5 bladsye.

Die Erediens as Fees en Vreugde

1. Die Erediens 'n Fees?🔗

Die saam noem van erediens en fees is vir vele 'n onbegryplike teenspraak. Dit kom daarvan dat daar groot misverstand kan bestaan oor wat verstaan word onder die erediens, of onder 'n fees, of by albei.

In die verwagting van soveel lidmate en predikante, en in die werklike ervaring elke week, is die erediens 'n somber, doodernstige en 'n droewige gebeurtenis. Dit word gedoen as 'n sware plig; dit word beheers deur 'n stemming van treurigheid, rou, dood en Iewensontvlugting. Vir lang eeue in die geskiedenis van die kerk is hierdie somber en vreugdelose opvatting van die erediens ongelukkig die heersende patroon.

Waar ons egter uit die Skrif en uit die beste bronne die wese van erediens raaksien en verstaan, moet ons weer tot die besef kom dat die erediens 'n fees is, dat dit 'n "viering" is (Engels: celebration) en dat dit 'n besondere vreugdekarakter dra.

Reeds by die Ou-Testamentiese fees moes hierdie vreugdekarak­ter tot uitdrukking kom. Die Israeliete moes "vrolik wees voor die aangesig van die Here" hulle God (Deuteronomium 12:7, 18; 16:11). Jesus gebruik telkens die beelde van 'n fees, 'n maaltyd of 'n bruilof om die heerlikheid van die koninkryk van God mee te verduidelik. Tereg wys H.M. Schulz daarop: "die fees en veral die bruilofsfees was in sy tyd en gemeenskap die samevatting van vreugde en geluk" (Wenn Gottesdienst Freude macht, 1977, 22). In verskillende ge­lykenisse kom dit uit dat om tot geloof te kom, is soos die ontdekking van 'n onvergelyklik groot skat wat groot vreugde meebring en alles bepaal (Matteus 13:44-46; Lukas 15:23, 24). Die hele gebeure van Pinkster waar die Heilige Gees gekom het in al sy volheid in die harte van die dissipels en in die kerk, staan in die teken van vreugde en viering en fees. Die beskrywing van die byeenkomste van die Christene in die eerste kerk, staan ook in die teken van hierdie vreugde, waarvan Pinkster die diepe geheim was (Handelinge 2:46, 47). Een van die vrugte van die Heilige Gees is dan ook blydskap (Galasiërs 5:22). Soos gesien, word die hemelse en ewige erediens gekenmerk deur groot vreugde en blydskap.

Ons sal dit duidelik as een van die wesenskenmerke van die Bybelse erediens moet sien dat dit nie gekenmerk word deur 'n droe­wige, ondergangs- en doodsstemming nie, maar deur die vreugde en blydskap, en dat dit as 'n fees gevier word. Die inhoud van die vreugde en die wese van die fees sal ondertoe verduidelik word. Ons kan volmondig met D.J. Randolph saamstem as hy in dié verband sê: "The worship of the Christian church should be like a party for which God is host and to which everyone is invited. Worship is the celebration of the good news that man has a sponsor in the universe and a fellowship on earth ... Christ himself to be the life of the party ... A distinctive element in this party in the parable is that an active invitation is extended to the outsider ... But the major point is clear: Jesus intends our fellowship with God and with one another to be a great celebration ... Worship celebrates the vitality by which we enjoy life. God is the Creator, Redeemer, and Sustainer of life" (God's Party, 1975, 17, 18).

E.F. Kruijf beantwoord die vraag bevestigend of die stemming van die erediens 'n feesstemming moet wees: "Wanneer de cultus is wat hij wezen moet: uitdrukking van godsdienstige gevoel, uitdrukking, ...van hetgeen een christen voor zijn Vader in de heme­len, van wien hij alles voor tijd en eeuwigheid ontvangt, gevoelen mag, zou dan de feeststemming bij den cultus niet mogen gevonden worden, ja op den voorgrond staan? En David legde, eer hij tot aanbidding opging het rouwgewaad af (2 Samuel 12:20); Israëls gewijde zangers slaan een blijden toon aan (Psalm 27:6; 42:5; 43:4; 100; 148); en al wijst een Paulus ook op de droefheid en den ernst welke bij een christen niet ontbreken mag (2 Korinthiërs 7:10), juist die droefheid is de weg tot ware blijdschap en hij spoort dan ook, zelfs op grond van den dood des Heilands de christenen aan tot 'feest vieren' (1 Korinthiërs 5:8) en wil dat bij hunne samenkomsten ook de 'lofzangen' niet ontbreken zullen" (Liturgiek, 1911, 53). R.G. Jones wys op die vreugdekarakter van die Christelike erediens as 'n viering (celebration): "Genuine Christian worship is an exultation, a shout of delight, a paean of praise, a Great Thanksgiving for the truth and love shown to us. It involves a transforming view of the world, of oneself, of everything else" (The nature of worship, in: In Church, Ed. J. Stacey, 1975, 18). Wat Schulz van die mis sê, geld ook van die Protestantse erediens: "iets van die afglans van die Pinksterfees moet oor elke mis lê" (A.w., 22).

