5 bladsye.

Die Diachroniese Uitleef van Ekumenisiteit as Herstel van 'n Bybelse Perspektief op Tyd

Die wortels agter sinchronisme as ’n tyds- en geskiedenisbeskouing🔗

Een van die mees bepalende tendense van die afgelope honderd jare in die Westerse denke was waarskynlik – en is nog – om die werklikheid al hoe meer sinchronies te wil beskou en bestudeer. Sinchronies, dit wil sê binne die raamwerk van ’n uitgebreide ‘vandag’, wat die historiese ontstaan en ontwikkeling van werklikheidsaspekte wat ter sprake kom stelselmatig op die agtergrond skuif. Dít wat die aandag geniet, is hoe dinge op ’n bepaalde tydstip saamhang, funksioneer, uitgeleef word en – wat vandag se gebeure betref – hoe hulle op die mees produktiewe manier vir praktiese doeleindes aangewend kan word. In dié opsig bestaan daar myns insiens min twyfel dat die moderne linguistiek ’n groot rol gespeel het om die werklikheid eerder sinchronies as diachronies te wil bestudeer. Vir die vader van die moderne linguistiek en die strukturalisme, die Geneefse linguis Ferdinand de Saussure (1857-1913), is taal ’n verskynsel wat as ’n geslote sisteem van interafhanklike verhoudings bestudeer moet word. Die ontwikkeling van ’n taal oor die eeue, saam met die kulturele, historiese, etniese of geografiese invloede wat dié taal ontvang het, en wat bygedra het om dit in sy huidige gestalte te giet, was vir De Saussure sekondêre faktore wat, ter wille van metode, eers eenkant gelaat moet word. Die invloed van so ’n vertrekpunt op ander geesteswetenskappe sou later dominant word, soos die toepassing van die sosio-historiese metode op teologiese studies vandag duidelik aantoon. Dit wat in hierdie geval oorwegend tel, is ’n bepaalde en beperkte historiese konteks wat gekonstrueer moet word as ’n geslote sisteem van destydse sosiale en kulturele verhoudings – dus sinchronies. Die rekonstruksie van so ’n sosio-historiese snit van geskiedenis en die betekenis wat daaraan geheg word, word op sy beurt deur die sosio-historiese konteks van die huidige navorser bepaal, dikwels met die inlees en projeksie van hedendaagse religieuse of kulturele behoeftes op die bestudeerde konteks. Op dié manier word twee sinchroniese snitte van die geskiedenis in verband met mekaar gebring wat aanvanklik as heeltemal vreemd tot mekaar beskou was. Geen diachroniese perspektief word aangebied nie, maar slegs ’n toe-eiening van ’n snit uit die verlede deur die moderne analis, meestal ter wille van eie doeleindes. So word die tydelike dimensie van die menslike geskiedenis stelselmatig gereduseer tot ’n ewige teenwoordige tyd wat wissel van een tydperk tot ’n ander een sonder dat ’n diachroniese koers of ’n leidende draad opgespoor kan (en miskien mag) word. In dié opsig het ons al hoe meer te doen met ’n gefragmenteerde tyds- en geskiedenisbeskouing.

Dat die uitleef van die ekumene vandag ook onder hierdie invloed verkeer, is myns insiens nie twyfelagtig nie. ’n Sprekende voorbeeld hiervan onder Afrikaanssprekende Protestantse kerkverbande is die druk wat op die ad hoc Tussenkerklike Kommissie geplaas word om ’n hervertaling van eeue-oue belydenisskrifte te laat verskyn wat ten doel het om die hedendaagse leser in sy huidige sosio-historiese konteks te akkommodeer, ten koste van die oorspronklike bedoeling.

Ekumenisme en kontekstualisering gaan al hoe meer met mekaar gepaard – die bereiking van ’n sigbare eenheid met bykomstige teologiese amnesie is aan die orde van die dag. Voordat ’n mens egter oor ekumenisiteit en die huidige uitleef hiervan begin besin, is dit noodsaaklik om in die dieper motiewe agter hierdie moderne oorbeklemtoning van sinchroniese aspekte (iets wat ek graag sinchronisme sou wil noem) te gaan delf. Duidelik kom ’n tyds- en geskiedenisbeskouing ter sprake, wat krities beoordeel moet word.

