3 bladsye.

1 Korintiers 5:5 - Oorlewer aan die Satan...

‘Besluit dan maar self, ek gaan jou nie meer waarsku nie. As jy nie wil hoor nie, moet jy maar voel.’
Woorde van ouers aan hulle kind.

ʼn Ma waarsku haar seun wat altyd so roekeloos in die verkeer ry. Sy het hom al so dikwels gewaarsku, maar dit het nie gehelp nie. ‘Ek hoop die polisie vang jou nog ʼn slag en gee jou ʼn stywe boete. Dit sal jou leer.’
Soms moet ‘n mens jou kop kliphard stamp. Dit sal jou leer.

ʼn Student, wat maar alte lekker lewe, maar geensins moeite doen om te presteer nie. Sy pa het ʼn onderonsie met hom: ‘Netnou is dit klaar met jou beurs en dan sal jy agterkom waarmee jy al die pad besig was.’ Die harde feite sal ‘die student’ wel leer.

ʼn Moeilike Vraag🔗

In daardie rigting moet ons beweeg by die verstaan van 1 Korintiërs 5:5; ’…om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus’. ʼn Bybelstudievereniging het my gevra wat hierdie woorde beteken. Self het die broeders by die volgende verklaring uitgekom: ‘Hierdie persoon sal na sy aardse bestaan, dis sy vlees, sy ondergang tegemoetgaan, met as doel om hom van die ewige straf te red’. Maar nie almal was oortuig van hierdie uitleg nie.

Dit klink nogal ongebruiklik, nogal kras om te sê: om iemand oor te lewer aan die Satan! Hoe kan Paulus op so ʼn gedagte kom? Dit kan mos nie! Dan is daar in die gemeente van Korinte seker groot fout.

Dis reg. Daar is ʼn seldsame geval van hoerery. ʼn Man leef saam met die vrou van sy vader. Hoekom sê Paulus dit so omslagtig? Hoekom sê hy nie net dat die man met sy ma saamleef nie? Want dit gaan nie hier oor sy eie ma nie, maar oor sy stiefma, saam met wie hy lewe. ʼn Growwe skandaal. Selfs onder die heidene was dit ongehoord.

Maar wat doen die gemeente van Korinte nou daaraan? Niks nie. Hulle laat dit net so voortgaan. Hulle is opgeblase en heel tevrede met hulleself. Hierdie sondaar kan maar rustig aangaan. Pleks daarvan dat hulle hartseer is oor die saak! Laat hulle tog hierdie man uit hulle midde verwyder. Hier is net een ding toepaslik: die toepassing van die tug. Hierdie man moet afgesny, uitgeban word!

Maar in Korinte heers daar ʼn lelike traak-my-nie-agtige houding. Daarom tref Paulus maatreëls. Hy is wel nie fisies aanwesig nie, maar in die gees is hy beslis daar en hy voel homself baie nou by die saak betrokke. Hy staan ook gereed met sy oordeel. Hy het ʼn vonnis oor hierdie growwe sondaar gevel en hy betrek die gemeente hierby. Hy is as’t ware saam met die gemeente in ʼn vergadering. Tydens hierdie byeenkoms sal die beslissing val. Met die krag van die Here Jesus, en op gesag van die Heer van die kerk. Daar sal met die sonde afgereken word. Die sondaar word van die gemeente afgesny en aan die Satan uitgelewer.

En so is ons weer terug by ons teks.

Liggaamlike Afbraak?🔗

Wat beteken dit eintlik? Om die sondaar aan die Satan uit te lewer tot verderf van sy vlees? Hiervoor is daar verskillende verklarings. Sommiges sê: die man word aan Satan se mag oorgegee en dan gebeur met hom dieselfde as wat met Job gebeur het: sy liggaam word afgetakel. Dan sal hy voel en miskien tot inkeer kom. Hy sal dan wel sy lewe verloor, maar omdat hy hom betyds bekeer het, sal sy gees op die jongste dag behoue bly en gered word. So word die tug op ʼn baie spesiale manier toegepas. Dis beslis nie hoe ons dit vandag moet doen nie, want dit het te doen gehad met die gesag van die apostels.

ʼn Paar besware kan teen hierdie uitleg ingebring word. In die eerste plek gaan dit nie hier oor ʼn tipiese apostoliese bevoegdheid nie. Die gemeente is immers ook in die vonnis betrokke. In die tweede plek is die apostel se groot beswaar dat die man nie uit die gemeente verwyder is nie. Dit is wat moes gebeur het: die man moes afgesny, uitgeban word. Sal vers 5 nou skielik oor iets anders gaan? Gaan Paulus nou ʼn ander maatreëls instel? Dit is nie voor die hand liggend nie.

