As predikant ervaar ek dikwels die waarheid en die krag van hierdie uitspraak van die kerkvader Augustinus:

"En ek ... wat dit op my geneem het om met julle te praat, dink julle daaraan wie ek is, en wat ek op my geneem het. Want ek het dit op my geneem om Goddelike dinge te verkondig - en ek is 'n mens; geestelike dinge - en ek is vleeslik; ewige dinge - en ek is sterflik... Na my maat ontvang ek wat ek aan julle bedien. Wanneer geopen word, wei ek saam met julle; wanneer die deur gesluit is, klop ek saam met julle."

Dit bevestig Paulus se woorde in 2 Korinthiërs 4:7: "Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie." Enersyds word jy hierdeur herinner aan jou eie beperktheid, en is daar soms die versugting: "Ek wens ek kon meer doen!" Andersyds is dit bevrydend: "Ek hoef nie meer te doen nie; ek kan plant en natmaak, maar dit is God wat laat groei."