3 bladsye.

As daar Gevloek Word

vloek

As daar gevloek word..., wat dan? Dit is inderdaad ʼn belangrike vraag. ʼn Voorbeeld: jare gelede het ek in een van ons kerke by ʼn gemeente-aand gepraat oor die derde gebod: jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie. Na die pouse was daar soos gebruiklik ʼn bespreking. En wat het geblyk? Al die vrae het oor net een aspek van die lesing gehandel, naamlik hoe jy as Christen ʼn gevloek en gespot oor die Here en sy diens in die daaglikse lewe moet hanteer.

Daar was ʼn broer en suster wat oor hulle besigheid gepraat het. Hulle het gereeld besoekers ontvang. Net so gereeld het hulle egter woorde gehoor wat hulle nie wou hoor nie; beslis nie in húlle besigheid nie. Maar dit was kliënte wat gesorg het vir brood op die tafel. Hulle het gevra hoe hulle dit moet hanteer.

ʼn Ander gemeentelid het haar verhaal vertel terwyl sy met moeite haar emosies bedwing het. ʼn Jarelange vriendskap met ʼn ander egpaar is verbreek as gevolg van ʼn opmerking wat sy gemaak het oor die vriend se gevloek. ʼn Bietjie wanhopig het sy gevra: wat moet ek doen? Jy wil iemand in liefde wys op die misbruik van God se Naam. Jy wil ook ʼn waardevolle vriendskap behou. Wat nou?

Kortom, die praktyk vereis dat ons besin oor die vraag hoe ons ʼn gevloek en ʼn gespot met God hanteer. Ek doen dit met ʼn mate van huiwering. Dit is immers ʼn pynlike onderwerp, omdat daar volgens die Kategismus geen sonde is wat die Here meer vertoorn as die lastering van sy Naam nie. Iemand wat dit besef, kan moontlik beswaard voel om juis oor die misbruik van sy Naam na te dink. Maar as ons na die praktyk kyk, besef ons dat dit tog nodig is.

Positiewe Bedoeling🔗

Om mee te begin, laat my toe om te beklemtoon dat die bedoeling van die derde gebod positief is. Die derde gebod sê: God het ʼn naam en Hy maak hierdie Naam bekend. Ons het nie ʼn anonieme God nie, maar ʼn God wat sy Naam – dit is: sy wese – openbaar! God se Naam is as ʼn geskenk aan ons gegee! Die bedoeling is dat hierdie Naam op ʼn positiewe manier gebruik moet word; in smeekbede en lofsang, as pleitgrond en as getuienis.

Terwyl die Here bedoel het dat daar positiewe gebruik moet wees, is daar ewenwel ook misbruik moontlik. Dit is moontlik én dit gebeur. Misbruik neem die vorm aan van 1. growwe vloeke: woorde waarmee die mens God se verdoemenis oor homself afroep; 2. uitdrukkings en uitroepe waarin die woorde ‘God’ of ‘Jesus’, of dele daarvan, voorkom; 3. ʼn gespot met God, wat wissel van grappies oor God (waarin die klem op humor val) tot werklike bespotting van die Here (waarin die klem val op veragting).

Die misbruik van God se Naam is nie beperk tot die hedendaagse tyd nie. Ons lees ook in die Bybel daarvan. In 2 Konings 18 en 19 lees ons hoe die Rábsake, die bevelhebber van die Assiriese leër, die Here, die God van Israel, teenoor die inwoners van Jerusalem smaad en tart deur Hom gelyk te stel met die magtelose gode van die ander volke (2 Konings 19:4). In Matteus 26:72-74 staan daar dat Petrus met die sweer van ʼn eed – dit wil sê met aanroeping van God se Naam – ontken het dat hy een van Jesus se volgelinge was. Dit is die misbruik van God se Naam om ʼn leuen te bekragtig. Boonop het dit gebeur binne die kring van Christus se volgelinge.

Wat dan al in die tyd van die Skrif voorgekom het, het in meer onlangse tye nie veel beter geword nie. ʼn Mens kan hoogstens sê dat die ‘moderne misbruik’ soms minder bewustelik gebeur. Die moderne mens is onder die wanindruk dat God dood is en daarom is hy nouliks bewus van wat hy doen as hy die Naam van God as kragwoord of as stopwoord gebruik. Maak dit dan die erns van die misbruik minder? Is dit daarom minder noodsaaklik dat ons moet besin oor hoe ons ʼn gevloek en gespot moet hanteer? Ek dink nie so nie.

Daarom vra ek: hoe hanteer ons dit?

man skree🔗

Óns Hart🔗

Ons kan slegs begin om die vraag te beantwoord deur eers na ons eie harte te kyk, want die belangrikste vraag is nie wat moet ons doen nie. Die belangrikste vraag is: wat doen ʼn gevloek en die bespotting van God en sy diens met óns? Doen dit iets met ons of nie? Raak dit ons as God se Naam misbruik word? Maak dit ons seer as die heilige Naam van God gelaster word? Pla dit ons net omdat ʼn gevloek onfatsoenlik of onbeskaafd is...? Of omdat ons die Here ken as óns God?

