2 bladsye.

Christus as Lam

Wat sou in ‘n nie-Christelike toeris se gedagtes omgaan as hy in die St. Bavo-katedraal in Gent, België, staan voor die kleurryke altaarstukke van die broers Hubrecht en Jan van Eyck? Hy sal ongetwyfeld baie beïndruk wees deur die artistieke kwaliteite van hierdie multi-panele wat in 1432 voltooi is. Watter reaksie sal die toeris in sy gemoed ervaar as hy na die hoofpaneel kyk? Sonder Bybelse verklaring is dit ’n vreemde tafereel: die aanbidding van ’n lam. Hoekom ’n lam aanbid? Wat is die doel van die groot kruis by die dier, en hoekom loop daar bloed uit die lam se bors?

Wie met die boek Openbaring vertroud is, ken die antwoord: die broers van Eyck het probeer om Johannes se visioene (Openbaring 7:9-17) uit te beeld. Christus, in die gedaante van ’n lam, word vereer deur ’n menigte van mense. Moontlik het die skilders ook gepoog om reg te laat geskied aan Christus se uiterlike as lam deur die woorde by te voeg: “ ’n Lam asof Hy geslag is” (Openbaring 5:6).

Hierdie woorde beteken egter iets anders as wat in die katedraal afgebeeld word. Op die keel van die lam het Johannes ’n rooi streep gesien, asof die dier se keel afgesny was en tog weer genees het. Met hierdie gegewens kan die toeris die hoofpaneel miskien beter begryp.

Intussen word die vraag hoekom Christus só vir Johannes gewys is, nie beantwoord nie. Die Nuwe Testament onthul aan ons die betekenis van die beelde uit Openbaring: Christus het as ’n soort offerlam gefunksioneer. Hy het bereik wat geen geofferde dier ooit sou kon regkry nie: blywende en volkome versoening met God. En laat ons nie vergeet dat Christus alleen as offerlam diens kon doen, omdat Hy mens was!

Dit is dan veelseggend dat Christus in die visioene die Lam genoem word en as ‘geslagte Lam’ beskryf word. Hiermee word dan getoon dat Christus tot op die nuwe aarde mens is, en die littekens van sy kruisiging dra.

Vir ons besef is dit nie so vanselfsprekend nie. Hy het immers aan ons gelyk geword om te boet vir ons skulde? Ons sou dan verwag dat Christus na die voltooiing van sy taak sy menswees sou afskud. Die teendeel is egter waar: Hy het met sy liggaam uit die graf opgestaan, en na die hemel opgevaar. Nou sou ons miskien kon dink: wanneer die volkome herstel van hemel en aarde ’n feit is, sal Christus hom ontdoen van menswees. Maar soos ons kan sien, die visioene uit Openbaringe wys in ’n ander rigting. Christus hou sy liggaam vir ewig.

Wat Christus se littekens op die liggaam betref: hou Hy dit ook vir altyd? Dit lyk onverstaanbaar, want die nuwe liggaam is tog perfek, sonder letsels? Littekens sou tog in stryd wees hiermee?

Tog het Christus na sy opstanding die letsels gehad: aan sy hande en voete, en aan sy sy. Dit alles aan ’n perfekte liggaam. Nêrens word vermeld dat Christus se uiterlike verander het nie.

Maar waarom bly Christus, selfs op die nuwe aarde, vir altyd die tekens van sy teregstelling dra? Kennelik wil Christus altyd en ewiglik met sy geskende uiterlike, die boodskap laat uitgaan: “Moenie vergeet nie dat jy hier gekoester word deur God se liefde en sorg, omdat God se Seun ter wille van jou mens geword het, en Hom aan die kruis opgeoffer het.” Dit is die realiteit wat altyd weer ten volle besef moet word. Na menslike maatstawwe is dit dwaasheid dat God Hom deur Christus so intens met die mens sou bemoei. God toring in alles oneindig bo ons uit. Ons is so nietig en skuldig as wat kan kom. Hoekom sou so ‘n God sy hande na so ’n mens uitsteek? Tog het God se Seun ons bestaan gedeel. En Hy het gruwels ondergaan wat gelyk is aan totaliteit van die verskrikkinge van die hel. Wie aan Christus verbonde leef, word dan ook bemoedig deur aan sy menslike gestalte te dink. Alleen al net die gestalte toon aan ons: God is met ons. En die wat weet van Christus se littekens kan ontroerd word: vir ons vryspraak en toekoms is duur betaal!

Hierdie reaksie wil Christus nie net vir vandag oproep nie, maar tot in die oneindige toekoms. Tot op die nuwe aarde sien ons sy menslike uiterlike, met littekens.

Die broers van Eyck het dus nie ’n bisarre visioen uit ’n apokriewe boek uitgebeeld nie. Hulle het die realiteite geskilder wat vir elke gelowige ’n openbaring is: Christus het deur sy offer ons verlore bestaan in ’n geborge bestaan omskep.

’n Lam aanbid?

Wat kan ons anders kies?