Uit verskillende oorde is daar vandag 'n groter begrip vir die fees­karakter en 'n begeerte om die vergete dimensie van die viering en die vreugde van die erediens terug te bring. Dit word deur verskillende persone wat met die erediens besig is, voorgestel. Dit kom ook voor by Roomse skrywers na die Tweede Vatikaanse konsilie. Voor die tyd was so iets net nie denkbaar nie.

Op die vraag in die opskrif van hierdie gedeelte of die erediens 'n fees is, moet onomwonde geantwoord dat dit inderdaad so is en so ingeklee moet word. Die groot vraag is egter verder wat die aard van so 'n fees is.

2. Fees in Wêreldse en Bybelse Sin🔗

Vandag word nie alleen aan die viering van feeste in Bybelse sin nagedink en gepoog om dit te herstel nie, maar ook deur vele wat dit in 'n wêreldse sin wil doen. Daar word dan op verskillende maniere aangetoon dat feestelik­heid en viering daarvan, iets is wat inherent tuishoort by die mens se lewe en bestaan; dat dit 'n noodsaaklike korrektief is vir die voortbestaan en dat in die feestelikheid die mens homself as 't ware eers ontdek en vind. In al hierdie sienswyses kom dit in laaster instansie daarop neer dat die fees gesien word as iets om die mens te versterk en geleentheid tot verhaal te kom. Dit is egter gebaseer daar­op dat dit wat in die mens is, tot uitdrukking moet kom. Hier is dit egter in die taal van die Bybel; die "ou mens" of "die ou Adam" wat gespaar en versterk word. Nie die groot verandering van die "ou mens" is hier ter sprake nie.

Daarom wat hier gesien word as 'n fees, is in wese 'n geleentheid vir die ou mens om op te lewe en die beste te maak van wat in hom is. Die uitlewing impliseer elke faset van die lewe, met die aksent op die liggaamlike, en daar word ook nie teruggedeins vir die sen­suele en die seksuele nie. Feestelikheid en blydskap hier staan in die teken van jolyt, plesierigheid, genieting, selfhandhawing, self-laat­-gaan, "a moral holiday" (Vgl. bv. H. Cox, The Feast of Fools, 1970, passim).

In 'n ander sin, maar tog aanverwant is die groot gedagte van D. F. Schleiermacher dat die erediens die geleentheid is vir die ontvouing van religieuse bewussyn, die religieuse gevoel wat gevier word. Dit gaan nie om lering nie, maar om viering. In die viering staan die subjektiewe gevoelsbelewing en die mens, sentraal. Merk­waardig dat vandag al meer belangstelling kom vir die standpunte van Schleiermacher en dat sy werke weer herdruk word.

Hierdie wêreldse siening van 'n fees en viering mag ons nie weerhou om daarmee die Bybelse gedagte van die erediens as 'n fees en 'n viering te stel nie, net so min as wat ons nie baie ander dinge mag verwerp net omdat dit deur die wêreld verkeerd gesien word nie.

Op alle maniere blyk dit dat by die mense onuitroeibaar sterk die begeerte leef na die moeilik definieerbare "geluk". In alle ge­staltes word dit bedink, begeer en nagejaag. Op baie geleenthede wens mense mekaar dit toe — maar dit bly steeds die greep van die mense ontglip. Mense reik na "geluk", sonder om dit te ken en te bereik. Die Bybel praat van en beloof 'n heerlike doel, maar praat nie van "geluk" nie, maar van "heil". Hierdie heil is deur Christus verwerf en Hy maak dit 'n werklikheid. Die boodskap van heil word aan ons geskenk en dit is die Heilige Gees wat dit veral in die erediens realiseer. Hierdie heil is die egte en blywende geluk wat die Here aan ons skenk.

Die Bybelse siening van die erediens as 'n fees en die stemming van vreugde, kom uit 'n ander wortel op; daarom het dit 'n ander kwaliteit, 'n ander oriënteringspunt en 'n ander doel. Dit sal aange­toon word.

