Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Die Derde Sakrament

Dalk die mees fatale misverstand rondom die evangelieverkondiging, het te make met ons begrip van dit wat 2000 jaar gelede op Golgota gebeur het. Wat presies het op daardie Goeie Vrydag gebeur toe die Vader Sy Seun as versoening van ons sondes geoffer het? Het God die Vader daar (op Golgota) slegs die moontlikheid vir ons redding bewerkstellig? Of, het Hy ons dáár daadwerklik gered? Anders gestel. Het God - deur Christus se sterwe - slegs die moontlikheid vir alle mense geskep om met Hom versoen te word mits hulle hul kant bring en hulle samewerking gee (deur tot bekering te kom)? Of, het God deur Sy Seun se dood, ons daadwerklik gered sodat ons dit slegs uit dankbaarheid mag glo (Sola Fide)? Glo ons dat ons gered is of glo ons dat ons gered is omdat ons glo? Die verskil is nie gering nie. Dit maak die verskil tussen lewe en dood, tussen twyfel en sekerheid.

Die Skrif leer duidelik dat God die goddelose regverdig (Rom. 4:5). Hy red nie die bekeerdes of berouvolles of wedergeborenes of keuse-makendes nie. Nee, terwyl ons dood was in sonde, het God ons deur Sy Seun op Golgota gered. Dáár het Hy ons skuld afgeskryf (Kolos 2: 14). Dit is nie net “objektief” afgeskryf nie. Dit IS afgeskryf. Die geloof omhels dit as mosterd na die maal. Dit klink inderdaad té goed om waar te wees. Die gevalle menslike natuur voel instinktief dat hierdie Evangelie té eenvoudig is. Só maklik kan die verlore sondaar tog nie gered word nie. Daar moet iets meer wees. Ja, deur die sakramente van doop en nagmaal verseker die Here ons dat Hy ons op Golgota gered het en dat ons dit moet glo. Maar, die menslike natuur soek na ’n derde sakrament, ’n ánder vashouplek naas die Beloftewoord van God. En daardie vashouplek is in die mens self, in die vrome mens se hartsbelewing! Die gedoopte mens mag nie net God se Woord omhels dat hy/sy op Golgota gered is nie. Nee, sê nou net dit is ’n valse sekerheid? Sê nou net dit is nie genoeg nie? Die duiwels glo immers ook! (Jak 2:19). Hoe maklik kan ’n mens met ’n ingebeelde hemel in die hel beland! Daar is tog iets soos 2 soorte geloof: ’n ware en valse. Daar is mos 2 Verbonde: ’n inwendige en uitwendige. Daar is 2 soorte roepings: Innerlik en uiterlik. Daar is 2 soorte gelowiges: vals en eg. Daarom klink die Bybelse Evangelie van genade té maklik. Dit is beter dat die mens liewer in onsekerheid bly totdat die derde sakrament gevind is: ’n Voelbare, aanduibare hartsbelewenis wat die bewys is dat ek uitverkies is. Dán sal ek volle sekerheid hê!

Op hierdie manier is baie kerkmense op soek na ’n gevoelvolle geloofsbelewing. Dít moet die finale teken (vashouplek) wees dat hulle gered is. Die nadruk lê nie op God se deur-die-doop-gesertifiseerde-beloftewoord nie, maar op die mens se bekeringsweg waarin die gloed en vuur van die Gees gevoel word. Die fokus verskuif dus van God na die mens. Dit gaan nou oor die mens se innerlike. Dit gaan oor die voorwaardes waaraan eers voldoen moet word om ’n opregte gelowige te kan wees. Dit wat Christus op Golgota gedoen het, is maar net iets objektief. Wat saak maak is dit wat die Gees in jou doen. Voordat jy tot geloof kom, moet jy eers diepgaande selfondersoek doen om te kyk of daar kentekens van die Gees se werk in jou hart is. Jy moet grawe in jou eie innerlike, op soek na die derde sakrament. Dit is die voorwaarde vir geloof. In die proses van selfondersoek moet jy verbrysel word deur sondebesef en skuldgevoelens. Jy moet jou sondelas voel. Jy moet jou ellende erg besef. Jy kan nie tot geloof kom alvorens jy nie by die rand van die hel was nie. Hierdie sondebesef moet eg wees. Dit moet aan sekere kwaliteite voldoen. Dit mag nie oppervlakkig wees nie. Eers dán kom die groot moment van die bekering. Dit moet momenteel plaasvind. Jy moet die dag en datum kan aandui. Die bekering moet ook volgens sekere stappe verloop. Dit moet so eg moontlik wees. Daar moet berou wees. Indien jou bekering nie volgens hierdie kriteria plaasvind nie, is jy onder verdenking.

