4 bladsye.

Christus Beheers Ons Hoe daar in die Brief aan die Kolossense Gepraat word oor Ons Verhouding tot Christus

Onderlinge verhoudings bepaal ons maniere van omgang. Jy tree anders op tussen jou vriende as tydens ʼn onderhoudsgesprek. Jy is dan nie ʼn ander persoon nie, maar jy gedra jou wel anders.

Toewyding?🔗

So word ons verhouding en ons omgang met Christus dikwels as ‘toewyding’ beskryf. Dit is op sig ’n goeie beskrywing, maar ons kan slegs op ʼn goeie manier hieroor praat wanneer ons die regte siening het op ons verhouding tot Hom. En omgekeerd: Die manier hoe ons ons geloof uitleef, wys hoe ons na hierdie verhouding van Christus en sy volgelinge kyk.

Deesdae word daar allerhande dinge gesê as dit gaan oor ons verhouding met die Here. Soms klink dit uitdagend. Ander kere weer ontroerend. Soms voel ons aangespreek, ander kere stuit dit ons teen die bors. Hoe ons ook al hieroor oordeel, in die eerste plek moet ons altyd let op hoe die werkliklike verhouding tussen die Here en sy volgeling na vore gebring word in hierdie uitsprake.

Die Afstand tussen Christus en Ons🔗

Die manier waarop ons met mense omgaan, bepaal die werklike kontak wat daar tussen jou en ander is. Wanneer iemand tydens ʼn onderhoud te familiêr of vertroulik raak, het dit waarskynlik nie die gewenste uitwerking nie. En ʼn saaklike hantering van ʼn vriendskap maak dit baie vinnig oppervlakkig. Vir ʼn goeie verhouding met Christus is dit daarom ook nodig dat ons die regte sig het op Sy plek en ons s’n, op die onderlinge afstand, en ook die manier hoe daardie afstand oorbrug word. Juis in die brief aan die Kolossense gaan dit oor Christus se plek in die skepping, en oor die manier hoe Hy deur gelowiges benader kan word.

Oor ons verhouding tot Hόm word onder andere die volgende gesê:

  • Julle het saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf (2:20)

  • Julle is saam met Christus opgewek, soek die dinge daarbo (3:1)

  • Maak dood die lede wat op die aarde is…/ beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes…. (3:5 en 12)

Meerdere Beelde🔗

As ons ons net beperk tot die bogenoemde tekste, is dit dadelik opvallend dat daar oor ons verhouding tot Christus in meerdere beelde gespreek word. Ons verhouding tot Christus kan nie net in één beeld vasgelê word nie. Bostaande woorde gee die beeld van ‘dood en opstanding’, van ‘verregaande selftugtiging’ en van ‘geestelike kleding’. Wanneer ons ʼn ander gedeelte uit hierdie selfde brief opslaan, byvoorbeeld 1:17-23, dan sien ons net so ʼn veelvoud van beelde. Soms is daar sprake van oorvleueling (1:21 en 3:7), maar meer dikwels gee die beelde ʼn totaal ander, ʼn nuwe siening op ons verhouding tot Christus.

Ons verhouding tot Christus kan dus nie net in één beeld vasgelê word nie. Dit is nie so vreemd nie. Die verhouding van ʼn kind tot sy ouers ken ook baie meer dimensies as ons eerste gedagtes by die woord ‘ouer-kindverhouding’. ’n Vader of moeder is ‘versorger’, ‘opvoeder’, ‘onderwyser’, ‘helper’ en nog vele meer. En die verskillende vorme van verantwoordelikheid en afhanklikheid speel ʼn besliste rol in die onderlinge verhouding. Ons moet baie sorgvuldig met die tipering van ʼn verhouding omgaan. Dink weer byvoorbeeld aan hoe graag mense vandag die woord ‘toewyding’ gebruik om hierdie verhouding aan te dui. ʼn Woord soos ‘toewyding’ wys in ʼn spesifieke rigting: die klem met hierdie woord lê op die gelowige aksie, en dan spesifiek op die reaksie van die gelowige gerig op Christus. Maar hierdie aspek van ons verhouding tot Christus kry byvoorbeeld slegs beperkte aandag in die Kolossensebrief. ʼn Woord soos ‘onderwerping’ aan Christus kry baie meer aandag, en het ook ʼn breër betekenis as baie ander woorde wat soms gebruik word. Dit is goed dat ons oog vir hierdie woord kry, juis ook omdat dit so ’n belangrike plek inneem en mense dit nie meer werklik gebruik vandag nie.

