Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Calvyn se Verbondsbeskouing

Die onderwerp Verbond en Prediking is te wyd en omvattend om dit hier volledig of in groot diepte te bespreek. Daarom beperk ek my. Maar om dit so prakties moontlik te maak, reken ek dis die beste om maar by Calvyn aan te sluit. Daarna toets ons nog weer kortliks Calvyn se gedagtes aan die Skrif.

Wat besonderlik by Calvyn tref, is dat hy die gemeente sien as die verbondsgemeente. Die adres van die prediking is die kerk as die volk van die verbond. Die prediking is volgens Calvyn 'n betuiging van God dat ons sy volk is, die heilige volk van die verbond (kyk sy preek op Deuteronomium 26:16 e.v.; Inst. 2.11.11). Calvyn betrek die verbond op die prediking wanneer hy stel dat die verhouding prediker-gemeente deur die verbondsgedagte beheers word. Alleen deur die verbond kom die bloed van Christus na ons toe. Al ons gebede moet op die verbond gegrond wees. Wanneer ons swaar kry, kan ons nêrens anders rus vind dan in die verbond nie. Al Gods beloftes kom ons kragtens die verbond toe (C.R. 49, 796; 28, 292). Die verbond kan ook alleen die twyfel uit ons hart wegneem.

Buitekant die kerk en sy prediking is mense soos wilde diere wat oor berge en deur bosse swerf. Maar ons is veilig as die kudde van die Here. In die prediking brei God sy vleuels oor ons uit — so roep Calvyn uit. Nou leef ons dag na dag onder sy hoë en koninklike beskerming.

Die prediking as die gebod van die verbond (Inst. 4.16.14) is nie maar 'n algemene woord nie. Ons moet weet dat dit 'n persoonlike woord is, 'n woord wat vir ons persoonlik bestem is. Die preek is die amen van God en ons moet met ons amen hierop antwoord gee. En dit geskied deur die geloof (C.R. 46, 111).

Groot Erns🔗

Maar dan wys Calvyn ook op die groot erns van die verbondsprediking. Wie die Woord van God ongehoorsaam is — wie die Woord hoor maar dit nie doen nie — staan aan 'n duiwelse rewolusie skuldig - so roep Calvyn uit (C.R. 27, 52,144). Daarom sal (aldus Calvyn) die ongelowiges in die kerk, in die verbond, swaarder gestraf word as hulle wat daar buite is.

Daar is geen groter gevaar as ongeloof nie en die kwaad van ongeloof vind onder die nuwe verbond 'n nog swaarder oordeel as onder die ou verbond, omdat ons in die kerk van Christus soveel ryker as Israel in vroeër dae bevoorreg is (C.R. 45, 353; 37, 595).

Calvyn sien dus die gemeente as die verbondsgemeente, maar hy hou terdeë met ongelowiges rekening. Die prediking kom in die verbondsgemeente tot gelowiges en ongelowiges. Hulle wat in die kerk ongelowig bly, word deur Calvyn hardhandig as honde en swyne aangespreek (Preek oor 1 Korinthiërs 11:26; daar is 'canaille' in die kerk, C.R. 35, 616).

Hiermee verval egter vir Calvyn hoegenaamd nie die werklikheid van die verbond nie. Inteendeel, die afvallige Israel in die dae van Jeremia blý ondanks die diepte van hulle afval tog die volk van God (Preek op Jeremia 4:22). Op 'n vraag of hulle wat in die kerk van die geloof vervreem raak nog tot die volk van die God behoort en tot die verbondsgemeente gereken kan word, antwoord Calvyn: Ofskoon hulle nie in waarheid van die kerk is nie, gun God hulle tog nog die naam van sy kinders aangesien hulle nog 'n plek in die kerk het.

Calvyn wil alleen laat verstaan dat daar onder die volk van God tweërlei lede is. Hy spreek van volk van God en kinders van die Here in tweërlei sin: Daar is vleeslike en geestelike kinders, ware en valse Israeliete (Komm. op Genesis 25:23; in sy kommentaar op Psalm 85:9 maak Calvyn selfs onderskeid tussen 'n verus et titularis populus)

Skeidslyn Getrek🔗

In sy prediking tot die verbondsgemeente trek Calvyn 'n duidelike skeidslyn. Daarmee staan hy op die standpunt van Augustinus wat die gemeente as 'n corpus permixtum (vermengde liggaam) aangedui het.

Waarop grond hy sy standpunt? Hy antwoord self: Op twee dinge - op die Skrif en op die ervaring (kyk W.H.v.d. Vegt - Het gepredikte Woord, s.j. p.35).

Hy weet uit die Bybel, en die ervaring in die pastorale arbeid bevestig dit vir hom, dat daar in die kerk onderskeid gemaak moet word. In sy Institusie skrywe hy dat daar allerlei groepe mense in die kerk is. Hy onderskei vier groepe:

  • Mense wat geen kennis van God besit nie;

  • ander wat God met die mond bely en die sakramente gebruik maar met hulle hart Hom verloën;

  • geveinsdes;

  • die wedergeborenes wat die ware heiligheid betoon (Inst. 3.14.1).

