Belofte en Eis van die Doop
Belofte en Eis van die Doop
Ons bely in Sondag 26 die sakrament van die doop. Ons sê nie in hierdie vrae en antwoorde wat ons self dink van die doop nie, maar ons bely wat God hiervan openbaar. Dus ons weet dit al byvoorbaat: God het die doop ingestel om ons geloof te versterk. Daarom is dit belangrik om daarop te let dat ons nie hier met veronderstellings of vermoedens werk nie. Nee, dit gaan hier oor wat God openbaar en wat vas en seker is.
Maar hoe tragies is dit dat hierdie vastigheid in die kerkgeskiedenis so maklik ondergrawe word. Ons sien dit by die ou kerkgeskiedenis as daar nie meer vasgehou word aan wat God van die doop sê nie, maar die doop verword tot ’n heidense gewoontegodsdiens. So het die doop vir die Roomse kerk geword tot ’n magiese handeling, ’n soort toormiddel, waardeur die genade by ons ingestort word.
En daarteen het Luther en Calvyn en Zwingli opgestaan. Maar selfs hierna bly daar verdeeldheid oor die sakramentsbeskouing in die kerke van die Hervorming. Ook vandag gaan dit nog dikwels verkeerd in gereformeerde kerke omdat die doop nie verstaan word nie.
Ons lees in die doopsformulier dat die doop uit twee dele bestaan: ’n belofte en ’n eis. Wat beteken dit? Daaroor het mense heelwat geredeneer. Oor die vraag of die belofte onvoorwaardelik of voorwaardelik is. Aan die een kant is die onvoorwaardelikheid van die belofte soms só benadruk dat die eis van geloof en bekering prakties onbelangrik word. Daar word dan gereken dat God by die doop beloof dat die kind in elk geval hemel toe sal gaan. Aan die ander kant word alle nadruk gelê op die voorwaardelike karakter van die belofte. God vergeef wel die sonde, maar net as jy eers glo. Op hierdie manier beland ʼn mens maklik op die gevaarlike spoor van: eers jou geloof, dan God se genade. So asof God se verbond eers werklikheid word as ons dit aanvaar.
Ons moet teen albei gevare waak. God gee geen enkele belofte sonder die eis van geloof en bekering nie. Hy stel ook geen enkele eis nie, behalwe op grond van die belofte. Die belofte word uit loutere genade aan ons geskenk. Ja, selfs al glo ek nog nie eers nie, al het ek nog geen goeie werke gedoen nie. God is in die verbond altyd eerste. En as Hy sy verbond oprig, dan bestaan dit, al glo ek dan nog nie, al het ek my nog nie bekeer nie. God beskik dit so dat die verbond daar is. En daarom word die belofte onvoorwaardelik aan my geskenk. God stel nie vooraf eise waaraan ek eers moet voldoen voordat Hy sy belofte gee nie.
Maar tog is die belofte ook nooit sonder die eis nie. Dit is vir ons bekend uit die doopsformulier dat die doop ons vermaan en verplig tot ’n nuwe gehoorsaamheid. En dit staan ook in Sondag 26. God beloof wel dat ons deur die Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig sal word, maar alleen op dié manier, dat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe.
God skenk dus wel die belofte van vergewing en vernuwing, maar altyd só dat ons verantwoordelikheid gehandhaaf word. Hy beloof die saligheid alleen aan die wat glo. ’n Mens kan dus sê: die belofte word onvoorwaardelik gegee. Maar die vervulling, die uiteindelike vervulling van die belofte kom slegs tot stand langs die weg van geloof en bekering, en nooit anders nie. Want ’n belofte is altyd ’n verpligtende iets, dit is nooit iets wat ek maar kan ignoreer nie. Wil ’n mens dus die heilsbelofte onvoorwaardelik noem, dit is om 't ewe. As ’n mens maar nooit vergeet dat ’n onvoorwaardelike belofte terselfdertyd ’n onvoorwaardelike verpligting is: God lê eenvoudig beslag op alle gedooptes en Hy eis hulle harte en siele en al hulle kragte op.
Onvoorwaardelike genade by die doop? Inderdaad, maar daarom ook onvoorwaardelike gehoorsaamheid in antwoord op die doop.