Christus se Plek in die Heelal🔗

Wanneer Paulus in hierdie brief oor die verhouding tot Christus skryf, begin hy nie met sy verhouding tot ons of ons verhouding met Hom nie. Hy begin met die verhouding van Christus tot die Vader (1:13) en Christus se posisie in die heelal (1:15-20).

Daarmee gee Paulus vir ons ʼn belangrike aanduiding: ons kan met ál ons geloof, ál ons liefde en ál ons toewyding nie verder kom as die erkenning van ʼn situasie wat reeds bestaan en ook vasstaan nie. Kom ons stel dit so: ons liefde vir Christus, of ons onderwerping aan Hom, verander niks in die groot wêreldstryd, die kosmiese stryd wat daar op hierdie aarde is nie.

Dis duidelik dat dit vir Paulus belangrik is om sy brief sό te begin met die plek van Christus in die heelal. In die begin lyk dit amper asof hy die duidelike aanleiding vir sy brief (2:4-8) vergeet het. Kolossense 2:9 wys ons egter dat dit nie so is nie: die feit dat Paulus so uitwei oor Christus se posisie in die skepping is juis vanweë sy bekommernis dat die lesers nie meer bewus is wat hulle band met Christus presies inhou, nie.

Ontmaskering van Teëstand Skep die Nodige Ruimte🔗

Paulus skryf aan mense wat, as dit oor hulle kennis gaan, nog in kinderskoene staan. Hulle kennis oor die verhouding tot Christus sal deur jare toeneem en die insig groter word, maar in werklikheid verander dit niks aan de posisie wat hulle nou reeds het nie.

Iets wat ewemin verander, is die teenstand teen hierdie verhouding met Christus. Ook dit is reeds vroeg in sy volle sterkte aanwesig. En die teenstand fokus op hierdie een kernpunt: hoe ons ons verhouding tot Christus sien.

Paulus ontmasker hierdie teenstand reeds voordat hy die regte verhoudings aantoon. “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleidings nie...” (Kolossense 2:8).

Hierdie werksmetode stem ooreen met die manier hoe Christus self te werk gegaan het. Die ontmaskering van die duiwel en sy werk het ʼn primêre plek in Sy lewe ingeneem. In hierdie brief, waarin die verhouding tot Christus ʼn sentrale posisie het, gaan Paulus ook so te werk. Dit is die volgende hoofgedagte wat ons uit die brief kan haal: die duidelike benoeming van die teenstand en die afwysing daarvan, skep ruimte vir ʼn goeie omgang met God.

Behalwe die plek en die aandag wat Paulus aan hierdie teenstand gee, is daar nog iets wat belangrik is: die manier hoe hy die teenstand bespreek. Hy is baie skerp oor die bedoelings en gevolge van die teenstand wat die werk van Christus deurmaak. Maar terselfdertyd is hy oortuigend: die teenstand kan nie Christus se werk vernietig nie. Ná die waarskuwing in 2:8 volg ʼn breedvoerige weergawe van die eenheid tussen Christus en sy volgelinge, met die doop as middelpunt daarvan (2:9-15).

