Bron: Kerk en Woord, 2005. 8 bladsye.

Christus Regeer Sy Kerk Wat die Skrif, veral die Nuwe Testament, Ons Leer

Dit is vir ons in Matteus 16:13-23 opgeteken dat Jesus op 'n keer tydens sy amptelike bediening aan sy dissipels gevra het: wie sê die mense, dat Hy die Seun van die mens is? En ook aan sy dissipels het Hy dieselfde vraag gevra (Matteus 16). Daarop het Petrus as segsman van die dissipels geantwoord en bely: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

Hierna kry ons die eerste ekklesia-uitspraak van die Nuwe Testament. Jesus gaan as die Christus sy kerk bou op die rots, op die Petra – dat sy Vader wat in die hemel is dit aan mense openbaar dat Jesus die Christus is en dat hulle dit bely.

Maar ons moet goed verstaan wat dit beteken wanneer Petrus vir Jesus as die Christus bely. Dit is merkwaardig wat Petrus as openbaring van die Vader aangaande Jesus bely. Petrus gebruik die woord: Christus, wat in Afrikaans gesalfde beteken. Petrus bely dus: Jesus is die Gesalfde, die Seun van die lewende God.

Denkwêreld🔗

Wanneer Petrus met hierdie merkwaardige uitspraak kom, kom daar natuurlik 'n hele denkwêreld mee saam. Die salwingspraktyk kom uit die bekende Israelitiese Ou Testamentiese leefwêreld. En in daardie leefwêreld was daar drie soorte mense wat gesalf is, naamlik die priesters, die profete asook die konings. Normaalweg aanvaar ons, wanneer ons al die Skrifgedeeltes aangaande Christus in berekening neem, dat Hy deur die Gees van God gesalf is as ons hoogste Profeet, ons enigste Hoëpriester en ons ewige Koning.

Dit was ook in sekere afgebakende areas dat die mense oor Jesus gedink het. Sommige het gesê Hy is Johannes die Doper, sommige Elia, en ander Jeremia of een van die profete. Die mense het Jesus dus in die profetiese kategorie geplaas.

Maar Petrus het met 'n buitengewoon unieke belydenis gekom as Hy Jesus as die Gesalfde, die Seun van die lewende God bely. Dit was naamlik so dat die Jode in daardie dae onder die Romeinse juk geleef het en dat hulle 'n gesalfde verwag het, 'n troonopvolger uit die koninklike geslag van Dawid, wat die volk van die Romeine sou verlos.

Wanneer Petrus Jesus die Gesalfde noem, is dit dus besonderlik die koninklike titel wat hy in gedagte het. Dit is dan ook juis hierdie unieke herkenning dat Jesus die verwagte gesalfde koning is, wat Jesus vir Petrus laat weet dat dit nie iets is wat Petrus uit sy menslike gedagtes kon uitdink nie, maar dat dit 'n openbaring van die Vader in die hemel was.

Steeds op die tema van die koningskap borduur Jesus self verder as Hy eerste sê dat Hy op hierdie rotswerk sy ekklesia sal bou en veral dat Hy aan Petrus die sleutels van die koninkryk van die hemele sal gee. Jesus beaam dus met Goddelike gesag dat Hy die gesalfde Koning is van die koninkryk van die hemele en dat Hy as Koning die sleutels van die koninkryk aan Petrus sal gee om dit te bedien. Jesus sal as Koning sy kerk bou op die rotswerk van Petrus se belydenis.

Sleutel🔗

Nou moet ons die regte hermeneutiese sleutel gebruik om hierdie Gesalfde korrek te verstaan. Ook al is dit so dat Petrus en sy mededissipels nog vasgevang was met die idee van 'n politieke aardse herstelde koninkryk vir Israel. Maar Petrus moes eerder die woorde onthou wat Jesus gesê het dat hierdie belydenis van hom die resultaat van Godsopenbaring was.

