11 bladsye.

Deformasie? "Nuwe Reformasie"? Reformasie? Hervormingsondag 2003 en 32 Stellings oor die Stand van Gereformeerde Teologie in Suid-Afrika

Hervormingsondag – so heet die laaste Sondag in Oktober, só genoem ter gedagtenis aan die deurbreek van die Reformasie. Vanjaar val Hervormingsondag op 26 Oktober. ’n Sondag sonder Christus is egter geen ware Sondag nie en hervorming sonder Christus is geen ware hervorming nie.

Martin Luther het op 31 Oktober 1517 sy beroemde 95 Stellings aan die kerkdeur van die Schloßkirche te Wittenberg vasgeslaan.1 Dit was ’n bekende manier om ’n diskussie oor akademiese sake te inisieer. Binne akademiese en universitêre kringe is dit in Europa vandag nog dikwels die geval. Sulke stellings het in Luther se tyd ’n bykomstige doel gehad as middel om die waarheid te leer ken. In sy wese was dit ook ’n vorm van Woordbediening. Dit was verder nie ongewoon om sulke stellings op eie inisiatief, so te sê as ’n verrassing, bekend te maak nie. Die stellings kon veral geleentheid bied om bepaalde probleme uit te lig met die doel om by oplossings te kom.

Dit was nie die eerste keer dat Luther stellings opgestel en só vasgeslaan het nie. Teologies gesien was dit ook nie sy mees uitgesproke stellings nie. Op 4 September 1517 het hy by wyse van sulke Disputatio-stellings die destydse gangbare manier van teologiebeoefening op ’n meer radikale wyse vanuit die Skrif bestry.

Die doel van Luther se 95 Stellings word uitdruklik in sy opskrif gestel: “Uit liefde en ywer vir die Waarheid wat aan die lig gebring moet word, gaan die volgende Stellings in Wittenberg onder die leiding van die eerbare dr Martin Luther bespreek word.” Hierdie 95 Stellings van 31 Oktober 1517 ken in terme van hulle Wirkung, uitwerking en gevolge, geen gelyke in die geskiedenis nie. Die onbybelse praktyk van aflate (deur met geld jou saligheid te koop) is by uitstek in hierdie stellings aangespreek. Vele ander teologiese kwessies het ook by implikasie aan die orde gekom; veral kerklike gesag, die gehoorsaamheidsvraagstuk, Skrifgesag (teenoor gesag van mense), ensovoorts.2 Soos met ’n blitsstraal het die Here hierdie gebeurtenis beskik om die gesag van Christus en sy Woord teenoor menslike standpunte en redenasies, verskuil agter sogenaamde kerklike gesag, na die middelpunt te ruk.

Vandag, 486 jaar later, is en bly dit hoogs aktueel om weereens te besin oor die vraag wat die Reformasie was, wat Reformasie ís en wat Reformasie nié is nie. Juis vandag word daar baie aansprake en appèlle op die begrip, die idee en die impak van die Reformasie van die 16de eeu gemaak. Juis vandag word ’n begrip soos “Hervorming” gereeld misbruik. Hervormingsondag word daarvoor ingespan. Daarom is dit nie net sinvol nie, maar ook ’n roeping in verantwoordelikheid teenoor ons hemelse Vader in Jesus Christus om ons oor reformasie te verantwoord. Aan die een kant word ’n teologie, sonder die Christus van die Bybel, in Suid-Afrika beoefen. Die sogenaamde “Nuwe Hervorming” verwerp in sy volste konsekwensies alle sentrale geloofstukke van die christelike geloof. Aan die ander kant kry ’n mens teoloë, wat reken hulle is ‘bydertyds’. Hulle doen ’n beroep op die gereformeerde erfenis, terwyl hulle inderwaarheid in die hande van bogenoemde teologie speel. Op ’n soortgelyke Skrifbeskoulike grondslag probeer hulle op sand, in plaas van op Christus, hulle teologiese huis, te bou. Sommige van hierdie teologiese uitgangspunte en oortuigings in die breëre hedendaagse Suid-Afrikaanse teologie, maar ook binne gereformeerde geledere, is vir baie lidmate verwarrend en vir die uitdra van die evangelie skadelik. Hierteenoor word die kerk van Christus geroep om getrou te bly aan Hom en sy Woord.

Vervolgens word kortliks stilgestaan by een van Luther se stellings asook belangrike uitsprake deur Calvyn. Hierin word die gees van die Reformasie as ’n teruggryp na die Woord, weerspieël. Sommige aspekte van die huidige teologie in Suid-Afrika word daarna by wyse van ’n aantal stellings uitgelig.

Uitsprake van Luther en Calvyn🔗

Die regte ware skat van die kerk is die allerheiligste Evangelie van die heerlikheid en die genade van God.Luther, 1517, 62ste Stelling

Eenheid van die Kerk🔗

In sy brief aan die Roomse Kardinaal Sadoletus, waarin Calvyn die gereformeerde godsdiens, gereformeerde teologie en gereformeerde kerke verdedig, skryf hy in 1537:

U probleem, meneer die Kardinaal, is dat u nie die stryd van die gewete ken nie..., u het maar ’n gemoedelike idee van kerkwees en teologie...1537, Responsio Sadoleto, OS I, 477

Na aanleiding van die beskuldiging dat die gereformeerdes die kerk sou skeur, sê Calvyn aan Sadoletus:

As dit enigsins waar sou wees dat die gereformeerdes die Bruid van Christus sou verskeur, dan verdien ons tereg om verwerp te word, máár die kerk is slegs één in soverre dit in God die oorsprong en in Hom die doel vind, dit wil sê na Christus se stem luister, sy Woord gehoorsaam.OS I, 488; vgl. Link, 342

Woord en Gees🔗

Calvyn wys op die diepste probleem van daardie tyd en eintlik van alle tye. Veral vandag is dit nog altyd aktueel.

Hy wys daarop dat gereformeerdes met opponente uit twee rigtings (die Roomse kerk en die dwepers, die Wederdopers), in wese met een en dieselfde probleem te kampe het. Die Roomse kerk luister nie na die Skrif as Woord nie; volgens hulle het die kerk die finale sê. Die Wederdopers luister ook nie na die Skrif as Woord nie; volgens hulle sê die Gees binne-in jou wat die waarheid is of wat jy moet doen. Beide kante beledig die Gees met hulle ongehoorsaamheid aan die Woord deurdat hulle die Gees en die Woord van mekaar losmaak. Dit is nie moontlik dat die kerk deur Christus regeer word, terwyl die Woord intussen begrawe word nie. Die Gees Sélf het Homself onlosmaaklik aan die Woord gebind. (OS I, 465 e.v.)

