Bron: Die Kerkblad, 1987. 2 bladsye.

Die Eis van Geregtigheid in die Bybel

Wanneer dit by beginselsake kom, is ‘geregtigheid', saam met ‘versoening' en ‘hervorming' van die mees voor­komende begrippe in die politiek in Suid-Afrika.

Dit is ironies dat hierdie woord in die 1983-Bybelvertaling byna konse­kwent wegvertaal is, seker as ver­ouderd, terwyl dit juis nou 'n mode­woord in die politiek geword het! Wie hom ook al op die Christelike eis van ‘geregtigheid' vir die vrae van vandag wil beroep, moet eerlik werk met wat ‘geregtigheid' in By­belse sin beteken.

Enigsins taalkundig tegnies ge­stel: dit is natuurlik so dat 'n woord, te meer so 'n begrip, by vertaling, en mettertyd in nuwe situasies, be­tekenisverskuiwings kan onder­gaan. Juis daarom geld die eis dubbel sterk: Wanneer 'n Bybelse woord of begrip in 'n moderne situasie gehanteer word om hierdie of daardie politieke voorkeur 'Skriftuurlik' te begrond, moet dit reg laat geskied aan die Bybelse betekenis daarvan. So nie, moet erken word dat die woord met 'n eietydse bete­kenisvulling gehanteer word en nie (sonder meer) op 'n Bybelse funde­ring aanspraak maak nie.

Vir ons doeleindes is die kern­vraag: Wat is geregtigheid in God se Woord? 'n Afgeleide vraag sou kon wees: Hoe mag of moet ons dit toepas in die huidige Suid-Afrikaanse politieke situasie? (Aan beantwoording van hierdie tweede vraag weerhou die skrywer hom, in die oortuiging dat dit 'n saak vir die gewete van elke gelowige persoonlik is. )

Kom ons kyk dan opnuut na wat die Bybel self oor `geregtigheid' sê.

In die Ou Testament kry ons die Hebreeuse woorde sӗdakah (self­standige naamwoord) en sédék (byvoeglike naamwoord) as pri­mêre uitdrukkings vir ‘geregtig­heid' en ‘regverdig' wees. In die Nuwe Testamentiese Grieks word by uitstek dikaiosune (selfstandige naamwoord) en dikaios (byvoeglike naamwoord) gebruik.

Twee Grondliggende Sake🔗

‘Geregtigheid' en ‘regverdig wees' is in sowel Ou- as Nuwe Testa­ment primêr 'n eienskap en daad van God: God is die Geregtige; God doen reg! Sowel ‘geregtigheid' as ‘regverdig wees' is in die Ou Testament en in die Nuwe Testament verbondsbegrippe.

Dit kan van waarde wees om juis hier 'n werklike outoriteit aan te haal waar hy, geheel en al buite politieke vrae, die volgende gestel het: "Op allerlei lewensterreine word die woord ‘geregtigheid’ aangewend sonder inagne­ming van sy werklike betekenis. Ons hoor van politieke, ekonomiese, so­siale en soms ook godsdienstige ge­regtigheid, om nou maar enkele van die bekende verbindings te noem. Gewoonlik word die eie opvatting aangedien as geregtigheid, en die van die teëstander afgemaak as ongeregtigheid" (E. P. Groenewald, Ons Dien, nr. 682, 1969, bl. 18). Positief stel F. J. Pop (Bijbelse woorden en hun geheim, 's-Graven­hage, 1957, bl. 61 en 62): "Israel kent niet een algemeen, universeel begrip van gerechtigheid; het kent alleen Gods gerechtigheid. Gods gerechtigheid is in het Oude Testa­ment derhalve een actief begrip en te bepalen als: het geheel van zijn daden uit verleden, heden en toekomst, die Hij doet om Israel te geven, wat Hij het had toegezegd, toen Hij er een verbond mee sloot. Zijn gerechtigheid is de garantie van het verbond" (beklemtoning van J.C.C.).

’Geregtigheid' en 'regverdig wees' is aldus primêr 'n eienskap en 'n handelswyse van Jahweh, die God van die verbond. En Hy eis van sy bondelinge om in doen en late in harmonie met Hom te wees, dit is regverdig te wees!

‘Handel in geregtigheid' en 'reg­verdig wees' is daarom in die Skrif nie gelyk aan 'almal eners of gelyk behandel' nie, maar veel eerder ‘handel in ooreenstemming met die eis van die verbond tussen God en sy volk.'

Dus, in Bybelse sin kan primêr net van 'geregtigheid' gepraat word binne die verbondsverhouding,

  • van God met sy volk, en van sy volk en elke verbondskind met Hom;

  • van verbondskinders teenoor mede-verbondskinders;

  • van verbondskinders teenoor an­dere wat God binne die lewen­sfeer van sy verbondskinders bring — byvoorbeeld die ‘vreem­delinge' in die Ou Testament.

Hierdie verbondsverhouding het ons Here Jesus Christus herstel en ge­heilig, deur met sy bloed vir ons óngeregtigheid te betaal.

Saamgevat🔗

'Geregtigheid' is in die Skrif 'n verbondsterm – en ons moet dit as sodanig erken en hanteer. Dit mag nie versekulariseer word tot 'n bloot intermenslike ‘gelyke behandeling' kreet nie.

'Geregtigheid' – as die regte harmoniese verhouding met God en die naaste – kan alleen in Christus herstel word.

Herskape deur die Heilige Gees móét die gelowige weer in 'n regverdige, harmoniese verhouding met God en sy naaste lewe.

‘Handel in geregtigheid' en 'regverdig wees' is in die Skrif nie gelyk aan: almal eners of gelyk behandel nie, maar veel eerder 'handel in ooreenstemming met die eis van die verbond tussen God en sy volk'.