Bron: Kompas, 2012. 3 bladsye.

Mattheus 13: 24-30 - Koring en Onkruid Die kerk as Gemengde Liggaam? – ʼn Perspektief op die Historiese Gang van die Eksegese van die Gelykenis van die Onkruid tussen die Koring

ʼn Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ʼn man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? En hy antwoord hulle: ʼn Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet bymekaarmaak? Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.

Matteus 13: 24-30

Die Probleem🔗

Die stryd om vrae van tug en toleransie eksegeties te beantwoord, word weerspieël in die uitleg van hierdie gelykenis.

Enersyds word op hierdie gelykenis ʼn beroep gedoen in verset teen die onbuigbaarheid van hulle wat die tug ontoegeeflik wil handhaaf. Andersyds word die gelykenis so uitgelê dat relativisme afgewys word. Die gelykenis gaan duidelik oor God se lankmoedigheid.

Hoe het die reformatore met die gelykenis in hulle stryd teen Rome en die Dopers omgegaan? Dit was ʼn stryd teen die inkwisisie en vir die vryheid van gewete en geloof. Dit was ook ʼn stryd vir die tug en teen die libertynse ideaal.

Die interpretasie van hierdie gelykenis en die belydenis aangaande die kerk kan nie van mekaar losgemaak word nie. Is die kerk ʼn ‘gemengde liggaam’ waarbuite geen saligheid is nie? Of is die kerk ʼn gemeenskap van heiliges, soos die nuwe Jerusalem?

Hieronymus het al verklaar dat niemand die reg van Christus in hande kan neem en mense oordeel voor die oordeelsdag nie. Indien die kerk nou reeds gesuiwer is, wat sal daar nog vir die Here oorbly?

Augustinus en Thomas🔗

Augustinus het in sy stryd teen die Donatiste die probleem gehad dat hulle hulself gesien het as die koring, maar dat die groot kerk geheel en al uit onkruid bestaan. Volgens die Donatiste is die saailand nie die kerk nie, maar die wêreld. Vir hulle was dit onmoontlik dat die satan onkruid in die kerk kan saai. Augustinus meen die Donatiste is die onkruid, want indien hulle koring was, sou hulle die vermengde onkruid onder hulle verdra het en hulself nie afgeskei het van die oes van Christus nie. Hulle moet die verdraagsaamheid opwek sodat die tug nie verslap nie. Verdraagsaamheid dien die vrede en die tug dien die gesondheid van die gemeente. Die Here dra sy dienaars op om die onkruid te laat tot die oes, sodat die koring kan opgroei. Dit beteken dat hoe sorgvuldiger die naasteliefde bewaar word, hoe effektiewer is die tugtiging van die verderf.

Om wag te hou oor toelating tot die doop, is nie om die onkruid uit te ruk nie, maar om nie soos die duiwel die onkruid oor die koring te saai nie.

Dwang is soms onvermydelik met die ketters, maar Augustinus bly die owerheid vermaan om ter wille van Christus die sagmoedigheid nie te vergeet nie. As daar na die wapen gegryp word om ketters te dood, is die gevaar dat ook regverdiges omgebring word. Van die onkruid kan ook nog in goeie koring verander. Die ketters se mond kan gesluit word, maar Christus verbied ons om hulle te dood. Die afleiding hieruit is dat die verdraagsaamheid sy grens vind in die uitoefening van die kerklike tug.

Teenoor Augustinus het Thomas van Aquino die doodstraf vir ketters goedgekeur. Wanneer mense geld vervals vir die tydelike lewe en die doodstraf ontvang, hoeveel te meer moet dit gebeur met ketters wat die geloof bederf. Hy gebruik Augustinus se uitleg van Matteus 13, maar gaan daaraan verby dat Augustinus doodstraf oor ketters afwys. Die inkwisisie het dankbaar van Thomas se eksegese gebruik gemaak.

Die Reformasie🔗

Die reformatore het onderskei tussen die ampte van owerheid en kerk. Luther was van oortuiging dat die owerheid die kwaad moet straf, maar kry dit nooit heeltemal uitgeroei nie en moet geduld beoefen.

Luther het vermaan om nie te skrik as daar valse leer onder ons is nie. Die duiwel is ook onder die seuns van God (Job 1:6). Verdwaaldes van vandag kan môre nog op die goeie pad kom. Ons kan nie oor harte en geeste regeer nie, dit kan alleen God se Woord doen. Selfs een Christen in ʼn hele land onkruid moet bewaar word en daarom moet die hele land geduld word. Christus sê nie dat ons die onkruid nie moet keer nie, maar dat ons die onkruid nie moet uittrek nie. Christus herinner ons: uit engele kom duiwels, uit Christene ketters, uit God se volk dié wat Hom kruisig. Waar geen onkruid is nie, is daar ook nie ʼn kerk nie. Roei jy die onkruid uit, roei jy die kerk uit. Daarom bring die dwepers dit sover dat hulle geen kerk meer is nie, maar sekte van die duiwel. Om die onkruid saam met die koring te laat groei, is geen regverdiging van die onkruid nie, maar ʼn woord van vermaning tot geduld. Die kerk het van die begin tot die einde slegte seuns in haar midde. Waar God sy suiwer kerk oprig, bou die duiwel onmiddellik ʼn kapel langsaan.

Vir Zwingli kan die gelykenis nie toegepas word op valse leer en growwe sonde nie. Die owerhede moet dit straf. Sonde kan nie verdra word nie. Hy pas die verdraagsaamheid toe op die swakhede van die vlees wat met Christelike liefde verdra moet word. Hopelik sal vele voor die oesdag tot die goeie insig terugkeer.

