2 bladsye.

Woorde met Waarde

 

 

Woorde met waarde

Die bekende Engelse skrywer en digter, William Shakespeare, het by geleentheid gesê: “What’s in a name?” Of ’n mens William of Willy of Billy genoem word – dit is alles om ’t ewe. ’n Naam is ’n naam.

Op die oog af lyk die saak wat Shakespeare stel eenvoudig. By nader insien blyk dit egter nie heeltemal so eenvoudig te wees nie. ’n Naam is nie maar net ’n naam nie. ’n Naam het waarde. ’n Naam vertel ’n verhaal. In ’n naam lê meestal ’n hele lewensgeskiedenis opgesluit. Naamgewing is deurgaans ’n gewigtige saak. So word dit in die Skrif aan ons geopenbaar. Die naam sê iets van die persoon, en van sy familie.

Wat vir name geld, geld eweneens vir woorde oor die algemeen. Woorde dra gewig. Woorde het waarde. Deur woorde te gebruik, dra ons die waarde daarvan aan mekaar oor. Woordewisseling is gedagtewisseling. Met woorde gee ons uiting aan ons gevoel. En aan ons geloof.

Woord-noodtoestand🔗

In ons gebroke bestaan moet ’n mens te wagte wees dat die woord ook aan alles-vernietigende sonde blootgestel is. Dit gebeur al te maklik dat die woord-gebruiker nie noukeurig genoeg sê wat hy of sy bedoel nie. Net so is dit ’n alledaagse verskynsel dat die woord-ontvanger nie presies hoor wat gesê en bedoel is nie. Misverstande kom voor. Die misverstand baar spanning. Spanning lei tot konflik. Konflik vernietig verhoudings, mits dit betyds gekeer word.

’n Ander vorm van woord-noodtoestand steek in ons dae meedoënloos kop uit. Op die oog en die oor af word woorde gebruik wat bekend is. Woorde soos gehoorsaamheid aan God, binding aan die Woord, liefde, versoening, waarheid, regspraak, Psalmsing, kerk, Gereformeerd-wees. Daar is talle meer. Almal woorde waarmee ’n mens grootgeword het. Tydens die opvoedingsjare is die waarde daarvan verduidelik en vasgelê.

Maar wat is aan die gebeur? Dieselfde woorde word steeds gebruik – met ’n ander inhoud, ’n ander waarde.

Bewyse🔗

Op verskeie terreine blyk dit waar te wees dat die waarde van woorde verplaas word.

Enkele jare gelede het die Waarheid- en Versoenings-kommissie ’n belangrike rol in ons samelewing gespeel. Die naam van die kommissie verwys na twee begrippe wat in ons Gereformeerde wêreld besonder gelaai is. Waarheid en versoening is alleen by en in Christus te soek en te vind. Tog is daar – sover vasgestel kon word – nie sodanig met dié begrippe omgegaan nie. Daar is wel baie oor waarheid en versoening gepraat, maar buite Christus om.

Opvoeding en onderwys is en sal altyd ’n brandpuntkwessie wees. Dit gaan oor die toekoms van die jeug. Die vraag is: wat word onder opvoeding en onderwys verstaan? Wat twintig en dertig en vyftig jaar gelede met dié terme bedoel is, verskil hemelsbreed van dit wat vandag daarmee bedoel word.

Oor die term ‘Gereformeerd-wees’ word daar tans ’n diskussie op die tuisblad van die GKSA gevoer. Die vraag is gestel: wat word ten diepste met Gereformeerd-wees bedoel? In antwoord op die vraag word ’n legio gedagtes gewissel. Klasse en kategorieë soos ‘stilstaandes’ en ‘bewegendes’, ‘konserwatiewes’ en ‘liberales’ word teenoor mekaar gestel. Plek-plek word doelpale verskuif. ’n Ou begrip kry nuwe inhoud.

‘Ons sing Psalm 3 vers 2’. Dit is taal wat by die erediens pas. Maar watter Psalm 3:2 sing ons? Sing ons ’n berymde Psalm 3, of ’n omdigte Psalm 3? Die verskil is beduidend. Die berymde Psalm 3 is Psalm 3 in rymvorm. Die omdigte Psalm 3 is nie net Psalm 3 in ’n omdigte vorm nie. Dit is ’n gedig oor Psalm 3. Ongeag die verskil, word een en dieselfde aankondiging gemaak: ons sing Psalm 3. Quo vadis?

Wat gemaak met woorde wat van waarde verander? Is dit nodig om die kop daaroor te breek? Moet ons nie maar aanvaar dat taal lewendig is en dus voortdurend ontwikkel nie?

Verseker moet ’n mens vir die dinamiese voortgang van taal oopstaan. In 2004 gebruik ons nie presies dieselfde woordeskat as in 1904 nie. Buitendien is daar voortgang in denke. Daar moet ruimte wees vir dié voortgang. God die Skepper eis vooruitgang, bouwerk, positiewe uitstrek na die voltooiing van sy Raad.

Tog moet daar oor een saak absolute duidelikheid bestaan. Wanneer bestaande woorde met nuwe inhoud gevul word, moet dit eerlik gesê word.

Die waarde van ’n woord mag nie maar net aanvaar word nie.

Die waarde moet omskryf en verduidelik word, sodat ons weet waar ons met mekaar staan.

Die belangrikste: die waarde van woorde moet aan die Woord getoets word. Alleen so kan daar gemeenskaplike groei in liefde en kennis wees.