Tyd en geskiedenis blyk werklikheidsaspekte te wees wat die mens na die sondeval voortdurend pla. ’n Mens kan jou huidige omstandighede met behulp van nuwe politieke bedelings of nuwe tegnologiese toepassings verander. ’n Mens kan altyd van ’n beter toekoms droom, gebaseer op wat jy vandag vir môre beplan. Maar jy kan nie die verlede verander of selfs herleef nie. Tyd en geskiedenis konfronteer die mens met sy mislukte pogings om ’n ewigdurende menslike koninkryk te bou, hetsy in die vorm van politieke en militêre ryke, kulturele en ideologiese vestings, of selfs in die vorm van kerklike koninkryke wie se tydelike sigbare gestalte verabsoluteer word. Terselfdertyd bly tyd en geskiedenis dimensies wat vir die mens ’n platform bied om sy droom van selfverwesenliking te vergestalt. Sisyphus se mite kan hier in herinnering gebring word: Sisyphus is vir ewig gevonnis – nadat hy uit die koninkryk van die dooies, die Hades, ontsnap het – om ’n enorme ronde klip na die toppunt van ’n berg op te rol; elke keer as die top bereik is, val die klip onder toe en moet Sisyphus weer begin. ’n Diachroniese perspektief op tyd en geskiedenis konfronteer die mens met die pynlike ontdekking dat hy nie in beheer is van sy pogings tot selfverwesenliking nie. Veel erger nog: so ’n perspektief dwing hom om die koers van sy geskiedenis toe te skryf aan ’n transendente hand of faktor wat nie onder sy beheer val nie. Sinchronisme bied in dié opsig ’n maklike ontsnappingsroete: sinchronisme blyk ’n goeie greep op die werklikheid te gee aan diegene wat die hede sonder hindernis na eie goeddunke wil omvorm en in ’n bepaalde rigting wil stuur. Sinchronisme en funksionalisme gaan hand aan hand. So word Sisyphus aangeraai om slegs na besondere en belowende stappe van sy reuse pogings terug te kyk, sonder om die herhaalde val van sy klip te moet aanskou.

Die diachroniese aspek van ekumenisiteit🔗

Ekumenisiteit het eerstens ’n diachroniese stempel voordat dit sinchronies uitgeleef word.
Christene leef uit die eenheid van ‘die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is’ (Judas vers 3b). Hierdie ‘eenmaal’ bepaal terselfdertyd die oorsprong en die onveranderlike karakter van bogenoemde geloof wat op ’n gesagvolle wyse deur die apostels oorgedra is. So ’n formule lei ’n mens daartoe om ’n belydenis uit te spreek wat die opeenvolging van tydperke transendeer. In dié opsig hou hierdie formule ’n permanensie in wat van een of ander teenwoordige tyd getuig. Indien daar egter van ’n teenwoordige tyd gepraat kan word ten opsigte van dieselfde belydenis wat geslagte van christene diachronies – deur die eeue – saambind, moet hierdie teenwoordige tyd gekwalifiseer word as dié van Christus se ewige teenwoordigheid, soos Hy dit self aan sy dissipels belowe het in Matthéüs 28:20: ‘En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld’. Christus se ewigheid is dié faktor wat die tydelike dimensie van die menslike bestaan verenig en wat Sisyphus verlos van die desperate siklus waarin hy vasgevang is. Christus se vleeswording en kruisiging waarborg aan die een kant die goddelike deelname aan die diachroniese dimensie van ons menslike bestaan (soos die belydenis van Nicéa dit beklemtoon), terwyl sy opstanding en hemelvaart aan die ander kant die nodige verlossing bring van ’n dimensie wat na die sondeval in ’n bose kringloop verval het. Slegs die persoon van Jesus Christus, met sy twee nature wat saam bestaan sonder vermenging nóg verandering, sonder verdeeldheid nóg skeiding – volgens die onmisbare Chalcedoniaanse definisie – is in staat om ons tydelike dimensie bevrydend te plaas in ’n diachroniese koers wat Christus se ewigheid as mikpunt het, in plaas van die noodlottige repetisie van ’n doellose siklus.

Dit is merkwaardig om daarop te let dat artikel 27 NGB (oor die Algemene Christelike Kerk), die diachroniese aard van die kerk eers beklemtoon – juis gefundeer op Christus se ewige koningskap – voordat die sinchroniese aspek daarvan ter sprake kom: ‘Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is ’n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie’. Slegs daarna, aan die einde van die artikel, word daar gesê: ‘Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot ’n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig’.

Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 21, vraag en antwoord 54) beklemtoon eers die diachroniese karakter van die kerk, voordat vraag en antwoord 55 die klem plaas op die sinchroniese dimensie hiervan:

‘Wat glo jy van die heilige, algemene Christelike kerk?🔗

Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ’n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ’n lewende lid is en ewig sal bly.’