Die vinger lê hier seker op die grootste dwaling in die teologie: om nie rekening te hou met die Bybelse verhouding tussen die Heilige Gees en die Woord van God nie.

Stellings oor Reformasie en die Gereformeerde Belydenis🔗

1. Die Gesag van die Woord🔗

In die sestiende-eeuse Reformasie was die vraag oor die gesag van die Woord van God in die brandpunt. Die hele stryd oor die regverdiging en alle ander vraagstukke waaroor geworstel is, het berus op die sentrale aspek: Word die gesag van Christus soos wat Hy Hom in sy Woord openbaar, aanvaar of nie? Vandag gaan dit ten diepste steeds oor dieselfde vraag.

2. Alleen die Hele Skrif🔗

Tydens die Reformasie, soos ook in die vroeë kerk, was die uitgesproke uitgangspunt dat God Homself in die Skrif openbaar. In die gereformeerde teologie het die sola Scriptura (alleen die Skrif) as finale Skrif- en hermeneutiese uitgangspunt nog altyd die tota Scriptura-beginsel (die hele Skrif) veronderstel (artikel 3 Nederlandse Geloofsbelydenis).3 Die gereformeerde belydenisse hanteer die Skrif as Woord van God konsekwent volgens hierdie beginsel. Enige afwyking van die tota Scriptura-beginsel verlaat nie net die fondament van die Reformasie nie, maar is wesenlik in stryd met die Formuliere van Eenheid.

3. Christus se Gesag🔗

Met die invoering van die 2001-omdigting het die GKSA die eerste keer in die geskiedenis, bewustelik of onbewustelik, ’n (onderliggende) Skrifbeskouing, wat in sy wese afwyk van die gereformeerde belydenis, formeel aanvaar. Verskillende sinodebesluite is almal simptome van ’n dieperliggende probleem wat grotendeels met Skrifbeskouing verband hou.

’n Keuse vír die 2001-Psalmomdigting is, wetend of onwetend, noodwendig ’n keuse vir ’n Skrifbeskouing 4 waarby die Bybelse openbaring oor God Self en ons belydenis daaroor in gedrang kom. Daar word boonop ’n streep deur Jesus Christus se gesag getrek.

By ontleding van die hele problematiek rondom die 2001-omdigting, al die kritiek, knelpunte en argumente ten gunste van en teen die omdigting, kom die hart van die vraag waaroor dit gaan, op een saak neer: Glo ons Jesus Christus wanneer Hy sê dat Dawid onder leiding van die Heilige Gees van Hom in Psalm 110 geprofeteer het (Matthéüs 22:43,44 en Markus 12:35,36)? Of, uit ’n ander hoek:

Profeteer die profete van die Ou Testament, waaronder Dawid en die Psalms, onder leiding van die Heilige Gees van Christus, soos Hyself sê, of nie? Dit raak die grondliggende beginsel van die Reformasie. By die antwoord op hierdie vraag kan ons met die woorde van Luther sê, staan of val die kerk. By hierdie vraag gaan dit nie bloot oor ’n “verskil in interpretasie” (Kerkblad, April 2003) of verskillende aksente, soos wat sommige sê nie. Die 2001-omdigting sowel as die sogenaamde “Nuwe Hervorming” antwoord offisieel nee op hierdie vraag. Hierdeur word die Nuwe-Testamentiese uitsprake, dié van Christus, oor die Ou-Testamentiese profesie, óf tot leuen gemaak - die Heilige Gees is direk ter sprake - óf baie geraffineerd word die Nuwe Testament tot ’n vorm van Gemeindetheologie verlaag, soos wat die Bybel in Praktyk, bl. 756 dit doen en soos wat een van die adviseurs van die 2001-omdigting skryf: “Die aanhaling [van Psalm 31:6 deur Lukas 23:46] dien Lukas se teologiese oogmerke. ...Ons weet nie of Jesus dit self aangehaal het en of dit deur die Lukas skrywer in die mond gesit is nie.” Die voetnote by die 2001-omdigting kan daarom hoogstens aandui waar die Nuwe Testament die Psalms “gebruik”, in plaas daarvan om te buig voor Christus se gesag, waar Hy sê dat Dawid onder leiding van die Heilige Gees van Hom profeteer.

Dit gaan oor niks minder nie as die “hoop” wat deur Paulus in Handelinge 26:7 verkondig word; die enigste hoop (Handelinge 23:6); die hoop wat in die Ou Testament geopenbaar is (Handelinge 24:14,15). By implikasie word hierdie hoop offisieel in beginsel en by voorbaat deur die 2001-omdigting ontken; die hoop op die opstanding (Handelinge 24:21); die hoop waarvoor Paulus bereid was om in kettings gebind te wees (Handelinge 28:20); die hoop op dít wat ons nie kan sien nie (Romeine 8:24); die hoop wat die Heilige Gees, deur sy Woord (reeds deur die Psalms in die Ou Testament) in ons wek (Romeine 8).

Hoe sou Stéfanus, die eerste martelaar van die Nuwe-Testamentiese kerk, met die woorde van Psalm 31:6 en met die belydenis van Christus as sy Here op sy lippe kon sterf, as hy die standpunt van ’n adviseur van die 2001-omdigting oor “Lukas se teologiese oogmerke” moes onderskryf?

Verskillende beoordelings van die 2001-Psalmomdigting berus nie bloot op “uiteenlopende menings en gemengde gevoelens” (Kerkblad, Oktober 2003) nie. Dit berus ook nie op ’n eksegetiese misverstand (Kerkblad, Maart 2003) nie. Ten diepste hou dit in dat Nuwe-Testamentiese uitsprake, onder andere deur Christus Self en die apostels, nie as gesaghebbend aanvaar word nie; ’n verskuiwing in Skrifbeskouing wat afwyk van die gereformeerde Skrifbeskouing, soos uitgedruk in ons belydenisskrifte. Daarom is daar nie, soos gerieflikheidshalwe in kerklike kringe gesê word, slegs met ’n paar Psalms (byvoorbeeld 2, 22 en 110) in die 2001-omdigting ’n probleem nie. Die Skrifbeskouing ten grondslag van die hele 2001-omdigting is problematies; hierdie verskuifde Skrifbeskouing toon meer gemeenskaplike trekke met die Skrifbeskouing van die sogenaamde “Nuwe Hervorming” as met die Skrifbeskouing soos ons dit in die Nederlandse Geloofsbelydenis en in die Heidelbergse Kategismus bely.

