Bron: Die Kerkblad, 1988. 1 bladsye.

Die Leer van die Uitverkiesing: soos die Duif van Noag?

U sal my veroorloof om na 'n uitla­ting van generaal Jan Smuts te ver­wys. Die generaal was 'n man van groot geleerdheid, 'n militêre leier uit die tyd van die Anglo-Boere-oor­log en die twee wêreldoorloë, en daarby 'n Suid-Afrikaanse en wêreldstaatsman. In een van meer persoonlike gesprekke wat ek met hierdie goeie vriend van my oor teo­logiese en wysgerige probleme ge­had het, het hy die stelling gemaak: "Die Calvinisme verneder die mens te absoluut". Dit is dan ook volkome te begryp dat hy in 'n humanistiese sin in 'n Cambridgetoespraak kon verklaar: "We are on the march!" en daarby sy uitgangspunt kon laat blyk, naamlik dat die mensheid evolusionisties besig is om te ont­wikkel uit 'n donker nag van bar­barisme na 'n helder daeraad van beskawing en kultuur.

In 'n denkwêreld waarin die mens meen dat hy kragtens dit wat in homself aanwesig is, besig is om van sport tot sport op pad na 'n goue eeu te styg, word daar geen ruimte ge­laat om in God se soewereine ge­nade te roem nie (aldus A Kuyper). Die mens neem van nature nie daar­mee genoeë om in sy blinde selfoor­skatting, in sy opgeblase grootman­nerigheid onttroon te word nie. Hy vind die gedagte soetstrelend dat hy groot en sterk is. Hy gryp met ruwe hande na hemelbesetting. Hy sê vir die Here: Laat my wil met U ge­skied.

Watter terrein bly vir God, ­vir sy gesag en sy regering oor wanneer die mens hom aanmatig dat hy die heelal omspan en deur­dring tot in die skuilhoeke van die aarde, wanneer hy homself op die skouer klop dat hy die hoogtes tot by die hemelliggame en die dieptes tot in die ingewande van hierdie planeet van ons bemeester? Dit is dan nie God wat soewerein is nie, maar die mens wat groot is, sonder die minste behoefte aan vertroue en rus in 'n ewige Goddelike welbehae (K Dijk). By sy eie innerlike behoeftes en lewensdors kom God nie te pas nie.

Waar hierdie diepsondige, ons kan sê sataniese, vryheidsdrang ("julle sal soos God wees"), en valse eman­sipasiesug hoogty vier, kan die leer van die uitverkiesing geen aanklank vind nie. Dit is soos die duif van Noag. Uit die ark losgelaat, kon dit nie 'n rusplekkie kry vir die holte van sy voet nie (Genesis 8:9). Hierdie suiwer Skriftuurlike leer druis teen alle selfverheffing in en slaan die laaste grond waarop ons in onsself wil bou, weg. Daarom leer die apos­tel: Die hele wêreld is strafwaardig voor God. Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Romeine 3:19, 23; Dordtse Leerreëls, I, 1). Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge (Romeine 11:36). Dié wat Hy uitverkies het, trek en verlos Hy uit hierdie verderf, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aan­merking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad in Jesus Chris­tus, ons Here (NGB, art. 16). Die laaste en diepste oorsaak van die saligheid is alleen in God se welbe­hae geleë, in sy ewige ontferming, in sy ondeurgrondelike barmhartig­heid, in die onnaspeurlike rykdom van sy almagtige en vrye genade (H. Bavinck). Die siel wat in die onbeweeglike bodem van God se verkiesende liefde diep gewortel is, blom uit in dankbare weerliefde langs die weg van die daaglikse bekering.

Die geestelike klimaat van hierdie tyd wat ryp word vir die verskyning van die vleesgeworde duiwel, die vergoddelikte mens, die Antichris, is allermins teenoor die leer van die uitverkiesing gunstig ingestem. Maar vir ons as gereformeerdes moet hierdie kernwaarheid steeds in 'n nuwe glans bly skitter. Daar moet 'n heroïese besieling van uitgaan. Hierdie dogma is die hart van die kerk. Dié hartklop moet steeds lewendiger en kragtiger die bloed deur ons are pomp.