Vir die blootlegging van hierdie Godsopenbaring is dit dus nie genoeg as ons bloot 'n studie maak van die ideologie van die Makkabeërs, van die Sadduseërs, die Fariseërs, die Sanhedrin met hulle Midrash en hulle Talmud as 'n tipiese sosiohistoriese metodiek nie. Maar ons moet na die Ou Testamentiese Godsopenbaring gaan kyk.

Dit is naamlik in ooreenstemming met die openbaringsgeskiedenis van die Ou Testament dat Jesus die Een is, die gesalfde Koning van sy kerk wat in die vlees moes kom. Want daar was 'n besondere profetiese vergesig wat in die gees van die aartsvader Jakob geleef het toe hy op sy sterfbed sy kinders geseën het en toe hy by Juda kom, in 'n besondere geestesverrukking die koningskap van Christus oor sy kerk aangekondig het terwyl hy leun op die knop van sy kierie (Hebreërs 11).

Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. Juda is 'n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos 'n leeu, en soos 'n leeuin; wie sal hom opjaag? Die septer sal van Juda nie wyk nie nog die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees…Genesis 49:8-11

Hiermee het Jakob onder die inspirasie van die profetiese Gees van Christus wat in hom was, 'n grondleggende kerkregtelike uitspraak gemaak. In en deur Juda kom die heilbrengende koningskap vir die kerkvolk van alle eeue.

Maar Jakob was ook nie die eerste profeet wat hierdie verlossende koningskap van Christus oor sy kerk aangekondig het nie, want hy het hierdie profetiese belofte self ook ontvang van sy vader Isak terwyl hy toegedek was onder die reputasie van sy eersgebore broer, Esau. En Isak het dit ontvang van sy vader Abraham aan wie die Engel van die HERE reeds hierdie beloftes gemaak het.

Trouens, die aankondiging van die welbehaaglike saad wat die mensdom sal verlos van die mag van die Bose, kom reeds uit die moederbelofte van Genesis 3:15. So het Paulus alreeds hierdie beloftes van die welbehaaglike saad in sy brief aan die Galasiërs uitgelê.

Die heilsgeskiedenis van die Ou Testament met al sy tye en geleenthede word deur Christus self gereël (Efesiërs 1:10). Dit loop uit en stuur af op die koms van die Koninkryk van God in en deur die menswording van die Seun van God en sy volbragte middelaarswerk vir sy uitverkore volk, sy koninklike priesterdom.

Onder sy almag word sy heerskappy verder verbrei deur die eeue van die 'laaste dae', totdat dit uiteindelik saamgevat en vervul word met die wederkoms van Christus en die eskatologiese heerlikheid.

Onderkoning🔗

Toe die HERE dus as Verlosser-koning sy verbondsvolk na 'n verblyf van 400 jaar, volgens sy belofte aan Abraham uit die slawehuis van Egipte bevry en hulle deur die woestyntog na Hom toe gebring by Sinaï, het Hy onder leiding van Moses reeds vooruit reëlings vir 'n toekomstige koningskap vir Israel vasgemaak (Deuteronomium 17).

So 'n koning sal altyd as onderkoning moet optree in gehoorsaamheid aan die wette en voorskrifte van Israel se eintlike Koning, Jahwe.

En so sal dit altyd die eerste reël wees wat vir alle ampsdraers geld, naamlik dat hulle in alles eers gehoorsaam aan die Woord van die HERE sal wees. Hulle moet in en deur hul dienswerk die HERE self in die teenwoordigheid van die volk verteenwoordig.

Daar was egter hewige ontsteltenis by Samuel, baie jare later reeds in die beloofde land, toe die volk 'n koning wou hê soos die nasies rondom hulle. En die eerste koning wat die HERE vir hulle gegee het, was ook juis om hierdie rede 'n volslae mislukking. In sy toorn het Hy Saul vir hulle as koning gegee uit die stam van Benjamin.

Maar daarna het die HERE begin om die profetiese testament van Jakob in verband met Juda in vervulling te laat gaan. Dawid uit die stam van Juda, die man na God se hart, is tot koning gesalf. Hy was die Messias. En aan hom het God die belofte gemaak dat sy huis bestendig sal bly en dat daar voortaan altyd uit sy nageslag iemand op die troon sal wees.

