Bron: Kerk en Woord, 2004. 5 bladsye.

1 Korinthiers 13:4-7 - Die Innerlike Karakter van die Liefde

Die liefde is lankmoedig en vriendelik

  1. die liefde is nie jaloers nie,

  2. die liefde praat nie groot nie,

  3. is nie opgeblase nie,

  4. handel nie onwelvoeglik nie,

  5. soek nie sy eie belang nie,

  6. word nie verbitterd nie,

  7. reken die kwaad nie toe nie,

  8. is nie bly oor die ongeregtigheid nie,

  1. maar is bly saam met die waarheid.

  2. bedek alles,

  3. glo alles,

  4. hoop alles,

  5. verdra alles.

In hierdie tweede klompie verse van hoofstuk 13 sien ons 'n skildery om die volmaakte innerlike kwaliteite van die uitnemendste weg bloot te lê. Dit is dus wat gebeur sodra iemand vir ons die gestalte en karakter van die ideaal mens voorhou.

Die jongmense het hulle heldefigure van sangsterre of sportsterre. Ons lees ook in die Bybel van heldefigure onder die manne en die vroue van die Bybelse tyd. En wan­neer so 'n heldefiguur aan ons voorgehou word, het dit 'n snaakse uitwerking op ons. Want ons het die ydele geneigdheid om onsself teen daardie helde te meet.

So het ons hier in 1 Korintiërs 13 die beskry­wing van 'n mens wat met God wandel. Die dinge wat hier staan het in die nouste verband betrekking op die toestand van die lesers, net soos die vorige verse.

Ons het hier 'n spieël waarin die gemeente haar vernederde beeld moet aanskou van hoe ver hulle uitgeval het van Christus se gemeenskap en ook hoe dit met hulle gesteld sal wees as hulle in die gemeenskap met die Here Jesus lewe.

Met hierdie karakterisering van die liefde sien ons eerste die beeld van Hom wat op aarde die hoogste ideaal van 'n lewe van liefde geleef het. Aan die ander kant sien ons met 'n agttal stellings die sondes wat teen die liefde gepleeg word, soos dit ook daar in Korinte gedoen is.

Die apostel begin in vers 4a met die wesentlike karakter van goddelike liefde. Hy druk dit eerste uit vanuit die nega­tiewe belewenis, en dan weer vanuit die positiewe.

Geduldig🔗

Die liefde is lankmoedig: Dit is gedul­dig. 'n Mens weier om vrye loop aan jou woede en wraak te gee. Letterlik: 'n groot kapasiteit voor kwaad word. Dit is die tipiese karakter van God se dade met sy kerkvolk deur die eeue heen, om hulle ten spyte van hulle afvalligheid, ten spyte van hulle murmurering en dat hulle Hom terg met hulle verfoeisels, steeds liefdevol te bly versorg en beskerm en onderhou.

Die Psalmdigter besing God wat lankmoedig en groot van goedertierenheid is. Hy handel nie met ons volgens ons mis­dade nie. Net soos in die gelykenis van die onbarmhartige dienskneg. Sy heer die Koning het op sy pleitrede lankmoedig­heid aan hom betoon en hom die tien­duisend talente goud skuld kwytgeskeld, maar toe sy mededienskneg wat maar enkele pennies aan hom geskuld het ook om lankmoedigheid pleit, het hy die teenoorgestelde gedoen, hy het sy wraakgierige gemoed vrye teuels gegee, sy mededienskneg aan die keel gegryp en in die tronk laat gooi totdat hy sou betaal.

Lankmoedigheid word deesdae sommer met geduld vertaal, maar dan het ons tog die bedoeling van die Griekse woord nog nader omskryf en sê dit is geduld op so 'n uitnemende wyse dat dit jou nooit op jou afsprake sal laat terugkom nie. Teleurstel­ling en vervolging mag jou deel word, maar jou Ja bly Ja!

Vriendelik🔗

Hierby sluit die apostel aan as hy 'n woord gebruik wat ons met vriendelik­heid vertaal het. Dit beteken egter veel meer as om vir mense te glimlag.

Daarom behoort die woord ook soos in die Nederlands en Engels met "goedheid" vertaal te word. Vol van goedheid. Besiel met die voortdurende drang om nuttig te wees. Dit is dan ook die medisyne vir luie baatsugtigheid en gemaklike selfvoldaan­heid. Goedheid is die strewe om diensbaar te wees vir ander en om deur ander gebruik te word. Dit is een van die loflike eienskappe van God self. Die Psalmdigter sing dit uit by herhaling: Want sy goe­dertierenheid duur tot in ewigheid.

