4 bladsye.

1 Korinthiërs 7

Vanweë sy onderwys in 1 Korintiërs 7 is die apostel Paulus van ouds af as 'n voorstaander van die selibaat en die ongehude staat gesien. Genesis 2:18 sê dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie, maar Paulus wil dit in 1 Korintiërs 7 nader verklaar.

Hy Begin Reeds in Vers 1: “dit is goed vir ʼn man om ʼn vrou nie aan te raak nie”🔗

In vers 7 en 8 hoor ons die ongehude apostel sê: “Want ek wens dat alle mense soos ek was; maar elkeen het sy eie genadegawe van God, die een so en die ander weer anders. Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek”.

“[V]anweë die aanstaande nood” (v. 6), ag die apostel dit goed vir 'n mens om ongetroud te wees. Die huwelik kan immers so maklik in die pad staan van diens aan die Here: “die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal behaag. Daar is ook onderskeid tussen ʼn vrou en ʼn maagd; die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here om heilig te wees na die liggaam sowel as na die gees, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe sy die man sal behaag” (vv. 33,34).

Vir diegene wat as vader of voog die bevoegdheid het om 'n meisie wat aan hulle sorg toevertrou is, in die huwelik uit te gee, sê die apostel: “Maar as iemand meen dat hy onwelvoeglik met sy maagd handel as sy oor die jeugdige leeftyd is, en dit so moet wees, laat hom doen wat hy wil. Hy sondig nie. Laat hulle trou. Maar hy wat in sy hart vasstaan en nie onder dwang verkeer nie, maar mag het oor sy eie wil en dit in sy eie hart besluit het om sy maagd te bewaar, hy doen goed. Daarom, ook hy wat in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat in die huwelik nie uitgee nie, doen beter” (vv. 36-38).

Voordat ons op die Aangehaalde Tekste nader Ingaan, maak ons vooraf Drie Opmerkings:🔗

Wanneer die HERE God in Genesis 2:18 sê dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie, word daarmee nie net bedoel dat God dit nie goed ag dat daar alleen manlikheid sou wees nie. Nee, dit gaan ook daaroor dat dit nie goed is dat die mens nie 'n vroulike wederhelf, ‘ 'n hulp wat by hom pas’ het nie. Die mens is as 'n wese wat op gemeenskap gerig is, geskape. Dit blyk uit wat in Genesis 2 volg: die alleen wees van die man word nie verhelp deurdat God 'n vrou uit die man skep nie. Die HERE formeer 'n vrou wat Hy na die man bring en aan die man verbind. Die afloop van Genesis 2 is dan ook nie dat daar mans en vrouens sal wees nie, maar die reël dat die man sy vrou sal aanhang en dat die twee één vlees sal wees (v. 24) — nie maar die naas mekaar bestaan van mans en vrouens nie, maar die lewe in totale en allesomvattende gemeenskap. Dít is God se antwoord op die verlange van die mens om nie alleen te wees nie.

“Dit is nie goed dat die mens alleen is nie”. Met dié uitspraak van die HERE God word om ‘alleen en sonder wederhelf’ te wees nie as eties verwerplik aangemerk nie. Vóór die sondeval was daar immers van sonde nog nie sprake nie! ‘Goed’ beteken in Genesis 1 en 2: gerig op sy taak, toegerus met alles wat nodig is om tot sy bestemming te kom. Om tot sy bestemming te kom, is dit nodig dat hy 'n hulp kry wat by hom pas, en dié hulp ontvang hy in die huwelik.

Daar sal straks, op die nuwe aarde, 'n gemeenskap wees wat die huwelik ver oortref. Dan sal die mense nie meer trou en in die huwelik uitgee nie (Matteus 22:30). God se kinders sal dan met 'n band wat sterker is as die huweliksliefde tussen man en vrou, verbind word. Dié band word reeds gesien en in beginsel geniet (vgl. 2 Samuel 1:26). Wanneer dié band na die jongste dag volmaakte vreugde en ongetemperde voldoening bied, is die huwelik voleindig.

Paulus ontken nêrens dat die huwelik goed is nie — hy noem in vers 7 nie net die ongehude staat nie maar ook die huwelik 'n besondere gawe van God. Dit is 'n verbond wat in die Here aangegaan is (v. 39), 'n geheiligde band (v. 14) wat nie verbreek mag word nie (v. 10). Seksualiteit is nie 'n aardse saak nie, en algehele seksuele onthouding is nie 'n ideaal om na te strewe nie. Van Godsweë is seksuele omgang binne die huwelik 'n verskuldigde plig (vv. 3-5). Wie trou, sondig dan ook nie, selfs nie 'n bietjie nie (vv. 28, 36, 38).

Die versoeking bestaan om 1 Korintiërs 7 vanuit die hoek van óns vrae, of vanuit die hoek van wat ons dínk die vrae van die Korintiërs was, te lees. Maar dit is beter om sorgvuldig te lees wat inderdaad in die hoofstuk staan.