Wat Dawid se beskouings van sy koningskap was, volg ons besonder goed in die koningspsalms, soos Psalm 2, die kroningslied, Psalm 110, ens. Op grond van die beloftes van God aan Juda met die oog op die koms van Silo, het Dawid in en deur sy koningskap verre gesigte kon sien.

Merkwaardig dat die HERE deur al die geslagte heen altyd gesorg het dat daar iemand uit die koninklike nageslag van Dawid 'n septerdraer in Judea was, totdat Christus gebore is en op gesagvolle ouderdom gesalf is as ons ewige Koning.

Ampsdraers🔗

Dit was dus 'n saak van Godsopenbaring dat Petrus tot die belydenis gekom het dat Jesus die Messias is, die Seun van die lewende God. En dan maak Jesus vir Petrus bedienaar van die sleutels wat die toegang tot Christus se koninkryk beheer. Daarmee openbaar Hy opnuut die ampsgedagte vir die Nuwe Testamentiese kerk. Deur die bediening van die ampsdraers wil Jesus sy kerk regeer.

Hierdie selfde Petrus kon dit ook nie helderder en duideliker gehoor het as die keer toe Jesus na sy opstanding vir Petrus weer opnuut aangestel het. 'n Ampsdraer moet deur Christus geroep en aangestel wees. 'n Ampsdraer moet die Here Jesus innig liefhê. Dan moet hy besef dat hy nie met sy eie eiendom werk nie, maar met Jesus se skape. Jesus se lammers moet vergader en beskerm en onderhou word, onderherders van die Opperherder (1 Petrus 5). En daarby die belangrike: die nederige gehoorsaamheid. Volg MY!

Die langverwagte profetiese vergesig is besonderlik vervul wanneer Jesus pas voor sy hemelvaart sy magsopenbaring aan sy dissipels gemaak het en aan hulle as dissipels die opdrag gee om sy koningskap onder die nasies te gaan verteenwoordig. Ons lees daarvan in die slothoofstuk van die Matthéüs-evangelie.

Oorvloedsterme🔗

Hierdie slotverse van die Matthéüs-evangelie word gekenmerk deur 'n oorheersing van oorvloedsterme, volheidsterme, absolute uitdrukkings:

En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.Matteus 28:18

Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.Matteus 28:19

En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.Matteus 28:20

Deur die gebruik van die oorvloedsterme kom ons onder die indruk van die absolute koningskap waarmee die Here Jesus gekroon is. Maar ook van die geweldige teenstelling wanneer Hy almagsgesag in opdragte omsit en sy beteuterde dissipels uitstuur.

Eerste die allesomvattende en allesoorheersende openingstelling: 'Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.'

Mag – exousia – is 'n besondere koningskapsterm waarmee die reg om te regeer tesame met die bevoegdheid om te regeer saamgevoeg is.

Hier stel Christus nie net die grootte van sy heerserskapasiteit nie, maar ook die grootte van sy heersersgebied – dit strek naamlik in alle omvattendheid uit regoor alle terreine waaruit aanvanklik die opstand teen God se opperheerskappy gekom het.

Ten eerste die hemel, waar die afval onder die engele aanvanklik ontstaan het.

En ten tweede ook die aarde waarheen die opstand onder die mense uitgebrei het.

'n Refleksie dus op die geskiedenis van die afval en sondeval wat eens in die hemel en op aarde plaasgevind het. Christus triomfeer nou oor al God se vyande! Dit is die indikatiewe uitgangspunt waarop die hele res van sy slotrede gaan rus.

Mag🔗

Maar vir die Bybelse kerkregering moet ons hieruit goed verstaan dat as alle mag aan Christus gegee is, Hy niks daarvan weggee nie, en dat geen mens of massa mense 'n bevoegdheid vir hulleself mag aanmatig buite die opdragte van Christus nie.

