3 bladsye.

1 Timoteus 3:15 - Pilaar en Grondslag van die Waarheid

Paulus het 'n dringende boodskap aan sy jong kollega, Timoteus. Hy hoop om hom binnekort in Efese te besoek, maar weet nie of hy dit betyds gaan regkry nie, daarom maak hy seker en skryf 'n brief aan sy kollega. Dan is hy seker betyds!

Die haas van die apostel onderstreep die belangrikheid van die saak waarmee hy besig is. Die gemeente in Efese loop gevaar. Dwaalleraars en twisgieriges is bedrywig. Hulle besef weliswaar nie die gevolge van hulle praatjies nie en verstaan tewens nie die sake waaroor hulle hulle uitlaat nie (1 Timoteus 1:7), maar kom met die voorwendsel dat hulle weet hoe 'n mens die wet moet uitlê. Soms openlik, soms bedek, soms direk, soms indirek, gaan hulle teen die gesonde leer in, teen die evangelie waarin God sy majesteit as Verlosser openbaar. Timoteus kry nou opdrag om hom op te stel teenoor alles wat afwyk van die Woord van God.

As deel van dié stryd vir die waarheid kry Timoteus ook voorskrifte oor voorbidding, die plek van die vrou en die vereistes waaraan ampsdraers moet voldoen. Dit het kennelik te doen met wat die kerk is: pilaar en grondslag van die waarheid.

Die Waarheid🔗

Die kerk word nie deur Paulus pilaar en grondslag van waarhede genoem nie, maar van die waarheid. Enkelvoud. Die waarheid. Daarmee bedoel Paulus ongetwyfeld die evangelie van Christus wat hy oral verkondig. Of, soos hy dit elders noem, die gesonde leer (1 Timoteus 1:10; 2 Timoteus 4:3). Wéér enkelvoud! Dit is ook die geval in Romeine 12, waar Paulus skryf oor profesie na die maat van die geloof, en in Titus 1, waar hy sê dat opsieners moet vashou aan die betroubare woord "wat volgens die leer is". Wéér die enkelvoud!

Dié enkelvoud is wesenlik vir die Christelike leer. Die hele skrif word saamgevat in één naam: Christus. Van Hom getuig die wet en profete. Hom verkondig die apostels. Hy noem Homself "die waarheid". Oral gaan dit oor sy woorde, oor wat sy Gees in ons harte werk, oor wat Hy beveel het. Hy staan persoonlik in vir die eenheid van God se Woord: dit bevat nie onverenigbare tradisiespore of botsende waarhede nie, maar net die een waarheid. Jy kan nie aan 'n deel torring sonder om aan die geheel skade te doen nie!

Die apostel vat hierdie één waarheid kort saam in hoofstuk 2: daar is maar één God, één Middelaar tussen God en mense, die mens Christus Jesus wat Homself as losprys gegee het vir almal. En in hoofstuk 3 vat hy dit nogeens saam as hy op Christus wys as die inhoud van die waarheid, die groot geheim van ons godsaligheid, die misterie van ons geloof: Hy is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.

Hoor u dit? Die waarheid word 'n lied: 'n lofsang op Christus! Die leer is nie 'n teorie nie, dit is die leer aangaande Hom wat die groot misterie is van ons geloof, so skryf Paulus, die geheim agter ons godsaligheid. God se waarheid is nie 'n teorie wat deur duiwels ook beaam kan word nie (Jakobus 2:19). God se waarheid bring geloof en nuwe lewe in ons harte: die egte, ewige lewe. Godsaligheid. Waarheid kan nie met onheiligheid en onreg vereenselwig word nie.

Hierdie waarheid is nie 'n klein kernwaarheid nie. Dit is die waarheid wat in die geheel van die Skrif aan ons geopenbaar word. Die Ou en Nuwe Testament leer ons nie allerlei los en teoretiese waarhede nie, maar die één waarheid van God en sy Christus. Daarom rig ons geloof hom ook nie op 'n aantal "basiswaarhede" iewers in die Skrif nie, maar op alles wat God aan ons in sy Woord openbaar (Heidelbergse Kategismus, antw. 21). Op alles wat Christus aan ons opdra deur sy Gees en deur sy apostels. Op die leer van "die Ou en Nuwe Testament", wat "die volkome leer van die saligheid is" (vgl. die Formulier vir die Aflegging van Belydenis van Geloof).