Calvyn besef baie goed, dat nie alle mense in die kerk van eenselfde gees en natuur is nie. Daarmee moet die prediker ook rekening hou. Maar die groot skeidslyn wat dwarsdeur die kerk loop, is die skeiding van gelowiges en ongelowiges (Preek op Hebreërs 1:11).

Calvyn noem die ongelowiges met 'n versamelnaam hipokriete (of skynheiliges) en — ons moet maar nie skrik nie - Calvyn het selfs pogings onderneem om hulle persentasie in die gemeente te bereken. In sy Institusie skat hy hulle getal op 80% (3.24.12). In sy preke is hy nog méér pessimisties. Daar kom hy tot die besyfering dat (syns insiens) slegs 10% van die lidmate van die gemeente vry van ongeloof geag kan word (C.R. 33 : 43; 35, 605). Ons kan natuurlik sê: die kerk in Calvyn se dae was voluit 'n volkskerk maar dan moet ons tog wel vir onsself die vraag vra of ons as Gereformeerde Kerk nie hier en daar ook reeds die trekke van 'n volkskerk vertoon nie?

Mense moet Aangespreek Word🔗

Calvyn is nie bang om die ongelowiges, die hipokriete in die kerk, aan te spreek nie. 'n Hipokriet is elkeen wat in die gemeenskap van die kerk die geloofsgemeenskap met Christus nie ken nie. Dis die taak van die prediking om hulle wakker te skud, om hulle aan hulle rampsalige toestand te ontdek. Daar is in die kerk ongelowiges wat goed bewus is dat hulle verhouding tot God nie reg is nie, maar ander is onbewus van hulle onwaaragtige posisie. Hulle word kinders van God genoem, maar is dit nie in der waarheid nie. Bewoë roep hy uit: Ons moet die Gees van Christus besit, anders kan ons nie 'n vertroulike omgang met God geniet en Hom as ons Vader aanroep nie (C.R. 50, 586).

Calvyn ag dit die roeping van die prediker om die hipokriete te ontmasker. In hierdie verband sê hy dat daar ventilasie in die kerk moet kom: die wind van die verkondiging moet die kaf van die koring wegblaas (Komm. op Johannes 1:47).

Hoe moet die prediker dit dan doen? Hy moet voortdurend op selfondersoek aandring. Die verbondskind moet in die prediking voor God geplaas word. Dit lê nie op die weg van die prediker om eiemagtig, volgens sy eie oordeel, die gemeente in twee groepe, gelowiges en ongelowiges op te deel nie — die kerk oordeel nie oor die innerlike nie. Maar die prediker moet die beeld van die gelowige en van die hipokriet vanuit die Bybel teken en daaraan moet elkeen hom toets.

Elkeen moet weet of sy geloof die ware geloof is en elkeen moét waaksaam wees om nie op die sorgeloosheid van die vlees te vertrou nie.

Regte Steunpunt hê🔗

Calvyn het nooit bedoel om mense onseker te maak of hulle te laat twyfel nie. Maar hy is ontsettend bekommerd dat mense op iets anders as alleen op die belofte van God en op die bloed van Christus sal vertrou.

Daarom dring hy telkens met die allergrootste erns op die sekerheid van die geloof aan. Met profetiese stelligheid spreek hy uit dat die vrug van die prediking nie sal uitbly vir elkeen wat glo nie. Geloof mag nie onseker wees nie. Ons moet kan sê dat ons kinders van God is (C.R. 27, 144). Dit mag nie gegrond wees op iets van onsself nie, maar dit moet alleen op die Woord van God, op die beloftes van die Evangelie gegrond wees. Sekerheid van die geloof is nie, dat ons van onsself seker is nie, maar dat ons van die beloftes van God seker is.

Dis 'n gruwel, so stel Calvyn, dat ons God durf wantrou en dat ons Hom nie dié eer gee deur te glo nie.

Konklusie🔗

Wanneer ons goed na Calvyn luister, dan kan ons konklusie net wees: Daar is volgens Calvyn tweërlei verbondskinders. Ons is in die verbond kragtens ons geboorte uit gelowige ouers. Dis 'n heerlike voorreg wat ons saam met ons kinders nooit genoeg kan waardeer nie. Maar dis tog nie genoeg nie. Ons moet nuwe skepsels van God wees.  Die wedergeboorte is ook inhoud van die belofte van die verbond.

Ons is in die verbond. Heerlike beloftes is aan ons toegesê. In die beloftes besit ons die volle verlossing. Maar ons moet deur ‘n ware geloof die beloftes van die Evangelie omhels. Die heilstoesegging moet in die weg van wedergeboorte, bekering en geloof as ‘n werk van die Heilige Gees in ons toegeëien word.