Dit sien ons ook wanneer Hy in die gesprek verdere imperatiewe vir sy dissipels uitspel hoedat sy omvattende en absolute mag op hulle in die besonder, maar ook op alle nasies betrekking het. Dit is naamlik dat sy dissipels nou nie alleen meer net getroue leerlinge van hulle Leermeester is nie, maar ook gevolmagtigde en uitgestuurde onderdane van hul Oorwinnaar-koning, wat in sy ryksgebied sy koningskap moet gaan proklameer en alle nasies tot gehoorsame erkenning aan hierdie Koning moet bring.

Die dissipels moet die Nuwe Testamentiese kerk gaan vergader onder die soewereine heerskappy van Jesus:

Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies.Matteus 28:19

Heenganende moet julle dissipels maak van al die heidense nasies (etnisiteite). Hulle moet die gemeentes van Christus gaan vergader. Hulle moet die Woord suiwer gaan bedien. En die nasies moet dissipels word: 'n Dissipel is 'n persoon wat sy eie wil neerlê, wat sy Leermeester se lering aangryp en hom in sy Leermeester se onderrig in gehoorsaamheid oefen.

Dit word beklemtoon met die tweede opdrag wat gelykluidend saam met die eerste gegee word:

en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Die gevolmagtigde ampsdraers mag nie die mense vir hulself opeis nie, maar die mense onder die Naam van God inbring. En dit moet hulle doen deur ook die sakramente suiwer te bedien.

Die kerk word vergader onder die koninklike gesagsnaam van die drie-enige God. Die sakrament van die doop word die sigbare teken en seël wat hierdie koningskap oor die kerk bekragtig.

En dan sluit hierdie opdrag af met die derde gelykluidende bevel:

en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Daarmee kom die volle didaktiek van die kerkvolk in praktyk … veral die onderrig om hulle te gedra soos Christus beveel het. Suiwer tugbediening. Suiwer kerkregering wil die kenmerke van die ware kerk gestalte laat kry: Suiwer Woordbediening tot dissipelskap, suiwer sakramentsbediening as bekragtiging van God se genadeverbond, suiwer bediening van die Christelike dissipline tot gehoorsaamheid aan Christus.

En dan sluit Jesus se voldonge magsopenbaring af met sy koninklike regeertyd: Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Almagsopdrag🔗

Dit is presies in uitvoering van koning Jesus se almagsopdrag voor sy hemelvaart dat Petrus op Pinksterdag die duisende aanwesiges uit die Ou Testament onderrig oor wat daar plaasgevind het. Hy het hulle toe vermaan om hulle te bekeer en te laat doop in die Naam van hierdie Jesus wat hulle gekruisig het. Dit was in uitvoering van Jesus se sendingsopdrag dat die eerste gemeente van omtrent 3 000 siele gedoop is, in die leer waarin die apostels volhard het, en in die breking van die brood, en in die gemeenskap en in die gebede.

Dit is Jesus as opgestane en verhewe koning wat aan Paulus op pad na Damaskus verskyn, in wie se Naam hy later die apostel onder die heidene word en verskeie gemeentes gestig het. Elke gemeente 'n volwaardige funksionerende liggaam. 'n Selfstandige uitdrukking van die onoorsienbare kerk van die Here Jesus. So sien ons 'n kerkverband tot stand kom wat een is in leer, diens en tug. Die praktyke van die apostoliese oorlewering in die een gemeente word tot voorbeeld gestel vir al die ander gemeentes (1 Korintiërs 11:16). En waar lidmate reis en vertoef, lewer hulle getuienis oor mekaar, en wanneer daar nood is lewer hulle hulp aan mekaar.

So sien die apostel Johannes vir Jesus in die openingsgesig van sy Openbaring tussen die sewe gemeentes, die sewe kandelaars, beweeg. Die Een voor wie Johannes, toe hy Hom sien, soos 'n dooie aan die voete van hierdie Koning neerval. En in die slotakkoorde van die boek Openbaring hoor ons ons Koning sê:

Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink Môrester…

Laat dit dan vasstaan, soos Petrus dit ook reeds toe met veel beter geïnspireerde kennis as tevore in Matthéüs 16 aan die duisende op Pinksterdag verkondig het: Handelinge 2:36: Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Kurios en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. En dit met beroep op en prediking uit Joël 2, Psalm 16, Psalm 132, en Psalm 110.