Dit is dus nie houdbaar om in die voorwoord van die 2003-Psalmboek (bl. XIII) melding te maak van die Hoofskap van “Jesus Christus die Here” oor die kerk nie. Hierdie Hoofskap is in die totstandkoming van die 2001-omdigting eksegeties opsygeskuif (met verwysing na Christus se eie beroepe op die Psalms wat van Hom getuig). Christus se Hoofskap kan immers nie daarvan losgemaak word dat Hy ons hoogste Leraar en Profeet (Heidelbergse Kategismus, Sondag 12) en Middelaar (Heidelbergse Kategismus Sondag 6, vraag 19) is nie, ook in sy uitsprake oor die Psalms.

4. Ons Geloof in Christus en Christus se Gesag🔗

In die Suid-Afrikaanse, en in besonder die gereformeerde teologie, is niks minder nie as die belydenis van ons geloof in Christus en Christus se gesag tans in gedrang.

Ons het hier nie bloot met ’n akademiese paradigma-verskuiwing, à la Kuhn, te doen nie, maar met ’n ander Skrifvreemde Skrifbeskouing en hermeneutiek. Dit vorm die grondslag van talle standpunte, ook van sommige sinodebesluite. Hierdie Skrifbeskouing wyk in sy diepste grond-motief af van die gereformeerde belydenis oor die Skrif as Woord van God. Weens sy belydenisafwykende karakter moet dit deur ’n biblisistiese tekshantering reggedokter word.

Dit gaan hier nie oor ’n geringe saak, oor iets middelmatigs nie.5 Dit gaan oor Christus self en oor sy gesag; oor die vraag of ons dit wat Hyself in Matthéüs 22:43, Markus 12:35,36 en elders sê, glo; of ons Hom glo. Ons glo ín Christus het direk te doen met of ons Hom glo.6

5. Skrifvreemde Skrifbeskouing🔗

Die goedkeuring van die 2001-Psalmomdigting is die één grootste, offisiële daad van deformasie (kerkverval) in die geskiedenis van die GKSA. Die sinode het ’n keuse vir sowel ’n Skrifvreemde Skrifbeskouing as ’n ongereformeerde hermeneutiek gemaak. Dit is wel waar dat dit nie ’n nuwe Skrifbeskouing is nie. Hierdie ander Skrifbeskouing is maar ’n ou dwaling, deels in ’n nuwe kleed, deels met nuwe ywer verkondig. Wat wel nuut is, is die poging om hierdie Skrifbeskouing onder gereformeerde vaandel te probeer bevorder. Die Heilige Gees word losgemaak van die Woord. Op grond van sogenaamde sosio-historiese interpretasies word besluit om in die eksegese van die Psalms met die oog op die omdigting die eenheid van die Woord (tota Scriptura) in te ruil vir ’n buite-Bybelse uitgangspunt, naamlik “deur die Psalms te verstaan soos die eerste hoorders dit sou verstaan het.”7

6. Grondbeginsel vir ‘n Gereformeerde Erediens🔗

Met die goedkeuring van die 2001-Psalmomdigting is een van die basiese grondbeginsels vir ’n gereformeerde erediens, die Woord as enigste maatstaf, verlaat (Kerkorde artikel 69). Die sinode het ten spyte van sy eie vorige besluite in dié verband, nie die afsonderlike omdigtings aan die Woord getoets nie.

Soos met die invoering van die Gesangboek byna twee eeue gelede (1812/1814) is ook die inhoud van 2001-omdigting, dié keer sowel in die geval van die NG-Kerk as die GKSA, nie deur ’n sinode getoets nie. In die NG-Kerk is dit deur hulle Algemene Sinodale Kommissie goedgekeur. In die geval van die GKSA is daar konsekwent geweier om die afsonderlike Psalms se omdigtings te beoordeel (vergelyk die minderheidsrapport). Die taak is aan sogenaamde “kundiges” oorgelaat. Hierdie praktyk sluit aan by die beginsels en werkswyse van die Roomse kerk (vergelyk Sadoletus in sy Epistola, OS I, 449, 1537).

7. Voetnote en Gemeente-Teologie🔗

Die poging om die teologiese probleme met die 2001-omdigting met voetnote te probeer regskaaf, het die werklike probleem waaroor dit gaan, naamlik ’n Skrifvreemde Skrifbeskouing, verder bevestig. Die voetnote maak die omdigting nie meer aanvaarbaar nie. Inteendeel, dit lê juis die Skrifbeskouing grondliggend aan die 2001-omdigting bloot. Dit impliseer dat die gereformeerde belydenis oor die Skrif as Woord van God ingeruil word vir “gemeenteteologie” as verklaring vir die oorsprong van die Skrif. Dit ontken Jesus Christus se eie uitspraak dat die hele Ou Testament, ook die Psalms, van Hom getuig (Lukas 24). Dit aanvaar nie dat die Heilige Gees vir Dawid gelei het om in Psalm 110 van Hom te profeteer nie. Nee, volgens die voetnote “gebruik” die Nuwe-Testamentiese skrywers die Psalms en “gebruik” (sic!) Jesus Psalm 110:1 “met verwysing na Homself”. Om hierdie “gebruik” van die voetnote in die 2003-Psalmboek te verstaan, hoef ’n mens maar net na ander kontemporêre Suid-Afrikaanse verklarings by Psalm 110 te kyk.8 Opvallend is die vermyding van die erkenning van die hele Skrif as Woord, waarvan die oorsprong by God is en die vermyding daarvan om die rol van die Heilige Gees te verreken in die uitleg wat aan Psalm 110 gegee word, in die Bybel in Praktyk asook in Die Bybellennium Eenvolume-kommentaar. In plaas daarvan om Jesus se woorde eenvoudig te glo, dat Dawid deur die Heilige Gees gelei is, word dít verswyg. Daar word volstaan dat Jesus Christus, met verwysing na Psalm 110, ’n “derde interpretasie aan die psalm geheg het” (Bybellennium, bl 682). 9  Die implikasie van hierdie siening is dat Jesus Christus se opmerking oor Dawid en die Heilige Gees nie ernstig opgeneem hoef te word nie; dit word nie as waar aanvaar nie en hoef dus geen rol te speel in die uitleg nie. Die verskuiwing na die ander, Skrifvreemde Skrifbeskouing word nog duideliker geïllustreer wanneer bogenoemde twee uitgawes met die Bybel met Verklarende Aantekeninge van 1958 vergelyk word. Hierin staan die gereformeerde Skrifbeskouing, erkenning van die Skrif as Woord van God en erkenning van die rol van die Heilige Gees in die totstandkoming van die Skrif, nog sentraal. 10

Wanneer Christus se uitsprake oor die profesieë van die Ou Testament nie meer aanvaar word nie, kom nie net die gesag van sy uitsprake oor sy soendood, almag, ensovoorts in gedrang nie, maar inderdaad die hele evangelie en die gesaghebbende openbaring daarvan deur Christus (vergelyk Hebreërs 1). Die “Nuwe Hervorming” trek dan die konsekwensie deur ook die opstanding, ensovoorts te verwerp. Soos in die sestiende eeu gaan dit hier nog steeds oor die vraagstuk van die aanvaarding van die Woord van God as die enigste gesaghebbende bron van ons geloof en van die teologie en oor die Skriftuurlik-begronde verhouding tussen Gees en Woord.

