Bron: Kerk en Woord, 1998. 3 bladsye.

Christus se Twee Geboortes

In die geloofsbelydenis van Nicéa het die vadere in die jare net na 300 nC, en as gevolg van Arius se dwalings rondom sy beskouing van Christus, dit goedge­dink om die Bybelse openbaring aangaan­de die wording van Christus op die volgende wyse te verwoord:

Ons glo … in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore.

En enkele artikels verder sê dieselfde belydenis:

Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword.

Op hierdie wyse verwoord die belydenis hierdie dubbele onverstaanbare werklik­heid van Christus se dubbele geboorte. Sy eerste geboorte na sy goddelike natuur voor alle eeue uit die Vader, sonder 'n goddelike moeder, en sy tweede geboorte na die menslike natuur in die vervulling van die tyd uit 'n maagd as moeder, sonder die bemiddeling van 'n menslike vader.

Met hierdie dubbele wonder voorsien God self die enige ware middelaar wat ge­lyk ware en sondelose mens is, en ook ware en volkome God.

Soos met al God se handelinge, is by Jesus se ontvangenis, ook al drie die per­sone van die Goddelike drie-eenheid aan­wesig en betrokke. Ons hoor die woorde van die engel Gabriël aan Maria as sy ver­wonderd is oor hierdie buitengewone aan­kondiging. Sy kan ook nie verstaan hoedat dit gaan gebeur nie, want sy is nog maar verloof aan Josef, en sy het nog geen omgang met 'n man gehad nie. Dan maak Gabriël die geheimenis bekend. Eerste vertel hy van die Heilige Gees. Die Gees sal oor haar kom. Daarna vertel hy van die Vader en sê dat die krag van die Allerhoogste haar sal oorskadu. Laastens maak hy die karakter van die kind bekend wat uit hierdie werking in haar binneste ver­wek word as 'n heilige kind, wat die Seun van God genoem word. So is dit dan die wesentlike betekenis van hierdie gebeure dat Jesus tegelyk twee nature deelagtig was, wat op Hom as een persoon verenig is. Hy was tegelyk ware en volkome God en ware en volkome mens. 'n Onverstaan­bare geheim wat Godgegewe feit is, en wat ons aanvaar sonder om dit enigsins te betwyfel.

Die teologiese nadenke oor die betekenis van hierdie heerlike heilsfeit, het egter ook deur die geskiedenis vir verskeie dwalings gesorg. Miskien juis omdat dit so onbe­gryplik is. Die eerste hiervan was Arius, wat ontken het dat Christus self ook waaragtige God van ewigheid af is. Volgens hom was daar 'n tyd toe die Seun van God nie bestaan het nie. Hy het gere­deneer dat Jesus die hoogste skepsel van God was. Pas nadat die kerk hierdie dwaling op die sinode van Nicea in 325 bestry het, het Appolinarus opgetree wat weer die waaragtige en volkome mensheid van Christus bevraagteken het, as dat Christus nie 'n ware menslike gees of siel gehad het nie, maar dat die plek van 'n menslike gees by Christus deur sy Godheid ingeneem is. Ook hierdie dwaling is deur die kerk by die konsilie van Konstanti­nopel in 386 verwerp. So het die kerk deur stryd heen tot die belydenis gekom dat die enige Middelaar, Jesus Christus enersyds waaragtige God en andersyds waaragtige mens is.

Daarna het die denke gemaal in die rig­ting van hoedat albei hierdie twee nature in die een Middelaar verenig is. Ook oor hierdie vraag het twee eensydige dwalings die kerk binnegedring: Nestorius het die twee nature van Christus so selfstandig van mekaar geplaas dat hy nie meer die eenheid van die persoon van ons middelaar kon bely nie. Op die konsilie van Efese in 431 is hierdie dwaling verwerp en bely dat die persoon van die middelaar een persoon was. Daarna het Eutiches weer na die ander kant toe oorreageer en die onderskeiding van die twee persone heeltemal prysgegee. Hy het gedink aan iets soos 'n samesmelting van die god­delike en die menslike nature binne die persoon van die middelaar. Hy het dus by 'n soort God-menslike natuur uitgekom. Op die konsilie van Chalcedon in 451 het die kerk die onderskeiding van die twee nature van Christus gehandhaaf. Die resultaat van hierdie geestelike worsteling was dan die formule wat by die konsilie van Chalcedon deur die kerk aangeneem is en lui:

 Na sy mens wording bestaan die eenheid van sy persoon uit twee nature wat onvermengd en onveranderd, maar ook ongedeeld en ongeskeie, verenig is.

Die stryery was nie sinloos nie.

As sy nature vermeng was, was Hy nie meer waarlik mens wat regverdiglik die straf vir ons sonde betaal nie, maar iets anders: God-mens.

As sy nature gedurigdeur verander het, sou dit die waaragtigheid van sy volle menswees en sy volle Godheid in gedrang bring.

As sy nature gedeeltelik was, sou Hy nie in sy volle mensheid die straf kon dra met die steun van sy volle Godheid nie. As sy nature geskeie was, sou dit daarop neerkom dat Hy hom vir sekere deel van een van sy nature ontdaan het of tussen die nature verwissel het en so dan nie die volle straf van God as mens met Godde­like krag gedra het nie, maar selfs kon ontsnap.

Ons bely dan dat by Jesus se ontvangenis en geboorte, God sy een persoon met twee nature in homself verenig het, sodat dit verenig gebly het dwarsdeur sy hele lewe op aarde en ook nou nog.

