Bron: Kompas, 2002. 3 bladsye.

Vriendskapsevangelisasie

Inleiding🔗

Die kerk is na sy wese missionêr. Daarom is die missionêre arbeid die roeping en taak van die kerk. Die primêre taak van die kerk is om die evangelie uit te dra. As deel van hierdie taak wil ons die aandag vra vir vriendskapsevangelisasie. Hierdie taak ressorteer onder die plaaslike kerkraad (Kerkorde Artikel 26).

Die kerk se taak is om die evangelie uit te dra (ook genoem die verkondigingstaak). In hierdie taak is die hele gemeente medeverantwoordelik. Almal behoort op een of ander manier betrokke te wees. Tog is dit wel so dat almal nie op dieselfde wyse meewerk aan die evangelie verkondiging nie. In hierdie verband kan daar drie groepe onderskei word. Hierdie groepe word onderskei aan die hand van die verskillende werkwoordsvorme wat vir die verkondigingstaak gebruik word.

Amptelike Taak🔗

Die amptelike taak word toevertrou aan diegene wat predikers van beroep is. Hulle beklee die amp van bedienaar van die Woord (Kerkorde artikel 2). Dit is hulle wat preek (kérussoon) en die evangelie verkondig (kérrussein to euangelion). Soms word die woord marturein (om te getuig) ook van toepassing gemaak op hierdie groep.

Amptelike en Nie-Amptelike Taak🔗

Daar is ook ’n ander groep woorde wat die verkondiging of die uitdra van die evangelie behels. Hierdie woorde word gebruik vir diegene wat in amptelike diens staan, maar dit dui ook op gewone lidmate wat in die amp van gelowige staan. ʼn Werkwoord wat in hierdie verband gebruik word is kerdainein: om ander (vir Christus) te wen. ’n Ander woord wat ook gebruik word is sózein; om te red. Paulus gebruik dit om sy amptelike werk in 1 Tessalonisense 2:16 te beskryf. In Jakobus 5:20 word die werkwoord gebruik om die lidmaat se werk te beskryf. Nog ’n woord is euangelizesthai, wat beteken om die evangelie te spreek of te verkondig. Paulus gebruik dit om sy eie werk in 1 Korintiërs 1:17 te beskryf. ’n Verdere voorbeeld van die werkwoord wat die verkondigings-werk beskryf vind ons in Romeine 10:15.

Nie-Amptelike Taak🔗

Die nie-amptelike werk van die gewone lidmate word beskryf deur die verwysing in Handelinge 8:4 (euangelizomai). Hier word dit gebruik vir die gewone lidmate wat verstrooi was en die evangelie uitgedra het. Die suiwere betekenis is dat hulle die land deurgegaan het en die Woord van die Here “ge-evangeliseer” het. Hierdie werk is die spontane vrywillige pogings van die gelowiges om ander van die evangelie te vertel.

Nog ’n verder onderskeid wat opmerklik is in die Nuwe Testament, is dat Paulus en Lukas die uitdrukking logos tou theou (die Woord van God) gebruik as hulle na die verkondiging van die Woord verwys. As hulle na die uitdra van die evangelie deur die gewone lidmate verwys, dan gebruik hulle die uitdrukking logos tou kuriou, die Woord van die Here (vgl. 1 Tessalonisense 1:8, 2 Tessalonisense 3:1). ’n Ander uitdrukking wat ons ook vind is waar die gelowiges die “woord spreek”. Dit lees ons in Handelinge 11:19. Hier word die werkwoord laleó (om te spreek) gebruik.

’n Laaste voorbeeld van spontane getuienis lewering vind ons in voorbeelde waar “vertelling” plaasvind. Hierop sal verder ingegaan word.

Vriendskapsevangelisasie: Vertelling en Uitnodiging🔗

Die taak om die evangelie te verkondig is in breë hierbo uiteengesit. Die aandag word egter gevra vir die derde groep wat die nie-amptelike evangelieverkondiging behels. Alvorens die saak nou verder belig word, word die aandag eers gevra vir die gebeure in Johannes 1:35-52.

Johannes staan by twee van sy dissipels en toe hy vir Jesus sien, sê hy: Dáár is die Lam van God! Twee dissipels hoor wat hy sê en hulle volg vir Jesus. Hulle gaan kyk dan waar Jesus tuis was. Een van die manne wat vir Johannes gehoor het was Andréas. Hy gaan vertel vir sy broer Simon Petrus dat hulle die Messías gekry het; dit wil sê hulle het Christus gevind. In vers 43 staan daar “En hy het hom na Jesus gelei”.

Die volgende dag wou Jesus na Galiléa vertrek; en Hy kry vir Filippus. Jesus sê vir hom: “Volg My”. Filippus het op sy beurt weer vir Natánael gekry en vir hom gesê: “Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret” (vers 46).

In hierdie gedeelte vind die leser ’n proses van vertelling. Op die ry af vertel die een aan die ander van die ontmoeting met Jesus. In vers 47 bemerk die leser teëspoed wanneer Natánael Filippus se aanspraak betwyfel met die woorde: “Kan daar uit Násaret iets goeds wees?” Filippus gaan dan nie daartoe oor om sy aanspraak te probeer verdedig nie. Hy rig ’n uitnodiging tot Natánael: “Kom kyk”. Daarop sien Jesus vir Natánael en so vind die ontmoeting plaas. Op hierdie ontmoeting volg dan die belydenis van Natánael: “Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel”!

Die gebeure wat hierbo geskets is, vorm die basis van vriendskaps-evangelisasie. Hier vind ’n spontane proses van vertelling en uitnodiging plaas. Vriendskapsevangelisasie is gebaseer op ’n aantal eenvoudige beginsels wat beskryf kan word as “vanuit-beginsels”. Elke beginsel geskied vanuit ’n bepaalde benadering.

