Bron: Die Kerkblad, 1990. 3 bladsye.

Aardedag op Sondag?

aarde en natuur🔗

’n Probleem🔗

Nie lank gelede nie was daar op ’n Sóndag ’n áárdedag! Die bedoeling was goed: om die mens se aandag weer te vestig op die waarde van die aarde en sy taak om die aarde op te pas en nie te verniel of te vernietig nie. Die keuse van ‘aardedag’ op ’n Sondag, die opstandingsdag van ons Here Jesus Christus en die feesdag van die Christelike gemeente, was myns insiens egter misplaas. Wel word op hierdie dag in die prediking gelet op ons aardse roeping, maar die groot dade van God staan dan in die sentrum van ons aandag. Om opstandingsdag met aardedag te vermeng of te vervang, is verwarrend. Slegs vanuit die opstanding van Christus is daar hoop vir die aarde.

Waarde van die aarde🔗

Ons het reeds opgemerk dat die aarde as skepping van God baie belangrik is. Daar is baie tekste in die Bybel wat, indien dit oppervlakkig gelees word, die indruk kan skep dat ons die wêreld moet ont­vlug (Rom 12:2; Jak 4:2; 1 Joh 2:15). Wat egter met hierdie uit­sprake bedoel word, is dat ons die sonde van die wêreld moet ontvlug. Maar die wêreld/aarde as skepping van die goeie God (1 Tim 4:3), dit mag ons nie ontvlug (Joh 17:15) of verniel nie (Gen 2:15).

Van die begin af het die Here die aarde aan die mense gegee om dit te ‘bewerk’ en te ‘oorheers’ (Gen 1:28), te ‘bewerk’ en ‘op te pas’ (Gen 2:15). Hierdie ‘kultuurmandaat’ het vanuit die staanspoor ’n baie belangrike rol gespeel in die omskrywing van die taak van die mens op aarde. Dit het gelowiges gehelp om eensydighede na twee kante te vermy, enersyds ’n oor-waardering en andersyds ’n onder-waardering van die aarde.

Oorwaardering kom daar na vore waar die skepping losgemaak word van God en vergoddelik word. Die aarde is dan so heilig dat die mens eintlik nie daaraan mag raak of daarin mag ingryp nie. Die aarde het so besien meer waarde as die mens. Ons weet egter duidelik uit die Bybel dat die mens in die oë van God meer waarde as die nie-mens­like skepping het (Matt 6:26). Menswaardigheid is, reg besien, nie ’n onbybelse gedagte nie.

besoedeling

Maar daar kan ook na die ander kant oortree word: die aarde kan ook onderwaardeer word. Dit word juis die Christendom ten laste gelê dat Christene, in ’n oorbeklemtoning van die gedagte van ‘onderwerp die aarde’, hier te ver gegaan het. Die besoedeling van die lug, water en omgewing is dan alles uitvloeisels van die Christelike dominasiege­dagte. Hierdie kritiek teen die Christendom is waarskynlik in sy algemeenheid te goedkoop, maar dit neem nie die feit weg nie dat ook Christene hulle te buite gegaan het – en nog steeds te buite gaan – aan omgewingsbesoedeling en te weinig oog gehad het vir die aspek van bewaring van God se skepping.

Die Bybel wys ons ’n ander weg, die weg van rentmeesterskap. Die aarde met alles daarop behoort aan die Here (Deut 10:14; Ps 24:1) en dit is aan die mens op bruikleen ge­gee om dit woonbaar te maak (Jes 45:18). Die mens is God se verteen­woordiger op aarde en nie sy plaas­vervanger nie. Hy vervang nie God asof God afwesig sou wees nie. Hy verteenwoordig God, tree in sy Naam op en is aan Hom verant­woording verskuldig, óók vir die wyse waarop hy met die aarde om­gaan. Omgewingsbesoedeling, on­nodige rommelstrooiery, roofbou, oorbeweiding, onoordeelkundige ontbossing, natuurskendende pad­bouprogramme, onbeplande indus­trieaanlegte, onbedagsame vullisuitlaatsisteme ens. is alles dinge wat lynreg indruis teen die Christelike etiek. Die mens mag van die aarde, van Afrika, van Suid-Afrika nie ’n ashoop maak nie. Iemand wat op onnadenkende wyse papiere en bot­tels en blikke rondstrooi, oortree miskien (nog) nie ’n landswet nie, maar hy oortree ongetwyfeld die morele wet.

