Hierdie artikel handel oor die woonplek van God onder sy volk, met 'n fokus op Jesus Christus as die tempel van God.

1 bladsye. Vertaal deur Dries du Plessis.

ʼn Woonplek vir God

man op berg

In die Ou Testament word God se teenwoordigheid onder Sy mense helder duidelik voorgestel in die aardse simbole van Israel se tabernakel en tempel. As simbole of voorstellings het dit heengewys na vervulling in die toekoms. Die vervulling is te vinde in Jesus Christus, die volle en finale manifestering van God se teenwoordigheid onder Sy mense.

Israel se hoëpriester kon slegs een keer per jaar ingaan in die allerheiligste van die tempel, die setel van God se teenwoordigheid onder Sy mense. Die Hoëpriester het daardeur as bemiddelaar vir die mense opgetree deur namens hulle in God se teenwoordigheid te kom.

Die oomblik toe Jesus gesterf het, het die gordyn voor die Allerheiligste van bo tot onder geskeur (Matt. 27:51). Dit  simboliseer op ʼn kragtige manier die feit dat die aardse tempel nie meer die setel van God se teenwoordigheid is nie. Jesus is nou self die nuwe tempel, iets waaroor Hy reeds voor Sy dood gepraat het (Joh. 2:19). Jesus was beide die hoogste offerande vir sondes asook die priester wat die offer bring (lees Heb. 10). Daardeur bring Hy vir ons die vreugde van die intieme teenwoordigheid van God, wat die wese van aanbidding in die tempel in die Ou Testament is.

Jesus sê in die evangelie volgens Johannes dat Hy sal kom en onder Sy mense sal woon deur die Heilige Gees (Joh. 14:17). Johannes 1:14 beskryf selfs Jesus se hele lewe as ʼn tabernakel of woonplek tussen God se mense. Jesus bring, as die ware tempel van God, God se mense in God se teenwoordigheid.

Die Nuwe Testament praat egter nie net van Jesus as ʼn nuwe tempel nie. Die kerk word ook ʼn tempel genoem. Byvoorbeeld in 1 Korintiërs 3 bestraf Paulus die gelowiges in Korinte omdat hulle in die aardse aansien van hulle leiers roem. Hy spoor hulle aan tot die besef dat die kerk God se projek is en nie hulle sʼn nie (1 Kor. 3:9). Hulle moet eintlik besef dat dit God se tempel is en dat God hulle sal straf (3:16-17) as individuele lede van die kerk die bouwerk bemoeilik.  

In 1 Korintiërs 6:12-20 bestraf Paulus die Korintiërs vir die seksuele permissiwiteit wat in die kerk aan die orde van die dag was. Omdat die individuele gelowige ʼn tempel van die Heilige Gees is (vs. 19), is dit so aanstootlik vir God, en niks onreins mag in God se tempel ingaan nie (Lev. 11:45).

Dit is belangrik dat 1 Korintiërs 3 die hele kerk in sy totaliteit beskryf as die tempel, terwyl 1 Korintiërs 6:19 praat van die individuele gelowige as ʼn tempel. Dit beklemtoon aan ons ʼn belangrike boodskap in die Nuwe Testament: hoe belangrik die verlossing van ʼn individu ook al is, ʼn individuele gelowige se verlossing is onvolledig as dit daardie persoon nie in ʼn lewende verhouding met die gesamentlike volk – die tempel – van God bring nie.

Daar is nog ʼn belangrike teks van Paulus wat betrekking het op die idee van die kerk as tempel. In Efesiërs 2:11-22 skryf Paulus gevoelvol hoe ongelowiges mede-erfgename van God se beloftes geword het deur die dood van Jesus Christus, alhoewel hulle eers uitgesluit was uit die burgerskap van God se volk. Jode en ongelowiges wat in Christus glo word deur die krag van die Heilige Gees “ʼn gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels, ʼn gebou waarvan Jesus Christus self die hoeksteen is”. In hierdie teks word Jesus Christus beskryf as die hoeksteen van die tempel van God (vs. 20), wat Sy absolute gesag oor die nuwe tempel aandui.

Laastens maak Openbaring 21:22 dit duidelik dat daar nie meer ʼn tempel op die nuwe aarde sal wees nie – nie omdat God se teenwoordigheid minder is nie, maar presies die teenoorgestelde: omdat sonde en onreinheid afwesig is op die nuwe aarde, is daar geen plek waar God se reddende teenwoordigheid nie gevoel word nie.