Dié leer is vir ons saamgevat in die drie formuliere van eenheid. Die formuliere vat God se Woord saam. Dit wil sê: hulle stem in alle dele geheel en al ooreen met God se Woord. So is dit verwoord in die ondertekeningsformulier vir ampsdraers. As ons as kerke in ons belydenisse ons aan iets ánders of iets méér bind, is ons nie katoliek en Christelik nie, maar sektaries. Ons binding aan die drie formuliere is inhoudelik nie anders as ons binding aan die leer van God se Woord nie. Ons bind ons daarmee ook nie bó die Woord nie: as ons belydenis 'n versameling los diskusseerbare leerstukke sou bevat, sou dit nie 'n belydenis van geloof nie, maar 'n stel teorieë wees. By die toesig tot die nagmaal vra ons as kerke instemming met hierdie leer. Die leerboek waarin ons die leer aan ons dooplidmate oordra, is die Heidelbergse Kategismus. Wat daarin aan katkisante aangebied word, is nie 'n deel van die leer van die Skrif waarmee jy instem met die hoop dat die ander belydenisskrifte nie vir jou verrassings gaan oplewer nie. Nee, die Kategismus leer – weereens! – "die ware en volkome leer van die saligheid". Wie hom die Heidelberger gelowig toeëien, nie verstandelik of abstrak, geabstraheer en losgemaak van die Skrif nie, kry in die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls wel invulling, nie aanvulling nie; kry soms verrassende verdieping, maar nie diep verrassings nie. Want met die Kategismus eien jy jou die leer van die Skrif toe: die waarheid. En dit is nie minder diep en breed as die leer van die kerk nie!

Waarheid en Kerk🔗

Die apostel Paulus noem die kerk van die lewende God "pilaar en grondslag van die waarheid". Opvallend ruil sommige Bybelvertalings die begrippe om. Dit wys daarop dat ons die twee woorde nie te sterk van mekaar moet onderskei nie. Dit is 'n woordepaar wat ons te staan bring voor die skelet of raamwerk van 'n bouwerk. Die een dui op iets wat 'n ondersteunende funksie het. (Sien Nederlandse Nieuwe Vertaling se "fundament" vir die Statebybel se "vastigheid". Die Griekse hedraiōmaì, "stut", is afgelei van hedraìos wat "onbeweeglik" beteken – vertaler.) Die ander begrip gaan oor iets wat stabiliteit gee. Die begrippe saam dui 'n versterkte en stabiele boukonstruksie aan. Mens kan dink aan 'n vestingwerk.

Met die eerste aanhoor klink dit vreemd. Is die waarheid vir haar beskerming afhanklik van die kerk? Dis mos Rooms?! Dáár sê hulle mos dat die kerk bo die waarheid is en daar stel hulle vas wat waarheid is en wat nie. Maar dit is tog nie Bybels óf gereformeerd nie?

Dit is van belang om hier goed na die apostel te luister. Ek wys op 'n viertal punte.

  1. Paulus praat hier nie oor die kerk van welke mens ook al nie, maar hy sê dat die kerk die huis van God is. Dit is sy huis! Hy is die eienaar. En in sy huis mag géén ampsdraer (al is sy naam pous) of kerklike vergadering (al is dit die sinode) absolute of onvoorwaardelike gesag opeis nie. Juis die hoofstuk waarin Paulus die kerk "pilaar en grondslag van die waarheid" noem, is ook die hoofstuk waarin aan ampsdraers duidelik gemaak word dat hulle dienaars is, onderworpe aan God se voorskrifte vir die amp.

  2. Dit verdien aandag dat Paulus spreek oor die gemeente van die lewende God. Die naam "lewende God" dui aan dat Hy Hom nie laat wegdruk of Hom die swye laat oplê nie. Hy is die God wat in hierdie kerk laat blyk dat Hy lééf en die seggenskap het. As die lewende God onderskei Hy Hom ook van die afgode. Die gemeente van die lewende God is die gemeente wat bewus is van die onvergelyklikheid van haar God en sy soewereiniteit. Sy dink geen oomblik daaroor om Hom in te ruil vir watter ander god dan ook nie. Hy regeer en laat Hom nie wegdruk of tot swye bring nie!