ʼn Slaafse Pas nie By Ons nie🔗

So lê Paulus die skakel met die begin (2:15): Christus se oorwinning in die heelal. Paulus begin dán eers skryf oor wat gesien kan word as die aanleiding van hierdie brief, naamlik die houding van die gelowiges. Die aanwysings wat deur hom gegee word, staan nie in die raamwerk van ʼn (heilige) verpligting nie, maar van Christus se oorwinning. Hierdie oorwinning veroorsaak dat ʼn slaafse houding by Christene onvanpas is (2:16-19). Duidelik was daar ʼn rede vir Paulus om dit te sê. Alhoewel slawerny nie juis iets is waaraan mense hul sommer vrywillig oorgee nie, lyk dit wel soos ʼn realistiese gevaar vir Christene. Dit lyk asof Christene soms gouer deur onbetroubare mense met vreemde lerings aangespoor word as deur die Here Christus self (2:16 en 2:20). Alhoewel die werklike omgang met Christus juis bevrydend is, word veral jong Christene gouer aangespreek deur slaafse leefpatrone wat deur mense uitgedink en opgelê word.

Leefpatrone🔗

Eers wanneer hierdie gevaar voldoende aandag geniet het, beskou Paulus dit as die regte oomblik om die band tussen Christus en sy volgelinge breedvoeriger uit te werk. Hy herinner die gelowiges aan hierdie feit: “As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het”. Dit is ʼn kragtige uitspraak waarvan die presiese betekenis moeilik is om vas te stel. Myns insiens moet ons dink in die rigting van ‘patrone’. Mense leef volgens patrone. Die moderne mens dalk meer as ooit. Hierdie leefpatrone was vroeërjare godsdienstig van aard. Vandag is daar meer voorkeur vir ‘neutrale’ leefpatrone. Wie sy lewe daardeur laat beheers, beland (opnuut) in die mag van mense. Soos vandag, was dit vroeër nie anders nie.

Maak Sigbaar die Oorwinning🔗

Hierdie ongelooflike gebeurtenis – die bevryding uit die mag van die wêreldgeeste – kan met redelike gemaklikheid in ons lewens se vergeetboek beland. Paulus herinner ons baie kragtig aan hierdie oorwinning en gee vir ons ʼn teken vir alle tye.

‘Afgesterf’ beteken in elk geval: die wêreldgeeste se werking is klaar. Hulle het hulle op Christus self uitgeleef, totdat daar niks meer vir hulle oorgebly het om te doen nie. Toe moes hulle Hom uitlos. Dieselfde geld ook vir ons. Ons besef dikwels nie hoeveel krag daar deur Christus vir ons vrygelaat word nie. Hoe kragtig verleiding en teenstand ook al in ons oë mag wees – daardie magte is reeds oorwin en so behoort ons hulle ook te benader.

Net ʼn nederige houding pas by hierdie beeld. So ’n nederige houding beteken nie dat ons die hele tyd praat oor hoe magteloos ons eintlik is nie. Nee, dit beteken juis dat ons in ons omgang met Christus is baie deeglike besef moet hê van vryheid. Wanneer dít ontbreek, is ons kwesbaar. Dis geensins oordrewe om elke keer weer hiervoor aandag te vra nie. Die gedurige verleiding van nuwe bindings los van Christus, word steeds as bevrydend aan ons voorgehou. Dit kry houvas in ons lewe wanneer ons nie meer besef dat ons reeds bevry is nie.

ʼn Oop Verbinding met die Toekoms🔗

Effens later neem Paulus sy volgende stap (3:1): julle is saam met Christus opgewek! Hierdie Kragtige beeldspraak word met die doop verbind (2:12) en ons vind dit ook elders by Paulus (bv. Romeine 6:4). Feit en oproep vorm saam één geheel. ’Saam met Christus opgewek’ beteken: ‘die dinge soek wat daarbo is’. Sonder die tweede sinsdeel is die eerste een onvolledig en hang dit in die lug.

In die doopsformulier kan ons iets soortgelyks vind. Belofte en eis word as die twee basiselemente van die verbond aangedui. Dit is heeltemal tereg. Christus is nie net as grond vir ons vryspraak aan ons gegee nie, maar ook tot vernuwing van ons lewe. God se liefde vir sy volk kom tot uiting in ʼn lewe wat nie meer los van Christus gesien kan word nie (3:4). Daarmee kry ons lewe toekomsperspektief. As Christus terugkom, sal die ware lewe deurbreek.