Die Tweede Helvetiese Konfessie (1566) is nog duideliker oor die diachroniese aspek van die kerk, wat ‘van die begin af’ in God se ewige uitverkiesing sy oorsprong vind. Hoofstuk 17 (oor die heilige en universele kerk van God en haar enigste Hoof) begin so: Aangesien God van die begin af wou hê dat die mense gered moet word en tot die kennis van die waarheid moet kom, is dit so dat daar altyd ’n kerk moes gewees het, steeds moet wees en tot die uiteinde van die eeue sal moet voortbestaan: dit is ’n vergadering van gelowiges geroep en vergader deur die hele wêreld: daarmee bedoel ek ’n gemeenskap van die heiliges, naamlik almal wat – deur die Woord en deur die Heilige Gees – die ware God in Jesus Christus die Verlosser erken en aanbid, en deur die geloof deel het aan al die skatte wat vrylik in Jesus Christus aan ons geskenk is. Hierbenewens is al hierdie mense burgers van dieselfde stad, en lewe onder dieselfde Here, dieselfde wette, en neem saam deel aan dieselfde seëninge (my vertaling, E.K).

Artikel 16 van die Skotse Konfessie (1560) gaan uit van dieselfde vertrekpunt:🔗

Net soos ons in een God, Vader, Seun en Heilige Gees glo, glo ons met die grootste sekerheid dat daar vanaf die begin was, daar nou is, en daar tot die einde van die wêreld sal wees, een kerk, dit is die gemeenskap van ’n menigte van mense deur God uitverkore wat Hom in waarheid aanbid en toegang tot Hom het deur ‘n ware geloof in Jesus Christus, die enigste Hoof van hierdie kerk, wat sy liggaam en sy bruid is. Dié kerk is katoliek, dit wil sê universeel, omdat dáár al die uitverkorenes van alle tye, alle koninkryke, nasies en tale te vinde is, hetsy Jode of heidene. Hulle bly in verhouding en in gemeenskap met God die Vader, en met sy Seun Jesus Christus deur die heiligmaking van sy Heilige Gees. Daarom word dit nie ’n gemeenskap van profane persone genoem nie, maar van heiliges, wat as burgers van die hemelse Jerusalem die rykste seëninge geniet, naamlik een God, een Here Jesus, een geloof en een doop (my vertaling, E.K).

Dieselfde geld vir die Westminster Konfessie (wat tussen 1643 en 1646 geredigeer is). Die eerste paragraaf van Artikel XXV definieer die kerk eers diachronies, terwyl die tweede paragraaf die sigbare kerk meer spesifiek in sy ruimtelike dimensie omskryf (alhoewel ‘together with their children’ ook na die diachroniese dimensie verwys):

‘The catholick or universal church, which is invisible, consists of the whole number of the elect that have been, are, or shall be gathered into one, under Christ the head thereof; and is the spouse, the body, the fulness of him that filleth all in all.

The visible church, which is also catholick or universal under the gospel, (not confined to one nation, as before under the law), consists of all those throughout the world that profess the true religion, together with their children; and is the kingdom of the Lord Jesus Christ, the house and family of God, out of which there is no ordinary possibility of salvation.’

Uit vyf Gereformeerde konfessies hoor ons dus dat die eenheid van die gelowiges, die ekumene, tussen geslagte van verskillende tye – dus diachronies – bestaan vanaf die Alfa tot die Omega van die menslike geskiedenis, onder die hoofskap van die ewige Seun van God. Hierdie gelowiges word in beide die Tweede Helvetica en die Skotse Konfessie burgers van dieselfde stad genoem, wat onder dieselfde wette verkeer en dieselfde seëninge geniet. Hebreërs 11 kom hier duidelik ter sprake, asook hoofstuk 13:7: ‘Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het’. Vers 8 bied natuurlik die grondslag van hierdie diachroniese uitleef van die ekumene: ‘Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid’ (1983 Afrikaanse vertaling).

