Bron: Kerk en Woord, 2003. 3 bladsye.

1 Samuel 5 - Les tot Bekering of Verharding

Hemelvaart is Jesus se troonbestyging. Hy wat alle mag van Sy Vader ontvang het, regeer as Koning bo alle konings. Hoe regeer Jesus? Die profeet Haggai profeteer: Hy sal die koningstrone omverwerp en die mag van die heidense koninkryke verdelg (2:22).

Paulus voeg by: Hy moet as Koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het (1 Korintiërs 15:15).

Die Ark🔗

Die wyse waarop Christus regeer, word in die Ou Testament profeties verkondig deur middel van die ark van die God van die verbond. In die twee boeke van Samuel word vir ons die geskie­denis van die verbondsark van God beskryf. Dit is eintlik 'n treurige geskiedenis. Die ark word van die een plek na die ander gestuur. En die ark is nog wel die troon van God.

Die ark bestaan uit 'n kis van goferhout geheel oordek met goud. Op die kis is 'n deksel, die versoendeksel en gerubs buig hulle oor daardie deksel. In die ark was die twee stene tafels van die wet van God.

Vanaf die ark regeer die Here de volk. Wan­neer die Here geraadpleeg word, is dit by die verbondsark gedoen (Rigters 20:27). Die ark wys profeties heen na Christus. Sy vernede­ring en sy verhoging sien ons wanneer ons die roete van die ark, die swerftog van die heilige troon volg. Die ark het die volk Israel deur die woestyn gelei.

Toe kom die ark in Silo in 'n tent, die taber­nakel. Maar daar vat hulle die ark en neem God se troon mee na die slagveld. Hulle dink waar God se troon is, daar is die Here vanself­sprekend ook. Maar vergeet dit. Kyk net hoe God regeer en hoe mense daarop reageer.

Heidene bepaal nou die roete. Hulle het die ark van die Here weggevat uit die gebied van Israel. Die Here het dit toegelaat. God doen niks nie. Die ark word gedwing om oor die grens na die heidense land van die Filistyne te gaan. Hulle bring God se troon na Asdod waar die tempel van hulle god Dagon staan. Die ark word in daardie heidense tempel langs Dagon neergesit. Wat 'n vernedering vir die God van Israel.

Dagon was die god van die landbou. Hy word ook die vrugbaarheidsgod genoem. Hy was baie vroeg al in Mesopotamië vereer. Die Filistyne het hom in hulle land ingevoer en hom vereer as hulle nasionale god. Hulle het 'n god wat gemigreer het. Nou het hulle God se troon gebuit. Hulle stroop daardie kis nie van sy kosbare goud nie soos die Babiloniërs later waarskynlik gedoen het. Nee, hulle neem die ark. Twee keer lees ons dat hulle die ark geneem het. Die tweede keer word die ark na Asdod geneem en versigtig langs hul god Dagon geplaas. Hulle openbaar 'n mate van ontsag vir die God van Israel. Maar wat 'n vernedering vir die God van Israel.

Langs hierdie afgod staan nou die ark van die Here. As 'n oorwinningstrofee word God se troon aan Dagon gewy. Die Here langs Dagon. Die ware godsdiens langs die heidendom.

God Oorwin🔗

Dit is tipies Filistyns. En vandag is dit nog presies dieselfde. Christendom langs heiden­dom. Mense leef 'n volkome heidense leefwyse. Kom nie in 'n kerk nie. Weet niks van die Bybel nie. Maar as 'n kind gebore word, moet daardie kindjie tog maar gedoop word. Ons trou in die kerk. By 'n begrafnis moet tog maar 'n dominee kom. 'n Kroningspleg­tigheid van 'n vors of vorstin moet in 'n katedraal plaasvind. God langs Dagon. Jesus langs Boeddha, die Bybel langs die Koran, gemengde godsdiens op die skole, kinders moet vanaf gr 1 'n basiese kennis opdoen van al die godsdienste in die land. Weet u wat dit is? Dit is die postmodernisme. Dit begin al daar in Ekron.

Sal God dit verduur? Sal Jesus, ons ewige Koning, dit aanvaar? Dit duur nie 'n etmaal nie of die Here laat dit aan die mense in Asdod sien Wie in beheer is. Op die slagveld by Eben-Haeser het God stil gebly. Wanneer Hy al aanwesig was, dan was dit 'n swygende teen­woordigheid. 'n Veroordelende teenwoordig­heid. Hier in die heidense tempel regeer die Here weer kragtig vanaf Sy troon.

Die volgende dag vroeg in die more het Dagon vooroorgeval op die grond gelê; voor die ark van die Here. Dagon is gedwing om voor die Here te kniel. Die Filistyne het gedink dit was 'n ongeluk, maar die volgende dag het Dagon weer vooroorgeval. Nou is sy kop ook af en sy hande het afgebreek op die drumpel van die tempel gelê.

God duld geen afgod langs Hom nie. God het met die Filistyne gepraat. Dagon sonder kop. Hy kan mos nie dink nie. Dagon sonder hande. Hy kan mos niks doen nie. Hy is net 'n dooie beeld.

Hardkoppig🔗

Die Filistyne is hardkoppig in hulle onge­loof. Die priesters trap nie meer op die drum­pel nie. Dan gaan die Here ook buitekant die heidense tempel sy mag en majesteit toon. God gaan die burgers van die land siek maak. Dit begin in Asdod. Die inwoners word deur pesswere getref.