Dit is Jesus se antwoord aan die Skrifge­leerde wat Hom goeie leermeester noem. Niemand is goed nie, behalwe God. Hy is die Een wat die alleroorvloedigste bron is van alles wat goed is (NGB art 1). As ons dit in die terme van die tien gebooie kan uitdruk leer ons God ken as:

  1. die enigste ware God,

  2. as die Een wat nie deur ons gebrek­kige mense afbeeldbaar is nie, maar wat Hom in en deur sy Seun, sy beeld en sy gelykenis aan ons kom toon het,

  3. as die Een wie se Naam heilig is en wat ons nie moet ontheilig nie,

  4. as die Een wat Hom met oorgawe in sy skepping en veral in ons as sy geliefde verbondsvolk wil verlustig,

  5. as die Een wat alle gesag het en gee aan wie Hy wil,

  6. as die Een wat Lewe en lewe gee, en die lewe in ons in stand hou,

  7. as die Een wat in alle opsigte aan sy beloftes getrou bly,

  8. as die Een aan wie alle dinge behoort en dit toevertrou aan wie Hy wil,

  9. as die absolute waarheid wat waarag­tig optree, en

  10. Hy is die Een wat alles wat goed en volmaak is, begeer.

So is Hy in Christus Jesus waarlik goed vir ons, en is ons geroepe om sy goedheid, sy nuttige ywer jeens ons ook teenoor mekaar te openbaar.

Met hierdie twee terme het Paulus dan vir ons die grondleggende karakter­trekke van die uitnemendste weg bekend gemaak. Die liefde is (1) lankmoedig sodat dit in die uiterste mate beheersing toon om nie in geregverdigde wraak en woede uit te bars nie. Die liefde is (2) ook vriendelik in die sin dat dit die passie toon om goed aan mekaar te doen.

Maar nou moet ons kyk hoedat hy hier­die twee grondleggende karaktertrekke self verder uitlê met 'n agttal negatiewe hoedanighede en daarna met 'n vyftal positiewes. Hy verduidelik veral wat is die teendeel van lankmoedigheid is, en wat die uitwerking van goedheid is.

Nie Afgunstig🔗

Teenoor lankmoedigheid wat die voor­deel van iemand anders soek, hoor ons: die liefde is nie afgunstig nie.

Teenoor lankmoedigheid en goedheid wat die beste belang vir die ander persoon soek, hoor ons: iemand wat liefhet, loop nie met sy eie hoedanighede en grootpraat voor sy naaste om hulle te verklei­neer nie.

Teenoor die omgee-liefde wat my mede­broeder en suster se nut en saligheid soek, hoor ons: Die liefde is nie opgeblase nie. Dit hou hom nie besig met 'n vertoon­makery nie.

Dit is rampspoedig om in die gemeente rond te loop met die gedagte van Nebu­kadneser toe hy op sy paleis se muur gestaan het en die stad Babel bewonder het met die woorde: (Daniël 4:30):

Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot 'n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?

Dit is die selfsugtige opgeblasenheid waarmee die een mens hom bo die ander stel. Dit is 'n tipiese verskynsel by die cha­rismatiese godsdiens. Hulle is in wedy­wering onder mekaar oor wie die mooiste gawes het en hulle klassifiseer mekaar ook daarvolgens.

Vertoonmakery is iets waarvoor Chris­tene altyd moet waak, veral as die Here hulle ryklik seën. Oor baie seëninge is mens noodwendig bly. Maar by gelo­wiges moet daar in hulle voorkoms en hulle optrede altyd weer die eenvoud en nederigheid van hart spreek.

Ons lees nie verniet dat Abraham ondanks sy uitermate geseëndheid die beloofde land maar met tente gaan bewoon het nie – teenoor sy kleinneef, Lot, wat die grootsheid van die wêreld loop soek het (vgl. 1 Johannes 2:15-17) in die rigting van Sodom.

Uit die vorige hoofstuk 12:14-17 en 21-26, kan ons agterkom dat hierdie die naywerige dinge is wat die gemeentelede aan mekaar gedoen het. Om sommer onbedagsaam die spreekwoord te gebruik: alles is my geoorloof (6:12 en 10:23), en geen snars om te gee hoe dit 'n medebroe­der of suster se gewete sal kwets nie… dit is die dinge wat Paulus aanspreek as hy sê: die liefde is nie afgunstig of grootpraterig nie. Die liefde is nie opgeblase nie.

Nie Onwelvoeglik🔗

Vs 5 – teenoor die lankmoedigheid en die brandende hart om goed te wil doen, hoor ons: die liefde handel nie onwelvoeglik nie. Liefde gooi nie die bestaande konvensies van betaamlikheid op 'n revolusionêre manier oorboord nie.

Hierdie woord herinner ons aan die ver­manings van hfst. 6:5 – oor die gedrag van die vroue van Korinte, en ook aan verse 21 & 22 – hoe die lidmate van die nagmaal 'n skandelike vreet-en-suip partytjie gemaak het ten koste van die behoeftige lidmate van die gemeente.

Hier vermaan Paulus dan deur te sê dat omgee-liefde nie onbetaamlike gedrag in die hand werk nie.

Ons sal ook in hfst. 14 sien hoedat die apostel vir die lidmate met die verskil­lende gawes wys hoedat hulle daarmee die liefdesorde in die gemeente moet dien.

Algemeen🔗

Die volgende vier terme het nou meer betrekking op die lewe in die algemeen: Die liefde soek nie sy eie belang nie. Hier­die uitdrukking kom al van hoofstukke 8-10.