Die Gereformeerde uitleef van die ekumene🔗

Watter implikasies het so ’n perspektief vir ons huidige, sinchroniese, uitleef van die ekumene? Heel eerste, ’n verootmoedigende invloed, in dié sin dat die sinchroniese uitleef van die ekumene nooit op dieselfde voet as tydelike groepsvorming, kerkpolitiek of kerkmagstryd geplaas mag word, met ten doel die vermeerdering van die mag en invloed van ’n sigbare instituut in die wêreld nie. Die byvoeging van getalle aan ’n kerklike instituut, deur een of ander samesmelting te bewerkstellig, en dít om die wêreld of die owerhede te beïndruk, kan nooit ’n vertrekpunt of ’n eindpunt wees vir die uitleef van die ekumene nie. In besonder, die bevordering van so ’n samesmelting ter wille van die vereniging van Afrikaners en dit om een of ander politieke mag te herwin nadat hulle dit in 1994 verloor het, het niks te doen met die uitleef van die ware ekumene nie, maar konstitueer bloot ’n verkragting van ’n koninkryksbeginsel in belang van ’n sekulêre agenda. Aan Christus alleen is alle mag in die hemel en op aarde gegee (Matthéüs 28:18), op grond van sy ewige goddelikheid. Vandag se roeping ten opsigte van die ekumene – dít wat prioriteite moet bepaal – is dieselfde as gister s’n, naamlik die gesamentlike verkondiging van Christus se ewige koninkryk. Tog is dit belangrik om te beklemtoon dat dít wat gelowiges verenig nie die gesamentlike verkondiging van hierdie ewige koninkryk is nie, en ook nie die gesamentlike werke wat sinchronies deur gelowiges gedoen word nie, maar slegs die transendente realiteit van hierdie ewige koninkryk van Christus, waarvan die ekumene maar net ’n vrug hiervan is, die uitdrukking van gelowiges se antwoord hierop. Slegs hierdie transendente koninkryk is dít wat gelowiges van alle tye en alle plekke verenig, op grond van die twee nature in die persoon van Jesus Christus. Om dit nie so raak te sien en ook nie so uit te leef nie sal noodwendig tot ’n nuwe vorm van werksteologie lei, bloot ’n menslike poging na eenheid.

Calvyn se uiteensetting van die aard van ware ekumenisiteit in sy Institusie (4.2.5-6) beklemtoon juis die persoon van Christus wat in die sentrum staan:

Maar ons moet ook daarop let dat hierdie liefdesverbintenis so van geloofseenheid afhanklik is dat laasgenoemde die begin, die einde en die maatstaf daarvan is (HW Simpson se vertaling is hier ongelukkig misleidend). Daarom moet ons onthou dat, wanneer die eenheid van die kerk deur God by ons aangeprys word, moet ons niks anders verstaan as die feit dat ons in doktrine een is wat Jesus Christus betref, en dat in Hom ook ons gemoedsgesteldheid van wedersydse welwillendheid moet getuig. Daarom wanneer Paulus ons tot eenheid aanspoor, neem hy as grondslag die feit dat daar slegs een God is, een geloof en een doop (Efésiërs 4:5). Selfs daar waar hy ons leer om een te wees in doktrine en in wil, voeg hy telkens by dat dit in Jesus Christus moet plaasvind (Filippense 2:2-5).

Daarmee gee hy te kenne dat enige eenstemmigheid wat buite die Woord van God bewerk word, ’n kliek van ongelowiges is, en nie die eensgesindheid van gelowiges nie. Cyprianus verseker ook in navolging van Paulus dat die bron van enige eenheid in die kerk in Christus se biskop-amp te vinde is.

Wat die uitleef van die ekumene betref is die vraag wat beantwoord moet word dus nie: ‘Hoe sal ons onsself posisioneer teenoor hierdie of daardie kerklike gemeenskap?’ nie. Die doel wat nagestreef moet word is nie: ‘Hoe kan ons diplomatiese bande vestig met hierdie of daardie kerkverband?’ Nie asof die uitleef van die ekumene die vorm moet aanneem van bande wat lande en nasies met mekaar smee met tydelike en pragmatiese doelwitte in die oog, of met ambassadeurs wat van tyd tot tyd ander kerklike gemeenskappe besoek op ’n heel beskaafde wyse nie. Wanneer so ’n afvallige sinchroniese beskouing in die uitleef van die ekumene posvat, getuig dit van die destruktiewe invloed van ’n sekulêre tyds- en geskiedenisbeskouing op kerke wat intussen nie meer Christosentries is nie. Die eindresultaat van so ’n beskouing is om kerklike pogings tot eenheid te verander in soveel Sisyphus pogings, almal lofwaardig in die oë van diegene wat die klip oprol: ‘kom ons verander die klippe in die woestyn in brood, ter wille van die wêreld se behoeftes’; ‘kom ons word die geestelike eweknie van die Verenigde Nasies om hulle by te staan in hulle prysenswaardige poging tot vereniging van die mensdom’; ensovoorts.