3. Die Vyfvoudige Oorsprong van die Bybelse Fees en Vreugde🔗

Die eerste diepe grond vir die vreugde in die erediens is die ervaring en wete van die verlossing van die skuld en die sonde voor God; die vryspraak deur God, waardeur die gelowige 'n nuwe mens word en deel kry aan die nuwe lewe. Hierdie geweldige gebeure van die vergifnis van sonde en die bevryding wat dit meebring word bemiddel in die erediens: eers skuldig, nou vry; eers met sonde besmet, nou gereinig; eers ver­lore nou gevind; eers sinloos en doelloos, nou die diepe sin; eers 'n kind van die sonde en van die toorn nou 'n kind van God. Telkens in die erediens word die vergifnis en bevryding en die nuwe lewe, opnuut ervaar. Dit is die diepe bron van vreugde wat in die viering uitkom. Die kerk sou gevoelloos en onbybels wees indien hierdie vreugde misken en onderdruk sou word — tensy daar nie meer ge­glo en verwag word dat daar in die erediens die werklikheid van sondevergifnis bemiddel word nie. Vreugde oor die nuwe lewe: "It is this joyous celebration of the stark truth that we live in a world where, despite all the Juggernaut strength of evil, liberty has been won, that we seek to express in a relevant style of life and worship" (D. Mason; Worship as a community celebration, in: About Worship, Ed. J. Stacey, 1973, 41). "We rehearse our salvation history with its prophetic inspiration and historic events, above all in the gift of the life … of Jesus…" (F. Godfrey, Ordering services, in: In Church, Ed. J. Stacey, 1975, 69).

Wie tot geloof gekom het en daarmee 'n kind van God geword het, ontvang die hele gemeente as broeders en susters en word ingeplant in die won­derlike gemeenskap. Hierdie onderlinge gemeenskap word steeds weer 'n werklikheid en opnuut beleef. Die mens weet hy is deel hiervan en deel in die versterking en bevrugting en bevryding daarvan. Hiermee word die eensaamheid opgehef en kom daar 'n sterk on­derlinge verbondenheid. Die belewing van hierdie gemeenskap, die versterking wat deur die geselligheid onder die gelowiges in die ere­diens tot uitdrukking kom, is 'n groot krag (vgl. M. Langhans, Geselligkeit in der Gemeinde, 1960, 7-10) en 'n diepe bron van vreug­de. Langhans sien hierdie Christelike geselligheid soos volg: "Christelike geselligheidstyl van die deelnemers bestaan daarin, in die na­volging van ons Here Jesus Christus, om ons broeders en susters in broederlike-susterlike liefde gesellig te ontmoet, niks te verwag of te verlang vir die uitsluitlike eie genot nie, maar saam te werk met die gawes wat aan ons verleen is, sodat geslaag kan word met nuwe werke van hulp, vreugde en verkwikking vir almal" (A.w., 10).

  • Blydskap uit die Teenwoordigheid en Ontmoeting van Christus in die Erediens🔗

Van die eerste dissipels op die eerste opstandingsdag van Jesus, lees ons "dat hulle bly was toe hulle die Here sien" (Johannes 20:20). Dwarsdeur die diens word gereken met die teenwoor­digheid van Christus en dat dit moet uitloop op hierdie omvat­tende ontmoeting met die lewende Christus. Dit bring die fees, die vreugde wat nooit in die erediens gemis mag word nie. Met M. Mezger kan ons vra:

Moet ons dit nie ken dat ons onder die blye boodskap vrolik word, dat ons in die kerk gelukkig kan wees omdat alle valse skeidingsmure tot die wêreld buite neergelê word en ons onsself vry voel onder die oop hemel van die barmhartigheid van God nie?Gottes Dienst — oder Kult? in: Monatschrift für Pas­toraltheologie, Apr. 1963, 138

Deur die Heilige Gees word die ge­meente bewus van Jesus se teenwoordigheid, en vind die ontmoeting met Hom plaas. Juis hierdie ontmoeting bring die wonderlike herstel van die vrede met God en die bevryding, mee. Heel beson­derlik bepaal hierdie ontmoeting van en deelhebbing in die liefde van Christus, die vreugdekarakter van die erediens.

Van begin tot einde word die vreugde in die erediens gewek, verlewendig en be­waar deur die besondere werking van die Heilige Gees. Tereg kan ons praat van 'n "pneumatiese feeskarakter" (J.J. von Allmen).

  • Vreugde uit die Verwagting van die Volmaakte Diens🔗

Elke diens maak ons daarop attent dat ons op weg is na die ewige erediens, saam met al die verlostes as die Bruid, met Christus en dat dit die groot eindpunt van al ons erediens is. Tegelyk maak dit ons daarop attent dat ons nog nie daar is nie, maar reeds daarop moet voor­berei en daarop moet wag. Hoe meer die gemeente hom bewus word van die werklikheid van die verlossing, van die nuwe lewe onder mekaar, van die werklikheid van die ontmoeting met Christus, hoe sterker groei die verwagting dat die heerlike vervulling moet aanbreek. Hierdie blye verwagting en die sekerheid van die geloof dat dit op pad is om 'n werklikheid te word, gee die blydskapskarak­ter aan die erediens. Die vreugde wat ons voorlopig ondervind en die fees van ons gewone dienste, wys heen na die vervulling van alle feestelikheid in die groot bruilofsmaal van die Lam. "'Fees' is die vooruitgryp (Vorwegnahme) van die komende … Ons moet in ons gemeente en in ons eredienste hierdie feestelike hoop vier en dit ook in ons lewens ervaarbaar maak", sê Schulz tereg (A.w., 27).

