Bron: Die Kerkblad, 1988. 2 bladsye.

Geloof: 'n Saak van die Woord en van die Hart

Lees Markus 7:1-14 en 21, ­23. Let veral op verse 8 en 20.

Bybel en hart

'n Mens kry soms die gevoel dat daar baie Christene is wat probleme het om die wesentlike van ons Christelike geloof te verstaan. Die vraag is: waar lê die klem?

Vir sommige lê die klem op die gevoel en emosie; dan moet ons doelbewus ons geestelike eenheid met God voel en ervaar. Dit is na­tuurlik waar en reg. Hierby moet ons opmerk dat dit nie net die gevoel of emosie is wat beklemtoon moet word nie, en wanneer dit oorbeklem­toon word, ontstaan die probleem dat ons ons lewe totaal kan vergeestelik en gaandeweg al verder van die Woord wegbeweeg. Dan kan ons godsdiens in 'n eensydige gevoels­godsdiens ontaard.

Ons kry egter ook die teenpool: want daar is ook mense wat die Christelike geloof reduseer tot 'n groot aantal koue wettiese voor­skrifte; 'n godsdiens sonder lewe en sonder die Heilige Gees. Dit is weer 'n ander manier waarop die Woord van God geweld aangedoen word, want allerlei interpretasies of tradisies wat langs of buite die Woord ontstaan het, word later be­langriker as die Woord self. So was dit die geval met die Skrifgeleerdes en Fariseërs in die tyd van Jesus op aarde. Die oorleweringe of tradisies het later die Woord van God ver­dring.

Die wesentlike of die eintlike van ons geloof wat Christus ons self hier in Markus 7 leer, is basies tweërlei:

  • Dit is 'n godsdiens van die lewen­de Woord waarin die Woord sentraal is.

  • Dit is 'n geloof van die hart; 'n godsdiens van binne uit.

Die Woord🔗

Die Woord van God mag nooit opsy geskuif word nie, nie verdring word nie en nimmer ontkrag word deur die gevoel nie;

  • nie deur vreemde tradisies nie;

  • nóg deur enige ander aksent wat nie in die hele openbaring van die Woord rus nie.

Die fout of dwaling van die Skrif­geleerdes en Fariseërs was dat hulle die helderheid en lig van die Woord en wet van God met mensge­maakte bepalinge gaan verduister het. So het hulle met allerlei voor­skrifte probeer om die ganse lewe en elke gebeurlikheid van die volk te reël of te reglementeer. Hiervan sê Jesus deur 'n aanhaling uit Jesaja: "Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellinge van mense as gebooie van God voor te hou nie. Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas".

Dit was nie al nie: hulle het selfs so ver gegaan dat hulle nie net die Woord aan die oorleweringe onder­geskik gestel het nie, maar dat hulle selfs die wet van God vermink het en afgewater het. Op 'n slinkse manier het die Skrifgeleerdes by­voorbeeld geleer om in stryd met die 5e gebod 'n reg aan kinders te gee om hulle ouers ongehoorsaam te wees. Al wat hulle moes sê is dat hulle iets vir die Here doen. Jesus sê: "So ontneem julle die Woord van God sy gesag..."

Dit is 'n groot probleem in ons tyd – dat mense op een of ander manier die Woord van sy gesag ont­neem. Dit kan gebeur as die tradisie belangriker as die Woord geword het, maar dit kan ook voorkom wan­neer ons dink dat die Woord van God tydgebonde is; m.a.w. wanneer ons meen dat die Woord in die ou tyd geskryf is, en nie meer vir vandag geld nie.

Christus is nie 'n rewolusionêre mens nie; Hy het dit nie daarteen dat ons gaan kyk wat ons voorge­slagte gedoen het nie. Hy self gaan ook terug in die geskiedenis van Israel, maar dan nie op mensge­maakte gebruike nie, maar wel op die Woord en wet wat God self eeue gelede aan Moses en die profete ge­gee het. Wanneer kerke vandag so maklik van tradisionalisme beskuldig word, moet ons net onthou dat bepaalde gebruike, ou gebruike, nie noodwen­dig verkeerd is nie, want dit kan dalk rus op die Woord van God en nie op menslike fondament nie.

Die Christelike geloof se krag en redding lê daarin dat dit altyd 'n godsdiens van die Woord moet wees. Ons moet ons gelowig en gehoor­saam aan die gesag van die Woord onderwerp. So sal ons salig lewe en sterwe omdat hierdie Woord alleen maar wil verkondig dat Jesus Christus ons Saligmaker is, en nie die wet of nog minder allerlei voor­skriftelikhede nie.

hart

Die Hart🔗

Hierby aansluitend is ons geloof 'n saak van die hart.

Die verwyt van die Here teen sy volk was dat hulle Hom met die mond eer maar dat hulle hart ver van Hom af is (v. 6). Die unieke van ons geloof is dat dit primêr 'n godsdiens van binne af is. Dit is 'n godsdiens van die hart. Dit gaan nie eerstens om uiterlike seremonies of allerlei uitwendige gebruike of gewoontes nie. Ons het van God die Heilige Gees 'n dinamiese geloof ontvang wat hom van binne na buite openbaar of projekteer. Paulus se: Ons glo met die hart en bely met die mond.

Jesus Christus het die Skrifgeleerdes wat gekom het om hom uit te vang dat Hy ʼn wetsverbreker sou wees, totaal ontmasker. Dit was mense wat op die uiterlike dinge soos die was van hande gekonsentreer het. Jesus leer hulle egter dat al is jou hande skoon jou hart nog vuil kan wees. Die hart van die mens kan die setel van groot onheil wees terwyl jou mond die pragtigste dinge sê. Dan is ons besig om God probeer bedrieg.

Die sonde en besoedeling in die wêreld kom vanuit die harte van mense. Ons is vandag tereg bewus daarvan dat lugbesoedeling en waterbesoedeling die mens fisies of liggaamlik van buite na binne be­dreig, maar Christus waarsku teen 'n ander vorm van besoedeling, nl. dit waarmee ons van binne af die wêreld buite ons besoedel (lees verse 21-22).

So lyk ons wêreld. Al hierdie dinge broei iewers in die harte van die mense uit. Wat 'n mens hier in jou hart bedink en met jouself redeneer is belangrik, want daar lê die oorsprong en stimulering van jou latere optrede na buite. As die Heilige Gees en Woord in jou hart afwesig is, en as die saad van die Woord daar deur onkruid en sonde verdring word – dan sien ons na buite niks anders nie as die werke van die vlees en geen vrug van die Heilige Gees nie. Dan word ons liggame en ons ledemate werktuie en instrumente van ongeregtigheid in diens van die duiwel.

Wie onder die geklank van en geloof in die Woord van God die Heilige Gees in die hart ontvang het, sal God van harte gehoorsaam en ophou om jou eie lewe en ook die van die wêreld so met sonde te besoedel.

Luister na die woorde van Paulus in Romeine 10: "Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek, en met die mond bely ons, en ons word gered".