Bron: Kompas, 2011. 3 bladsye.

Arm en Ryk: 'n Groot Olifant in die Kerkkamer

U ken miskien die uitdrukking: “Daar is ʼn olifant in die kamer”. Dit word dikwels gebruik wanneer ʼn groot, dikwels onderliggende probleem nie raakgesien word nie of daar is net nie die wil of die moed om dit raak te sien nie. Die probleem mag so oorweldigend lyk dat dit maar liewer nie genoem en bespreek word nie. Die groeiende gaping tussen arm en ryk is so ʼn tipe probleem.

Dit gaan ons eie kerkverband ook nie verby nie. Arm en ryk is saamgevoeg in verskeie gemeentes en in ʼn kerkverband. Die totale maandelikse dankoffers van een gemeente is wat ʼn ander, sonder om dit werklik te mis, in die kollektesakkie kan sit. Die waarde van die voertuig of huis van een persoon is meer as die totale waarde van ʼn ander gemeente se kerkgebou. Dit is ʼn realiteit waaraan baie van ons seker al gewoond geraak het, veral in Suid-Afrika met ʼn lang geskiedenis van onreg, uitbuiting en ongelykheid. Ten spyte van meer as vyftien jaar se demokrasie is Suid-Afrika nog steeds een van die lande met die hoogste ongelykheid in inkomste in die wêreld. Met die uitsondering van ʼn paar lande, is groeiende ongelykheid ook ʼn wêreldwye realiteit.

Ons voel dan ook dikwels nie by magte om die probleem aan te spreek nie. Dit is so struktureel ingebed in ons samelewing dat dit veels te groot lyk om maar enigsins ʼn verskil daaraan te kan maak. Erger nog, dit word selfs goedgepraat. Vryemarkwerking is bevorderlik vir almal, en dit is net ʼn kwessie van tyd voordat armoede en ongelykheid aangespreek is, word geargumenteer. Ander sal aanvoer dat dit primêr die staat se rol is om te sorg vir die armstes, ʼn probleem van die samelewing en iets waaraan die kerk nie veel kan verander nie. Weer ander voer hardvogtig aan dat armes dit aan hulself te wyte het – as ʼn mens nie werk nie, sal jy ook nie eet nie. Armoede word dan gesien as ʼn straf op luiheid en die verskaffing van hulp maak die probleem net erger.

Etiese Besinning🔗

Hierdie artikel poog om die probleem van ongelykheid en armoede te erken en die noodsaak van ʼn etiese gesprek in die kerk hieroor te beklemtoon. Voordat ons te gou na oplossings begin soek, is dit nodig dat ons erken dat daar ʼn noodsaak is dat Christene eerlik met mekaar onder die lig van die Bybel sulke etiese kwessies moet en ook kan bespreek. Om saam in die liggaam van Christus te wees, impliseer ʼn gesamentlike etiese besinning.

Is so ʼn etiese besinning hieroor werklik lewend onder gemeentelede? Of word dit afgemaak as ʼn oorbodige luukse, of iets wat net nie realiseerbaar is in ons verindividualiseerde samelewing nie?

God Haat Onreg🔗

Die Bybel leer ons heelwat oor Wie God is en hoe Hy welvaart en armoede bejeën. God haat ongeregtigheid. Die profete is vol daarvan. God haat dit as die elite op beddens van ivoor lê, terwyl werkers nie of sleg betaal word en armes uitgebuit word. God het Israel ook gebied om dele van die oes te laat vir die armes en die land te laat rus. Alles behoort aan die Here en welvaart is nooit verkry uit eie krag nie (Deuteronomium 8).

In ons samelewing klink dit maar vreemd. Dit waarvoor ons so hard gewerk het, behoort mos aan ons? Nee, dit behoort aan die Here, sê die Psalmdigter (Psalm 24). Alhoewel ons ʼn besondere verantwoordelikheid ontvang het om die aarde en haar volheid wys te bestuur, is en bly ons welvaart ʼn geskenk van die Here. Met daardie welvaart moet ons Hom dien, soos God self aan ons diensbaar is deur Sy groot dade van skepping, verlossing en op weg na die voleinding.

Armes as ʼn Seën🔗

Ons hoef nie kampvegters vir gelykheid te word nie. Die verskil tussen arm en ryk is nie die werklike probleem nie, maar eerder die manier hoe sonde die verhoudings tussen armes en rykes in die kerk en in die samelewing versteur. Jy sal die armes altyd by jou hê, sê Christus. Dit is en bly ʼn gegewe in hierdie wêreld en is nie altyd ʼn probleem nie. Armes speel dikwels ʼn belangrike rol ter onderrig en beskaming van ander. Dink maar aan die arm weduwee se geldstukkie. Armes verstaan ook dikwels baie beter wat ʼn rykdom dit is om iets te ontvang, en leef ook dikwels in ʼn dieper, intenser besef van afhanklikheid en hoop. Armer gemeentelede kan aan ryker gemeentelede soveel leer. Die realiteit van arm en ryk in die kerk moet dus nie gesien word as ʼn probleem wat onmiddellik opgelos moet word nie.