Ons Lewe en Ons Toekoms🔗

Dit kan vir ʼn oomblik lyk asof Paulus vir ons wil sê: ’Ag, hierdie lewe is maar net tydelik, die regte lewe lê nog voor…’. Maar hierdie gevaarlike tipe gedagtes vind ons eerder by sy teenstanders. Paulus probeer nie om die huidige, gebroke werklikheid teen die verloste skepping af te speel nie. Hy wys ons juis op die geweldige eenheid tussen die twee. Die eenheid is nie sigbaar nie en is in ons eie lewe allermins voor-die-hand-liggend. In hierdie opsig verskil ons lewe partykeer maar min van Christus se lewe op aarde. Juis in ons kontak met ons Redder en Koning sal hierdie eenheid na vore kom. Deur te soek wat daar bo is maak ons juis hierdie eenheid tussen vandag en die komende ryk sigbaar!

Net as ons aanhou soek, sal ons die koninkryk van God vind. Om te soek, vra bo alles: konsentrasie. Om nie besig te wees met ander dinge nie. Jou konsentreer op daardie één ding wat nie sigbaar is nie. Of, in ons geval, konsentreer op baie dinge wat daarbo is. Ons uitgangspunt is nie in ‘hoe ons voel’ nie, maar ‘wat ons glo en hoop’.

ʼn Oortuigde Houding🔗

As ons let op die manier hoe Paulus sy boodskap bring, asook die aanwysings wat hy vir ons gee en wat reeds hierbo bespreek is, dan kan ons die gevolgtrekking maak dat Paulus ʼn vasberade houding veronderstel, ʼn ingesteldheid waar die sekerheid van die oorwinning afstraal van ons lewe. Paulus openbaar self, ook teenoor Christus se gemeente, (meestal) hierdie houding.

Met ons is dit dikwels anders. Ons klink baie keer so bekommerd. Ons is meesters as dit kom by die vashou en koester van sondes en ellendes. In gebare, woorde, gedagtes en werke. En wanneer ons die dag ʼn Christen ontmoet wat in ons oë maar alte blymoedig is, dan is ons nie tevrede alvorens ons nie by hom of haar die nodige swakhede ontdek het nie. Dis verstaanbaar dat ons so optree, maar dit pas nie by die vryheid en die oorwinning in Christus nie.

Word ʼn Nuwe Mens🔗

Paulus probeer nie om die gebrokenheid en stryd weg te redeneer nie, maar hy plaas dit binne die bogenoemde raamwerk. Dit neem ons gekla oor daaglikse stryd teen die sonde, teen ongeloof en moedeloosheid weg. So iets is net glad nie meer gepas nie! Wie wil dan nog vuil en verslete klere aantrek wanneer daar reeds nuwe klere vir ons lê en wag?!

Paulus gebruik ʼn alledaagse beeldspraak (3:12) vir iets wat (op die minste) jare neem om te gebeur. Karaktereienskappe kan jy nie sommer binne een dag verander nie. Byvoorbeeld, voordat iemand jou sou beskryf as sagmoedig en vol innerlike ontferming ens – dit kan ’n jarelange proses wees. Dit is immers God se eienskappe. Ons ken Jesus Christus so, ons ken nie onsself so nie.

Maar al gaan ons lewe ook hoe gebuk onder die smet van vuil en sondige gewoontes (3:8), kan dit nie ons daaglikse vernuwing in die pad staan nie. Dit hou in dat ons Christus se lewe aangryp as dié soort lewe wat ons wil lei. Hoe onnatuurlik dit ook mag lyk, vir ʼn gebroke mens, ʼn sondaar: elke dag wil God ons na Hom sien kom, as mense wat ten minste van één ding seker is: God sal ons nie weier wat Christus vir ons wil gee nie. Al hoe meer hulpbehoewend, al hoe minder hulpeloos.