1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Eenheid van die Twee Nature van Christus

Die geheimenis van die vleeswording is selfs meer as dat ons Here ware God en ware mens is, Hy is albei. Dat God geopenbaar is in die vlees, sê 1 Timótheüs 3:16, is “die verborgenheid van die godsaligheid”. Omdat dit ʼn verborgenheid is, kan ons dit nie ten volle verstaan nie.

Daar is nietemin ʼn paar analogieë (vergelykings) wat ons kan help om die vereniging van die twee nature van Christus in een persoon te verstaan. Hierdie vergelykings is nie volmaak nie (geen vergelyking kan wees nie), maar Charles Hodge het eens gesê “daar is genoeg ooreenstemming om die geloof te steun en ongeloof te weerlê”.1

Die beste analogie is dié van ons siel en liggaam. Ook die Belydenis van Athanasius gebruik die analogie wanneer dit sê: “Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus”.2

Hierdie analogie teken die volgende punte van ooreenkoms met die eenheid van die twee nature van Christus:

Eerstens, soos die siel en die liggaam twee bestaansdele van die mens is — die een stoflik en die ander onstoflik — só het Christus twee nature, die een eindig en geskape, die ander oneindig en goddelik.

Tweedens, soos wat siel en liggaam één persoon is, so is die twee nature van Christus verenig in één persoon. In die optrede van siel en liggaam is dit één mens wat handel, dink, en wil; so ook is daar in Christus net een persoon wat in en deur die twee nature handel.

Derdens, soos wat siel en liggaam afsonderlik bly, so bly die twee nature van Christus afsonderlik en smelt nie saam tot ʼn soort baster wat nog ware God nog ware mens is nie. Hulle smelt nie saam soos koper en sink om brons — iets heeltemal nuut — te vorm nie. Christus bly ten volle en waarlik God en ten volle en waarlik mens, nie half God en half mens nie.

Vierdens, net soos die kenmerke van siel en liggaam aan dieselfde persoon toegeskryf word (die persoon mag ʼn wyse gees hê, en ʼn groot liggaam), so word die kenmerke van Christus se menslike en goddelike natuur aan Hom persoonlik toegereken. Net soos oënskynlik teenstrydige stellings oor ʼn persoon gemaak kan word — hy is gees, maar hy is ook stoflik — só kan aan Christus sowel die goddelike natuur as die beperkings van die menslike natuur toegeskryf word. Hy is alwetend, maar Hy ken nie die tyd en die uur van sy wederkoms nie; Hy is ewig, maar Hy het ʼn begin in die tyd; Hy is almagtig, tog was Hy swak.

Die geloofsbelydenis van Athanasius beskryf hierdie laaste punt so mooi wanneer dit sê dat Christus “God is uit die wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore ... na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder as die Vader. Alhoewel Hy God én mens is, is Hy nogtans nie twee nie, maar een Christus”3, om aanbid en verheerlik te word.

Endnotes🔗

  1. ^ Charles Hodge, Systematic Theology, vol. 2 (Londen: James Clarke, 1960), p. 380.
  2. ^ Geloofsbelydenis van Athanasius, 37.
  3. ^ Ibid, 31, 33 en 34.