Waarskynlik was dit 'n soort builepes wat deur muise oorgedra word. Vandaar die goue muise wat in die volgende hoofstuk deur die Filistyne saam met die ark teruggestuur word.

Dan word die ark van die een plek na die ander gestuur. Elke Filistynse stad kry 'n beurt. Hulle moet op 'n verskriklike manier kennis maak met die mag van die God van Israel. Nou wil hulle van de ark ontslae raak. Daar is angs en paniek in die stede van die Filistyne. Hulle besef wat met hulle in hul stede en op die platteland gebeur. Daardie verskriklike siekte en al die sterfgevalle het op die een of ander manier met die ark te doen. Dan moet hulle van die ark ontslae raak. In elk geval moet die ark weg uit hul gebied.

Die Filistyne is letterlik op nasionale vlak deur God getref. Eers het die Here hulle gods­dienstig 'n slag toegebring in die tempel van Dagon. Nou volg die tweede fase. Die bevol­king word met uitwissing bedreig. Maar hulle buig nie onder die oordele nie. Die Filistynse leiers laat die ark 'n bepaalde pad wat hulle sorgvuldig uitgestippel het, volg.

Dit was goeie beplanning. Maar dit was onge­loofsbeplanning, heidense beplanning. Ons moet oppas dat ons nie ook in daardie slaggat val nie. Die ark volg in die oordele wat oor die stede gebring is 'n merkwaardige roete. Wan­neer ons die landkaart raadpleeg dan sien ons dat die ark net dieper in die Filistynse gebied ingestuur is. Eers van Asdod na Gat. Dan van Gat na Ekron. Die Filistyne wou die ark steeds verder van Israel vandaan stuur. Dan sal sy uitwerking swakker word, het hulle geglo.

Hulle praat ook elke keer van die ark van die God van Israel. Die ark moet weg van Israel. So kan jy die God van Israel neutrali­seer. Die God van Israel kan dan nie meer soveel invloed uitoefen nie.

Volgens die Filistyne is 'n god aan 'n bepaalde gebied gebonde. Maar hulle kan nie van God ontslae raak nie. Hulle wil hul oor­winningstrofee graag behou, maar hy word 'n bedreiging en 'n groot verleentheid.

Hier kry ons die sonde van ontvlugting. Hulle probeer om onder God se invloed uit te kom. Hulle wil nie buig onder die oordeel nie, maar dit ontwyk. So is daar 'n magtige prediking van God in die Filistynse land. Op die slagveld het God stil gebly. Hy het niks gedoen om sy afvallige, ongehoorsame volk te red nie. Hier in die buiteland praat die Here. Hy praat vanaf sy troon deur middel van sy dade.

Eers toon Hy aan 'n dooie afgodsbeeld Sy majesteit. Daarna toon Hy dit aan mense. Die God van Israel is nie aan 'n bepaalde gebied gebind nie. Hy is alomteenwoordig. Hy ope­reer ook in die buiteland. En sy werking is hoogs gedug.

Die heidense Filistyne bots tydens die swerf­tog van die ark deur hul gebied met twee baie belangrike sake. Hulle raak in konflik met God se alwetendheid en met God se alomteenwoordigheid. Die Here weet van hul hei­dense bygelowigheid. Hy ontmasker dit deur Dagon voor Hom te laat buig en deur Dagon se onmag aan hulle te wys. Die Here weet van hul heidense denkpatrone. Die Here wys tegelyk ook dat Hy alomteenwoordig is. Die Filistyne kan Hom nie ontvlug nie.

Hulle is nie in staat om die alomteenwoor­dige God wat sy mag en majesteit in Filistynse gebied te neutraliseer nie. Hy het sy mag gede­legeer aan Sy Seun. Jesus sê: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde". Christus regeer. Hy regeer nie alleen genadevol nie.

Hy regeer ook deur middel van sy oordele. Lees maar die boek Openbaring, die boek waarin die koningskap van Christus so tref­fend geteken word. Hoe volg die oordele nie sy voetstappe nie?

Wanneer ons kyk na die swerftog van die ark langs die stede en deur die land van die Filistyne, dan word daarin profeties Christus se koningskap verkondig. Hemelvaart is 'n vreugdevolle gebeurtenis. Maar tegelyk is dit vol oordeelsdreiging. Christus se oordeel oor alle postmodernisme.

Ons Ook?🔗

Dit bring ons by die vraag of ons ons mis­kien ook nie aan dieselfde sonde as die Filis­tyne skuldig maak. Om van God 'n gebieds­god te maak. Ons ontmoet Hom Sondag in die kerk. Maar tuis gaan ek my eie gang. Ek hou by my werk, my ontspanning, my beplanning hoegenaamd geen rekening met Hom nie. Hy is vir my ook nie almagtig nie, nie alwetend en alomteenwoordig nie. Baie dinge kan ek mos self reël?

Maar op hierdie manier loop ons ons teen die Here vas.

Jy kan jou op twee maniere teen die Here vasloop. Dit kan jou bring tot bekering. Of tot verharding.

Bekering is wanneer jy deur die werking van die Heilige Gees knak onder God se hand en kom tot berou en boete oor ons sonde dat ons van God 'n gebiedsgod gemaak het.

Of verharding. Soos die Filistyne wil jy net God wegdink en wegdruk uit jou lewe. Dan wag die oordeel wat die Filistyne, al is dit op 'n ander manier, ook getref het.

Die Here regeer vandag nog op dieselfde manier deur Christus Jesus wat sit op die troon en aan Wie Hy alle mag toevertrou het, in hemel en op aarde.