Niemand in die kerk is geoorloof om mag van watter aard ook al aan mense of vergaderings toe te sê wat eiemagtig optree nie. Ons moet soos lote binne in Christus die ware wynstok ingestam bly as ons vir Hom vrug wil dra. Wie los van sy Woord optree, amputeer homself van die Wynstok en sal weggegooi en verbrand word (Johannes 15:1-6).

Hoe Christus Sy Kerk Prakties Regeer🔗

Hoe regeer Christus volgens die Nuwe Testament sy kerk? Hier is vier hooftemas wat ons uit die geskiedenis van die Reformasie vir die kerkregering ken, naamlik:

  1. Dat Christus sy kerk regeer deur die diens van ampsdraers

  2. Dat Christus sy kerk regeer deur die bediening van sy Woord deur kerklike vergaderings

  3. Dat Christus sy regering in die kerk laat geld in die leer, sakramente en ander seremonies

  4. Dat Christus sy regering laat bedien deur die kerklike tug.

1. Deur die Diens van Ampsdraers🔗

Volgens Efesiërs 4 is die ampsdraers gawes van die gekroonde Here Jesus aan sy gemeente om die heiliges vir hul dienswerk toe te rus en op te bou as Liggaam van Christus, die Hoof van sy Liggaam. Hy het as Koning hierdie gawes gegee. Daarom ook dat die apostels later in hul sendbriewe ook hul verhouding tot die Here Jesus bekend maak as slawe van Jesus Christus.

Hieruit moet ons 'n grondbeginsel skerp vashou. Dat die geroepe ampsdraers as gawes van Christus vanuit sy kerk geroep word om as onderherders vir die kudde te sorg onder die gesag van die Opperherder (1 Petrus 5).

En daar is 'n grondbeginsel waarop hierdie onderherders hul werk moet verrig. Want Christus, die goeie Herder (Johannes 10) se skape volg Hom omdat hulle sy stem herken.

Daarom is dit belangrik vir 'n Bybelse kerkorde dat reëlings in plek gestel word wat sal verseker dat ampsdraers deur hul bediening die goeie Herder se stem herkenbaar maak en so sy kudde versorg, nie deur oor hulle te heers nie, ook nie met vuil gewin nie, maar deur vir hulle voorbeelde te wees (1 Petrus 5).

Nou leer ons verder dat die ampsdraers self ook uit die kerk kom. Uit die kerk, vir die kerk. Selfs die toerusting en opleiding van ampsdraers moet vanuit die kerk geskied. Die ouer geslag priesters van die Ou Testament het die jonger geslag priesters as priesters opgelei in die bediening van die versoening. Die kerk lei self sy eie ampsdraers op deur die gevolmagtigde gawes wat Christus aan die gemeente gegee het.

Wat die ouer geslag herders en leraars van hulle leraars ontvang het, soos hulle dit van Christus ontvang het, so moet hulle dit oorlewer aan die nuwe geslag herders en leraars.

Paulus verklaar aan die Korintiërs dat die bediening van die versoening aan die apostels toevertrou is (2 Korintiërs 5:18), en hulle het dit weer oorgelewer aan die jonger geslag herders – Timoteus en Titus en so meer (kyk die pastorale briewe). Daarin moet die nuwe herder en leraar Timoteus vashou, omdat hy weet van wie hy dit geleer het (2 Timoteus 3:10-15).

Weereens, die kerk lei sy eie ampsdraers onder die soewereine heerskappy van Christus op. En soos wat die bekwame broeders se gawes vir die gemeente duidelik blyk, word hulle aan die gemeente voorgestel en verkies (vgl. Handelinge 6). En die hande opgelê (2 Timoteus 1:6).

2. Deur die Bediening van sy Woord op Kerklike Vergaderings🔗

Hier is die gebeure by die sogenaamde apostelkonvent te Jerusalem volgens Handelinge 15:4-29 sentraal.

Met hierdie beskrywing moet ons sien hoedat die vergadering van naburige gemeentes, of ook die konsultasievergadering van die ouderlinge en die apostels saam met die sendelinge oor 'n bepaalde saak daartoe gekom het dat hulle kon verklaar: Die Heilige Gees en ons het besluit.