Vanuit ’n Liefdevolle Houding en Benadering🔗

Vriendskapsevangelisasie is in wese persoonlike evangelisasie. As sodanig vra dit in die eerste instansie ’n liefdevolle houding en benadering. Dit vra van ʼn mens liefde vir God-drie-enig. God is ons Skepper en Hy is ons Vader in Jesus Christus. Christus is ons Verlosser en die Heilige Gees ons Trooster. Ons leer vir God ken vanuit sy Woord. Daarom moet daar liefde vir die Woord van God wees. Die Woord word bedien waar die heiliges vergader om vir God te dien. Hierdie vergadering van die heiliges is die kerk. ʼn Liefde vir die kerk waarvan Christus die Hoof is, is dus wesenlik van aard. Verder moet daar by die evangelisasiewerker ’n liefde vir mense (die naaste) wees, want die liefde van Christus dring ons.

Vanuit Vertroue🔗

In die tweede plek moet hierdie liefde outentiek (opreg en eerlik) wees, aangesien dit gebaseer moet wees op vertroue. Daar moet dus gewerk word vanuit ’n vertrouensbasis. Waar evangelisasie plaasvind moet die buitestander (hulle wat God nie ken nie of van Hom vervreemd geraak het) wat ge-evangeliseer word, kan sien dat daar ’n opregte belangstelling en motief aanwesig is. Die motief om te evangeliseer moet gebore wees vanuit die liefdesbeginsel. Vanuit die besef dat God my in Christus uitverkies het en so liefhet dat Hy sy Seun vir my gegee het, kweek dan ’n grondhouding van dankbaarheid. Vanuit die liefde en die dankbaarheid benader die kind van God dan die buitestanders, aangesien eersgenoemde vir laasgenoemde ook gun wat hy in Christus het; naamlik die ewige lewe. Die versoening met God in Christus word dus bedien aan die buitestander (vgl. 2 Korintiërs 5:18,19). Daar word aan die buitestander vertel van wie Christus is en wat Hy vir die wêreld kom doen het. Daar word getuig aangaande Christus en daar word nie gepoog om te oortuig nie. Die Heilige Gees oortuig en die mens getuig (vgl. Filippus teenoor Natánael).

Daar word soms kritiek ingebring teen die begrip “vriendskapsevangelisasie” en daar word dan gekies vir die begrip relasie-evangelisasie. Die kritiek is gegrond op die liefde wat dan nie outentiek is nie en waar daar dan geen opregte vertroue is nie. Daar word gesê dat “vriendskapsbande” aangegaan word met die doel om dan te wil evangeliseer. Dan bestaan daar nie outentieke relasies nie. Hierdie kritiek kan geldig wees en dan kan die evangelisasie werk skipbreuk lei. Daarom is die tweede punt wat hierbo uiteengesit is so belangrik vir vriendskapsevangelisasie en daar word dan in hierdie skrywe nie die noodsaak gesien om onderskeid te tref tussen vriendskapsevangelisasie en relasie-evangelisasie nie.

Vanuit Kennis🔗

Hierbo is daar melding gemaak van die gedagte dat daar aan die buitestander vertel word van wie Christus is. Daar word getuig aangaande Christus se dade en boodskappe. Om van Christus te kan getuig veronderstel kennis van hom. Dit bring die derde punt na vore; opleiding en toerusting. In ʼn hofsaak kan ’n getuie nie getuig aangaande ’n ander persoon of saak as hy/sy nie deeglike kennis aangaande die persoon of saak het nie. So is dit ook met die evangelie verkondiging. Heel aan die begin is dit duidelik gestel dat dit taak van die kerk is om die evangelie uit te dra en hierdie taak is die verantwoordelikheid van die plaaslike kerkraad (Kerkorde artikel 26). Om die evangelie doeltreffend te verkondig vra dus nie net ’n liefde vir God, die Woord, die kerk en die medemens nie; maar dit vra ook deeglike kennis van genoemde sake. Die kerk moet dus toesien dat deeglike opleiding en toerusting deur middel van Bybelstudie, kategese, kursusse en gesprekke geskied. Hierdie kennis dien dan as onderbou om met vrymoedigheid die bediening van die versoening uit te voer.

Vanuit die Kerk🔗

Vierdens is vriendskapsevangelisasie nooit ʼn persoonlike saak of aangeleentheid van sekere individue nie. Dit geskied vanuit die kerk met die oog op die kerk. Daar word gewerk vanuit die liefde vir Christus as die Hoof van sy kerk (Efesiërs. 1:22). Vanuit die kerk word daar dan na buite gewerk met die oog daarop om die kerk van Christus uit te brei (oog op die kerk). Evangelisasie is dus nie ’n menslike poging nie. Waar mense meen dat hulle ander na Christus kan lei of dat hulle ander tot Christus kan bekeer, verstaan die evangelie verkeerd. Dan word dit werksgeregtigheid. Dit is die eie ek wat dan na vore tree.

Vriendskapsevangelisasie hou dus rekening met wat ons in Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus bely. Dit is die Seun van God wat uit die hele menslike geslag vir Hom ’n gemeente vergader. Christus beskerm en onderhou dan ook sy kerk. Hy het sy kinders uitverkies tot die ewige lewe. Die kind van God kan dus getuig maar Christus werk deur sy Gees en Woord om sy kinders in die eenheid van die ware geloof saam te voeg. So mag ek dan bely en glo dat ek van hierdie kerk van Christus ’n lewende lid is en ek kan vir ewig lid daarvan bly.