2 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

Wysheid uit die Ou Tyd

ʼn Sekere wyse professor het eenmaal verrassend oorspronklik gevra: “Sal jy, nadat jy ʼn honderd-dollarnoot gekry het, die verkreukelde vyftig-dollarnoot in jou sak weggooi?” Die retoriese vraag het gedoel op die wysheidsliteratuur van die Ou Testament. Anders gestel, sal ons, nadat ons Christus ontvang het, Hy wat die “krag van God en die wysheid van God” is (1 Kor 1:24) , nou die Bybelse Wysheidsboeke aan die vergetelheid prysgee?

Ongelukkig het presies dit in die kerk gebeur. Die feit dat díe boeke verwaarloos word (veral Spreuke en Prediker), verraai dat baie van ons ʼn paar probleme daarmee het. Ons as Christene is vertroud met die oorbekende frase: “Vrees God”. Maar verstaan ons dit? Ook kom daar soms tye dat baie van ons in stilligheid dink dat gedeeltes van Spreuke en Prediker afgesaag, selfs verkeerd is. Is gesondheid, rykdom en voorspoed altyd die regverdige se deel? Verder word juis dié waardes wat ons as mense versmaai, naamlik ouderdom en tradisie, deur Bybelse wysheid besing.

Waarom dan nie die “vyftig dollar” weggooi nie? Omdat baie van die wysheidspreuke heenwys na Jesus Christus (kyk Lukas 24:27). Verder bly “die woord van God ... vir ewig” staan (Jes. 40:8b), en is die hele Skrif “nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam” (2 Tim 3:16).  Die apostels het self direk of indirek na ongeveer sestig spreuke van Salomo verwys, om nie eers te praat van die ander wysheidsboeke nie. Hulle het ingesien dat net die waarheid onveranderlik is, ten spyte van die menigte verskillende maniere waarop mense daardie waarheid dwarsdeur die eeue geïnterpreteer het. Die wysheidsliteratuur van die Ou Testament verwoord soveel waarhede – waarhede wat bo elke situasie uitstyg – en daarom op talle lewensomstandighede van toepassing is.

Een van hierdie alles oortreffende waarhede in die Bybelse wysheid is die baie bekende uitdrukking, soos dit in die Ou Vertaling gestel is: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid” (Ps. 111:10; Spr. 9:10; kyk ook Job 28:28; Pred. 12:13). Maar watter soort “vrees” dien as voorvereiste vir die verwerwing van wysheid?

Om mee te begin, behels die woorde om God te “vrees” (of die “vrees van God”)  drie aspekte. Die eerste, die duidelikste aspek ... is die oorweldigende gevoel van ontsag – om in ʼn heilige God te glo, Hom lief te hê en te vertrou. Tweedens beteken die vrees van die Here eenvoudig dat ons diep nederig moet buig voor die vasstaande openbaring van wie Hy is in sy Woord. Derdens is die vrees van die Here ʼn alles oortreffende waarheid waarin ons onderrig kan word, wat ons in ons harte kan bêre en waaroor ons diep kan nadink. Hierdie laaste punt is belangrik, selfs al sou die enigste rede daarvoor wees dat dié waarheid voortduur, ongeag die hoeveelheid mense wat die Here nie vrees nie. Daarom verwys die “vrees van die Here” na God se ewige Woord, en dit is hierdie tydlose besieling waaruit die wysheid voortvloei. “Vrees” het dus niks daarmee te doen om vrede tussen jou en ʼn toornige God te herstel nie; dit het eerder te doen met die betoning van die gelowige se nederige, vertrouende en liefdevolle reaksie teenoor God. Jesus herinner ons aan laasgenoemde uitwerking in Matteus 22:40 omdat die “hele Wet en die Profete” daarop berus. Weereens noodsaak die “vrees” waarvan die Bybel hier praat,  nie ʼn robotagtige reaksie op die letter van die wet nie; dit veronderstel nederigheid en ontsag vir die Een wat “lewe en voorspoed, dood en teenspoed” aan ons voorhou (Deuteronomium 30:15). As ons Jesus as die volmaakte voorbeeld gebruik, is die vrees van die Here die Seun se liefdevolle verering van die Vader wat duidelik sigbaar word in sy nederige en nougesette gehoorsaamheid aan Sy Vader se wil. As ons dit doen, dan sal die wysheid waarin God ʼn welbehae het, daarop volg. Maar wat behels hierdie “wysheid” presies?

Wysheid  (Hebreeus hokma)  beteken gewoonlik 'vaardigheid', 'skranderheid', 'verstandigheid', 'deskundigheid' of 'volledige begrip'. Dwarsdeur die Skrif verwys hierdie wysheid na die krygskuns, na regering, diplomasie of onderskeidingsvermoë. Normaalweg is hierdie wysheid vir elke mens toeganklik. Dit word nie verkry deur bonatuurlike visioene nie, maar deur noukeurige waarneming van die alledaagse lewe, asook respek vir tradisies. Wysheid is dit wat die individu in staat stel om sy lewe te bestuur, om oplossings te vind vir skynbaar onoorkomelike struikelblokke. Vergelyk dit met 1 Korintiërs 1:24 wat hierbo aangehaal is, en die verband word duidelik: Christus is nou ons wysheid, en deur Hom kan ons alles tegemoetgaan (Fil 4:13). Tenslotte is wysheid nie neutraal nie. Die wysheid wat in die Ou Testament beskryf word, is Godgesentreerd, wat die wysheid waarin God ʼn behae het, ontoeganklik maak behalwe deur Sy genade. Om God te vrees, bring daarom ʼn sekere soort helderheid in die lewe – sowel moreel as verstandelik – en maak die gebruik van goddelike insig en begrip moontlik.

Bybelse wysheid leer ons nie net hoe om te lewe nie, dit leer ons ook hoe om te sterwe. Met ander woorde, dit leer ons wat dit beteken om in geloof die onvermydelikheid van die dood in die oë te kyk. Baie van ons (ook ekself) vind die dood as gespreksonderwerp glad nie opwindend nie – soms selfs vreesaanjaend. Maar God se wysheid voorsien ons van ʼn sober nadenke, nie ʼn blindelingse naïwiteit nie: “Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. ʼn Hond wat lewe, is beter as ʼn leeu wat dood is.” (Pred. 9:4). Dit is waar, is dit nie? Koester ons nie hoë verwagtinge solank as wat ons leef nie? (En baie van ons is nog steeds lief vir die lewe.) Maar volgens die Prediker, open hierdie hoop helaas ons oë vir die besef dat dié "wat lewe, weet hulle sal doodgaan; maar die dooies weet niks" nie (Pred. 9:5). Waarom laat God se ontnugterende wysheid ons lewensvreugde en blye hoop, mooi sonsondergange en die liefde, verstil voor die versoberende gedagte aan die dood? Die antwoord is eintlik maklik en word te maklik misgekyk – veral deur die suksesvolle kerk van die Westerse wêreld: omdat ons vergeet het dat dit in die lewe nie gaan oor so veel gerief as moontlik nie, het ons ook vergeet hoe om te sterf, en gevolglik het ons ook vergeet hoe om te leef.