Nadat die saak van suksesvolle bediening onder die heidene aan die orde gekom het, en die Joodgesindes die eis gestel het dat die nuwe bekeerlinge uit die heidene hulle moet laat besny en dat hulle die Wet van Moses moet onderhou… met die besondere nota in gedagte dat die verlossing deur die onderhouding van die Wet verkry word, het die apostels telkens die evangelie van "Solo Christo" en "Sola Gratia" op die hoorders se harte gedruk.

Wanneer Petrus die woord neem, verwys hy na die pinkstergebeure en na die hemelse gesig wat hy ontvang het van die laken uit die hemel met die onrein diere om te eet. Hy vertel hoe hy dit beleef het toe hy die evangelie daar gaan verkondig het, en veral hoedat die Heilige Gees ook op daardie mense geval het soos op Pinksterdag.

Wat met Petrus gebeur het, was hoegenaamd nie iets wat hyself uitgedink het nie. Dit was selfs nie wat hyself as aangenaam gewil het nie. Die Heilige Gees het aangedring.

Petrus het dus voortgegaan om Cornelius van Caesarea en sy gesin as die eerste bekeerde heidene te doop (Handelinge 10:45, 46). Hy het hom ook later daaroor verantwoord in Jerusalem en hulle het dit ook so met blydskap aanvaar (Handelinge 11:18).

Ons moet dus vashou dat Petrus hier getuig (en die broeders herinner) van die dinge wat die Heilige Gees in dieselfde verband reeds deur hom gedoen het. Petrus beklemtoon dus dat die Heilige Gees hierdie saak reeds vooruit aangekondig het.

Dan kry Barnabas en Paulus geleentheid om die aanwesiges te vertel van al die wonders en tekens van die Heilige Gees; wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. Hulle bevestig dus dat dit wat hulle in die sendingveld ondervind het, presies in dieselfde lyn is met wat Petrus as die leiding van die Heilige Gees uitgewys het.

Ten laaste het Jakobus die woord geneem. Hy het sy beurt waargeneem deur Paulus en Barnabas se rapport, tesame met Petrus se vertelling, te verbind aan wat die Skrifte daaroor leer.

Jakobus het hierdie gebeurtenis gaan toets aan die lineaal van die Heilige Gees; dit is die Ou Testament wat ook bekend staan as die "Wet en die Profete"  Hy sê: "En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is:...“ En dan haal hy vrylik die tekste van die Septuaginta aan, en wat uit die Hebreeus lui:

In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd; sodat hulle in besit kan neem die oorblyfsel van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die HERE wat dit doen.Amos 9:11, 12

Dit was dikwels so dat die Bybelskrywers die profesieë veel belangriker en meer verhewe beskou het as dat dit die woorde van die profete was. Petrus, byvoorbeeld, het van die profete gesê:

En hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is – dinge waarin die engele begerig is om in te sien.1 Petrus 1:11, 12

En ook verder 2 Petrus 1:21

…want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.

Dit is dus te verstane wát Jakobus se intensie was toe hy die dinge wat Petrus vertel het en wat Barnabas en Paulus later verder oor hulle sendingwerk gerapporteer het. Hy het bedoel om die gebeure van die praktyk te toets aan wat die Heilige Gees reeds tevore hieroor gespreek het, en dit as 'n bevestiging bevind.

Dit is gevolglik geen vreemde konklusie nie, maar 'n noodwendige, ook 'n noodsaaklike om te sê:

"Want die Heilige Gees en ons het besluit…" Ook selfs in hierdie gestelde gehoorsaamheidsvolgorde: eers die Heilige Gees en daarna ons. Die spreke van die Heilige Gees was eerste daar, die bevestiging daarvan is in die sendingpraktyk by Petrus, en Barnabas en Paulus herken, en gevolglik het die vergadering dit in gehoorsaamheid gekonstateer.