Diensbaar🔗

Ons diensbaarwees aan die Here is dus die vertrekpunt in die beoordeling van armoede in die kerk en in die samelewing. Is ons houding teenoor armes en rykes een wat reg doen aan God se verhouding, sy verbintenis, met ons? Daardie verbintenis is iets heel besonders, dit sluit alle gelowiges en alle lewendige skepsels in, noem Genesis 9. Hierdie verbintenis met mens en skepping is hernu in die dood en opstanding van Christus en hou groot hoop in vir ʼn toekoms van volledige voleinding. Niemand het ʼn verskoning om dit nie te verstaan nie (Romeine 1, 2). Dit is hierdie lewendige hoop wat aanspoor tot aksie deur die werk van die Heilige Gees. Diens aan die Here soek na geregtigheid en herstel van verhoudings met mense en met die skepping. Dit is nie in die eerste plek gerig op materiële armoede nie, maar op ʼn armoede van die hart.

In die kerkverband staan ons, arm en ryk, in ʼn verhouding tot mekaar, ʼn verhouding wat nou al mag heenwys na God se liefdevolle verhouding met mens en skepping wat tot volle reg sal kom in die nuwe hemel en op die nuwe aarde. Dit is ʼn ryk seën, maar bring ook ʼn enorme verantwoordelikheid mee. Christene, saamgevoeg in kerk en kerkverband, mag nie maar net skuil agter mure van gewoontes, kulture, ras, tradisie en dogma nie, maar is en moet reformerend wees in kerk en in samelewing. Tesame mag ons soek na die wil van die Here, ʼn etiese besinning uit die Skrif alleen, ʼn etiese besinning wat geen einde ken tot die voleinding toe nie. Hierdie besinning gebeur met armes en rykes, gelyk in Christus, by Wie geen aanneming van die persoon is nie.

Rentmeesterskap Onder die Loep🔗

Die gedagte van Christelike rentmeesterskap in die uitvoering van ons etiese taak is waardevol, maar mag dalk te beperk geïnterpreteer word. Dit kan gou met een groep geassosieer word. Dit kan ook te veel fokus op bestuur van die materiële, die ekonomie, ons werk en organisasies. Nie net rykes is geroep tot wyse bestuur nie, maar ook die armes. Geen heerssug deur rykes met op die oog af mooi oplossings en organisasie oor hoe gelde verdeel moet word nie, maar ʼn etiese gesprek tussen arm en ryk is wat ons nodig het. Ek dink ons beroof onsself van dieper gesamentlike insigte uit die Skrif deur te vinnig sulke probleme aan te spreek en te bestuur. Rentmeesters is nie net konings en bestuurders nie, maar ook priesters wat helend wil werk en profete wat nie kan ophou om te praat oor God se groot dade nie. God gee armes en rykes in een kerk en in een kerkverband. Daar moet ruimte wees daarvoor dat die rykes leer van die armes en beskaamd word en dat die armes geduldig insien wat die Here se weg met hulle is. In die proses het ons natuurlik wel ʼn taak dat niemand honger ly of dors het nie. Etiese besinning en aksie gaan saam, solank dit gevoed word deur ʼn passie om die Here te dien.

Korinthe🔗

In die brief aan die gemeente van Korinthe word die saak van materiële welsyn tussen gemeentes mooi bespreek. Ryker gemeentes samel geld in vir die armer gemeentes, aangespoor deur God se liefde vir hulle. Die geld waaroor dit gaan, is noodsaaklik, maar dit is ʼn bysaak in die groter prentjie van God se liefde. Waaroor dit gaan is die verhouding waarin gelowiges tot mekaar staan, ʼn verhouding waarin nou al iets gelees kan word van Christus se werk in die herstel van verhoudings tussen mense en die skepping met God. Die besteding en verdeling van geld is en bly ten diepste ʼn geestelike saak, maar ook een waarin die verhoudings tussen mense onderling en tussen mens en skepping die diepste vertroebel word. In ons hantering van inkomste en geld, en ʼn verdeling tussen arm en ryk, is dit ons harte wat God eerste soek. Laat Christus dan ook op ons harte geskrewe staan. ʼn Hart wat ryk beursies laat oopgaan of ʼn hart wat getuig van geduld en afhanklikheid in armoede, omdat ons mag weet dat alles wat in ons lewens gebeur, rykdom of armoede, van die Here is.

Laat ons ons Bybels oopmaak en mekaar opsoek in ʼn etiese besinning. Dit mag baie geloofsmoed verg om die olifant in die kamer raak te sien en te begin beskryf. Dit mag implikasies hê vir ons eie geliefde oplossings en selfs lewenstyl. Maar ten spyte hiervan mag ons die vaste sekerheid hê dat Hy sal seën wie Hom soek.