Dit is opvallend dat dit vir Paulus in 1 Korintiërs 7 nie daaroor gaan of jy die getroude of ongetroude lewensstaat kies nie. Nee, dit gaan vir die apostel in die hoofstuk daaroor dat sowel getroudes as ongetroudes hulle lewensstaat moet sien as 'n konkrete gawe van God. Wie getroud is, moet nie skeiding soek nie (v. 27). Wie ongetroud is, moet nie jaloers na die getroudes kyk nie, maar ongetroud bly, soos Paulus (v. 8). “Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroep is, daarin bly voor God” (v. 24).

Paulus skryf nie oor mense wat die keuse het om getroud of ongetroud te bly nie. Hy skryf oor mense wat getroud of ongetroud is. Ons sou dit ook só kon stel: die bedoeling van die apostel is nie om die ongetroude staat aan te beveel nie, maar om dit te verwerk. Ons sal dit nader toelig.

Wanneer Jakobus sy brief begin met die oproep: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val” (Jakobus 1:2), sal niemand dit opneem as 'n juigkreet oor versoekings en 'n aansporing om jou soveel moontlik aan versoekings bloot te stel nie. Ons sal ook nie sê dat 'n lewe met versoekings bo 'n lewe sonder versoekings te verkies is nie. Ons sal almal bly bid, soos die Here Jesus ons geleer het: “lei ons nie in versoeking nie” (Matteus 6:13; Lukas 11:4). Wat Jakobus doen, is om die oë van hulle wat onder versoeking lei, oop te maak, deur hulle te wys op die God wat selfs die slegte versoekings ten goede laat meewerk, sodat sy lesers totaal geen bekommernis daaroor hoef te hê nie. Só volledig wil God die sorge uit hulle hand neem, en só volledig kan die lesers van Jakobus hulle sorge aan die Here oorlaat, dat hulle dit ‘louter vreugde’ kan ag wanneer hulle in versoekings kom.

Ons sien iets dergeliks in 1 Korintiërs 7 — nie dat ons die ongetroude staat 'n versoeking wil noem nie! Waaroor dit gaan, die punt van vergelyking, is dít: iets waarvoor jy nie vra nie, wat jy selfs graag sou wou vermy, kan, as dit God is wat jou daartoe bring, tog 'n positiewe gevolg hê. Dit is wat Paulus in 1 Korintiërs 7 wil duidelik maak. Die positiewe opmerkings wat hy oor die ongetroude staat maak, is nie bedoel om die ongetroude staat as begerenswaardig voor te stel nie. Dit bedoel om aan hulle wat (miskien teen hulle eie wil!) ongetroud gebly het, te laat sien op watter manier hulle besondere moontlikhede in diens van die Here het.

Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Dan mis jy iets. Maar as jy alleen bly, as God jou die ongetroude staat gegee het, is daar nie fout mee nie! Inteendeel. Op 'n besondere manier het ongetroudes moontlikhede wat getroudes nie het nie, en hulle het nie te doen met sake wat vir getroudes soms 'n hindernis in diens aan God is nie. Om ongetroud te wees, is vir Paulus ook nie iets wat nagestreef moet word nie, maar wat verwerk moet word. In 1 Korintiërs 7 wys Paulus dat, en hoe, ongetroud wees verwerk kan word. Jy hoef jou nie te verknies oor 'n ‘mislukte lewe’ of jou oor te gee aan die begeerte om tog maar te kan trou nie: “Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is” (v. 20).

Wanneer ons nou in die lig van hierdie vooraf opmerkings die aangehaalde tekste van nader bekyk, merk ons op dat Paulus in vers 1 'n onderwerp wat deur die Korintiërs aan die orde gestel is, aanspreek en daarop ingaan. Die sin ‘dit is goed vir ʼn man om ʼn vrou nie aan te raak nie’ is dalk 'n stelling wat deur die Korintiërs gemaak is, wat Paulus herhaal. Met die eerste oogopslag klink alles in dié stelling vreeslik absoluut, maar die apostel verbind dadelik beperkings daaraan. Hy voeg immers onmiddellik by: “Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê” (v. 2). In wat in 1 Korintiërs 7 daarop volg, werk Paulus dit wat hy met die stelling ‘dit is goed vir ʼn man om ʼn vrou nie aan te raak nie’ bedoel, breër uit. Dan word dit duidelik dat die stelling in vers 1 met fyn onderskeiding gelees moet word.