Hierdie vyfvoudige wortel bepaal die groot krag van die erediens as fees en gee die vreugde daaraan. Dit is dadelik duidelik dat in die middelpunt van hierdie fees nie die mens of sy vlees of sy uitgie­ting staan nie, maar… die kruis. En dan 'n kruis waarvan die Ge­kruisigde lewe en waarin ons almal kan deel in die volle herstel wat dit meebring.

4. Die Karakter van die Erediens as ’n Fees🔗

Die erediens op die Son­dag aksentueer die dag en die gebeure wat in die erediens plaas­vind. Dit word opgehef en uitgetel uit die vlak van die alledaagse, grou enersheid, sodat dit opval en die aandag aanspreek en daar­deur 'n besondere glans en aansien verkry, waarin die deelnemers deel en wat aan die gang van die lewe ritme en kleur gee... Die voorwerp waarop die fees betrokke is, bepaal dus die inhoud en die karakter, asook die waarde van die fees. Wat gevier word, is aanduidend vir die wyse waarop dit gevier word. By die fees gaan dit uit bo die alledaagse en dit moet ook in die erediens tot uitdruk­king kom: "Worship must be lifted above the levels of the secular and the commonplace. The liturgy must never look like the daily newspaper; the music of the church must not sound like that of the concert hall or the opera. Worshippers must come to the altar of God with uplifted hearts and a sense of holy mystery and joy. Purity and nobility will exalt their souls and powerfully impress the world as well" (L.D. Reed, The Lutheran Liturgy, 1947, 12). Hierdie uitgaan bo die alledaagse beteken ook dat die Sondag 'n ge­leentheid word waar die gewone werk gelaat kan word en die mens afstand kan kry van sy gewone lewe en werk, en nie daarin opgaan nie.

  • Geen Ontvlugting nie, maar Aanvaarding van die Lewe🔗

'n Egte fees mag nooit wees 'n ontvlugting uit die gewone lewe en die ver­antwoordelikhede of take nie. Wie fees vier in die Christelike sin is nie besig om in 'n skyn- of droomwêreld te ontvlug nie. Nee, die fees bring juis mee die aanvaarding van die lewe soos dit is, met al die werklikhede. Dit word tog 'n fees omdat al die ontmoedigende en teleurstellende van die alledaagse lewe gesien word vanuit die werklikheid van Jesus Christus.

Die feestelikheid dra die karakter dat dit 'n gesamentlike saak is. Daar word deur almal meegedoen en meege­vier, die feesgangers voel 'n belangrike betrokkenheid by die in­houd van die fees en wil dit uitdruk en behou, en deur die viering die belang daarvan verhoog. Die fees is nie iets wat van buite-af opgelê is nie, maar iets wat die deelnemers aangaan of behoort aan te gaan.

Met die fees word die vreugdekarakter daar­van beklemtoon. Die groot saak is natuurlik hier wat die grond van die vreugde is. Soos reeds aangetoon is dit die vyfvoudige grond waarin die hele heilservaring uitgedruk word. Daar is naam­lik 'n vreugde wat sy oorsprong vind in die prikkeling van die mens se sintuie, in die vrye laat loop van die begeertes, in die opgaan in die genot van die oomblik. Nee, die vreugde van die erediens leef uit die bronne van God soos dit in die erediens leer ken en daaruit geput word. Dit is ten diepste uit Christus self dat die vreugde vloei en dit word in ons vreugdelose harte waargemaak deur die werking van die Heilige Gees.

G. van Veldhuizen begin sy boek Onze Feesten met die vraag: "Mag een christen blijde zijn?" Hy wys dan daarop dat hierdie vraag glad nie eenstemmig beantwoord word nie, omdat daar per­sone is wat van opvatting is dat 'n bekeerde kerm, kla en swyg, maar nie sing nie (Onze Feesten, 1933, 7). Ons kan sê dat dieself­de opvattinge geld van die Christelike erediens. Laat ons dit oor­win met die Bybelse gesindheid dat juis in die erediens daar die ondertoon van vreugde en feestelikheid moet wees; dat ten spyte van al die erns en toewyding, dit steeds gesien en uitgebou word as 'n fees in die ware sin van die woord.