Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Is die Bybel 'n Eenheid?

Bybel

’n Gereformeerde Skrifbeskouing is kenbaar aan die wyse waarop die Bybel beskou word. Die Gereformeerde tradisie lê steeds baie klem op sowel die gesag as die eenheidskarakter van die Bybel. Waar die gesag van die Bybel bevraagteken word, word die Bybel ook dikwels gesien as ’n fragmentariese bundel – as brokstukke van getuienisse van mense. Die Bybel word ook in verskillende teologieë opgebreek – soos van Paulus, van Johannes en van Lukas. Sou daar verskillende mekaar weersprekende fragmente of teologieë wees, dan gaan die eenheidskarakter van die Bybel verlore. Sowel by Luther asook by Calvyn vind ons in hulle eksegese sterk nadruk op die eenheid van die Skrif. Deist wil beweeg op die pad van ’n Gereformeerde Skrifbeskouing maar ontken hierdie eenheid.

Joodse Invloede by die Reformatore🔗

Deist erken dat manne soos Calvyn en Luther nie gehuiwer het om ’n probleem in die Bybel aan te merk wanneer hulle dit raakloop nie (p. 53). Tog het hy probleme met die metode van Bybelverklaring wat deur die Hervormers gebruik is. Die vraag is wel of sy oordeel oor die Reformatore heeltemal billik is. So beweer Deist dat die Hervormers nog nie geweet het van ’n onderskeid tussen verskillende soorte verhalende stof en verskillende soorte poësie nie. Dit is darem te erg! Wie Calvyn se kommentare op Génesis, die Psalms of Daniël lees, kom tot ’n ander konklusie.

Natuurlik was dit so in die tyd toe die Hervormers hulle navorsing gedoen het, dat die ou Nabye Ooste nog ’n onbekende gebied was. Hulle kon dus nie kennis dra van Babiloniese skeppingsverhale, ’n vloedverhaal of ’n Mesopotamiese wetskodeks nie. Voortgesette navorsing na die Hervorming het dit eers aan die lig gebring. Dit kan ons natuurlik die Hervormers nie verkwalik nie. Nou gaan Deist egter te ver as hy by die Reformatore ’n Skrifbeskouing en ’n Skrifhantering bemerk wat hulle van die Joodse rabbi’s geërf het. Die groot Reformatoriese teoloë het volgens prof. Deist hulle eksegetiese opleiding by Jode gehad, die destydse kenners van Hebreeus, en so het die Joods eksegetiese praktyk in die Hervormde wêreld ingang gevind!

Die Organiese Eenheid van Wet en Woord🔗

Dit is ’n goeie, beproefde Gereformeerde metode van Bybeluitleg om Skrif met Skrif te vergelyk. Maar dit sou eintlik Joodse praktyk wees – want dit is tipies rabbyns om die Bybel as ’n organiese eenheid te sien. Die Joodse rabbi’s het geglo dat die Wet van Moses ’n organiese geheel uitmaak. Daarom kom Deist met die stelling: “In sekere opsigte is ons manier van Skrif met Skrif vergelyk naby familie van hierdie Joodse praktyk” (p. 106).

Daar is volgens hom wel ’n deurlopende boodskap in die Bybel. Maar om nou Jesaja met Paulus te wil verklaar en Moses weer met ’n vers uit die boek Ester – dit is te erg! Skrifnavorsing het mos aangetoon dat ons in die Bybel ’n verskeidenheid het: van tekste, van literêre vorms, van outeurs, van style, van verwysingsraamwerke, van sienings en oortuigings. Ons moet egter teenoor Deist opmerk dat die Reformatore werklik al van hierdie groot verskeidenheid geweet het maar dit hef tog nie die eenheid van die Bybel op nie. Maak dit die Bybel fragmentaries? Die Bybel bied homself as ’n eenheidsboek aan. Die eenheid van die Bybel is in Christus te vinde. Die Reformatore het ons aandag weer daarop gevestig. By Calvyn vind ons ’n hele reeks argumente om aan te toon dat die Bybel in sy groot verskeidenheid tog ’n hegte eenheid vorm. Deist se absolute vertroue in die resultate van die wetenskap skep daarom die indruk dat daar van die betroubaarheid van die Bybel maar min oorbly – want die Bybel is ’n boek wat homself op baie punte sou weerspreek.