Wat dit betref, is die derde gebod duidelik. Dit gaan oor die Naam van Hom wat om Christus se ontwil óns God wil wees. Deur die geloof kry die verbondsverhouding gestalte in vertroue en liefde, sodat ons Hom ken en bely as óns God.

Waar hierdie verhouding funksioneer, sal die misbruik van God se Naam ons pla. Daar word Hy, vir Wie ons deur die geloof ons Here en Heiland mag noem, aangetas. Omgekeerd: waar die lewende geloofsband ontbreek, daar ontbreek dit wat die allerbelangrikste is. Dan kan ons met allerlei argumente die misbruik van God se Naam teenstaan, maar daar ontbreek by ons die houding wat by die derde gebod pas. Dan sal ons harte gou ongevoelig en onverskillig word vir die misbruik van God se Naam.

Daar geld eintlik net een eenvoudige reël: gaan bid! Die daaglikse gebed is die enigste manier om weer die heiligheid van God te besef. Dit is terselfdertyd ʼn kragtige geneesmiddel teen ongevoeligheid en onverskilligheid. Iemand wat leer om God se Naam gereeld met eerbied te gebruik, sal vind dat misbruik daarvan hom met verloop van tyd al hoe meer pla. Hy sal dit ook nie langer stilswyend kan aanhoor nie.

Nie te Gemaksugtig nie🔗

Laat ons vanuit die praktyk hierna kyk. Hoe moet ʼn Christen ʼn gevloek en gespot in die daaglikse lewe hanteer? Moet jy iets sê? Moet jy stilbly?

In die eerste plek dra elkeen sy eie verantwoordelikheid voor die Here God. Niemand is verantwoordelik vir wat iemand anders doen of sê nie. Ek is nie verantwoordelik vir die ander persoon wat vloek nie. Ons is wel verantwoordelik vir die manier waarop ons daarop reageer. In daardie verband is daar twee woorde wat ek graag wil gebruik: laat ons nie te gemaksugtig en ook nie te krampagtig wees nie.

Eerstens: gemaksugtig. Daarmee bedoel ek dat ons ʼn gevloek en gespot aanhoor sonder enige reaksie van ons kant. Mens kan dit ʼn stilswyende houding noem. As God die Here die misbruik van sy Naam as ernstig beskou, behoort sy kinders dit dan nie ook te doen nie? Bowendien sê die Skrif en belydenis dat stilswye ʼn mens op ʼn bepaalde manier medepligtig maak (Levitikus 5:1, Sondag 36 HK). Is swye nie dikwels die gevolg van vrees vir mense se reaksies nie?

Laat ons daarom waak teen ʼn gemaksugtige houding. Laat ons ook die slaggate raaksien. Om te swyg, pas ons gewoonlik beter as om te praat, maar dit is en bly ons roeping om op te kom vir die eer van die Here. Dit is net so wel ons roeping om die misbruik van God se heilige Naam teen te staan.

Dit is ook moontlik om dit te doen. ʼn Mens kan met so ʼn persoon gesels wanneer julle alleen is. ʼn Mens kan dan eenvoudig sê: as jy nie gevloek het nie, sou ek jou nog net so goed kon verstaan. ʼn Mens kan selfs verder gaan en iemand vra om nie God se Naam te misbruik nie, omdat dit vir ons persoonlik aanstoot gee. Ons moet bloot gerig wees op die moontlikhede wat die Here gee. Uiteindelik sal ons moet erns maak met die woorde van Jesus: “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is” (Matteus 10:33,34).

hande voor mond

Nie te Krampagtig nie🔗

Aan die ander kant meen ek ook dat ons nie te krampagtig moet wees nie. God vra nie van sy kerk om ʼn klopjag te organiseer teen vloekers of ʼn heilige oorlog te ontketen teen almal wat met Hom en sy diens spot nie. Die Here vra wel dat ons die tyd sal uitkoop (Kolossense 4:5), dat ons elke geleentheid wat ons kry, sal benut. Nie elke geleentheid of situasie is geskik nie. Om daardie verskil te kan raaksien, is volgens dieselfde teks ʼn saak van wysheid; wysheid wat rekening hou met ‘die wat buite is’. Ons vind dieselfde gedagte ook in die boek Spreuke waar daar by herhaling aangedui word dat die wyse man – hy wat wandel in die vrees van die Here – ook weet wanneer om stil te bly.

Nie te gemaksugtig nie, en ook nie te krampagtig nie. Hierdie houding veroorsaak in ʼn Christelike lewe altyd spanning. Wanneer om te praat? Wat om te sê? Wanneer om stil te bly? Sulke spanning is in hierdie lewe onvermydelik, maar nie ondraaglik nie. Dit word gedra deur te bid om die Heilige Gees, wat ons die sensitiwiteit wil leer om die dinge waar dit op aankom te onderskei (Filippense 1:9); dit word gedra deur die gebed wat Jesus self vir ons geleer het: Laat u Naam geheilig word…