Hoe moet Suid-Afrika oor tien jaar daar uitsien indien daar na bewering daagliks een miljoen plastieksakkies in die land gebruik word? Moet ons dit nie baie ernstig oorweeg om alle plastiekhouers te verbied soos in sommige Oosterse lande die geval is nie?

Kultuurmandaat?🔗

Ons keer terug na ’n begrip wat eerder in hierdie artikel gebruik is en wat vandag nog steeds baie gebruik word nl. ‘kultuurmandaat’. Teen hierdie begrip het daar lang­samerhand, veral soos wat dit in Gen 1:28 gefundeer word, ernstige kritiek na vore gekom, kritiek wat verband hou met ’n oorskatting van die mens se onderwerping van die aarde.

Die eerste waarop die aandag gevestig moet word, is dat in die (uitwerking van die) begrip ‘kultuurmandaat’ geen verhouding tot die werk van Christus na vore kom nie. Die wêreldgeskiedenis kan sedert die koms van Christus nie meer bloot vanuit die kultuurman­daat in Gen 1:28 verstaan en benader word nie, aangesien die evangeliseringsopdrag in Matt 24:14 tans ’n onmisbare kompo­nent daarvan vorm. Die werk van Christene in die wêreld moet benader word vanuit die verlossingsperspektief van Christus en vanuit die koninkryk van God.

Daarmee is die tweede leemte aangedui: die kultuurmandaat, as opdrag vóór die sondeval, hou nie genoeg rekening met die effek en gevolge van die sondeval in die wêreldgeskiedenis nie.

Die mens is nie meer met ’n sondevrye wêreld op ’n sondevrye wyse besig nie.

’n Derde leemte is dat in die ‘kultuurmandaat’ die aandag spesi­fiek op die beheersing van die aarde gevestig word terwyl die liefde tot die medemens ontbreek. Dit is uiteraard verstaanbaar aangesien die gebod tot naasteliefde eers ná die sondeval gegee is.

’n Vierde probleem is dat die aksent swaar val op hande-arbeid terwyl denk-arbeid nie vermeld word nie tensy dit implisiet ver­onderstel word: Maar ook weten­skaplike arbeid moet in diens staan van God en sy koninkryk.

Ten laaste val die klem ook (te) swaar op die heersmotief en te min op die bewaringsmotief.

Dit alles beteken nie dat ons die begrip en gedagte vervat in ‘kultuurmandaat’ glad nie meer mag gebruik nie. Indien ons die term tog wil behou, dan moet dit gebruik word binne die volle Bybelse raam­werk. Miskien is dit selfs beter om te praat van die mens se roeping, sy verantwoordelikheid en sy rent­meesterskap.

hande plant

Komende Godsryk🔗

Ons weet en bely dat die Godsryk onderweg is. ’n Nuwe hemel en aarde kom. Maar dit beteken nie dat ons hierdie aarde maar mag bemors en verniel nie. Ons verwag immers nie ’n ander aarde nie, maar hierdie aarde, vernuwe. Net soos wat ons die opstanding van die liggaam verwag en tog ons liggaam nou op­pas en versorg, net so verwag ons ’n hernude aarde, maar moet ons ook hierdie aarde versorg en oppas. Ons omgang met hierdie aarde moet heenwys in die rigting van die nuwe aarde. Natuurlik kom die nuwe aarde nie op grond van ons werk van bewaring nie, maar die Here God gebruik tog ons werk in die koms van die nuwe aarde (Openb 21:24, 26).

Die skepping sug nou nog in pype van verwagting, maar eenmaal sal dit volkome bevry word van sy ver­slawing aan die verganklikheid (Rom 8:21-22).

Eenmaal is alles nuut (Openb 21:5), alles reg (2 Petr 3:13), alles vry (Rom 8:22).