8. Implikasies vir Ons Hele Geloofsbelydenis🔗

Die implikasies daarvan dat ’n mens Jesus Christus se Woord nie as gesaghebbend neem nie, is op verskillende vlakke onberekenbaar groot. Ons hele geloofsbelydenis kom in gedrang. Dit bring ook mee dat die grondslag vir sending wegval, soos wat reeds offisieel deur die Inter-geloofbeweging (waaronder die “Nuwe Hervorming”) verkondig en bevorder word.

9. ’n Teologie Sonder Christus🔗

’n Oppervlakkige teologie, sonder die Woord en ook sonder die primêre bronne, sekulariseer die gemeente. Wanneer die Woord sy primaat in die teologie verloor, verdwyn Christus uit die prediking, uit die kerklied, uit die kerk.11

10. ’n Gereformeerde Kerk moet altyd Reformeer - Terug na die Bron, die Woord🔗

Die begrippe “Reformasie”, “gereformeerd” of “Hervorming(-sdag)”12 word gereeld in verskillende kerklike blaaie soos die Kerkblad, Kerkbode, ensovoorts misbruik; ook die slagspreuk “ecclesia reformata semper reformanda” word as blote emosionele appèl vir onskriftuurlike veranderings gebruik. Dit getuig nie net van ’n gebrek aan dogma-historiese insig nie, maar is ook lynreg in teenspraak met die oorspronklike gebruik van die uitdrukking en in stryd met die gees, bedoeling en taal van die Reformasie. Om te praat van “reformeer” sonder om te sê volgens watter maatstaf, is dus nie trou aan die gebruik van die begrip Reformasie of reformeer nie.

Ook kan die uitdrukking ecclesia reformata semper reformanda nooit losgemaak word van die begrip Reformasie soos gebruik in die sestiende eeu nie. Die begrip Reformasie was op sy beurt direk verbind aan die terug “na die bronne” (ad fontes). By die Reformatore het ad fontes spesifiek na die Skrifte, die 66 kanonieke boeke van die Bybel, die Heilige Skrif (Scriptura) verwys. Dit was nie eers ’n vraagstuk nie. Vir die Reformatore sou daar nie so iets soos “reformare” of “reformanda” wees indien dit nie direk op die Skrif betrek is nie.

Stellings oor Skrifbeskouing en Hermeneutiek🔗

Wanneer Jesus Christus vir die Fariseërs sê dat Dawid van Hom getuig, sê Hy dit nie in ’n voetnoot nie. Hy noem die karakter van Dawid se profesie baie duidelik: Dawid is deur die Gees gelei.

Jesus sê ook nie aan die Fariseërs dat hulle as eerste “hoorders” van sy woorde, op grond van hulle sosiologiese omstandighede, kan besluit of hulle sy woorde net as “gebruik” van die Ou Testament, net as ’n verdere interpretasie addisioneel by hulle voorvaders se (veronderstelde) interpretasie van die Psalm kan voeg nie. Hy sê uitdruklik en duidelik dat dit hier oor die Gees se bedoeling gaan - reeds by die profesie deur Dawid.

11. Die Oorsprong van die Skrif🔗

By eksegese is dit uiteindelik ’n geloofsvraag of ’n mens die oorsprong van die Skrif as Woord by God sien, dit is openbarings-histories, of dat dit slegs histories gesien word. Geen antwoord op hierdie vraag is méér of mínder wetenskaplik nie. Voorstanders van die sosio-historiese eksegese, wat in ’n meerdere of mindere mate die oorsprong van die Skrif histories en nie openbarings-histories wil verstaan nie, is in hierdie aanname nie méér wetenskaplik as diegene wat die oorsprong van die Woord by God bely nie. Inteendeel, die “Nuwe Hervorming” en die hele intergeloof-beweging bewys hoe onwetenskaplik ’n mens is wanneer jy nie wil erken, of dalk nie eers besef dat jy met vooropgestelde vertrekpunte werk nie. Hierdie vertrekpunte het nie met wetenskaplikheid opsigself te doen nie, maar wel met geloof in Christus wat Hom deur sy Woord openbaar.

12. Skrifbeskouing as Geloofsantwoord🔗

Die geloofsantwoord op die vraag wáár die oorsprong van die Skrif is, bepaal by voorbaat met watter vrae na die Skrif gegaan word en is van deurslaggewende betekenis vir die antwoorde wat op die vrae verkry word. As die vraagstelling verkeerd is, kan die antwoord nooit reg wees nie.

13. Skrifverklaring téén die Agtergrond of vanúit die Agtergrond🔗

Waar die Skrif binne ’n gebalanseerde verband teen die agtergrond van die sosio-historiese konteks verklaar word, as een van verskillende aspekte wat by die eksegese in die ontsluiting van ’n teks in ag geneem moet word, sou dit een saak wees. Volgens alle aanduidings word die sosio-historiese metode egter op ’n absolute wyse as dié belangrikste “metode” uitgelig. Nie net die sosio-historiese omstandighede van die eerste lesers word belig nie, maar die sosio-historiese konteks word konstitutief by die totstandkoming van ‘n Bybelse geskrif geag.

Die sosio-historiese eksegese wil nie die Heilige Skrif teen die kultuur- of sosio-historiese agtergrond verklaar nie, maar vanuit daardie agtergrond. ’n Onvermydelike implikasie van só ’n benadering is die oplewing van die ou religionsgeschichtliche skool van byna ’n eeu gelede. Dit hou in dat ’n godsdiensvergelykende verklaring gebied word vir sowel Israel se godsdiens (een van vele soortgelyke ontwikkelings tussen al die buurvolke) as vir die christelike godsdiens wat bloot as Joodse sekte sou ontstaan het. Presies dít word deur die “Nuwe Hervorming” gepropageer (vgl. Muller, P, red. 2002. Die Nuwe Hervorming. Pretoria: Protea). Dít lei op sy beurt noodwendig tot die propagering van intergeloof. Johannes 14:6 word sosio-histories gerelativeer (sien ibid., Spangenberg, bl. 107).