Die belangrike vraag waartoe die Heidel­bergse Kategismus Sondag 14 ons nou lei is watter nut hierdie heilige ontvangenis en geboorte van Christus dan vir ons het.

Antwoord hierop kry ons waar die apostel Paulus in Romeine 1 aangaande die twee nature van Christus getuig. Dan is dit om te verklaar dat Hy die Een is deur wie ons genade en verlossing asook geroepenheid vir die Evangelie ontvang het. Hy is dus die een wat in alle opsigte aan al die vereistes voldoen het om as ons Middelaar te kon optree. Aansluitend hierby lees ons Hebreërs 2. Vir die doel om ons mense te kan red, was dit die vereiste dat ons middelaar aan ons menslike natuur in alle opsigte gelyk word. En dit is dan wat die Hebreërbrief skrywer by herhaling doen, om ons daarop te wys dat Hy aan die een kant die afdruksel en die Wese van God was, en aan die ander kant het Hy ons menslike natuur in alle opsigte deelagtig geword. Hy en Hy alleen is dus die een op wie ons moet let. Die Hebreërbrief skrywer herhaal dit 'n hele paar keer.

Die nut en waarde van die wete dat Jesus beide die Goddelike en die menslike natuur deelagtig geword het, is dus eerstens dat God self die waardige Paaslam en bloedoffer berei het om sy toorn oor die sondige mensheid tot rus te bring. Wat vir die mens geheel onmoontlik was, dit het God nou self gedoen. Wat vir die mens heeltemal ondenkbaar is, dit het God nou as die enigste moontlikheid daargestel. Hy het sy eniggebore Seun, onse HERE deur sy heilige Gees binne die maagd Maria as mens verwek, en Jesus is volkome goddelik en tegelyk waarlik as mens ge­bore uit Maria. Sy Seun het die Vader aan ons gegee om vir ons die Weg en die Waar­heid en die Lewe te wees, die enigste. Hy is ons Godgegewe middelaar. Die een wat as middelganger optree om twee partye uit hulle vyandskap deur versoening en voldoening weer tot vrede te bring. Dis die eerste nut en waarde wat Jesus se heilige ontvangenis en geboorte vir ons het.

Die tweede nut en waarde het te doen met ons eie ontvangenis en geboorte. Job kerm dit in sy ellende uit: Ag as dit maar moontlik was dat 'n heilige uit 'n onheilige gebore kan word. Hy erken met hierdie klag dat dit geheel onmoontlik is. So is dit met ons almal sedert die sondeval dat ons in sonde ontvang en gebore word. Dieselfde is deel van Dawid se belydenis in sy boetelied, Psalm 51. In sonde is ek ont­vang en in ongeregtigheid is ek gebore. Die konsekwensie hiervan trek ons ook in die doopformulier as ons verklaar dat ons en ons kinders in sonde ontvang en gebore word en aan allerhande ellende, ja aan die verdoemenis self onderworpe is. Dit is hoedat dit met ons geboorte gesteld is. En dan het dit vir ons enorme waarde om te weet dat Christus se ont­vangs en geboorte nie in sonde was nie, maar sonder sonde. Dit beteken dat sy middelaarskap so volkome is dat dit my sondige lewe van sy eerste oomblikke in die moederskoot af al reeds (Psalm 139) met sy volmaaktheid toedek sodat God my nie daardie erfsonde en erfsmet waarmee ek ontvang en gebore is, toereken nie.

Die verwerpers van die kinderdoop kan egter nie hierdie heerlike betekenis benut nie, want hulle glo dat kindertjies sonder sonde gebore word. Hulle glo soos Pela­gius dat mens net aangeleerde sonde het en doen. Maar vir die gelowiges wat die Bybel as openbaring van God glo, is Jesus se heilige ontvangenis en geboorte 'n heerlike troos. Hy dek selfs my genetiese afwykings wat my voor God doemwaardig maak toe deur sy volmaakte onskuld met sy ontvangenis en onskuld by sy geboorte.

En dan het hierdie leerstuk vir gelowi­ges ook 'n kragtige praktiese waarde. En dit is dat iemand nie meer agter sy aange­bore sondige afwykings kan skuil of weg­kruip wanneer die verlossing in Christus aan hom verkondig word nie, want Chris­tus het deur sy volmaakte geboorte ook daardie sondige tekortkominge voor God ongeldig gemaak. Ek hoef nie meer my aangebore leuenagtige karakter as 'n ver­hindering in die verlossingsweg te betreur nie. Ek hoef ook nie my dubbelslagtige persoonlikheid wat ek van my pa of my oupa af oorgeërf het as 'n diskwalifikasie by die verkryging van saligheid te vrees nie, of my genetiese geneigdheid tot ver­slawing, my menslike soort swakheid of afwykende gedrag nie. Christus Jesus se Middelaarskap het selfs ook hierdie sonde met sy heilige ontvangenis en geboorte voor God tot volkome versoening gebring.

Ons bely en glo hierdie onverstaanbare en tegelyk heerlike geheimenis wat God aan ons openbaar, dat Hy sy eniggebore Seun vir ons gegee het as ons enigste Mid­delaar wat aan al die vereistes vir 'n mid­delaar volkome voldoen. Hy is na sy God­delike Natuur deur die krag van die Hei­lige Gees verwek, en terselfdertyd as ware mens uit die maagd Maria gebore. Daar­om bedek Hy met sy heilige ontvangenis en geboorte ook al die sonde en tekortko­minge wat ek vanaf my ontvangenis en geboorte met my saamdra volkome voor God se heilige aangesig, sodat daar vir my vrede by God kan wees.