Dink met hoeveel onsekerheid gaan hierdie soeke na ’n derde sakrament gepaard. Want, die mens fokus net op hom/haarself. Hoe sal ’n mens ooit met sekerheid weet wanneer jou innerlike belewenisse werklik eg genoeg is? Hoe sal jy ooit weet wanneer God 100% daarmee tevrede is? Wanneer sal jou kwaliteite ooit goed genoeg wees? Hoe diep moet jou sondebesef wees voordat dit diep genoeg is? Wanneer is jou trane genoeg? Wanneer is jou bekering kragdadig genoeg? Geen wonder dat Maarten Luther die woordjie “genoeg” ’n “duiwelse woord” genoem het nie! Want dit trek die aandag weg van CHRISTUS se genoegsaamheid. Dit beroof jou van alle sekerheid. Dit maak jou blind vir die krag en eenvoud van die ware Evangelie.

Die soektog na die derde sakrament bring ’n mens by die punt van moedeloosheid. Hoe bevrydend is dit om dan tot rus te kom in die Here se vrye genade. Hoe bevrydend om te ontdek dat die getuienis van die doop en nagmaal GEGLO mag word. Dat dit genoeg is!

In doop en nagmaal het God immers Sy belofte, Sy onvoorwaardelike toesegging van die heil aan ons (swart op wit) kom sertifiseer, naamlik dat Hý ons gered het op Golgota - sonder ons samewerking. Wie dit glo (omhels), kom tot rus. Uit so ’n mens se lewe begin dankbaarheidsgehoorsaamheid voortvloei in ’n lewe van heiligmaking. Dit is die sigbare bewys dat die Here se belofte geglo word. Hoe kan ’n mens gelowig ontdek dat jy onverdiend die hel kwytgeskeld is, en nie vervul word met dankbaarheid nie?! Hierdie belofte/toesegging word in ’n neutedop saamgevat (sien Sondag 7 HK) in die bekende Twaalf Artikels. Eintlik is dit ’n twaalfvoudige belofte/toesegging:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde
(God het Homself my Vader gemaak. Ek het ‘n Vader wat almagtig is)

en in Jesus Christus Sy eniggebore Seun onse Here
(Jesus het eiendomsreg op my. Hy het beheer oor my lewe geneem, nie omdat ek dit aan Hom gegee het nie, maar slegs omdat Hy die HERE is! )

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria
(Jesus is die Middelaar tussen my en die Vader. Deur Sy maagdelike geboorte bedek Hy my skuld met Sy onskuld)

wat gely het onder Pontius Pilatus
(Ek sal nie in die oordeel kom nie, want Jesus was in my plek veroordeel voor ‘n aardse regter)

gekruisig is
(Ek is totaal bevry van die vervloeking van sonde - deur Sy kruisiging)

gesterf het en begrawe is
(Ek is totaal bevry van alle skuld - toe Hy gesterf het en begrawe is. Ek hoef niks meer te betaal nie)

en ter helle neergedaal het
(Ek is algeheel verlos van die angs, smart van die hel deurdat Hy ter helle neergedaal het)

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode
(My dood is oorwin en ek het ‘n nuwe lewe ontvang op Paassondag toe Jesus opgestaan het)

wat opgevaar het na die hemel
(Ek het ‘n Voorspraak in die hemel en my plek is gewaarborg deur Sy hemelvaart)

en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader
(Jesus regeer my lewe in die plek van die eie-ek vandat Hy aan God se regterhand gaan sit het)

van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het
(Ek gaan deel hê aan Sy koms, of ek nog lewe en of ek reeds gesterf het. Ek vrees niks)

Ek glo in die Heilige Gees
(Ek het die Heilige Gees deelagtig geword op Pinksterdag toe die Gees ook aan my gegee is)

Ek glo aan ‘n heilige, algemene, christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges
(Ek het ‘n plek in Sy kerk en in Sy erediens ontvang)

Die vergewing van sondes
(Al my sondes is werklik vergewe)

Die opstanding van die vlees
(Ek sal fisies uit die dood opstaan by die wederkoms)

en ‘n ewige lewe
(Ek het die ewige lewe as geskenk ontvang)

Dit word nie waar wanneer ek dit glo nie..
Dit is waar, daarom mag/moet ek dit glo!