14. Onbybelse Skeiding tussen Vorm en Inhoud🔗

Die sprong tot ’n uitleg van ’n Bybelse skrywer se (sosio-historiese) motiewe as verklaring vir sy (tydgebonde) uitsprake, waarby die deurlopende openbaring van God, die openbaringshistoriese aspek, nie tot sy reg kom nie, doen gewis afbreuk aan die Skrifgesag. Veral waar buite-Bybelse gegewens, dikwels heeltemal onkrities, as deurslaggewend gebruik word by eksegese, selfs téén die ooglopende strekking en sin van ’n Skrifgedeelte in, soos uitgelê deur die grammaties-historiese verklaring, kan die gebalanseerdheid van die sosio-historiese metode bevraagteken word.

In die toepassing van hierdie metode is ’n mens maklik terug by Kuitert se onderskeiding tussen “verpakking” en “Sache” (vorm en inhoud). Die betrokkenheid van die Heilige Gees by sowel die totstandkoming van die Skrif as by die eksegese daarvan, word nie genoegsaam geloofsmatig en teologies verreken nie. 13

15. Kontekstuele Teologie as Ontkenning van God se Openbaring🔗

Wanneer nie slegs die sosio-historiese agtergrond van die eerste lesers in ag geneem word nie, maar ook die sosiologiese omstandighede van die huidige lesers (byvoorbeeld die Grondwet van die RSA of huidige tendense in die samelewing) as finale maatstaf geneem word by die uitleg van ’n teks, het ’n mens nie net te doen met kontekstuele teologie wat ’n ideologiese baadjie aan het nie. Dit is ook in stryd met die gereformeerde belydenis, artikel 7 NGB en uiteindelik met die gesag van Christus soos wat Hy Homself in sy Woord openbaar.

16. Die Skrif as Woord van God en die Heilige Gees🔗

Die gereformeerde teologie maak erns met die belydenis dat die Heilige Skrif die Woord van God is (artikel 3 NGB). Dít veronderstel dat die oorsprong van die Heilige Skrif by God is. Die Heilige Gees het ’n bepaalde, primêre rol by die totstandkoming van die Heilige Skrif. Daarom word as uitgangspunt die eenheid van die Woord van God bely. Dit het bepaalde hermeneutiese implikasies. ’n Belangrike implikasie is die eksegetiese beginsel sacra Scriptura sui ipsius interpres (die Heilige Skrif is vir homself sy eie verklaarder). Daar is ’n keuse vir die openbaringshistoriese eksegese, in plaas van die sosio-historiese eksegese. Hierdie eksegetiese beginsel staan lynreg in teenstelling met ’n benadering dat die finale maatstaf van die eksegese van ’n bepaalde teks(-te) buite die Skrif gesoek moet word, soos in die sosio-historiese konteks.14

17. Biblisistiese Teologie met die Skyn van Sola Scriptura🔗

Die losmaak van die sola Scriptura-belydenis van die tota Scriptura-belydenis (vergelyk ook una Scriptura) lei na ’n biblisistiese, ongereformeerde hantering van Bybeltekste. Dit skep die indruk van sola Scriptura, maar het in werklikheid niks in gemeen met die reformatoriese sola Scriptura nie. Só ’n Skrifhantering maak die Gees los van die Woord 15 deur wel met uitsprake, soos “volgens Skrif en belydenis”, die skyn van sola Scriptura te hê. In die praktyk word die Skrif egter op biblisistiese wyse hanteer; teksgedeeltes of boeke word doelbewus sonder inagneming van, of lynreg téén die strekking van die breër Skrifverband in, hanteer.

’n Biblisistiese hantering van die Skrif is op sy beste aan menslike willekeur oorgelaat. Die volgende voorbeeld illustreer dit. Die sinode sê dat ons nie die Nuwe-Testamentiese uitsprake, ook Christus se uitsprake oor byvoorbeeld Psalm 110, as uitgangspunt kan neem nie. Die Psalms moes omgedig word “soos die eerste hoorders dit gehoor het”. (Dit is dikwels moeilik onderskeibaar van “soos huidige teoloë dit graag sou wou hoor”.) Op ’n biblisistiese wyse, met die skyn van sola Scriptura, moet die vierde gebod nou skielik anders as die ander nege gebooie verstaan word, want, so sê die Sinode (Acta, bl. 486, punte 14 en 15): “Die eis van die Sabbatgebod ontbreek in die Nuwe Testament”. Wat van die eis van Christus oor die Psalms wat op Hom wys? Dié uitspraak word by herhaling eksplisiet in die Nuwe Testament gestel. Dít is die probleem van biblisisme. Die erns met en gehoorsaamheid aan die Bybelse verhouding tussen Ou en Nuwe Testament ontbreek. Vergelyk daarteenoor Calvyn, Inst. 2.10.2: In die Ou en die Nuwe Testament het ons één Evangelie, twee bedienings.

Daar is nog ’n praktiese voorbeeld waar biblisisme in “gereformeerde geledere” sy intog geneem het: Die “leer” kan volgens die Skrif nooit losgemaak word van die Woord, van die verkondiging, van die evangelie en van die eksegese nie. Hierdie onlosmaaklike eenheid tussen “leer” en “verkondiging” bied nie net ’n Bybelse perspektief op die eis na ’n tweede (of meer) erediens(-te) per Sondag nie, maar fundeer ook Skriftuurlik op ’n organiese (gereformeerde) wyse die “leerprediking” (of liewers “onderrigprediking”) tydens die tweede diens op Sondag (Dordtse Kerkorde artikel 68), spesifiek as wyse waarop die kerk opgebou word. Die beweerde teenstelling tussen vryestof-prediking en Kategismusprediking blyk ’n valse teenstelling te wees. Die argumente, al sou daar nie Skrifgronde vir twee (of meer of inderdaad so veel as moontlik) eredienste op ’n Sondag wees nie, blyk biblisistiese antwoorde op die verkeerde vraagstelling te wees.

18. Uiteindelike Resultate van die Sosio-Historiese Metode🔗

Wanneer die sosio-historiese metode tot sy volle konsekwensies deurgevoer word, lei dit uiteindelik noodwendig tot die resultate van die “Nuwe Hervorming”: die verwerping van die Apostoliese Geloofsbelydenis soos wat die artikels van Spangenberg en Wolmarans onder meer bewys. Professor John Dominic Crossan, Fellow van die Westar Institute, is onder meer by die “Jesus Seminar” betrokke. Die sogenaamde “Nuwe Hervorming” kan hierna teruggevoer word. Hy gebruik presies dieselfde uitgangspunt vir sy eksegese as wat die deputate vir die 2001-omdigting gehad het. “Wat hy probeer doen, sê Crossan, is om met eerste-eeuse ore te probeer luister na wat die Bybel sê. Hy probeer vertolk hoe Jesus van Nasaret se tydgenote die boodskappe sou verstaan.” (Beeld, 17 April 2002.) Die deputate sê: “Die kommissies het besluit om die grondteks te volg deur die Psalms te verstaan soos die eerste hoorders dit sou verstaan het” (Agenda, Sinode 2003, bl. 280).

