Bron: Die Kerkblad, 2000. 3 bladsye.

ʼn Gebed vir ʼn Nuwe Jaar … en ʼn Nuwe Lewe!

Jabes het voorrang geniet bo sy broers. Toe sy ma hom die naam Jabes gegee het, het sy gesê: Ek het hom met smart in die wêreld gebring. En Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie. God het laat gebeur wat hy gevra het.

1 Kronieke 4:9 en 10

Ma en kind

Ons weet niks anders van Jabes nie, net hierdie paar besonderhede tussen al die lang lyste name in die boek Kronieke. Maar uit hierdie paar gegewens oor Jabes se lewe en gebed leer ons God ken in sy grootheid.

  • Jabes het met smart in die wêreld gekom
  • Hy het eerlik tot God gebid
  • God het sy gebed verhoor
  • Hy het baie bereik, meer as sy broers (en tydgenote)!

Weet mense minstens ook dit van ons? Dat ons biddend afhanklik van God is, en ondanks ons omstandighede tog deur God se genade baie kon doen?

Aan die begin van die jaar 2000 lei die Here ons ook met die gebed van Jabes om in kinderlike afhanklikheid persoonlik alles van Hom te verwag, onsself in sy diens te stel, en uit te sien na die tekens van sy guns in ons lewe!

Here, seën my!🔗

Dit klink na ʼn baie selfsugtige gebed: "Stort u seën oor my uit"! Leer ons dan nie in die "Onse Vader juis om van onsself af weg te bid nie?! Nie "my brood" nie, maar "ons brood". en nie "my wil" nie, maar "u wil". So het ons Here ons tog leer bid! Maar Jabes bid: "Seën my op ʼn besondere manier Seën my!"

As ek mooi daaroor dink, besef ek dat dit ook deel van ons gebedslewe is en altyd moet wees! Soos ons bid vir siekes en treurendes en armes en vir familie en vriende en vir die kerk, omdat ons weet sonder God se seën sal alle werk en sorg tog nooit genoeg wees nie, so het ek self ook mos die seën van die Here in my lewe persoonlik nodig!

Baie seën! Ek het behoefte aan ʼn stortvloed van die Here se seënryke teenwoordigheid en krag en liefde en trou in my eie lewe. Dis nie vermetel om dit van Hom te vra nie, dis juis kinderlike afhanklikheid!

Waarom vra mense soms net ʼn bietjie van die Here? Omdat hulle beskeie is? Miskien soms, ja, maar meermale vra ons min omdat ons nie baie verwag nie. Ons bid soms asof dit nie help om baie te vra nie, ons gaan tog nie baie kry nie!

gebed

Ons leer God egter uit sy Woord ken as die Almagtige Skepper wat ons nooi om met vrymoedigheid te vra (Ps. 81). Hy gee ruim, dikwels oorvloedig! Dink maar hoe het dit etenstyd gedurende die afgelope feesdae gelyk! So gee Hy ook troos en krag en moed en hoop en liefde ... en sy Gees! Hy gee aan almal wat in ware geloof bid en Hom daarvoor dank. As ʼn mens opreg behoefte het aan die seën van die Here, kan jy dit met vrymoedigheid van Hom vra.

Here, gebruik my!🔗

Jabes bid dat God sy grondgebied sal vergroot! Daarmee bid hy vir besittings, vir rykdom. Dit klink na ʼn "gevaarlike" gebed. ʼn Materialistiese gebed — so asof geld en goed alles in die lewe is.

Maar goed bekyk, leer ons tog hier bid as mense wat weet dat ons met liggaam en siel aan God behoort. Hy laat ons nie net geestelik groei nie, maar gee ook liggaamskrag en gesondheid en kos en klere en huisvesting.

Wie anders voorsien in ons lewe? Tot wie anders kan ons bid vir voorspoed en finansiële sukses? Wie anders kan in hierdie jaar jou nuwe besigheid laat groei en reën op tyd gee sodat die oes groot sal wees, en vir bevordering by die werk sorg?

Dis waar, Jabes bid vir materiële sukses en meer besittings. Maar hy vra ook meer as dit, hy vra groter grondgebied. Dis meer as net groter besittings, dis ook groter verantwoordelikheid. Want groter grondgebied beteken nie net ʼn groter plaas of groter erf nie, dit beteken ook:

  • meer mense vir wie ek verantwoordelik is;
  • meer mense aan wie ek leiding moet gee;
  • ʼn groter deel van die samelewing waar ek invloed moet uitoefen.

Is ons bereid om dit van die Here te vra?

Here, gee my vanjaar groter verantwoordelikhede, groter verpligtinge. Gee tog, Here, dat ons as Christene al hoe groter invloed in ons mooi land sal uitoefen. Waarom aanvaar ons as kerke en as Christene persoonlik nie meer verantwoordelikheid vir die mense om ons nie? Ons is omring deur ongelowiges en werkloses en verkragtes en vigslyers en eensames en moedelose mense sonder hoop. Gebruik my in hulle lewe, Here!

So word die oënskynlik selfgerigte gebed ʼn koninkryksgebed!

Wil jy dit nie ook bid nie: Here, gebruik my al hoe meer sodat in die skole en universiteite en kerke en hospitale en kantore en stadions oral u Koninkryk kan kom in mense se lewens. Dat dit oral sigbaar sal word dat Jesus die Here en Koning is. Maak my bruikbaar, Here, en maak my tog gewillig! Here, versterk en beskerm my!

Letterlik bid Jabes: "God van Israel, laat u hand by my wees." Hoe meer ons bereid is om ons roeping uit te leef en in gehoorsaamheid aan die Here te werk, hoe meer sal ons ook smeek om sy teen­woordigheid! Sonder Hom sal ons nie in hierdie tyd kragtig en sonder vrees ons dienswerk kan verrig nie.

Ouers moet meer as ooit tevore duidelik leiding gee!

Ons moet sonder huiwering standpunt inneem teenoor moderne dwalinge!

Ons moet getuig vir die Waarheid tussen al die leuens van ons tyd! Ons moet hard werk en fyn formuleer en raak skiet om die bose magte te kan tref!

skape

Ons moet elkeen in God se kudde versorg en voed en lei!

Here, laat u hand by ons wees. Net as U self werk, net as U dit doen, sal ons werk iets beteken. Het jy ook al dit opgemerk: hoe meer ons werk in sy Koninkryk, hoe kleiner word ons! Al werkende word ons diensknegte, slawe, getuies, bedienaars (kelners) wat van ons Here se groot werk getuig en ander daarmee bedien! Hulle hoef ons nie te sien en te erken nie. As hulle maar net deur ons die hand van die Here sal sien — sy werk wat red en heelmaak!

Daarom sal ons nie net kan werk waar ons dink dit veilig is nie. Ons sal maar soos skape tussen die wolwe moet ingaan, uit ons gerieflikheidsone uit, op minder bekende terrein, ook waar ons soms gehaat en bedreig word. Daarom ook hierdie gebed: Here, beskerm my, hou onheil van my af weg! As ons tussen roekelose misdadigers lewe en werk, en as ons gewetenlose mense, sedelose en beginsellose mense met die evangelie wil bereik, is daar net een ware Beskermer, my Koning en Heiland Jesus Christus. Beskerm my, Here Jesus, ook teen myself en my eie bose neigings en gedagtes. Beskerm my en maak my vry!

Dis nie net ʼn gebed vir ʼn nuwe jaar en ʼn nuwe tydperk op ons kalenders nie, dit is ook ʼn gebed dat my eie lewe nuut sal word.

Verhoor ons, o God, in die Naam van ons Here Jesus Christus!