Bron: Die Kerkblad, 1987. 1 bladsye.

'n Grillerige Uitdrukking

stoflike oorskot

'n Onlangse persberig dra die op­skrif: ‘Oorskot van Pa gevind’. 'n Segsman meld in die Monitorpro­gram oor die radio dat die wrak van die veerboot Herald of Free Enter­prise, wat enkele weke gelede aan die Belgiese kus gestrand het, ge­fynkam word op soek na die stoflike oorskot van die slagoffers wat in die ramp die lewe gelaat het.

In Engelssprekende kerke het dit my opgeval dat daar nooit verwys word na 'the remains' van 'n afge­storwene nie, maar na 'the body'. Onder Afrikaanssprekendes hoor 'n mens egter telkens dat, selfs deur predikante, van die stoflike oorskot gepraat word. In die Bybel is daar konsekwent sprake van die liggaam van iemand wat gesterf het. Ons kan 'n hele rits tekste noem.

Laat dit tog vir een en almal dui­delik wees dat die uitdrukking ‘stof­like oorskot' nie aanvaarbaar is nie! Die liggaam is nie 'n stuk oorskiet wat soos 'n kledingstuk wat gedaan gedra is, maar weggegooi kan word nie. Die mens is immers na God se beeld geskape. Dit sluit sy volle menswees, dus ook sy liggaam, in. Hy is so geformeer dat hy in sy gees­telike en stoflike bestaan één is. Hierdie eenheid behoort tot sy le­wensheerlikheid, waarin hy bo engel en dier verhewe is.

Die liggaam is nie slegs 'n broos omhulsel nie. Nee, die liggaam is die tempel van die Heilige Gees (1 Korintiërs 6:19). Die geringskatting van ons liggaam is in direkte stryd met die verlossingswerk van ons Here Jesus Christus waarby die mens 'met lig­gaam en siel' ten nouste betrokke is (Heidelbergse Kategismus, Sondag 1).

Die grieselige uitdrukking 'stoflike oorskot' herinner 'n mens al te veel aan die heidense inslag in die ou Griekse denke waarvolgens die liggaam as niks meer as 'n kerker vir die siel beskou is nie. Dit beteken dat die liggaam 'n ketting is, 'n ge­vangenis waarin die siel, die godde­like vonk uit 'n hoër wêreld, gekluis­ter is. Die kwaad setel in die stoflike, in die liggaam, wat dus tot 'n laer orde behoort, en waarvan die siel bevry moet word soos 'n voël uit ’n kou. Net die siel is ‘onsterflik', nie die liggaam nie.

Nee, die liggaam is iets kosbaars! Dit mag dus ook nie ná die dood gewelddadig aangerand word deur dit aan verbranding prys te gee nie (lykverassing — 'n gebruik van heidense oorsprong!). K. Dijk maak die opmerking dat daar 'n verband bly tussen elke siel en elke liggaam — hóé, weet ons nie presies nie. Ons moet ons die liggaam nie ‘louter mate­rieel' indink nie, glo hy.

Laat ons dit goed ter harte neem dat die liggaam allermins 'n stuk stoflike oorskot is. In die Apostoli­cum bely ons: ‘Ek glo aan die opstanding van die liggaam.' Dit be­hels vir ons 'n ryke troos dat ook hierdie selfde vlees van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en gelykvormig sal word aan die heerlike liggaam van Christus (V&A 57, H. K.). Almal wat gesterf het, sal uit die aarde opstaan, die siele saamgevoeg en verenig met hulle eie liggaam waarin hulle geleef het (NGB, art 37).

Die skuldiges hieraan kan gerus finaal daarvan afskeid neem om weer van die 'stoflike oorskot' te praat.