Die Skrifbeskouing grondliggend aan die advies by die 2001-Psalmomdigting deel die benadering van navorsers wat verbind word aan die “Nuwe Hervorming” in dié opsig dat aanhalings van Jesus Christus in die Nuwe Testament by geleentheid beskou word as woorde wat by nalaat deur die betrokke skrywer vir Jesus in die mond gelê is.16

Die implikasies van die sosio-historiese eksegese as belangrike, konstitutiewe skakel tot die ontstaan en uitleg van ’n teks lei uiteindelik onder andere ook daartoe dat 1 Korinthiërs 15 byvoorbeeld bloot teen die agtergrond van die Joods-Christelike denke van Paulus gelees en verklaar moet word. Daarmee kom die historiese opstanding van Jesus Christus in gedrang, soos ons reeds sien by Wolmarans en ander. As nie aanvaar word dat die Skrifte, waaronder ook die Psalms, histories oor Christus geprofeteer het nie (1 Korinthiërs 15:3,4), waarom moet die res van 1 Korinthiërs 15:3,4, Jesus Christus se sterwe vir ons sondes en sy opstanding aanvaar word? Waarom moet nog sending gedoen en die Woord verkondig word?

Stellings oor die Kerk🔗

19. Die Ware Kerk🔗

Wanneer nie meer erns gemaak word met die belydenis van die kenmerke van die ware kerk soos bely in artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis nie, het deformasie (kerkverval) reeds begin intree

20. Sending🔗

Die eerste kenmerk van die ware kerk, dat die Woord suiwer bedien moet word, veronderstel dat elke kerk, dit is elke gemeente, ’n sendende gemeente is en moet wees.

21. Eenheid Slegs Rondom en Onder die Woord🔗

Sinodebesluite wat nie volgens die Woord is nie, verskeur die bruid van Christus, sy kerk. Skeuring vind nie net binne dieselfde tydsgewrig en dieselfde geografiese gebied plaas nie. Skeuring kan ook oor die eeue en oor lands- en kontinentsgrense heen plaasvind – met die kerk van ander tye en oor die wêreld heen. R Schlenzka skryf hieroor: “die kerk van (Christus) mag nie breek met die kerk van ander tye en op ander plekke, deur homself hoër as die Woord en die uitdruklike gebooie van die Here te stel nie.” In artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely ons die volgende: Die valse kerk “skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.”

Wanneer besluite op kerklike vergaderings geneem word sonder om dit deeglik en grondig aan die Skrif en belydenis te toets, en dit dan verder net op grond van die meerderheid afgedwing word, word die eenheid van die kerk sistematies afgetakel. (R Schlenzka, 1995.)

22. Eis van Gehoorsaamheid🔗

Die (meestal) ongefundeerde en onbybelse onderskeiding van wesenlike en middelmatige sake - waar dit met leer, diens en tug verband hou - het vernietigende gevolge vir die plaaslike kerke en vir die geloofslewe van individuele gelowiges. Vele beroepe op Calvyn in hierdie verband is ongegrond en hou wetenskaplik-histories nie water nie. Die eis van gehoorsaamheid verdwyn heeltemal op die agtergrond. Intussen is verskillende sinodebesluite, waarvan die belangrikste die aanvaarding van die 2001-Psalm-omdigting is, nie middelmatig van aard nie. Dit raak die hart van ons geloofsbelydenis, die tekens van die ware kerk (artikel 29 NGB) en die wese van gereformeerd-wees.

23. Die Roomse Idee van “Kundiges” versus die Gereformeerde Belydenis van die Verstaanbaarheid van die Skrif🔗

Die gedagte dat sogenaamde “kundiges” kerklike sake moet beoordeel en daaroor moet besluit, hetsy op sinodes of andersins, is uit en uit Rooms. 17

Daarteenoor glo en bely ons die duidelike verstaanbaarheid van die Skrif (perspicuitas), die eenvoud van die evangelie. 18

24. Ouderlinge as Opsieners, nie Kundiges nie🔗

Die Here het ouderlinge as herders en as opsieners oor die gemeente aangestel (Handelinge 20:28); nie sogenaamde kundiges nie; ook nie sogenaamde sinodale kundiges nie.

25. Fundamentalistiese Misbruik van die Kerkorde🔗

Die kerkorde, byvoorbeeld artikel 31, word in baie gevalle op ’n fundamentalistiese wyse uitgelê. Die konfessionele en historiese word verwaarloos deurdat ons belydenis in artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis verwaarloos word; die begrip “tensy” van artikel 31 KO word verkeerdelik as “totdat” geïnterpreteer en verabsoluteer. Hiermee is ons terug by ’n Roomse dwaling wat die gesag van die kerk, al is dit net tydelik tot ’n volgende sinode, hoër ag as die gesag van Christus in sy Woord. Dit dui op ’n institusionalisering van die kerk waarteen WD Jonker waarsku.19

Daarom is daar toenemende frustrasie onder lidmate, omdat beswaarskrifte slegs “tegnies” hanteer word, sonder dat geluister word na die saak. Daar is dus ’n toenemende onkunde en onwilligheid in die GKSA om met die kerkorde die Woord te bedien.

26. Onordelike Hantering van Artikel 69 van die Kerkorde🔗

Sinode 2003 het artikel 69 KO met die aanvaarding van die 2001-omdigting de facto genivelleer, nie net deurdat die afsonderlike omdigtings nie aan die Woord getoets is nie (in stryd met staande sinodebesluite hieroor), maar ook deur die invoering van die “vrye lied” onder die skynnaam van Psalmomdigting.