In vers 7 begin die apostel praat oor die besondere gawe wat elkeen van God ontvang. Met hierdie besondere gawe word nie wat in die volksmond ‘die gawe van onthouding’ genoem word, bedoel nie. Paulus praat immers nie oor die gawe aan sommige mense nie, maar oor die gawe wat almal, “die een so en die ander weer anders” ontvang. Hy wil beklemtoon dat sowel getroudes as ongetroudes hulle eie situasie moet sien as 'n gawe van God. Dit gaan in verse 7 en 8 nie oor die vraag of die ongetroude staat 'n ideaal is wat nagestreef moet word nie. Paulus wil die ongetroudes daarop wys dat hulle ongetroude staat deur God vir hulle beskik is. Dit is 'n gawe van Hom, die Vader van die ligte, van wie elke goeie gif en elke volmaakte gawe kom (Jakobus 1:17). Dit is nie die noodlot nie, maar die Here wat aan die één 'n man of vrou gegee het, en wat die ánder ongetroud laat bly. Daarom betaam dit niemand om ontevrede te wees nie. Ook nie die ongetroudes nie. “Dit is vir hulle goed”, sê Paulus, “as hulle bly soos ek” (v. 8). Bly in die toestand waarin u geroep word! Leef in die staat wat Here vir u beskik het!

Die rede wat die apostel in vers 26 gee waarom dit goed is om ongetroud te wees, is “die aanstaande nood”. Daarmee bedoel die apostel die nood van die laaste dae. Sedert hemelvaart en Pinkster staan die kerk in die stryd! Satan loop rond soos 'n brullende leeu. Hy weet dat sy tyd kort is. Die kerk is in die woestyn. Dit is in hierdie tyd ook nie goed dat die mens alleen is nie (Genesis 2:18). Maar as iemand tog alleen bly, moet hy nie sy lewe deur ontevredenheid laat bederf, of koorsagtig na 'n wederhelf begin soek, asof jy net as jy getroud is in die geestelike stryd staande kan bly nie. Ongetroudes moet eerlik besef dat dit nie vanselfsprekend goed gaan net wanneer mens getroud is nie. Die huwelik is nie die absolute goeie nie. As gevolg van die sonde kan die huwelik selfs lelik in die pad staan van ons diens aan die Here en mense onontvanklik maak vir die roeping van die evangelie (Lukas 14:20, 26), terwyl die ongetroude staat kanse bied om die Here met onverdeelde krag en aandag te dien, sonder dat allerlei huwelik- en gesinsverpligtinge in die pad staan.

Natuurlik weet Paulus van die probleme van ongetroud wees en hoe dít mens kan verlam in die diens van die Here. Hy wil ook nie huweliksverpligtinge as blokkasies in die diens van God bestempel nie: hy praat immers in vers 3 baie positief daaroor! Hy wil wel die oë van die ongetroudes laat oopgaan vir die werklikheid dat hulle lewensstaat nie net negatief is nie. Hulle wat ongetroud is, moet die sorge wat 'n getroude het, en wat 'n ongetroude nié het nie, besef: “Die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here sal behaag” (v. 32). In dié opsig is die ongetroudes bevoorreg!

Met verse 36-38 word ook nie bedoel dat die ongetroude staat 'n ideaal is wat nagestreef moet word nie. Die apostel spreek nie in die verse vaders aan wat dit heeltemal in hulle eie hand het om hulle dogters in die huwelik uit te gee al dan nie. Die vaders wat hy in die oog het, is enersyds die vaders wat 'n dogter het wat vasbeslote is om te trou en andersyds vaders wat sien dat hulle dogter ongetroud bly. Die vader wat 'n dogter met vaste trouplanne het, moet doen wat sy graag wil, en 'n vader wat 'n ongetroude dogter het, moet nie alles in die werk probeer stel om haar getroud te kry nie.

Ons sou Verse 36-38 só kon Parafraseer🔗

As 'n meisie met goeie bedoelings en op 'n eerlike manier wil trou, as sy 'n hubare ouderdom bereik het en sterk daarop aandring en as sy werklik 'n Christelike huwelik wil sluit (‘in die Here’), dan moet 'n vader of voog daaraan gehoor gee: hy moet doen, nie wat hy nie, maar wat sy wil; laat hulle trou.

Maar as 'n meisie nie daarop aandring om te trou nie, moet 'n vader of voog nie daaroor verdrietig wees en teen die wil van die meisie 'n huwelik wil forseer nie. Dit is dan beter, as hy vir die meisie kan sorg en hy uit vaste oortuiging optree, om by die wil van die meisie te berus en haar ongerep te laat bly en haar nie in die huwelik uit te gee nie.

Die slotsom is dat die huwelik nêrens in 1 Korintiërs 7 ondergeskik of tweederangs genoem word nie. Paulus korrigeer nie Genesis 2:18 nie. Hy leer getroudes én ongetroudes om hulle lewensstaat te sien as deur God gegee. Hy roep hulle op om nie met die gawe van God ontevrede te wees nie, maar om daarmee vrede te hê en in die roeping waarin hulle was toe hulle geroep is, te bly. Ook ouers moet in die weg van God met hulle dogter of hulle seun, vrede vind.