Die herstel van ’n Bybelse perspektief op tyd🔗

Teenoor dergelike sekulêre pogings, behoort Gereformeerdes die ekumene uit te leef as ’n saamgroei in die ewige karakter van Christus se koninkryk, wat die tydelike, diachroniese dimensie van die menslike bestaan restoureer en nuwe betekenis daaraan gee. Dit is slegs daaruit dat hulle gesamentlike proklamasie onderskraag kan word, juis omdat, soos reeds gesê, dit nie stem uit ’n menslike horisontale dinamika nie, maar ’n nota ecclesiae is, ’n gegewe in die vervulling wat Christus reeds gebring het en wat al hoe meer sigbaar word. Om erns te maak met die geloofsbelydenisse wat diachronies aan ons oorgelewer is, is een aspek van hierdie saamgroei in die geloof wat eenmaal oorgelewer is.

’n Bykomende aspek van die saamgroei na eenheid is sy eskatologiese dimensie: dit is ’n beweging na die Omega van die menslike geskiedenis, na die eskatologiese punt waar, volgens Openbaring 5:9-10, losgekoopte mense uit elke stam, taal, volk en nasie deur Christus ’n koninkryk [enkelvoud!] en priesters gemaak is (en hulle sal oor die aarde regeer). Hier het ons te doen met ’n omgekeerde beweging in vergelyking met dit wat in die wêreld gebeur. Volgens Markus 13:8 (sien ook Matthéüs 24:7; Lukas 21:10) sal die een nasie teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander. Op sigself is hierdie omgekeerde beweging ’n waarskuwing om die mislukking van menslike pogings tot eenheid raak te sien: die ekumene beweeg nie parallel aan dit wat wêrelds plaasvind nie, maar omgekeerd, omdat die oorsprong en die eindpunt van so ’n beweging na eenheid nie immanent is nie, maar transendent. So ’n opmerking impliseer hoegenaamd nie dat die ekumene geen roeping ten opsigte van die politieke terrein ontvang het nie. Die roeping wat ontvang is, is egter om die nasies tot eenheid te roep volgens die grondwet van Christus se ewige koninkryk, volgens sy norme van regverdigheid en harmonie, in onderworpenheid aan sy soewereine heerskappy, soos christene uit alle lande, tale en kulture dit saam bely. In hierdie roeping lê daar ook ’n teken van die herstel van die historiese dimensie wat deel is van die skeppingsorde.

Die eskatologiese dimensie van die saamgroei na eenheid kan egter nie geskei word nie van ’n derde aspek, naamlik die feit dat die Evangelie eers aan al die nasies verkondig moet word (Markus 13:10). Die verenigde koninkryk wat bestaan uit mense uit elke stam, taal, volk en nasie, word sigbaar namate sending plaasvind. Sending gaan van die vertrekpunt uit dat die mensdom in Adam een is, en in die nuwe Adam een moet word. Die ekumene is dus, in sy saamgroei, wesentlik sendinggerig. Daardeur vind die universele heerskappy van Christus se koninkryk ’n sigbare gestalte. Daardeur word die muur van skeiding tussen mense van verskillende tale, kulture en agtergronde afgebreek. In die geskiedenis van die kerk is Pinkster in dié opsig natuurlik die grootste gebeure. Mense van alle tale en oorspronge word verenig in die gesamentlike verstaan van die bevrydende boodskap wat aan hulle verkondig word. Onderskeidings onder hulle is nie meer struikelblokke op die pad van ware eenheid nie. Dus groei die ekumene saam uitsluitlik deur die krag en onder die leiding van die Heilige Gees. In die sendinggerigte uitleef van die ekumene moet ’n mens tog vir jouself afvra watter rol kontekstualisering, wat vandag in missiologie aan die orde van die dag is, speel. Speel kontekstualisering ’n verenigende of ’n verdelende rol? Is dit ’n manifestasie van sinchronisme en partikularisme, en as sodanig ’n negering van eenheid? Of word dit uitgeleef as ’n erkenning van ’n verskeidenheid wat deur God se Voorsienigheid histories ontstaan het en nie ontbind hoef te word nie, maar eerder verlos van verdelende motiewe? Die antwoord op hierdie belangrike vraagstuk sal natuurlik bepaal of die ekumene in sy sendinggerigte dimensie na die koninkryk waarna Openbaring 5 verwys, sal saamgroei, al dan nie.

Soos elke keer beklemtoon, getuig al hierdie aspekte saam van ’n herstelde perspektief op die tydelike dimensie van die menslike bestaan, in dié sin dat die diachroniese uitleef van die ekumene geskied binne die koers van die openbaringsgeskiedenis, as vervulling van profesieë oor die totstandkoming van ’n nuwe mensdom in die nuwe Adam. Daarom dat hierdie uitleef ook as herstel van ’n Bybelse perspektief op tyd gekwalifiseer kan word.