Die manier waarop die besluit daar geneem is, en die gesag waarop dit berus het, is allesbeheersend vir die wyse waarop die kerke vandag nog in kerklike vergaderings optree: Met naspreek van die Woord van Christus … soos wat die Heilige Gees ons daaraan herinner het, het die besluite van meerdere vergaderings vaste en bindende gesag.

Ons word nie vandag meer deur die Gees van Christus geïnspireer nie. Ons kan wel bid en glo dat die Heilige Gees ons in ons vergaderings verlig. En wanneer 'n profeet onder ons gespreek het, moet die ander so 'n profeet toets (1 Korintiërs 14). Ons moenie sommer elke gees glo nie (1 Johannes 4), maar die geeste op die proef stel, want baie valse profete het uit die wêreld uitgegaan. Ook die profetiese gees wat van 'n sinode uitgaan, moet deur die 'geliefdes' (1 Johannes 4:1) getoets word, want hulle het ook die salwing van Hom ontvang (1 Johannes 2:27).

3. Deur die Leer, Sakramente en Ander Seremonies🔗

Wanneer dit by die lering en die toerusting van die gemeente kom, moet Christus se koninklike opdrag aan sy dissipels sentraal staan. Eerstens in die wyse waarop Hy sy dissipels toegerus het, maar ook in die opdragte wat Hy aan hulle gegee het om te doen nadat Hy in die hemele opgevaar het.

Maar nou: die suiwer leer moet bewaar word en die wat dit nie bring nie, mag nie in die huis kom nie en selfs nie gegroet word nie (2 Johannes 1:10-11). As iemand die Here Jesus nie liefhet nie, laat hom 'n vervloeking wees (1 Korintiërs 16:22). As iemand 'n ander leer bring en die evangelie van Christus verdraai, al is dit 'n professor, of selfs 'n apostel, of selfs 'n engel uit die hemel, laat hom 'n vervloeking wees (Galasiërs 1:7, 8).

Ook wat die sakramente betref, moet ons Christus se instellingsbevele gehoorsaam uitvoer in die gemeentes. Maatreëls moet in plek wees om toe te sien dat die tafel van die Here nie verontreinig word nie. Wanneer dit oor die nagmaal gaan, is Paulus hieroor baie beslis in sy skrywe aan die Korintiërs: dat hy aan die gemeente oorgelewer het wat hy van die Here Jesus ontvang het (1 Korintiërs 11:23). So ook wat die ander seremonies betref.

4. Deur die Kerklike Tug🔗

Wat die kerklike tug betref, het Jesus ook spesifieke opdragte gegee. Hy het in Matteus 16 sleutelbediening aan Petrus toevertrou en in Matteus 18 aan al die dissipels. So byvoorbeeld die bekende opdragte in Matteus 18. Die onderlinge dissipline vorm dan deel van die lewenssenuwee van die gemeente.

Veral die tweede brief van Petrus en die brief van Judas is besonder skerp hieroor. Wanneer die gemeente van binne-uit deur die verrotting van immoraliteit en van dwaalleer bedreig word, moet skerp bewaringsmaatreëls getref word om die eer van die Here te dien, om die behoud van die sondaar te soek en om die reinheid van die bruid van Christus te bewerk. Jesus is Self baie skerp hieroor in sy briewe aan die 7 gemeentes van klein Asië.

Slot🔗

Omdat Christus die enigste Heerser en Koning van die kerk is, beteken dit dat Hy ook alle seggenskap het oor hoe die dinge daar geskied. Hy het ampsdraers gegee om sy koningskap te bedien, en in die onderlinge hulpverlening van die kerklike vergaderings regeer Hy deurdat sy Woord die eerste en finale sê oor sake van die agenda het.

Maatreëls moet getref word dat Christus se suiwer leer geleer word, die sakramente wat Hy ingestel het suiwer bedien word, en in die seremonies nie afgewyk word van wat Hy as ons enigste Leermeester vir ons ingestel het nie.

Verder moet die sleutels van die hemelryk wat Hy aan ons toevertrou het suiwer bedien word volgens sy voorskrifte, tot sy eer, tot heiliging van die gemeente en tot behoud van die lidmaat.