Sommige lede van die gemeente eis hulle nuwe vryheid in Christus so op dat hulle nie in die minste bekommerd is oor die heil van die swakkeres nie. Daar was die houding: as ek dit kan geniet dan mag ek dit maar doen, basta.

Die volgende negatief – dat die omgee-liefde nie verbitterd raak nie, sinspeel ongetwyfeld op die twiste en regsgedinge waarvan ons in hoofstuk 6 lees. Daar vra die apostel of hulle nie dan maar liewer onreg wil ly nie, maar hulle is verbitterd teenoor mekaar.

Wel, hierdie uitnemendste weg van die liefde is ook in staat om die lidmate tot 'n veel hoëre vlak van lewe op te tel. Want hierdie liefde is juis wat ons van ons Here Jesus gelees het uit Jesaja 53. Hy wat alle vorme van onreg teen Hom gedra het om ons van ons ongeregtighede te bevry. En dit is die beeld en gelykenis waaraan ons gelykvormig moet word.

Hierby sluit die volgende kenmerk reg­streeks aan. Dit reken die kwaad nie toe nie. Dit sluit ook aan by die bede van Christus aan die kruis dat die Vader hulle sal vergewe. Spaar hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Hulle besef nie dat hulle u raadsplan, u heilsplan van alle eeue tot uitvoer bring nie.

Gee hulle geleentheid om hulle gron­dig te bekeer. Hy wil die mense wat Hom kruisig nie in strengheid laat besoek omdat hulle onreg aan Hom gedoen het nie. 'n Gesindheid van vergiffenis. Die liefde gaar nie die skulde van sy naaste in die kasboek op nie.

Met hierdie laaste sin gee hy ook die oorgang tot die volgende reeks van posi­tiewe kenmerke van omgee-liefde (vs 6b-7). 'n Uiteensetting van die stelling dat die liefde vol van goedheid is.

Pleks van verlekker in ander mense se ellendes, is dit eerder so dat die liefde hom verbly saam met die waarheid. Ons kan dit ook vertaal met: verbly in die waar­heid. Die waarheid word as't ware hier ook verpersoonlik soos die liefde. Hulle is soos twee susters. Wanneer die waarheid oorwin, dan verbly die suster, liefde, haar saam met haar medesuster, waarheid.

Vers 7 gaan voort met die ontwikkeling van die vriendelike goedheid wat die liefde tot stand bring. Hier begin ook eintlik eers die nadere uiteensetting van wat in vers 4 met vriendelikheid of goedheid ver­taal is. So laat weet hy dat die liefde alle dinge bedek. Dit beteken om die onreg kwyt te skeld. Om onreg wat aan jou gedoen is te verontskuldig met die mantel van die liefde. Om die liefdesmantel oor hulle foute te gooi en dit te bedek.

Hierby sluit die volgende term aan deur te sê: die liefde glo alles. Dit beteken dat die liefde die beeld van God in sy medelidmaat soek. Hy bedek die kwade juis omdat hy die beeld van God soek en glo dat dit daar is. Maar hiermee is die taak van die liefde nog nie klaar nie. Want daar waar die geloof oor die beeld van God in die naaste moet ophou omdat die naaste hom in die sonde verhard, daar gaan die hoop van die liefde nog verder.

Daar waar die sonde van selfgerigtheid oorwin sou word, is nog verder die hoop dat die goeie hulle nog in die toekoms geheel en al sal oorwin. Dan rond die apostel sy beskrywing van die liefde af met dieselfde gedagte as waarmee hy begin het… dit verdra alles.

Soveel leed jou aangedoen, en die liefde dring jou om steeds nuttig en goed te bly, dan verdra jy dit as jou kind jou verontreg het, as jou ouer jou onbillik behandel het, as jou werkgewer nie regverdig opgetree het nie. Die liefde maak dat jy die onreg bly verdra, en hiermee sluit hy aan by die lankmoedigheid van vers 4. Want in die volgende afdeling wil hy juis oorgaan om die onuitwisbare krag van die liefde te behandel.

Van verse 4-7 is dit merkwaardig dat die liefde van die gemeente ons toerus om onreg wat aan ons gedoen word, te kan hanteer. Dit is waarop al die karakterei­enskappe rus as hy verklaar dat die liefde lankmoedig en vol van goedheid is. Hiervan was ons Here Jesus vir ons die uitnemende openbaring. Hy het Homself opgeoffer en alle skande daarvan verduur sodat ons die ewige lewe kan hê.

Deur ons gemeenskap met Hom sal hier­die liefdesbeginsels ook hoe langer hoe meer in ons lewe manifesteer. Wanneer ons egter hierin nalatig of traag is, ja dan bewys dit ook dat ons nalatig en traag is in ons gemeenskap met die Here Jesus.

Laat ons dan hierdie voorstelling van ons Here Jesus Christus voor ons hou, en laat ons ons toevlug tot Hom neem.

Laat ons die innige lewensgemeenskap met Hom ywerig najaag.

Laat ons met brandende harte ywer om met Hom te wandel in hierdie moeitevolle wêreld waarin ons elke dag moet lewe.

So sal hierdie beskrywing van die liefde ook dan hoe langer hoe meer deel word van u karakter, van u lewe elke dag.