  3. Die kerk waaroor Paulus praat, is nie 'n kerk wat daar was vóór die waarheid nie. Dit is net andersom. Die waarheid was voor haar daar. Die waarheid is nie 'n dooie iets nie, die krag van God is daarin. Die krag van die lewende God. Die kerk is voortgebring deur die verkondiging van die woord van die waarheid (Jakobus 1) en sy kan alleen maar bestaan en groei deur haar aan die waarheid te hou (Efesiërs 4). Hierdie kerk stel nie eiemagtig vas wat waarheid is nie. Sy lééf van die waarheid wat deur God aan haar geopenbaar is. As "huis van God" het sy geen ander taak nie as om "huis vir die waarheid" te wees.

  4. Dat die apostel die kerk "pilaar en grondslag van die waarheid" noem, beteken nie dat dit met haar as kerk vanselfsprekend en outomaties goed gaan nie. Die hele brief waarin die kerk "pilaar en grondslag van die waarheid" genoem word, is één voortdurende oproep om in die waarheid te bly. Dat die kerk pilaar en grondslag van die waarheid is, verhef haar nie bó, maar stel haar juis onder, die norm van waarheid.

Waak Rondom die Waarheid🔗

Die kerk van Christus is pilaar en grondslag van die waarheid. Dit geld van die algemene kerk van alle tye en plekke: al die heiliges tesame. Maar Paulus skryf hier aan Timoteus met die oog op die plaaslike gemeent in Efese waar Timoteus is, met haar opsieners en diakens. Die konkrete gemeente is pilaar en grondslag van die waarheid. Sy moet die waarheid wat van Bo kom, liefhê en haar in diens daarvan stel. Sy moet die waarheid bewaar en daaraan ruimte bied om sy werk te doen. Dááraan word haar kerklike lewe gemeet: hoe het sy, nie haar eie waarhede nie, maar die waarheid gedra en ondersteun? Aan die vraag ontkom ook geen gereformeerde kerk nie!

Die Here self waak oor sy Woord en die voortgang daarvan. Gelukkig! Dit is die onwankelbare troos van die kerk wanneer golwe van dwaling dreig om oor haar heen te slaan. Maar die Here maak daarby gebruik van sy gemeente en haar ampsdraers. Met hierdie roeping maak ons erns in ons ondertekeningsformulier: Ons beloof ons dat ons die leer van die drie formuliere van eenheid wat, dan nie in al hulle punte en kommas nie, in al hulle dele geheel in ooreenstemming is met die Woord van God, met toewyding sal onderrig en getrou sal verdedig, sonder dat ons openlik of andersins, regstreeks of onregstreeks, iets sal leer of verkondig wat daarmee in stryd is. En ons beloof dat ons nie alleen elke dwaling wat met die leer in stryd is, sal afwys nie, maar dit ook sal weerlê, bestry en help afweer.

Dit klink inderdaad nie baie post-modern nie. Maar laat ook niemand dit uitskel as staties of hiper-gereformeerd nie. Dit sluit nie leergierigheid, groei in insig en vernuwing van gehoorsaamheid uit nie. Dwaalleer moet afgewys word. Skynsekerhede en bindings van buite God se Woord moet ontmasker word. Nie in rigorisme, sonder oog vir die roeping tot lankmoedigheid nie. Maar ook nie vryblywend nie, sonder oog vir die doel van alle geduld in die kerk, naamlik dat alle mense tot kennis van die waarheid kom (1 Timoteus 2:4). Want egte Christelike verdraagsaamheid moet daartoe meewerk dat die Woord van Christus regeer, die ware leer sy loop neem en dat die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtig uit een mond verheerlik word (Romeine 15:6).

Daarom is daar aan onsekerheid, verskeidenheid en lankmoedigheid binne die kerk 'n duidelike grens. Dié grens word in die kerk oorskry wanneer allerlei winde van lering vrye teuels kry of wanneer ruimte opgeëis word vir bestryding van die waarheid.

Die gemeente van Christus is pilaar en grondslag van die waarheid. Daarom is haar hoogste lof dat sy die waarheid liefhet en alles wat daarmee in stryd is, haat en verwerp. Die kerk wat die Woord van God liefhet, wys die deur aan alle skrifkritiek en verlange na openbarings buiten dié van God. En die kerk wat God se soewereine genade in die verkiesing van dooie sondaars en die regverdiging van goddeloses bely, verwerp hartgrondig alle Arminianisme. Binne die mure van die kerk moet die leer van die Skrif veilig wees!

Mag die Here ons die krag gee om, elkeen op sy eie plek en met sy eie verantwoordelikheid, ons te gedra soos dit ons in die huis van die lewende God betaam. Laat ons die oog gerig hou op Hom wat die waarheid is: Jesus Christus, God geopenbaar in die vlees!