Vir Bucer is die onkruid die skynheiliges. Solank ons in hierdie lewe is, behoort ons hulle te verdra. Ons kan ook nie behoorlik onderskei nie. Die owerheid is geroep om die kwaad te straf. Christus het aangedui dat daar tot die einde van die wêreld bose mense in die kerk sal wees, al word hulle deur God se Woord bestry. Bucer maan die opsieners om ag te gee op die kudde van die Here.

Vir die Dopers is die kerk altyd in teenstelling met die wêreld. Die wêreld is boos en onder heerskappy van die duiwel en die sonde. Daar is ʼn duidelik sigbare onderskeid tussen kerk en wêreld. In die meeste dispute van die reformatoriese predikante in Switserland met die Dopers is die gelykenis deur die predikante toegepas.

Castellio en die Libertyne🔗

Castellio, wat teen Calvyn en die verbranding van Servet geskryf het, het hiervoor ʼn beroep gedoen op Matteus 13 na aanleiding van ʼn uitvoerige eksegese. Hy het in sy diktaat ook uitsprake van ander oor hierdie gelykenis versamel. Kettervervolging is uit ʼn verkeerde ywer vir Christus. Ons moet nie die onkruid uittrek nie, want anders wil ons beter weet as Christus. Laat staan die onkruid tot die oes. Die wêreldeinde het nog nie gekom nie en daarby is die taak aan die engele opgedra. Castellio verbind die onkruid met die sonde teen die Heilige Gees. Ons weet te min om die onkruid uit te trek.

Calvyn🔗

Calvyn gebruik die gelykenis ter ondersteuning van sy beskouing van die kerk as ‘gemengde liggaam’. In die Institusie van 1539 pleit hy vir sagmoedigheid. Die kerk is ʼn land wat met goeie koring besaai is, deur die bedrog van die vyand met onkruid verontreinig is, en wat nie gereinig word voordat die oes na die dorsvloer gebring word nie. In die Institusie van 1543 sluit hy by Augustinus aan: Met die maat van die tug moet ons let op die bewaring van die eenheid van die Gees in die band van vrede. Die satan werk onder die Christene verskriklike verwarring met sy onkruid, sodat daar geen aggressiewer vyande is as dié wat in die boesem van die kerk onderrig is nie. In ʼn diktaat duik Servet se naam in hierdie konteks op. Dat daar in die kerk ketters en skynheiliges is, moet ons nie in verwarring bring nie. God het deur sy dienaars die saad van die leer van die evangelie gesaai in die land. Daarom is dit nie te verwonder nie dat satan allerlei dwalings daarmee meng tot verderf van mense. God laat dit so wees dat die kwade altyd onder die goeie vermeng is.

Calvyn oor Servet🔗

In 1554 het Calvyn, ná die teregstelling van Servet, die regsinnige geloof in die Drie-eenheid verdedig. Hy het ook die straf met die swaard van ketters en ongelowiges deur die owerheid verdedig. Hy stel hom teen hulle wat uit die gelykenis wil aantoon dat ketters nie met die swaard vervolg mag word nie. Vir Calvyn mag die onkruid aangeraak word, in dié sin van beide verkeerde leerstellings asook verleiding van die gelowiges om die koring te bederf. Daarom het die wette, regspraak en owerheid ʼn plek. Christus se kerk is aan verskillende gebreke blootgestel. Maar sodra Hy met sy evangelie te voorskyn kom, skei Hy die kaf van die koring, maar Hy begin om dit so te doen dat die volledige reiniging uitgestel word na die oordeelsdag.

Voorlopigheid van die Tug🔗

In ʼn preek van 1555 het Calvyn met verwysing na die gelykenis ʼn uiteensetting gegee oor die vraag of die doodstraf geregverdig is. Mense wat die onkruid wil laat groei, wil die orde van die natuur bederf en spreek teen God. In sy evangeliekommentaar van 1557 spreek hy van die kerk as gemengde liggaam. Die godvresendes moenie ongeduldig en moedeloos word wanneer hulle verwarrende vermenging van bose en goeie sien nie. Stryd tussen vlees en gees bly in die persoonlike lewe en net so in die kerk. Vele skynheiliges en goddeloses dring in. Die Here noem die kerk die saailand en die gelowiges die koring. Goddelose dwalings mag ons nie duld nie. Die herders moet hulle ywerig daarop toelê om die kerk te suiwer. Maar hulle sal die kerk nooit volkome kan suiwer nie en moet daarom nie moedeloos word nie. Hulle moet mense beteuel wat meen jy kan slegs gemeenskap hou met suiwer engele. Godvresende owerhede moet die swaard gebruik en afsnyding moet deur die kerk uitgevoer word. Christus wil die laaste hand hê in die reiniging van sy kerk, maar Hy begin daarmee deur godvresende leraars.

Besluit🔗

Calvyn lees die gelykenis in verband met die koms van die koninkryk van die hemele. Hy onderskei tussen die teenwoordigheid en die toekoms van die ryk, tussen die begin en die volkomenheid. In sy eerste koms het Hy die koninkryk opgerig deur sy versoeningswerk in sy vleeswording, kruis en opstanding. Die tweede keer kom Hy as Regter wat sy ryk voltooi en in sy oordeel vasstel wat sy evangelie bereik het. Tug is opdrag van die Here, maar altyd voorlopig. Die wêreld is die gebied waar die planting van die kerk en die verbreiding van die evangelie plaasvind. So is die kerk deel van die wêreld.