ʼn Ander siening: Die sondaar word aan die Satan oorgelewer, wat dan so vinnig as moontlik die liggaam kan afbreek. Hoe vinniger die man sterf, hoe beter. So lank as wat hy lewe, hou hy net aan sondig. Die dood bring ʼn einde daaraan. Hoe korter sy lewe, hoe minder kan hy sondig. So kan hy uiteindelik tog nog behoue bly.

Hierdie uitleg is ook nie voor die hand liggend nie. Want die sondes wat die man nou doen, maak hom reeds vir ewig die dood skuldig. Dit maak nie saak of hy nou nog min of baie sondes byvoeg nie. Daar is maar net één weg tot redding. Die man moet homself bekeer!

Hy Moet Maar Voel🔗

Aan die Satan oorlewer. Dit is ander woorde vir: die sondaar onder julle uit verwyder (vers 2). Wat gebeur dan? Die man word afgesonder, verwyder van alles en almal. Hy staan buite die verkondiging van die Woord, buite die bediening van die sakramente, buite die warmte van die gemeenskap van die heiliges. Hy ontvang nie meer steun in sy stryd teen die sonde nie. Die Satan  het vrye teuels. Hy kan homself op die sondaar uitleef.

Die groot vraag is: hoe kan Paulus tot so ʼn besluit kom? Dis mos nou die ergste wat jy iemand kan aandoen? Het jy al ooit van so iets wreeds gehoor? En: hoe kan die gees van die man dan op die dag van die Here, die jongste dag, gered word?

Ons moet eers gaan kyk wat nou eintlik hier gebeur. Die man word aan die Satan oorgelewer, tot verderf van sy vlees. Sy vlees is sy sondige vlees, die sondige in die man, sy bose luste. Die Satan kry ʼn greep op hierdie man. Dit gaan van kwaad tot erger. Die man raak al hoe vaster in sy sonde en ellende vasgevang. Hy sal kliphard teen die sondes en die gevolge daarvan bots. En dis nie net sy sonde nie, maar ook die gevolge daarvan: die leegte wat dit vir jou agtergelaat, die skade wat dit jou berokken ... en ook die skade wat jyself daardeur aanrig. Sy lewe word ʼn gemors, ʼn puinhoop. Dit is wat die apostel wil hê: dis wat hierdie man moet voel. Laat hom maar agterkom waarmee hy besig is. Hy moet homself volledig vasloop, hy moet sy kop stamp. Miskien sal dít hom tot besinning bring en besef hy: ‘So kan dit nie aangaan nie! Dit moet verander, ek wil nie so lewe nie, ek moet my bekeer’. Net op hierdie manier sal sy gees op die dag van die Here gered word.

Om te Behou🔗

Die apostel draai nie doekies om nie. ’Aan die Satan oorlewer’. Dis huiweringwekkend! Hierdie woorde kan ’n mens ook terugvind in die formulier vir afsnyding van die gemeente van Christus. Om iemand uit die gemeente te verwyder is ʼn huiweringwekkende saak. Jy lewer hom uit aan die Satan. Hy verkry mag oor ʼn sondaar. Die man bevind hom dan buite die beskermende omheining van die kerk, buite die kudde van Christus. As dit is hoe sake staan ... sal ’n mens dan ooit nog wil tug toepas? Wie van ons is bereid om iemand aan Satan oor te lewer? Watter kerk doen dit? Wie wil dit ooit op sy gewete hê?

Tog kan dinge sover kom dat die gemeente ook nie ʼn ander keuse het as om tot so ʼn stap oor te gaan nie. ʼn Sondaar kan so hardnekkig wees en glad nie bereid om na vermaning te luister nie. Daar bly dan net één pad oor wat geloop kan word: Hy moet tot die besef kom waarmee hy besig is – lewer hom oor aan die Satan.

Dit word dan nog steeds gedoen om die man te behou. Paulus het dit gedoen ‘sodat die gees’ (dit is: hyself) gered kan word in die dag van die Here Jesus. Jy bly die beste soek vir die sondaar. Jy hoop dat hy op so ’n manier tot bekering sal kom.

Daar is ook nog ʼn ander kant waaroor die apostel vervolgens skryf. Die sonde mag nooit ‘n vastrapplek in die gemeente kry nie. Want dan gaan dit begin werk, aktief raak, soos suurdeeg (v 6). Waar ‘n mens die sonde laat gaan, daar begin die sonde gis en woeker deur die hele gemeente – dit sal die kerk vernietig. Dan is halwe maatreëls nie voldoende nie. Jy moet die sondaar uit die gemeente verwyder, hom oorlewer aan die Satan. Dit móét sover kom. Uiteindelik gaan dit oor die behoud van die gemeente, waarvoor Christus ten duurste betaal het.