwys. Later skryf Daniël (9:2) dat hy Jeremia se profesieë in “die boeke” gelees het. Dit blyk dus dat die bundel “Boeke” voor en tydens die ballingskap van Israel (vier eeue vC) versamel en afgerond is.

Wanneer die Nuwe-Testamentiese era aanbreek, is die boeke van die Ou Testament by die Jode ’n gevestigde, versamelde bundel. Jesus verwys na die Ou Testament as “die Wet” (Joh 10:34), “die Wet en die Profete” (Matt 5:17), “die Wet, Profete en die Psalms” (Luk 24:24) of “die Skrifte” (Luk 24:27).

Die Nuwe Testament te midde van vervolging🔗

Wat die Nuwe Testament betref, getuig die Bybel self dat die Here bedoel het dat die boeke wat Hy deur sy diensknegte laat skryf het, versamel en as ’n bundel gelees moet word. ln Kolossense 4:16 skryf Paulus: “Wanneer hierdie brief by julle gelees is, sorg dat dit ook in die gemeente van die Laodisense gelees word en dat julle ook dié uit Laodicea lees.” Die brief uit Laodicea, meen sommige verklaarders, is die Efésiërbrief wat as omsendskrywe by wyse van afskrif uiteindelik ook in Laodicea aangekom het.

Hoe dit ook al sy, die bedoeling was dat alle gelowiges Paulus se briewe moes bekom en moes lees. So het dit gekom dat die apostel Petrus in 2 Petrus 3:16 aan sy lesers skryf dat Paulus oor die Here se lankmoedigheid met wysheid geskryf het, “net soos in al die briewe”. Paulus se briewe was dus in sy leeftyd alreeds onder die gelowiges bekend as ’n eie groep, as ’n briefversameling, wat geskryf is met die wysheid wat die Here onder inspirasie van sy Gees gegee het.

Teen die einde van die eerste eeu was aI 27 boeke van die Nuwe Testament klaar geskryf. Hierdie boeke is, net soos die briewe van Paulus, in die vroeë kerk versprei. Dit was egter ook die begin van ’n era van vervolging vir die kerk, ’n tydperk waarin die kerk so besig was om hulleself te verdedig en te handhaaf dat daar bitter min aandag gegee is aan die vraag na die samestelling van die Bybel. Watter boeke tot die Bybel behoort en watter nie, is iets wat blykbaar maar op plaaslike vlak of hoogstens binne die kring van naburige gemeentes uitgemaak is. Hierdie situasie is waarskynlik aangehelp deur die feit dat boeke destyds met die hand oorgeskryf moes word. Handgeskrewe afskrifte van boeke was moeilik bekombaar. Daarom het die verspreiding van die Nuwe-Testamentiese boeke maar tydsaam verloop.

Tog het daar, deur die beskikking van die Here, vroeg-vroeg reeds ’n bewustheid gekom oor watter boeke naas die Ou Testament as deel van die Nuwe Testament beskou moet word. Iets hiervan sien ’n mens in die destydse geskrifte van die apostoliese vaders en die vroeë kerkvaders. Hulle verwys plek-plek na boeke wat ons vandag as deel van die Nuwe Testament ken, en sê dan dat hierdie boeke met die gesag van God praat. Dit weerspieël naastenby die siening van die kerke van daardie tyd. Dit kan ons sien in die kerke se optrede met die ketter Marcion. Toe Marcion in 150 nC skryf dat die Bybel tot net ’n paar boeke beperk moet word (blykbaar net die Evangelie volgens Lukas en tien van Paulus se briewe), het die kerke sy standpunt met minagting verwerp. Dit ten spyte van die feit dat daar steeds geen amptelike kerklike besluit was oor die samestelling van die Bybel nie. Vir die gelowiges was dit blykbaar vanselfsprekend watter boeke tot die Bybel behoort. Selfs ná die jaar 250, toe daar vir die eerste keer streeksinodes gehou is, was die vraag oor die samestelling van die Bybel nooit op die agenda nie.

Die kerklike besluite ná godsdiensvryheid🔗

Uiteindelik, na meer as twee eeue se aan-en-af vervolging, het daar ’n Romeinse keiser gekom wat die Christelike kerk goedgesind was. Dit was Konstantyn, wat in die jaar 313 met die Edik van Milaan die vervolging van die kerk tot ’n einde gebring het. ln dié tyd het die geskiedskrywer Eusebius die geskiedenis van die kerk begin navors en dit opgeteken.

As deel van sy navorsing het Eusebius by die onderskeie kerke navraag gedoen oor die boeke van die Bybel wat hulle gebruik. En toe kom hy tot ’n verstommende bevinding: benewens die Ou Testament het die kerke - onafhanklik van mekaar - feitlik almal die 27 boeke gebruik wat ons vandag as die Nuwe Testament ken. By enkele kere was daar wel nog onsekerheid oor Jakobus, 2 Petrus, Judas, 2 en 3 Johannes, en Openbaring.

Watter wonderbare getuienis het ons hierin van die beskikking van God! Oor ’n tydperk van drie eeue het God sy kerk só deur die Gees gelei dat hulle dieselfde boeke erken het as boeke wat van God af kom. Sonder dat ’n mens of ’n kerklike vergadering daartoe besluit het, het die kerke die hele Bybel as God se Woord herken en omhels. Van die mens se kant gesien, was dit ’n spontane erkenning. ln werklikheid was dit egter die gevolg van God se genadige beskikking.

Maar nog steeds was daar geen amptelike kerklike besluit oor hierdie saak nie. Eers aan die einde van die vierde eeu het die kerke sover gekom om op ’n sinode tot ’n amptelike besluit te kom. Op die Sinodes van Hippo Regius (394 nC) en Kartago (397 nC) is besluit: “Dat behalwe die kanonieke Geskrifte niks in die kerk gelees mag word onder die naam van Goddelike Geskrifte nie. Hierdie is egter die kanonieke Geskrifte: Genesis (en dan volg ’n volledige lys van die boeke van die Bybel soos ons hulle vandag ken) ... Openbaring.”

Hierdie was die eerste amptelike en ook die beslissende besluit van die kerke oor watter boeke tot die Bybel behoort. Maar let wel: by hierdie sinodes het die kerke nie besluit dat hierdie 66 boeke tot die Bybel moet behoort nie. Hulle het bloot amptelik erkenning gegee aan dit wat die Heilige Gees oor verloop van drie eeue in die kerke laat gebeur het: dat hierdie 66 boeke, en hulle alleen, herken is as Goddelike Geskrifte, God se Woord, die Bybel.