27. Sogenaamde Kampe of Groepe in die GKSA en die Negende Gebod🔗

In werklikheid is daar geen sprake van twee groepe of strominge in die GKSA, soos wat allerweë voorgegee word nie. Hierby word dikwels etikette toegedig – in stryd met die negende gebod. Dit sou meer korrek wees om eerder, oor die algemeen beskou, drie groeperinge te onderskei. Twee groepe bestaan uit onderskeidelik die (bewuste of onbewuste) voorstanders van twee verskillende, teenstrydige Skrifbeskouings (met variasies tussenin). Verder is daar ’n (groot) groep lidmate, ouderlinge en predikante wat óf nie self bereid is om te beoordeel nie, óf nie besef dat die gereformeerde Skrifbeskouing en daarmee die hele gereformeerde belydenis (insluitende die ekumeniese belydenisse) op die spel is nie. Hulle laat hul deur ander faktore, byvoorbeeld die meerderheid op kerklike vergaderings, buite-kerklike druk, of sogenaamde “kundiges”, lei. Die twee Skrifbeskouings wat mekaar grotendeels uitsluit, is aan die een kant die gereformeerde Skrifbeskouing wat volgens artikels 3-7 NGB bely dat die Skrif as geheel die Woord van God is, en aan die ander kant ’n Skrifbeskouing wat die eenheid van die Woord losgelaat het deur die uitsprake van Christus Self, asook ander uitsprake in die Nuwe Testament oor die Messianiteit van die Psalms, nie as gesaghebbend te aanvaar nie. Die voetnote wat by nalaat bygevoeg is en alle rasionalisasie daarmee saam, neem nie die onderliggende Skrifbeskouing wat as grondslag vir die 2001-omdigting gedien het weg nie. Dit bevestig inteendeel prinsipieel sowel as materieel laasgenoemde Skrifbeskouing.

28. Sing tot die Here ’n “Nuwe Lied” - slegs Moontlik in Christus🔗

Die “nuwe lied” (vergelyk Psalm 98) van die gereformeerde kerke, wat slegs in Christus nuut is - op geen ander wyse nie - word deur die aanvaarding van die 2001-omdigting ingeboet vir die ou lied wat hoogstens in ’n sinagoge of moskee 20 kan deug, omdat dit sonder Christus is. Wat sou die rol van die druk vanuit “intergeloof”-kant, soos in die onderwys, op sienings in ons kerke wees?

29. Die Bevraagtekening van Ons Geloofsbelydenis🔗

Die Nuwe Hervorming bevraagteken geloofs- en historiese waarhede, soos Christus se geboorte “uit die maagd Maria”. Dit is ook op die onlangse NG-Streeksinode Noord-Transvaal bevraagteken. Die bevraagtekening van Christus se soendood asook sy opstanding “uit die dood”, soos wat dit in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely word, is ook glad nie nuut nie. Wat wel nuut is daaraan, spesifiek in Suid-Afrika, is die radikale, openlike verwerping van sentrale geloofsartikels onder die skyn van wetenskap en die groot nuuswaardigheid wat daaraan verleen word. In gesekulariseerde state soos in Wes-Europa is die kritiek teen hierdie geloofsartikels, om die waarheid te sê, lankal “ou nuus”. Die wortels daarvan kan sover as in die agtiende eeu (vergelyk die werk van Sigmund Jakob Baumgarten, 1706-1757 en Johann Salomo Semler, 1725-1791) en die negentiende eeu (vergelyk Ferdinand Christian Baur, 1792-1860 en David Friedrich Strauß, 1808-1874) teruggevind word.

30. Teologie en die Kerk🔗

Wat vandag in die teologiese lesinglokaal geleer word, word môre van die kansels af verkondig. Teologie as sodanig is nie slegs teoreties of iets wat nie direkte gevolge vir die kerk van Christus het nie. Gereformeerde teologie as Woord-teologie is niks anders en wil niks anders wees as Woordbediening nie. Daarom kan en mag daar nooit ’n skeiding tussen kerk en teologie wees nie.

31. Gees en Woord🔗

Die Gees mag nie uitgeblus word nie; die profesieë (Woord) mag nie geringskat word nie (1 Tessalonicense 5:19, 20). Die dag as ’n gemeente nie meer voor die Woord van God alleen buig nie, die dag as die kerk van Christus nie meer die Woord alleen gehoorsaam nie, die dag as die Woord alleen nie meer verkondig word nie, is só ’n kerk nie net nie meer gereformeerd nie, maar dood. Só ’n kerk wat ongehoorsaam is aan die Woord en daarom die gloeiende kole van die Gees uitblus, is inderdaad ’n dooie kerk, “al het hulle die naam dat hulle lewe” (Openbaring 3:1, 10).

Slotstelling🔗

32. Christus se Opdrag🔗

Ons Here Jesus Christus is nie net Hoof van sy kerk nie. Hy is ook die goeie Herder (Johannes 10) wat almal wat vermoeid en belas is na Hom toe uitnooi. Hy het ons met sy kosbare bloed vrygekoop. Hy eis dat ons mekaar sal vind en dat ons rondom sy Woord één sal wees. Daar is nie ’n ander opsie nie. Dit is ’n opdrag van ons Koning. Eenheid slegs in Christus en sy Woord. Hy verwag niks minder van ons nie. Hy beloof sy teenwoordigheid deur sy Gees, dáár waar sy Woord is, totdat Hy weer kom.

