Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die Dagindeling van 'n Bejaarde

oud wees🔗

Oud Word en Oud Wees🔗

Daar is 'n gesegde wat lui: dis mooi om oud te word, maar dis moeilik om oud te wees. Elke mens verlang na 'n hoë ouderdom. Daar is niks mee verkeerd nie. Die digter van Ps. 102 het gebid: "My God, neem my nie weg in die helfte van my dae nie" (vs.25). Maar ouderdom het sy eie probleme. Dikwels is dit die periode van hulpeloosheid en eensaamheid. Die liggaamskragte het afgeneem en baie mense rondom ons het reeds van ons heengegaan. Hulpeloos en eensaam het jy agtergebly. Die dae is leeg en eentonig.

Die Bejaarde Digter🔗

In Psalm 71 ontmoet ons 'n bejaarde digter. Hy is oud, hulpeloos, verstote en boonop bedreig en vervolg. Hy wys in sy gedig op die tipiese verskynsel van die ouderdom: my krag is gedaan (vs.9). Die krag van die gehoor en die skerpte van blik is nie meer daar nie. Hy weet hy is nou oud en grys (vs.18). Maar hy vertel vir ons hoe hy sy dag ingedeel het.

Die Digter is Besig met die Verlede🔗

Kenmerkend vir elke bejaarde is, dat hy terugkyk. In gesprekke met ou mense tref dit altyd hoe hulle besig is met die verlede. Onlangse gebeure gaan dikwels by hulle verby, maar wat hulle in hul jong jare beleef het, staan nog helder voor die gees. Ons kan op twee maniere met die verlede besig wees. Jy kan terugkyk na vergange se dae met 'n gevoel van weemoed: dis nou vergoed verby. Dan voel jy soos 'n kind. Die koek is klaar opgeëet en nou is daar niks meer oor nie. Maar jy kan ook na die verlede terugkyk met 'n gevoel van dankbaarheid. Dit doen die digter van Psalm 71. Daarmee vul hy sy dag. Die digter kyk nie net na wat hy vroeër alles beleef het nie, maar hy sien sy lewenservaringe in die lig van God se trou. Die Here, die God van die verbond was reeds daar toe hy gebore is (vs.6). Van sy jeug af aan het hy op die Here vertrou (vs.5). Noudat hy oud geword het, is hierdie God nog altyd sy verwagting (vs.5). Hy het van sy God onderwys ontvang van sy jeug af (vs.17).

Die Lofprysing van God🔗

Hierdie ou man praat net goed van God. Die Here was vir hom soos 'n rots, 'n bergvesting (vs. 3), 'n magtige toevlug (vs.7), 'n Onderwyser (vs.17), 'n Helper in die nood (vs.20). Daarom is hierdie Psalm deurtrek van lofprysing. Die digter wil God loof, hy wil psalmsing, hy wil jubel en hy wil God prys (vs.8, 22-24).

Die Digter se Dagtaak🔗

Hierdie ou man voel nie veroordeel tot niks doen nie. Hy besef daar lê nog 'n groot taak vir hom voor om af te handel. Hy bid of die Here hom tog nie wil verlaat nie, want hy wil so graag aan die volgende geslag, aan almal wat sal kom God se arm en God se mag verkondig (vs.18). Hierdie ou man kyk nie net terug nie, hy kyk ook vooruit. Hy is nie net met homself en die verlede besig nie, maar ook met die jong mense, met die toekoms. Hy dink aan die jong mense, die jeug, die geslagte wat kom. Hulle moet ook hoor van God se arm en van sy mag. Arm en mag, dis twee woorde vir dieselfde saak. Hierdie twee woorde sien op God se daadwerklike hulp, op sy bystand in ons nood.

oupa en kleinkinders

'n Vol Dag🔗

So kan ook die dag van die ouderdom 'n vol dag wees. Vol van herinnerings waarin veral die trou van die Here in gedagte gehou word. Maar ook vol van gebed en van getuienis. En dan ook vol van geloof en vertroue. Die Here, die God van die verlede wat my swaar laat kry het, maar my in tye van bange nood en selfs watervloede gehelp en gered het. Hy is ook die God van die toekoms. Kyk hoe lyk die vol dag van hierdie ou digter. Hy getuig dit self, want hy praat twee keer oor sy dagindeling: "My mond is vol van u lof, die hele dag van u roem" (vs.8) en "Ek sal die hele dag praat van u verlossingswerk" (vs.24). Op hierdie wyse het ook die ou dag sy eie bekoring. By al die beperkinge van die ouderdom kan dit tog 'n vol dag wees.