Die Heilige Gees en die Geloof🔗

Deist besef die gevaar dat jy met so ’n benadering van die Bybel jou geloof kan verloor. Hy wil self beslis nie die rigting van die liberale teologie uitgaan nie – omdat hulle die verband tussen Bybel en Heilige Gees, tussen Bybel en Woord van God heeltemal deursny. In sy poging om op die regte pad te bly, gryp Deist in sy boek na die Gereformeerde belydenis. Hy haal art. 5 van die NGB aan en lig dan – dit is besonder opvallend – die gedeelte uit wat handel oor die getuienis van die Heilige Gees in mense se harte. Maar jammer genoeg gee Deist nie aandag aan die vervolg van dieselfde artikel nie waar bely word oor die Bybel: “en omdat hulle (hierdie boek, die Bybel) ook die bewys daarvan in hulleself het”. Deist gaan beslis aan die selfgetuienis van die Skrif verby. Hy soek dit in die ervaring, in wat die Heilige Gees ons laat ondervind. Hy praat van die kerk se ervaring en van die duidelike aanraking van die Gees. So weet mense tog (sê hy) dat die Bybel se boodskap waar is – ten spyte van teenstrydighede en sy menslike eienskappe – deur die getuienis van die kerk en oortuiging van die Gees in gelowiges. En hulle weet dat Jesus die opgestane Here is, net omdat Christus, in hulle leef en die Gees ons oortuig (kyk p. 64).

Duif🔗

Terug in die 19e Eeu🔗

Ongelukkig bring Deist ons nie by ’n Gereformeerde Skrifbeskouing uit nie. Hy gaan met ons terug na die vorige eeu. Soos die Etiese Teologie in die 19e eeu, verkies hy ook om deel te neem aan die histories-kritiese navorsing van die Bybelsender om die radikale konsekwensies van die liberale teologie te aanvaar. Hy reken, soos De la Saussaye en Gunning, dat die innerlike oortuiging van die Gees van God sekerheid bied. Die innerlike wese is die plek waar God Homself deur sy Gees openbaar. Daarom staan die godsdienstige ervaring in die Etiese Teologie sentraal. Herman Bavinck het egter al oortuigend aangetoon dat by die Etiese rigting die Bybel op die ou end gedevalueer word. Dit is slegs ’n oorkonde van die Christus-openbaring. So het die Etiese Teologie in die vorige eeu die kerk met ’n versnipperde Bybel laat agterbly. Die Gees word van die Woord ontkoppel. Met name geld dit van die jonger Etiese Teoloë. Een van hulle, dr. J.H. Gerretsen, wil die opstanding van Christus bewys met ’n beroep op die ervaring. Hy maak selfs die stelling: “As daar nie ’n Bybel was nie, sou die feit van die opstanding ewe kragtig wees as wanneer daar wel ’n Bybel was”. Ek kan hier net verwys na die proefskrif van prof. K. Veenhof (Revelatie en inspiratie), waar die spanning tussen die Gereformeerde teologie van Kuyper en Bavinck en die Etiese Teologie beskryf word.

Op Pad na ’n Gereformeerde Skrifbeskouing?🔗

Die pad waarop Deist ons met sy jongste boek wil lei, is dus nie ’n pad na ’n Gereformeerde Skrifbeskouing nie. Ons waardeer die erns waarmee hy die saak wil aanpak en die kundigheid wat hy in sy boek openbaar. Maar hy bring ons helaas nie by ’n Gereformeerde Skrifbeskouing uit nie.

Die geskiedenis van die teologie van die 19e eeu leer ons reeds dat so ’n pad ’n doodlooppad is. Die teenoorgestelde van wat Deist beoog, gaan gebeur.

Die kloof tussen kansel en kateder word alleen maar groter!