Endnotes🔗

  1. ^ Volgens Melanchthon, vgl. Brecht; Lohse. 
  2. ^ Vgl. Luther, WA, 95 Thesen; vgl. verder Lohse: 61. 
  3. ^ Vgl. W. van ‘t Spijker, W. 2001. Calvin. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht. 
  4. ^ Vgl. W. Balke oor Eduard Böhl.
  5. ^ Sodra ’n mens eksegeties of teologies vasdraai, word na die oplossing gegryp om ’n saak as “middelmatig” te verklaar, ongeag die vraag of dit van God se kant af middelmatig is (vergelyk R Schlenzka, 1995). 
  6. ^ Wanneer nié aanvaar word dat dit Christus is wat in Matthéüs 22:43 praat nie, óf wanneer Jesus Christus nié geglo word wanneer Hy sê dat Dawid in Psalm 110 deur die Heilige Gees gelei is om van Hom (Christus) te getuig nie (Matthéüs 22:43; Markus 12:35,36), kom die hele evangelie, die hele belydenis, ons hele geloof in gedrang. Wanneer nié aanvaar word dat dit Christus is wat in Lukas 24:44 praat nie, om watter rede word sy opstanding (ook Lukas 24) dan nog aanvaar?
  7. ^ Agenda Nasionale Sinode 2003, bl 280.
  8. ^ ’n Verdere negatiewe implikasie van die voetnotas is die idee dat net party Psalms Messiaans is. Dit is ’n uitvloeisel van ’n biblisisme wat toenemend die teologie in die algemeen en die gereformeerde teologie in die besonder begin oorheers. 
  9. ^ Die digter van die 2001-omdigting het uit eie inisiatief en by verskillende geleenthede, met ’n beroep op sy teologiese adviseurs, kategories verklaar dat hierdie omdigting die Psalms nie Messiaans sien nie. Hulle aanvaar dus nie Christus se eie uitsprake oor die Psalms (byvoorbeeld Matthéüs 22:43) as gesaghebbend nie. Dít verraai ’n bepaalde ongereformeerde Skrifbeskouing.
  10. ^ Onderliggend aan die voetnotas se formulering lê ’n vorm van biblisisme.
    Nie net die Psalms nie, maar ook die Nuwe Testament word buite konteks van die eenheid van die kanon slegs as afsonderlike religieuse tekste gesien. Alle pogings om die 2001-omdigting by nabaat teologies te probeer goedpraat of regverdig, is futiel weens die verskuiwing in Skrifbeskouing wat ten grondslag daarvan lê. Dit het nie net gelei tot die ontkenning van die Messianiteit van die Psalms in beginsel nie, maar ook tot ’n onnoukeurige omgang met God se Naam en met die inhoud van die Psalms. Ter illustrasie: wanneer die Skrif nie meer in sy geheel as Woord van God gesien word nie, help dit nie om die gereformeerde belydenis by nabaat weer geforseerd te probeer inlees nie. Die verleentheid van die 2001-omdigting, waar groot dele van die Woord op grond van menslike willekeur uitgelaat is, kan nie deur die voetnotas verdoesel word nie. ’n Voorbeeld hiervan is waar Psalm 31:6 (kruiswoorde van Jesus) in die 2001-omdigting uitgelaat is. Die toepaslike voetnota by die 2001-omdigting moet dus noodwendig ook ontbreek. Indien die Psalms slegs “gebruik” (voetnote in 2003-Psalmboek; Bybel in Praktyk) of geïnterpreteer sou word (Kerkblad met verwysing na Psalm 110; Bybel in Praktyk; Bybellennium) verval die grond van die totale verkondiging van sowel die evangelies as Handelinge asook die res van die Nuwe Testament. Die apostels sluit in hulle verkondiging konsekwent aan by die Ou Testament. In 1 Korinthiërs 15:3,4 staan dat Christus, “volgens die Skrifte” (Ou Testament), vir ons sondes gesterf het, begrawe is en opgestaan het. Dit is dan ook hoogstens “interpretasie”. Nie net die gronde vir ons hele belydenis berus dan bloot op interpretasie deur mense lank gelede nie, maar ook ons belydenis self word ‘n blote konstruksie, sowel wat die versoeningswerk van Christus en sy opstanding betref, asook ons totale geloof in God en ons geloofsbelydenis van hierdie geloof in God Drie-enig. Wanneer die Nuwe-Testamentiese openbaring, dat die profete, onder meer Dawid, deur die Gees gelei is, nie aanvaar word nie, maar in plaas daarvan deur middel van voetnote net na Nuwe-Testamentiese aanhalings uit die Ou Testament (Psalms) verwys word, is die gereformeerde Skrifbeskouing in sy mees grondliggende faset, naamlik die erkenning van die eenheid van die hele Skrif as Woord van God verlaat. Daarmee kom die diepste hart van die Reformasie, die solo Christo-, die solo Verbo en die sola Scriptura-belydenis, in gedrang.
  11. ^ Om by die inwyding van die sogenaamde “Nuwe Psalmboek” op 26 Oktober 2003 in die Stadsaal van Pretoria te sê ons sing tot lof van God Drie-Enig, is eenvoudig oneerlik. Die digter kan nie op grond van teologiese advies aan die een kant wil sê dat die Psalms nie van Christus sing nie - dit word deur die deputate verdedig - terwyl agterna skielik gemaak word of Christus stilletjies in die omdigting teruggebring is.
  12. ^ Onder die vaandel van Hervormingsondag word ’n teologie en Skrifbeskouing in die kerke ingevoer wat lynreg in stryd met die wesenlike van die Reformasie is. Die verband tussen 31 Oktober 1517 en Hervormingsondag 2003 lê anders as wat tydens die inwydingsgeleentheid van die sogenaamde “Nuwe Psalmboek” op 26 Oktober 2003 in Pretoria beweer is. Daar is gepoog om ‘n direkte vergelyking tussen 31 Oktober 1517 en 26 Oktober se inwyding van die “Nuwe Psalmboek” te tref.
    Waar die kerke van die Reformasie met hulle kerksang ná eeue weer van Christus en tot Christus kon sing, is daar met Hervormingsondag 2003 ’n ingrypende verskil – ná eeue is Christus, dié slag doelbewus, uit die sang van gereformeerde kerke gehaal.
  13. ^ Dis één saak om moeite te doen met die historiese (nie net sosiologiese nie) agtergrond van die geadresseerdes van ‘n Skrifteks. Wanneer hierdie, dikwels bevraagtekenbare, sosiologiese projeksies of agtergrond egter as konstitutief ten opsigte van die skrywer se aktiwiteit gesien word, is dit nie net in stryd met die selfgetuienis van die Woord nie, maar wyk dit ook totaal van die gereformeerde belydenis oor die Skrif as Woord van God af.
  14. ^ Die RGG, 4. Aufl. praat van ‘n “[...] zunehmende[n] Einfluß sozial. u. literaturwiss. Fragestellungen [...]” (RGG/4, d. 2, Art.: Exegese, Sp. 1785). “Die antike Alltagswelt in ihren hist., rel., polit. und wirtschaftlichen Dimensionen wird ebenso wie die sprachliche Eigenwelt der Texte zu einem maßgeblichen Faktor des Verstehens.” (ebd.) 
  15. ^ Vgl. Calvyn, brief aan Sadoletus, OS I,465 e.v. 
  16. ^ Skrywe van een van die adviseurs vir die omdigting.
  17. ^ Reeds Kardinaal Sadoletus was in 1537 ’n voorstander daarvan, toe hy geskryf het: “Omdat daar baie verskillend oor die verdorwe en die suiwer godsdiens geoordeel word en die menings van mense daaroor, veral deesdae, verdeeld is - die een dink sus en die ander so - moet dit voldoende wees wanneer elkeen dit wat homself eerste aanbied om te glo met ’n onbedorwe gemoed nader en sy eie oordeel aan die oordeelsvermoë van meer geleerde en kundige persone oorlaat.” (OS I, 449)
  18. ^ Dit is só oor en oor deur Calvyn beklemtoon. In antwoord op die Roomse standpunt sê Calvyn in sy brief aan Sadoletus dat geen “kundige” of “geleerde” nodig is om die Woord van God te verstaan nie “want elke gelowige het die swaard van die Here (Gees), die Woord van God (vergelyk Efésiërs 6:17)”.
  19. ^ W.D. Jonker.  1978.  Om die Regering van Christus in Sy Kerk.  Pretoria: UNISA.
  20. ^ Die Koran erken onder meer die Psalms as “openbarings van God” (Wilson, 1982:315), wat natuurlik dan nie die God van die Bybel is nie, want dit is sonder Christus. C Wilson, Die Koran. 1982. In Godsdienste van die wêreld. Struik. bl 315, 316.